Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Kaptein

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 21 Mei 2019 Aantal woorde: 6027 154 Kere gelees 2

Beste leser. Ek weet wat jy gaan dink. Ek het dit self telkemale al gedink – nee – geglo. Bog. Blote waansin en onsin. Maar ek gaan jou in elk geval vertel. Dis tyd.

Ek het as jong man ‘n brandende nuuskierigheid en belangstelling in die geskiedenis van oudhede gehad. Nie antiekhede nie, maar tweedehandse items. Ek kon ure, partykeer dae, in liefdadigheidswinkels, by veilings en in tweedehandse winkels spandeer. Jy kan my maar goedkoop noem as jy wil, maar vir my was dié winkels ‘n skatkis. Elke liewe item wat ek sorgvuldig opgetel en bestudeer het, het ‘n onvertelde storie gehad. Die ou gekrapte Elvis plaat het in my verbeelding aan ‘n tiener meisie behoort wat in die 1950’s tot laataand Blue Suede Shoes geluister het; kwaad vir haar Pa wat haar liefde vir die bure se ducktail seun verbied het. Ek sou ‘n storie optower vir ‘n stokou kitaar wat byna nooit gespeel is nie: ‘n geskenk aan ‘n jong seun wat drome gehad het om ‘n popster te word. Maar die tekort aan opleiding en oefen het gemaak dat geen vordering in sy talent gemaak is nie, en die kitaar uiteindelik verkoop is. Hy het as ‘n liasseerklerk by die stadsraad beland waar hy elke dag, bitter, sy tekort aan ambisie blameer. Elke ou, stowwerige item wat vir ander mense rommel was, was werklike tasbare skatte vir my – almal met ‘n storie om te vertel; almal met ‘n unieke uitsig oor en insig in die wêreld.

As iets nuut is, is dit soos ‘n baba. ‘n Skoon bladsy sonder ‘n merkie of woord op – geen ervaring van die lewe nie. ‘n Splinternuwe motor, byvoorbeeld, het baie min gesien. Dit kom uit ‘n steriele fabriek, eindig op in ‘n vertoonlokaal met blink vloere en ‘n onopregte verkoper met ‘n ewe skitterende, skynheilige glimlag. Dit het geen kennis van die oop pad of van die horison wat in die verte strek soos ‘n onbeperkte belofte van avontuur nie. Of selfs van die onbeperkte bedreigings nie. Nee, ‘n nuwe kar is ‘n baba. Gee my ‘n motor met ‘n paar duisend kilo’s op die klok en wiele wat die stof van ‘n somerdag in die Karoo, die bevrore vuil van ‘n Jo’burg winternag ingesluk het en dit op die pad agteruit gespoeg het. Daardie motor het dinge gesien, was deel van ‘n reis. Dit het sy eienaar leer ken – die musiek waarvan hy hou, die roete wat hy elke dag geneem het werk toe, die pad gevind het na ‘n oorlede Ouma se tragiese begrafnis toe en ook die keer wat hy sy oë droog op die dashboard gehuil toe ‘n liefde sy hart gebreek het. Daardie motor ken die wêreld, ten minste ‘n deel daarvan. Dit ken die mense wat hom besit het en dit het al die rou gevoelens beleef, klein oomblikke van genot ervaar en lewensbrekende tye omhels en geassimileer – almal van hulle.

Elke ou item het vir my ‘n duisend stories gehad om te vertel. Ek weet nie of dit verbeelding was en of ek die stories regtig kon ‘sien’ nie, maar ek was bereid om luister en al die ou besittings was net te gretig om te vertel. En tog, tog is sommige herinneringe, sommige ervarings, dalk beter om te laat gaan; om te los soos asem op ‘n spieël. Laat dit verdamp, verdwyn asof dit nooit bestaan het nie. Ek sê dit omdat ek uit ervaring uit weet dat netsoveel as wat ek ‘n voorwerp se storie van ‘n vorige eienaar kan romantiseer, net so kan dit ‘n nagmerrie beskryf; versmoor, gewelddadig en brutaal.

Die tannie, Tannie Esther, by die hospice se liefdadigheidswinkel het my natuurlik goed geken. So goed dat sy my begin bel het as daar ‘n interessante skenking ingekom het. Dis op ‘n Saterdagoggend vroeg wat Tannie Esther my bel en sê ek moet vinnig kom – daar het iets “lekker” (haar woorde) ingekom. Kinderlik opgewonde drafstap ek minute later die winkeltjie binne. Sy beduie na twee swart sakke wat sy oudergewoonte so gesit het dat ander klante dit nie sommer sal sien nie. Ek hol nader en loer by die eerste een in. Daar is porselein beeldjies, hout kissies en stapels boeke in. Terwyl ek deur die skat gaan en elke item noukeurig bestudeer, kom staan Tannie Esther agter my om my opgewondenheid te geniet. Daar is egter nie veel in die sak wat regtig met my praat nie. Tannie Esther het seker gesien die wind is uit my seile dat sy begin verduidelik: “Daar was ‘n Franse vrou hier in die hospice. Sy’s gisteraand dood. Sy’t g’n familie gehad nie. Regte, propperse Frans. Die susters sê sy het jare terug Suid-Afrika gevlug uit Parys. Glo een of ander familieskandaal.”
Die nuus was nou nie juis opwindende nuus vir my nie. As iemand in die hospice doodgaan wat nie familie gehad het nie, dan kom hulle besittings wat hulle by hulle gehad het hospice toe. Maar ek weet ook die verpleegsters stroop alles wat die moeite werd is voordat die besittings hier in hospice beland. Ek begin opstaan met die wete dat daar niks vir my in die sakke is nie, maar Tannie Esther druk my aan my skouer. “Kyk in die ander sak.” Sê sy met ‘n glinster in haar oog.
Ek loer. Die tweede sak is vol klere. Gewoonlik het ek nie aan klere belang gestel nie. Klere was dalk vir my té persoonlik. Of dalk onhigiënies? Dit het doodeenvoudig nie met my gepraat soos “goeters” nie. Maar dié baadjie… Die baadjie was anders. My oog het dit onmiddellik gevang waar dit onder ander vervelige vroueklere my naam geroep het. ‘n Bloedrooi mansbaadjie. Dit het fyn borduurwerk al langs die kante gehad, met ‘n hele string goue knope – meer as wat regtig nodig was. Dit was nie ‘n moderne baadjie nie – definitief nie iets wat jy by Edgars sou kry nie. Tog het dit byna nuut gelyk. Die kwaliteit van die naaldwerk en materiaal was beter as wat ek nog ooit aan enige kledingstuk gesien het. Dalk was dit ‘n baadjie wat in ‘n toneelstuk of in ‘n fliek gebruik was? Dit was nie. Ek kon voel hoe die baadjie gevra het om ‘n storie te vertel. ‘n Baie ou storie. EK het opgewonde opgestaan, die baadjie in my hande asof dit fyn porselein was. Tannie Esther het tevrede geglimlag, bly dat sy my dag kon maak.
“Hoeveel?” Vra ek, alhoewel ek eintlik die antwoord geken het.
“Nougat. Die met die ordentlike neute. ‘n Grote, asseblief en dankie.”
Met ‘n luidrugtige “Dankie Tannie!” en ‘n soen op haar wang vat ek die pad met die tower kleed in my arms. Wat eintlik snaaks was, want ek het nooit net 5 minute in die winkeltjie spandeer nie. Wie weet hoeveel ander skatte was daar nog in die winkel wat ek gemis het?

Terug in my kamer het ek dadelik die baadjie aangetrek en voor die ou vollengte spieël gaan staan. Dit het gemaklik gevoel, soos ‘n ou vriend en perfek gepas asof dit vir my ontwerp en gemaak is. Baie in my noppies het ek met teerheid die baadjie uitgetrek en dit versigtig in die losstaande eikehout kas langs my bed gehang. Nadat ek dit nog ‘n paar minute bewonder het, het ek aangegaan met my dag. Tog het my gedagtes voortdurend teruggekeer na my laaste aankoop, maak nie saak waar ek was of wat ek gedoen het nie. Daar was ‘n konstante opgewondenheid in my hart, soos ‘n kind wat ‘n nuwe speelding gekry het. Dit was vreemd vir my, want ek was nooit regtig geïnteresseerd in klere of modegiere nie, en kon nooit die geesdriftige plesier verstaan wat ander mense vir ‘n hemp of ‘n paar skoene het nie. My klere was maar altyd eenvoudig en vervelig – denims en T-hemde was meer as voldoende vir my. Deur die loop van die dag was ek egter kort-kort weer voor die spieël met die stylvolle baadjie aan – soos ‘n model en ‘n onnatuurlik tevredenheid met myself. Dit het my op ‘n manier formeel en stylvol laat voel en my verbeelding laat loop met stories van groot feeste in koninklike sale waar mans met oneindige rykdom duur wyn gedrink het en met die mooiste dames gedans het. Die baadjie het my avontuurverhale vertel van die Middeleeue, musketiers wat met swaarde geveg het en ongekende kiste vol skatte van suiwer goud. Ek het my oë toegemaak en kon alles hoor en sien en ruik.

Daardie aand skrik ek benoud wakker; my hart klop verwoed in my bors. ‘n Geluid? Ek het aan die slaap geraak terwyl ek op die bed lê en lees het so die bedlampie was nog aan. Die gloeilamp se lig was te flou om die al donker in die kamer uit te hou. Ek het regop gesit, styf gespan van die spanning en probeer fokus op die donker hoeke en skadu’s, opsoek na ‘n rede vir my skielike wakker skrik. Maar daar was niks nie. Niks waarneembaar nie. Net die stilte van lewelose meubels wat in die nag rus, maar in my agterkop was daar die ego van ‘n geluid wat my rus verstoor het. Ek het die ego probeer uitken, erken, maar dit het net buite my geheue se bereik gebly. Ek het opgestaan en by die kamervenster uitgekyk. Buite was dit stil. Net die geel van die straatlig wat die verlatenheid probeer verlig het. Ek het deur die woonstel geloop en een na die ander lig aangesit totdat daar nie ‘n enkele donkerte in die plek was nie. Ek kon doodeenvoudig nie die oorsaak van wat my wakker gemaak het kry nie. Toe ek uiteindelik seker was dat alles veilig is het ek myself oortuig dat die geluid net die gesigtelose produk van ‘n droom was wat vergeet is en het ek weer gaan slaap. En tog het ek om een of ander rede nog steeds ontsenu gevoel – so dat ek die bedlamp aangehou het, want ek het tevergeefs probeer om my pad terug te vind na die warm vertroosting van slaap.
Sondag was basies ‘n herhaling van die vorige dag. Verskeie kere voor die spieël in die manjifieke rooi baadjie, my kop gevul met vlugte van fantasie. Sondagaand skrik ek weer wakker sonder klaarblyklike rede en bly verdere slaap my ontwyk.

Die volgende dag is ek werk toe, hoogs geïrriteerd as gevolg van die min rus. Die heeldag het my gedagtes teruggekeer na die baadjie in my klerekas; hoe aantreklik ek daarin gekyk het, sjarmant tog manlik. Ek kon nie wag om dit weer aan te trek nie. Ek het die ure omgewens en die oomblik toe vyfuur aanbreek, het ek myself met ‘n gemompelende woord verskoon en so vinnig as moontlik huis toe gejaag.
Ek het lomp gesukkel om die sleutel in die slot te kry, geswets en uiteindelik die woonstel ingeval, my sak op die vloer laat val en na die eikehout kas in my slaapkamer gehaas. Ek het die kas oopgemaak en met koorsagtige verligting na die baadjie staan en kyk waar dit gehang het – soos ‘n leë vaartuig wat gevul moes word. Ek het die mou tussen my duim en vingers gevat, en die bloedrooi materiaal saggies gevryf. Met sorg het ek dit van die hanger afgehaal en voor die spieël gaan staan. Ek was geskok toe ek my eie gesig sien! My hele volwasse lewe was ek sorgeloos oor die stand van my hare. Dit was deurmekaar en onversorg. As jy daardie pragtige baadjie dra, lyk dit nie reg nie. Ek het skielik baie skaam gekry oor hoe ek gelyk het. Ek het badkamer toe gegaan en met die hulp van ‘n ou bottel haar jel en ‘n kam my hare, pynlik netjies, plat gekam.
Toe ek weer voor die spieël in die kamer gaan staan, was my voorkoms meer aanvaarbaar; my hare soos wat dit ‘n ware heer betaam. ‘n Glimlag het oor my gesig gekruip, soos wat die baadjie sy storie begin vertel het aan my verbeelding. In die baadjie het ek respek en mag gesien. Ja, voorwerpe vertel inderdaad verhale. Die baadjie het verskriklike dinge gesien – mans wat beveel is en onvoorwaardelik bevele uitgevoer het. Swaard gevegte. Moorde met ‘n dolk. Dit het die wet van die straat geken het. Ja, het ek gedink, die stories wat die baadjie kon vertel.
Die Kaptein het altyd ‘n gryns grimas gehad. ‘n Wete dat die aristokrasie die wat minder en laer is altyd sal verdruk.
Die Kaptein het baie gesien. Maar hy was geen onskuldige toeskouer nie.

Ek is onwillekeurig uit die greep van ‘n droom, rustige sluimering, geruk. Bekendheid het die stilte gebreek; ‘n geluid wat ek geken het, maar nie kon plaas nie. Hierdie keer harder as die vorige twee aande. Dit het alles onwillekeurig laat vibreer voordat dit net so skielik opgehou het as wat dit begin het. Ek het verskrik uit die bed gespring my sintuie intensief en wakker. Ek het stadig van vertrek na vertrek geloop en al wat ‘n venster en wegkruipplek ondersoek, bang vir die vooruitsig dat ‘n inbreker ingekom het en iewers wegkruip. Maar die woonstel het in die stilte gesit, sy mure leweloos en die skaduwees van die nag, stil en senutergend. Ek het die geluid herken; ek het dit geken. Maar dit was soos ‘n ontluikende naam op die punt van my tong; die herinnering het geweier om homself te openbaar.

Die volgende dag het ek selfs meer gesukkel om te konsentreer by die werk. Die gebeure van die vorige nag het by my gespook – op en af deur my gedagtes getrap opsoek na ‘n antwoord. Die geluid het my ontstel, dit het my verswelg. Ek was gefrustreerd deur die feit dat ek dit geken, maar tog nie geken het nie. Wat was die geluid? Die irritasie en frustrasie het begin opbou, wat my gedwing het om my interaksies met kollegas met ‘n aangeplakte glimlag te verduur. Omring deur betekenislose papierwerk was my enigste troos deur die lang dag om aan die baadjie te dink. Daardie warm herinnering wat my in sy omhelsing geneem het. Natuurlik het ek geweet dat die baadjie – die Kaptein – net ‘n karakter in my gedagtes was. Die mees onlangse in ‘n lang reeks stories wat ek geskep het om sentiment aan die wêreld te voeg. Maar ek was so lief vir hom as wat ek vir sy besitting was.

Teen 17:30 was ek by die huis, en soos die vorige dag het ek my sak neergegooi en reguit na die eikehout kas gegaan. Voor die spieël het ek teleurgesteld gevoel oor wat ek gesien het. My hare was ongerep, gekam tot perfeksie, maar die vaal-wit hemp wat ek gedra het werk toe was goedkoop en vuil. Trouens, dit was die eerste keer dat ek opgemerk het hoe onindrukwekkend en vaal my werk uitrusting werklik was. Dit was nie goed genoeg nie. Glad nie goed genoeg nie.
Ek was net betyds om voor 6 by die hospice winkel op te daag. Ek het ‘n sug van verligting gegee dat Esther die winkel nog nie gesluit het nie. Sy het vir my geglimlag toe ek verby haar stap, maar ek het skaars opgemerk en reguit na die swart sakke gestap waar ek die baadjie gekry het. Ek het die inhoud sommer uitgekeer op die vloer en feitlik onmiddellik gesien wat ek gesoek het. Ek het met ‘n glimlag na die toonbank toe gestap en met sweet op my voorkop ‘n handvol note oorhandig.
In die sak het ek die ou hemp gekry. Spierwit asof dit gister gemaak was. Ek was nie seker van die materiaal nie, maar dit was pragtig, kundig vervaardig. Niks soos die goed wat in massas geproduseer word in Chinese fabrieke nie. Ek het dadelik geweet dit was ‘n hemp wat die Kaptein se baadjie waardig was. Ek het ook ‘n goue onderbaadjie gekry. Gemaak van die sagste sy wat ek nog ooit gevoel het. Die fynste borduurwerk wat moontlik deur ‘n mens se hand geskep kan word. Ek het die hemp, onderbaadjie en baadjie aangetrek en voor die spieël gaan staan. Die elke item het die ander komplimenteer. Die een kon nie bestaan sonder die ander nie! Die Kaptein sou bly wees.

Weereens het ek wakker geword in die duisternis, ‘n geluid wat my uit die slaap uit kom ruk het – dieselfde geluid wat ek die vorige drie nagte gehoor het. Ek het effens gebewe, nie omdat ek koud gekry het nie, maar van iets in my. ‘n Virus of ‘n kiem, wat dit ook al was het ‘n ligte koors veroorsaak. My lakens sop nat van die sweet en ek moes werk daarvan maak om asem te kry. Ek het te swak gevoel om die geluid te ondersoek en het net bly lê in die greep van ‘n vreemde en ongekende vrees. Die kamer was donker – nee, meer as donker: swart. In die leidrade van voorwerpe, die buitelyne van mure en stoel en klerekas, het my oë die spieël gekry. Die refleksie was nie leeg en donker soos wat mens sou verwag nie. Dit was gevul met ‘n onduidelike beeld. Soos ‘n skaduwee, die stille suggestie van iets. My geheue bly vaag, maar een ding wat my tot vandag toe by bly: twee oë, wit en wyd, het oopgemaak in die refleksie van die spieël wat my oë ontmoet het. ‘n Beskuldigende, kwaadaardige staar wat oor my gevee het. ‘n Vreemde ysige koudheid het oor my gesak en die slaap het gekom – ondanks die feit dat ek dit probeer teenstaan het.

Die volgende dag het ek snaaks genoeg goed gevoel. Ek het die refleksie in die spieël as ‘n hallusinasie, gevuur deur die koors, afgelag. Ek het egter steeds ‘n hoë temperatuur gehad en het my baas gebel en gesê ek’s siek ek gaan nie werk nie. Ek moet erken dat die gedagte om ‘n dag vir myself te hê, aanloklik was, en seker die eintlike rede was wat ek nie werk toe is nie. Na ‘n lang stort en tyd voor die badkamerspieël het ek uiteindelik weer waardig gevoel om die spierwit hemp, goue onderbaadjie en trots van die versameling – die rooi baadjie – aan te trek. So het ek die hele dag voor die spieël spandeer, geklee in die uitrusting. Glimlaggend. Gelukkig.

Dit was eers toe my foon lui dat ek besef het ek het die meeste van die dag gewortel voor die spieël gestaan. Geen herinnering aan die voorafgaande ure nie; net vae, vormlose visioene van lig en donker malend voor my, vergesel deur vreemde veraf klanke. Vir iemand wat by hulle volle verstand was, sou dit dalk kommerwekkend gewees het. Nie vir my nie. Nee, ek was net bekommerd oor een ding: ek het nog nie reg gelyk nie! Ek is die woonstel uit – die luiende foon en oop voordeur net so gelaat – af na die hospice toe.
Daar het Esther gevra of alles in die haak was, want sy was bekommerd dat ek ‘n bietjie af gelyk het. Ek het kortaf geantwoord dat sy haar by haar eie sake moet bepaal, en die swart sakke weereens gepak. Sonder om daaroor te wonder het ek ‘n noupassende broek van ‘n onbekende materiaal, ‘n paar stok ou leer stewels met gespes asook ‘n breë leer belt met ‘n goue gespe uit die swart sak gehaal. Ek kan nie onthou of ek vir dit betaal het of nie. Al wat ek kan onthou, is dat ek by die woonstel was, besig om die trappe op te struikel. Op pad terug na die spieël toe.

‘n Siek gevoel het my oorgeneem. My maag het gepyn en gedraai asof dit teen die ongesiene golwe van ‘n onstuimige see probeer veg. Sukkelend, maar kompulsief, was ek weer voor die spieël waar ek dieper en dieper na my eie weerkaatsing gekyk het. Die broek wat my soos ‘n handskoen pas, die glinsterende belt en gespe, leerskoene wat nuwe lewe in gepolitoer is, die spierwit hemp wat foutloos gestryk is, die knus onderbaadjie en natuurlik die Kaptein se baadjie. Ja, perfeksie. Dit was volmaak. Alles was net reg. Ek was volmaak.
Met diep teue lug het ek diep gekyk. Ek het in my eie siel gekyk, maar nie gesien nie. Dit was ‘n faksimilee van myself wat uit die spieël uit geglimlag het. Die siekte het verdwyn met elke asemteug wat die ritme van my pols gevolg het. Die sekondes het minute gebaar, en die minute het in ure gebloei. Oomblikke. Fragmentêre blikke van helderheid het deurgesyfer soos sonlig wat deur die skrefies tussen gordyne die donkerte probeer insluip. Ek het stemme gehoor. Ver. Onduidelik. Gemompel. Maar die toon was onmiskenbaar een van woede en konflik. Ek het flitse van lig gesien met vorms van die duisternis wat verbybeweeg en probeer inkom. My oë wou nie mooi fokus nie – my sig was onduidelik, wasig en het my bly weerhou van die waarheid. Vae bekende vorms het voor my rondbeweeg, maar dit was asof ek deur waspapier daarna probeer kyk het. Daar was geluide. Onbekende geluide. Die geluid. Onbekend maar bekend. Om my, by my, maar ver.

Soos die son buite gesak het, het die woedende stemme gekombineer – stemme van ontelbare mense, in een gedagte saamgesmelt, een pynlike dreuning. Die baadjie het sy storie genadeloos vertel. Visies het voor my afgespeel. Ondraaglike koninklikes, ‘n vuil stad en uiteindelik iets met einde, iets tasbaar. Geld. Baie geld. ‘n Bende mans. Soldate wat marsjeer. Stewels, vertrap, skare mense bang en swaarde wat genadeloos steek en kap. Toe was daar liggame, ontelbare bloedige slagoffers in donker stegies en vuil hotelkamers. Die stem, wat nou gedistilleer was, het nader gekom. Woorde het hul pad tussen geklemde tande gedwing, in my ore geroep, nog steeds gedemp soos deur ‘n onsigbare viskose membraan gepraat.
Ek het gewig gevoel, ‘n swaar, koue metaal wat my hande belas het, vuil en vol bloed. In my hand was ‘n swaard. En toe ek opkyk, kon ek die lig en donker sien wat onophoudelik voor my beweeg het. Ek kon die vorm uitmaak van ‘n sterk, jong man. Sy oë het my gedagtes deurdring terwyl hy geskree het. Ek het nie verstaan wat hy skree nie, maar dit was onmiskenbaar Frans. En sy stemtoon was onmiskenbaar woedend, wreedaardig en gevul met wraak.
Ek het die swaard begin swaai en mense om my begin kap en steek. Dood uitgedeel. Dit was boosaardig, gruwelik. Verkeerd. Immoreel. Die stem het voortgegaan, hoog bo die bloedbad uitgebulder, my aangespoor en my beveel om nog lewens te neem. Bloed. Nog bloed. Ek het die een lyk na die ander in my spoor gelos, want die man, daardie ewige imperiale figuur wat ek liefdevol na verwys as die Kaptein, het nader gekom, in my oor geskreeu, die hitte van sy asem naby en tasbaar. Ek het gebewe. Dit was nie ek nie, nie nou nie, nie toe nie, nooit nie. My huiwering het veroordeling ontluik van die Kaptein se silhoeët. Ek wou hom nie teleurstel nie, en terwyl ek pynlike lojaliteit van plig en patriotisme gevoel het, kon ek nie meer die gesigte van daardie mense aanskou nie. Smekende oë, uitgestrekte hande terwyl ek oor hulle staan en hulle in hul laaste oomblikke konfronteer. Ek het die swaard laat val, en soos wat die metaal op die klip by my voete weerklink, sien ek my weerkaatsing weer in die spieël; smekende oë met ‘n uitgestrekte hand wat hulp aanbied.

Die koors was terug, so ook die ondraaglike pyn in my maag. My lyf het geruk asof ek wou opgooi, asof my liggaam iets van binne probeer verdryf het, maar dit wou nie uit nie. Ek het op die vloer inmekaargesak, uitgeput. Ek het al my krag inspan om by my volle bewusyn te probeer bly. Ek het elke druppeltjie energie bymekaar geskraap om basies uit die Kaptein se baadjie te kruip. Toe die baadjie eers van my af was, was dit maklik om die onderbaadjie uit te trek. Nog makliker die hemp, skoene en broek. Ek het ‘n tyd lank op die vloer gelê. Naak. Weerloos. Ek het effens gebewe – krampagtig – terwyl sweet van my afgeloop het, asof ek besig was om ‘n onheilige infeksie af te skei. Telkemale deur my waan het ek my oë oopgemaak en weer vir die hoop klere gekyk. Ek wou dit weer aantrek. Die baadjie. Wat ‘n pragtige baadjie! Maar dan is daardie behoefte weer weggewas deur ‘n vloed van walging. Ek wou leef. Daar was lewe en hoop en ‘n tweede kans na die slagting.

Ek het wakker geword van die geluid. Dieselfde geluid wat my nag na nag wakker gemaak het. Dit het my weer geroep uit die slaap, gedwing om wakker te word. Ek het probeer om regop te kom, maar die siekheid was steeds in my. Pyn. Naarheid. Walging. ‘n Koue sweet het oor my kaal lyf gefluister totdat dit ‘n byna ondraaglike crescendo geword het. Die geluid het in my oor bly weerklink, en in daardie oomblik, in die kloue van die siekheid en swakheid, het die oorsprong – die identiteit -uiteindelik na vore gekom. Die besef het my ontstel en paniekerig deur my lyf geslinger. ‘n Eenvoudige klank, een wat ek elke dag gehoor het. Maar in die swartheid van daardie vertrek, het dit ‘n ander – ‘n nuwe – betekenis aangeneem. ‘n Bedreiging, onder die dekmantel van die nag. Die geluid was so duidelik. So ooglopend. Die geruis van die baadjie se materiaal. Die klik van die knope teen mekaar as die baadjie hanteer word. Maar wat sagte klanke moes wees, was soos die gedreun van ‘n duisend golwe.

Ek het bewegingloos gelê. Ek kon nie meer die klere sien waar dit vroeër gelê het nie. My oë het die duister probeer penetreer, opsoek na die bloed baadjie. Die doodskis van lap wat gasheer vir iets onsigbaar gespeel het, en wat die wêreld buite besmet het met ‘n skrille vrees. Ek het onwillekeurig my asem opgehou en gewag vir ‘n teken van beweging. Ek het my verbeel ek hoor voetstappe. My hart het geklop, soos ‘n drom wat tot breekpunt geslaan word. In my verswakte toestand het die vrees my vasgevang en verlam. Ek was totaal hulpeloos en magteloos, as iets uit die donker sou kom.
Ek het ‘n beweging in die spieël se weerkaatsing gesien, en onwillekeurig uitgeroep. Ek het geswets en myself berispe omdat ek die vrees toegelaat het; dat ek so onverskillig aankondiging het dat ek daar was.
Daar was inderdaad iets in die donker – net buite die bietjie lig wat die straatlig van buite af probeer bied het. Iets onheilspellend. ‘n Indringer. Alhoewel ek dit nie gesien het nie, het ek geweet dis daar. In die hoek van die kamer, weggesteek deur skaduwees. ‘n Figuur, sterk en dominant. Ek het geweet dit staar na my onder die mantel van die nag. Uiteindelik kon ek die oë sien. Skrefies wit in ‘n esoteriese nagmerrie.

Daar was ‘n vreemde oomblik tussen ons. ‘n Stilte wat meer vrees in my veroorsaak het as wat ek ooit kon glo was moontlik. Ons het vir mekaar gestaar, en dit het my gevoel asof die indringer my opmeet. Berekening van die koste. ‘n Strategie vir aanval, evaluering van hoe verswak ek werklik was.
Skielik, geluidloos beweeg hy in my rigting. Vir ‘n oomblik was hy verlig deur die geel van die straatlig buite. Die baadjie waarmee ek so behep was, die onderbaadjie, die hemp, die broek, die blink skoene, alles daar. Foutloos netjies, swierig gedra deur ‘n man wat respek afdwing, onverskillig en onheilig; sy gelaatstrekke en hande, niks anders as verduisterde mis nie. Die klere – die man – het met presisie beweeg, en ek het verskrik uitgeroep. Terwyl die klanke nog weergalm, was die skaduwee-oortreder oor my. Die donker, steenkoolagtige mis van ‘n hand het uitgestrek na my, my aan die keel gegryp en my sonder moeite soos ‘n hol pop opgetel en geslinger na die ander kant van die kamer.
Ek het met ‘n hik die vloer getref. Ten spyte van my die lamheid en swakheid van vlees het ek uiteindelik ‘n vloed adrenalien gekry wat aangedring het dat ek na die slaapkamerdeur toe vlug. Maar die man was te vinnig en gryp my aan die arm en gooi my teen die spieël vas. ‘n Duisend glasskerwe ontplof om my, en soos wat ek die grond tref, kerf die glassplinters my kaal lyf vol snye. Ek voel die stukke in my rug steek en die warm vloeistof wat om my begin poel maak die terreur soveel meer werklik. Ek het nie kans om te reageer of bietjie te herstel nie. Die koue vingers sluit om my skouers en hy lig my van die vloer af op en laat val my weer op die slagveld van glas. Die stukke wat reeds in my is steek dieper en nog ‘n dosyne ander skerwe sluit aan by die slagting. Ek gil soos wat ek bewus word van elke individuele stukkie glas in elke spier, groot en klein. Daar wil ‘n donkerte oor my vou maar ek baklei teen my liggaam om nie flou te word nie.

Dan sak ‘n stilte vir ‘n oomblik oor die kamer neer, en ek kry vir ‘n oomblik ‘n titseltjie hoop. Die klank van swaar stewels op gebreekte glas verpletter daardie hoop egter baie vinnig. Die donker figuur, steeds netjies, behoorlik en aanwesig in die Kaptein se klere, sit die swaar stewel op my bors en met begin met genadelose krag trap. Elke lem, splinter en skerf van glas druk dieper en pynliker in my vel en vleis, gewelddadig aangemoedig deur die hardheid van die vloer en onnatuurlike kragtige stewel op my bors.
Ek kry nie ‘n geluid uit nie. Ek probeer gil, maar my longe is leeg. My arms spartel swak om die drukking te verlig met geen resultate nie. Ek hoor hoe kraak ‘n rib of meer, en die pyn raak net te veel. Ek wil hê die donkerte moet tog net kom…
Die Kaptein sê iets. Weereens duidelik in Frans, maar ek weet nie wat dit beteken nie. Dan lig hy sy voet van my bors af en bulder weer ‘n opdrag. Hy vat my aan my arm en trek my regop. Maar ek is swak en my bene wil niks weet van staan nie. Ek gly in die plas bloed en instinktief gryp ek om my balans te probeer kry. Ek gryp die bloedrooi baadjie raak en in die proses ruk ek twee van die baadjie se knope af. Dit gebeur vinnig. ‘n Breukdeel van ‘n sekonde. Maar ek sien dit raak. Die Kaptein tree geskok agteruit en in daardie oomblik flikker hy. Ek weet nie hoe om dit te verstaan of te verduidelik nie, maar hy flikker soos ‘n kers wat voor ‘n oop venster staan. Dit was genoeg vir my om te besef, te verstaan. Ek beur orent, ‘n groot skerf glas in my hand. Die bloed vloei vrylik uit die diep sny wat dit maak, maar ek voel niks meer nie. My kaal, gebroke lyf registreer nie meer die pyn nie. Koorsagtig spring ek vorentoe met die glasskerf omhoog. Hy lig sy hande om te keer, en ek sny ‘n diep gat in die mou van die baadjie. Weer val ek aan. Nog ‘n skeur in die mooi, duur materiaal. Die gedaante steier agteruit en ek begin kap na hom soos ‘n masjien. Skeur na skeur in die eens ongerepte klere. Hy sak neer op sy knieë. Sy oë woedend. Sy krag, mag en prag aan flarde.

Sowat ‘n week later word ek uit die hospitaal ontslaan.
Ek stap onseker deur my woonstel. Die toneel presies soos wat ek dit onthou. Die glas gestrooi oor die vloer, my eie droë bloed. Ek word gekonfronteer met die geskeurde baadjie en ander klere wat voor my lê soos ‘n lyk – die skoene, broek, hemp, onderbaadjie, baadjie – alles impliseer die vorm van ‘n man. Ek word oorweldig deur ‘n hartseer. Dit was so ‘n mooi baadjie. Dit is tragies. Die Kaptein het soveel meer verdien as dit… Ek begin wonder of ek die klere kon herstel – genoeg naald en garing om die glorie en skoonheid van die klere te laat herleef. Maar ek kom vinnig tot my sinne. Ek word gevul met ‘n naarheid en vir ‘n oomblik sien ek weer die gesigte van die mense wat vermoor word in my geestesoog.
Ek maak die klere bymekaar – half bang om daaraan te vat – en gooi dit in ‘n sak en bind dit styf toe. Ek ry sowat ‘n uur uit die stad uit tot ek ‘n stil afgeleë grondpad kry waar ek aftrek. Ek haal ‘n plastiek bottel vol petrol en die sak met die klere uit die kar en gooi dit op die grond. Vir oulaas haal ek die klere uit die sak. Ek streel met my vingers oor die pragtige geborduurde vorms, die goue knope en die sagte voering. Aan die binnekant van die baadjie raak my vinger aan ‘n stukkie materiaal wat anders voel as die res van die baadjie. Ek dop die baadjie om en bekyk die etiket.

Propriété du Capitaine Louis Dominique Cartouche.

Capitaine? Kaptein? Kaptein Louis Dominique Cartouche? Die steekpyn van gebreekte ribbes bring my weer terug aarde toe, en sonder om verder te aarsel deurweek ek die klere met petrol, gooi ‘n vuurhoutjie op die hopie en staan terug. Die vlamme verswelg die klere. Ek moet myself dwing om nie die klere te probeer red van die verterende vlamme nie. Uiteindelik is daar net ‘n hope swart as oor. Dit is klaar, gedoen, oor en verby.

Die nuuskierigheid vreet my egter op en ek stop eers by die biblioteek. Dit is nie lank voordat ek ‘n verwysing kry van Kaptein LD Cartouche nie:
“Kaptein Cartouche en sy bende het vir ‘n paar jaar Parys geterroriseer. Hulle het gemoor en gesteel van die koninklikes en adellikes. Sy volgelinge het hom voorgestel as ‘n Robin Hood-figuur wat van die rykes gesteel het en vir die armes geld gegee het, maar die waarheid is dat Cartouche genadeloos en wreed mense, selfs vroue en kinders, voor die voet vermoor het. Uiteindelik is Cartouche deur ‘n lid van sy eie bende verraai en is hy gevang. Cartouche is tot die verligting van Parysenaars ter dood veroordeel en is in 1721 in die publiek tereggestel. Die terreur van Cartouche het selfs in die Afrikaner volksmond ‘n plek verewig deur die uitdrukking ‘’n bende van Kardoes’ wat gesê word van ‘n rowerbende of skorriemorries.”

Bo-aan die artikel is ‘n antieke skildery van Cartouche. Alhoewel die foto in swart en wit is, is daar geen twyfel wie en wat die man is nie. Die aantreklike jong man in die prentjie het ‘n baadjie aan, wat afgewerk is met baie knope en geborduurde patrone, ‘n onderbaadjie en ‘n spierwit hemp. Hy’t egter ook ‘n pragtige hoed op. Ek het die boek toegeklap en net daar gelos. Ek het belangstelling verloor. Ek wou nie weet waar is die hoed nie. Natuurlik ook die rede wat Tannie Esther en hospice my nooit weer gesien het nie.

Ja, liewe leser, dit is my storie. Jy kan maar jou oë rol. Maar dinge het meer as gevoelens, hulle het herinneringe. Hulle geniet die gedagtes en optrede van die mense in die omgewing. Hartseer, lag, vreugde. Vrees. Ek het daardie dae en my onderonsie met Kaptein Cartouche nooit vergeet nie. Dikwels keer my gedagtes terug na die knope, wat ek sekerlik daar buite langs die grondpad lê, met roet, maar onaangeraak deur die vuur. Ek dink aan die pragtige baadjie – die herinnering van die pragstuk spook steeds by my, trek my, roep my.
Gereeld stap ek verby iets anders wat my aandag soek, uitroep om ‘n storie te vertel. Maar ek stap verby. Dis ander mense se stories. Ek het my eie storie. Die letsels op my lyf kan jy sien, sal jou vertel. Maar my siel se letsels. Dis is vir my om te sien. Vir my om te luister. Dis nie vir jou nie, liewe leser.




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    22 Mei 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek

  2. Toom

    23 Mei 2019

    Wondermooi! Goed vertel. En uitstekend opgebou.

    Skade om die (min) grammatiek- of tik-foutjies.
    Nogeens deurlees en dit word perfek.
    (Kleinighede soos om te . . , vlug na. . . En betekenis van woorde:
    Slaan maar esoteries na. Is dit PRESIES wat jy wil sê?)

    Mooi skoot!
    GvT

  3. Riaan Palmer

    23 Mei 2019

    Beste Toom, baie dankie vir die waardevolle terugvoer! Dit is goud werd. Ek is bewus van nog so ‘n paar foutjies wat ek graag wil reg stel, maar a.g.v. ‘n tegniese probleem met die webwerf kan ek dit nie op die oomblik regstel nie.
    Die gebruik van esoteries is die bedoeling “okkulties” of “bonatuurlik”. Hoekom voel jy dit is nie die regte woord nie?
    Nogmaals baie dankie vir die besondere komplimente!
    Riaan

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 14

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie.Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses.Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie...Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 65 gaste aanlyn

Bydrae Totale