Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KABOUSIE GAAN WILDTUIN TOE

Deur Wilma
Datum gepubliseer: 26 Julie 2018 Aantal woorde: 3118 494 Kere gelees 2

Kabousie is ‘n meerkat wat in die stad woon. Elke aand vertel sy mamma vir hom stories totdat sy ogies toeval en hy die hele nag deur slaap. Dan droom hy van die diere waarvan sy ma vir hom gelees het.
Nadat hy die hele dag gespeel het, is hy die aand baie moeg maar luister tog na die storie wat sy ma vertel. Sy vertel van olifante, renosters, kameelperde en nog baie ander diere. Kabousie luister met groot oë terwyl sy uitwei oor elke dier.
Sy slaap is skoon weg.
“’n Olifant is baie groot. Sy vel is swart en baie dik. As hy loop, klink dit so doef, doef doef. Die grond skud as hy met sy groot pote op die grond trap. Hy eet blare en takke. Sy maag rammel en raas soos wanneer dit gaan reën.”
Kabousie lê met groot oë en luister. Die weer kan baie hard dreun en hy hou niks daarvan nie. Dit maak hom bang.
“Die renoster is ook groot en het ook ‘n dik vel. Hy het twee horings op sy neus. As hy hardloop klink dit ook so doef, doef, doef. Renoster is baie kwaai. As ‘n renoster mamma ‘n baba het, mag niemand naby haar en haar kalfie kom nie.”
Kabousie probeer dink hoe iemand lyk met twee horings. Hy lag sommer hardop want hy kan hom nie voorstel hoe dit lyk nie. Die arme dier dra seker swaar aan twee horings op sy neus.
“Kameelperd het ‘n lang nek. Hy hou daarvan om ver te sien en almal te waarsku as daar gevaar is. Op sy kop het hy twee horings. Net sulke klein horinkies. Op sy lang nek is daar maanhare en oor sy vel is daar sulke groot kolle. Sy bene is lank en baie sterk. As ‘n leeu hom wil vang en opeet, kan hy met sy bene skop en homself verdedig.” Vertel mamma meerkat met baie gebare.
Kabousie lag te lekker. Hy sal baie graag hierdie dier wil sien met sy lang nek wat so ver kan sien. Mamma meerkat glimlag en vertel verder.
“Hiëna is ‘n snaakse dier. Dit is ‘n gevaarlike dier wat ander diere se prooi steel. Hy is nie bang vir leeus nie, maar as ‘n mannetjiesleeu saam met die wyfies is, is hulle versigtig. Die hiëna klink of hy lag. So ‘n groep bymekaar kan vreeslik raas.”
Kabousie lag en mamma meerkat kyk verbaas na hom.
“Gaan jy nie vanaand slaap nie? Moet ek nog vir jou lees?”
Kabousie sit nou regop. Hy het baie vrae om te vra.
“Nee, Mamma. Ek is nie vaak nie. Ek is nuuskierig oor die diere waarvan Mamma vertel. Waar bly hulle? Ek het nog nooit ‘n olifant, renoster of ‘n kameelperd gesien nie.”
Mamma meerkat lag te lekker. Kabousie is ‘n leergierige, nuuskierige meerkatjie. Sy hou daarvan.
“Kabousie, die diere woon in die wildtuin, ver van die stad af. Daar is baie ander diere ook. Dalk moet ons in die wildtuin gaan kuier dan wys ek al die diere vir jou. Ons het familie in die wildtuin. Miskien kan ons by hulle gaan kuier.”
Kabousie se ogies val toe en hy slaap. Hy droom van al die diere in die wildtuin. Van baie maatjies waarmee hy kan speel. In sy droom vang hy ‘n slang en skerpioene en allerhande lekker kos. Hy droom hy ry op ‘n olifant se slurp en gly teen die kameelperd se nek af.
Die volgende oggend speel hy nie saam met sy maatjies nie. O, nee, hy sit en droom oor hulle besoek aan die wildtuin. Mamma meerkat hou hom dop en weet sy sal ‘n geleentheid moet soek wildtuin toe.
Die volgende dag hardloop sy ongesiens na die boer se huis. Sy ken hulle taal goed want sy kom haal gereeld eiers uit die hoenderhok. Die hoenders is nie eers meer bang vir haar nie. Sy gaan kruip tussen die blomme weg want die boer en sy vrou sit op die stoep en gesels.
“Onthou, ons ry môre vroeg. Die wildtuin is ver en ek wil voor donker daar wees.”
Mamma meerkat is baie bly. Nou kan sy vir Kabousie die wildtuin gaan wys. Stilletjies sluip sy uit die blomme en hardloop dan vinnig terug na waar die meerkatte woon. Dadelik roep sy vir Kabousie.
“Ons moet vanaand daar by die boer gaan slaap. Hulle gaan môre vroeg wildtuin toe ry. Hoor jy, Kabousie? Ons gaan wildtuin toe!”
Kabousie eet soveel as wat hy kan. Sy mamma het gesê hulle kan nie kos saamvat nie. En die pad is baie lank tot daar. Sy hartjie klop vinnig van vreugde. Hulle gaan rerig wildtuin toe. Na waar al die diere woon.
Die boer en sy vrou het die aand alles wat hulle wil saamneem wildtuin toe, op hulle bakkie gelaai en met ‘n seil toegemaak. Kabousie en sy mamma wag tot die huis donker is en die boer snork, voordat hulle stilletjies onder die seiltjie inkruip.
Hulle kry ‘n sagte plekkie om te lê en raak aan die slaap. Dit is so lekker warm onder die seiltjie dat hulle tot laat slaap. Toe hulle wakker word, voel hulle die beweging onder hulle. Jippie! Hulle is oppad wildtuin toe.
‘n Beweging trek Kabousie se aandag en hy spring orent. ‘n Skerpioen kom stadig aangewaggel. Met ‘n vinnige beweging vang hy die indringer en eet hom op. Mamma meerkat lag te lekker. Kabousie gaan nie kla dat hy honger is nie.
Laat die middag hou die boer stil. Kabousie loer na buite en sy ogies rek. Dit moet die wildtuin wees. Hy skud aan sy mamma en wys na buite. Rats vlieg hulle onder die seil uit en hardloop weg sodat boer hulle nie moet sien nie. Mamma meerkat stop eers wanneer hulle in ‘n groot bos verdwyn.
“Ons moet ‘n slaapplekkie soek vir die nag. Is jy honger?” vra mamma Meerkat.
Kabousie haal diep asem. Hulle het darem nou vinnig gehardloop.
“Nee, ek is nie honger nie. Dit voel so lekker om weer op grond te trap.”
Mamma is haastig om ‘n slaapplek te kry. Sy weet hoe gevaarlik dit kan wees as sy nie onder die grond is nie. Daar is baie jagters in die nag wat maar te bly sal wees om twee meerkatte te eet. Sy sien ‘n hoop grond en draf daarheen.
Dadelik is daar ‘n gegrom uit die gat en hulle hardloop vinnig weg. Hulle gaan loer by nog twee gate in en word dadelik weggejaag. Maar die derde gat is leeg en soos blits verdwyn hulle in die gat. Kabousie is so moeg na die lang ry dat hy dadelik aan die slaap raak.
Dit is nog skaars lig, toe hy sy kop by die gat uitsteek. Hy asem die vars lug in en roep sy mamma.
“Ons moet opstaan en kos soek, Mamma. My magie raas van die honger.”
Dit is twee opgewonde meerkatte wat klippe omkeer om kos te soek. Hulle eet sprinkane, krieke en ‘n paar skerpioene. Hulle rus eers ‘n rukkie onder die koelteboom. Hulle word vinnig wakker van ‘n gestamp teen die grond.
Kabousie se ogies vlieg oop en verskrik kruip hy agter sy mamma weg.
“Wie is julle? Ek het julle nog nooit hier gesien nie!”
Hy kyk in twee kwaai oë vas en knyp dan sy ogies styf toe.
“Ons kom van die stad af. Wie is jy?” vra mamma met ‘n bewende stem.
“My naam is Manie Vlakvark.”
Hy stoot sy bors uit en roep sy kinders wat daar naby wei. Trots stel hy hulle voor en hardloop dan weg. Kabousie se mondjie hang oop. ‘n Vlarkvark is ‘n snaakse dier met sulke twee krom tande wat uit sy mond groei.
Hulle hardloop verder en bots teen ‘n boomstam. Kabousie vryf sy kop en nek. Op die grond lê ‘n vreeslike groot luislang. Kabousie gaan staan daar ver sodat die luislang hom nie vang nie.
“Julle kan bly wees ek het klaar geeet. Julle sou alte lekker gesmaak het.”
Die luislang maak sy groot mond oop en gaap vaak. Kabousie ril en staan styf teen sy mamma.
“Kan ons nou verder gaan, Mamma? Ek hou nie van die luislang nie.”
Die luislang hoor wat Kabousie sê en mik om hom te vang. Kabousie skrik so groot hy spring sommer hoog in die lug. Toe sy pootjies grond vat, hardloop hulle weg. Na ‘n rukkie gaan sit hy teen ‘n groot miershoop om asem te skep.
‘n Klomp miere kom woedend aangehardloop. Hulle byt geniepsig. Kabousie keer en gaan ‘n ent weg staan om te kyk wat aangaan. Dan begin hy hardop lag. Hy het in die miere se paadjie gaan sit en hulle is besig om in ‘n lang ry aan te stap. Hulle is besig om te trek.
Mamma Meerkat roep hom nader. Sy wys na ‘n groot dier wat besig is om takke af te breek. Groot ore wapper langs sy kop en Kabousie staan oopmond na hom en kyk. Dis ‘n olifant. Nuuskierig sluip hy nader om beter te sien.
“Wees versigtig, Kabousie. Moenie onder sy voete beland nie!” waarsku sy mamma.
Kabousie gaan staan op ‘n groot klip om nog beter te sien. Sjoe, die olifant is baie groot.
“Hallo! En wie is jy?” vra olifant vriendelik.
“Ek is Kabousie Meerkat. Ek kom van die stad af.”
“O, my naam is Ollie Olifant. Ek is nou ‘n jaar oud en moet nog baie groei om so groot te wees soos my ma. “
Kabousie en Ollie gesels land en sand. Dan hoor hy ‘n gerammel en geraas en hy skrik.
“Toemaar, moenie bang wees nie. Dit is net my ma se maag wat so raas.”
Hulle lag en groet. Kabousie en sy ma hardloop verder. Hulle hoor ‘n brul en sy ma stop so vinnig dat hy in haar vashardloop. Hy sien hoe sy ma se oë rek.
“Ons moet wegkruip, Kabousie. Gou! Kyk of jy wegkruip plek sien!”
“Hoekom? Wat het so gebrul?” vra hy nuuskierig.
“Dis ‘n leeu. Hy sal ons vang!” roep sy benoud.
Terwyl Kabousie nog so staan, sien hy hoe ‘n groot kat aangestap kom. Hy begin bewe. Sy ma het hom al baie vertel van ‘n leeu.
Gelukkig het die leeu hulle nog nie gesien nie. Hulle gaan kruip agter ‘n groot klip weg en bly doodstil staan. Sy hartjie klop doef, doef, doef. Hy hoop nie leeu hoor sy hart klop nie.
Hulle sien hoe leeu wegstap. Albei sug verlig. Leeu het hulle nie gesien nie. Vinnig hardloop hulle ver weg van leeu. Hulle is so haastig om weg te kom dat hulle nie mooi om hulle kyk nie. Kabousie is die eerste een wat bewus raak van die gevaar om hulle.
Hulle is omring met meerkatte wat hulle sterte hoog in die lug hou. Moeilikheid!
“Wie is julle en waar kom julle vandaan?” vra die leier met ‘n kwaai stem.
Mamma Meerkat glimlag haar mooiste glimlag en verduidelik vinnig dat hulle van die stad is en net besoekers is.
“Hierdie is ons gebied. Aangesien julle dit nie geweet het nie, sal ons julle toelaat om verder te gaan.” Praat hy weer met ‘n onvriendelike stem.
Een van die ander meerkatte kom vriendelik nader. Sy ruik aan Kabousie en sy ma.
“Wat is ‘n stad en waar is dit?” wil sy weet.
“Dit is baie ver. Ons het in die boer se bakkie weggekruip en die hele dag gery. Ek het vir Kabousie die wildtuin kom wys.”
Mamma meerkat gaan staan naby Kabousie sodat hulle kan sien sy jok nie.
“Kan ons hulle nie toelaat om ‘n rukkie by ons te bly nie?” vra die wyfie meerkat.
“O, dan is dit reg. Kom saam met ons daar na ons kolonie. Julle kan ons van die stad vertel.” Brom die leier en begin wegdraf.
Mamma Meerkat sug verlig. Hierdie meerkatte kon hulle dood gebyt het. Kabousie sien die meerkat maatjies en glimlag vir hulle. Hy kan hulle baie vertel van die stad. Hier gaan hy lekker kuier. Hy lig sy stert ook hoog en gaan saam met hulle.
Hulle kuier die res van die dag by die meerkatte en daar word lekker gelag. Kabousie leer ‘n klomp nuwe speletjies by sy maatjies. Maar toe die brandwag meerkat hulle waarsku oor gevaar, verdwyn hy en sy mamma saam met die ander in die gat.
‘n Valk wat hoog in die lug vlieg en opsoek is na kos, is hulle vyand. Hy kan hulle maklik vang en opeet. Na ‘n rukkie is die valk weg en kan hulle weer buite speel.
“Julle kan vannag hier slaap.” Word hulle uitgenooi.
Vroeg die volgende oggend draf hy en sy mamma weg. Hulle waai vrolik en dan moet daar kos gesoek word. Hulle is honger. Mamma kry ‘n lekker vet skerpioen. Kabousie probeer dit by haar afvat, maar sy keer vir ‘n vale. Kabousie moet sy eie kos soek.
Nadat hulle genoeg geeet het, kyk Kabousie rond. Bo in ‘n boom sit ‘n apie. Hy kyk nuuskierig na hulle. Stadig klim hy uit die boom en kom na hulle aangestap.
“Ken ek julle?” vra hy vriendelik.
“Nee, wie is jy?” wil Kabousie nuuskierig weet.
“Ek is Kosie die apie. Wat maak julle hier?
Vinnig verduidelik Kabousie waar hulle vandaan kom. Apie trek sy neus op en klim terug in die boom.
“Gaan jy nie bietjie by ons kuier nie?” wil Kabousie teleurgesteld weet.
“Nee, julle ruik anders as ons. Julle ruik soos mense.”
Kabousie kyk na sy Mamma. Hoe ruik mense? Hy het net gehoor sy mamma sê hulle bly naby die boer. Maar hy het die boer die eerste keer gesien toe hulle hier gekom het en hy uit die boer se bakkie geklim het.
“Dis alles reg, Kosie apie. Geniet jou dag.”
Mamma groet die apie en begin weer weghardloop. Maar snaaks, die apie volg hulle. Hulle loop ver voordat hulle iemand teekom. ‘n Skilpad kom stadig aangestap. Nuuskierig ruik Kabousie aan die skilpad se huisie.
“Hallo, Skilpad!” groet mamma Meerkat vriendelik.
“Hallo. Hoekom ken ek julle nie?” brom skilpad.
“Ons het net kom kuier. Wat is jou naam?” vra Kabousie.
“Ek is Skillie skilpad. Julle moet my verskoon want ek is oppad watergat toe. Ek is vreeslik dors.”
“Wag, ons sal saam met jou loop. Ons het nie geweet waar die watergat is nie. My naam is Kabousie en hierdie is my Mamma.”
Mamma lag te lekker. Nou gaan hulle sommer baie diere sien. So ‘n watergat is mos die bymekaarkom plek. Hulle gesels lekker met Skillie terwyl hulle saam met hom loop.
Hulle hoef nie ver te stap nie. Die watergat is net skielik daar. Kabousie steek vas. Daar is baie diere wat water drink. Hy gaan staan styf teen sy ma.
“Mamma, wat vir ‘n ding is daardie met die strepe? Hy lyk dan soos ‘n gestreepte donkie? Oe, maar hy is mooi.”
Mamma lag sommer hardop. Sy het gedink hy sal eerste die renoster raaksien.
“Dit is ‘n Zebra. Hulle kan baie vinnig hardloop. Partykeer hardloop hulle vir ‘n leeu weg. Hulle kan ook agterop skop. Moet nooit agter hulle gaan staan nie, hoor. En hulle kan seer byt!”
Kabousie se ogies rek. Sjoe sy mamma is baie slim. Sy weet alles.
“Is daardie dier met die twee horings die renoster? Hy is darem baie groot. Baaie groot.”
Mamma lag en is bly dat Kabousie so mooi na haar stories geluister het. Hy gaan baie slim word hier in die wildtuin. Stadig begin sy na die watergat stap met Kabousie wat baie naby haar bly. Hulle sien hoe Kosie apie uit die boom klim en ook watergat toe stap. Maar sy ogies flits heen en weer.
“Hoekom is hy so bang, Mamma?” kan hy nie meer sy nuuskierigheid hou nie.
“Diere is altyd op die loer of daar nie ‘n luiperd of leeu in die omgewing is nie. Baie roofdiere vang ape en eet hulle op.”
Kabousie ril en kyk ook behoedsaam om hom rond. Hy wil nie graag deur ‘n roofdier opgeeet word nie. Hy sien die kameelperd raak en sy mond hang oop. Sy mamma het nie gejok nie.
“Sien jy die kameelperd?” hoor hy sy mamma fluister.
“Ja, Mamma. Hy is net soos Mamma gesê het. Hoekom staan hy met sy bene so wyd uit mekaar?” wil hy nuuskierig weet.
“Omdat sy nek so lank is, moet hy sy bene so wyd uitmekaar hou anders kom sy kop nie by die water uit nie. Kyk net die mooi blokke op sy vel. Hy is vir my die mooiste dier.”
Mamma meerkat sug. Hulle hoor ‘n gekraak van takke en dan sien Kabousie ‘n bok nader stap. Die mooiste, mooiste bok wat hy nog gesien het. Sy horings is gedraai en lank.
“Kyk Mamma! Kyk die mooi bok!” roep hy bewonderend uit.
“Jy is gelukkig om ‘n koedoe te sien, Kabousie. Dis ‘n trotse bok. Hy kan oor hoë drade spring.”
Kabousie kan net kyk en kyk. Die mooiste horings. Sy mamma draf weer af water toe en hulle drink vinnig water.
“Mamma, ek wil hier in die wildtuin bly. Ek wil nie meer op die boer se plaas bly nie. Daardie groot honde blaf altyd vir ons. Kan ons maar hier bly?” vra hy hoopvol.
Sy hardloop vinnig na die koelteboom en gaan lê teen die boomstam. Sy wil antwoord, maar ‘n groot lawaai bars los. Dit klink of iemand lag. Mamma spring op en behoedsaam sluip hulle na die plek waar hulle die lawaai hoor.
Mamma se mond val oop. ‘n Hiëna is besig om ‘n luiperd se prooi te steel. Die luiperd blaas waarskuwend maar die hiëna steur hom nie daaraan nie. Hy gryp die bok in sy kragtige kake en hardloop weg. Die luiperd het in die boom verdwyn.
“Noudat jy gesien het wat die hiëna doen, wil jy nog hier bly?”
Kabousie is skoon verskrik. ‘n Hiëna is nie ‘n mooi dier nie en hy stink. Tog het hy niks met hom te doen nie. Hy sal uit die hiëna se pad bly.
“Asseblief, Mamma. Ek wil net hier bly.” Soebat hy.
‘n Groot sprinkaan land voor sy voete en vinnig hap hy die sappige insek. Heerlik.
“Sien, Mamma. Hier is baie meer kos as op die boer se plaas. Kan ons maar bly?”
Mamma lag gelukkig. Sy is ook waar sy graag wil wees. Al die diere in die wildtuin word beskerm. ‘n Veilige plek om te bly.
“Dis reg, Kabousie! Ek wil ook graag hier in die wildtuin bly. Ons sal vir ons ‘n eie huis soek.”
Saggies skuur hy teen sy mamma se warm lyf om dankie te sê.

DIE EINDE
©Wilma




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    26 Julie 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2018 – OOP projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 14
Kommentaar telling: 0

Ek is al 39 jaar getroud met 'n wonderlike man. Ouma van 7 kleinkinders. Baie lief vir lees, om te skryf en naaldwerk te doen.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 137 gaste aanlyn

Bydrae Totale