Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: KAALVOETSEUNTJIE

Deur neels
Datum gepubliseer: 9 Augustus 2016 Aantal woorde: 2014 1277 Kere gelees 4

Sestig jaar gelede, in 1954, het n kaalvoet seuntjie, op Valsrivier stasie, een oggend aan sy ma se hand oor die treinspoor gehardloop na n ou klipgebou aan die oorkant van die spoor om sy skoolloopbaan te begin.
Vreemde wêreld met klomp kinders om hom. Sommige het met perdekarretjies skool toe gekom, die groter seuns op perde, ander te voet. Met ander stasiekinders het Kaalvoet seuntjie gou aangepas en het vinnig n gesoute skolier geword wat sy silwerboom lees boekie vinnig kon lees en vinnig leer somme maak het. Kaalvoet seuntjie se grootste straf was om smiddae sy huiswerk onder sy ma se toesig te doen want dit het erg ingemeng met sy ander bedrywighede op Valsrivier en daar was baie.
Mev. Fourie was n bekwame onderwyseres wat ook maar met die perdekar skool toe gekom het om vir haar sub. A tot st vyf kindertjies klas gegee het.
Sy het ook Vrydae middae na skool vir die kinders Sondagskool gehou.
Die groot kinders, dit was nou st 6 tot st 8, het by mnr. Coetzee in die ander kamer klas geloop. Hy het n motor gehad, n Hudson wat vir Kaalvoet seuntjie al te veel na n visblik gelyk het.
Klaar met huiswerk was Kaalvoet seuntjie n bedrywige man met baie om te doen. Hy kon kies of hy wil wegloop pomphuis toe onder by die rivier om bietjie by oom Kruger, die pomper, te gaan kuier en of hy net onder die waterkolom wil sit en kyk as die drywers die lokomotiewe ghries en olie terwyl die stokers die vuur met lang vuurysters omkrap en skoon maak terwyl daar water gevat word. Hy kon ook vir pa op die stasie gaan kuier.
Elkeen van hierdie drie wêrelde het natuurlik sy eie unieke atmosfeer gehad.
Oom Kruger se pomphuis was altyd kraak netjies met sy rooi gepolitoerde vloer en die twee groot stoompompe wat die water met n getj tj na die groot watertenks op die stasie gepomp het vir die dorstige lokomotiewe. Langs hierdie stoompompe het groot bakke steenkool gestaan om in die vuur van die pompe te gooi. Dit het gelyk of oom Kruger nooit slaap nie want daar was tog dag en nag treine wat water vat. Hy het in so n tweevertrek hutjie langs die pomphuis gebly. Beste van alles was dat die pomphuis nooit oorstroom het as die rivier in die reëntyd afkom nie.
Valsrivier kon afkom en dan het ons vir n hele paar dae nie skool gehad nie want dan kon niemand deur die driwwe kom nie.
Die stasie self was n wonderlike plek. Kaalvoet seuntjie het altyd hier gesit en kyk hoe sy pa (as die aan diens is) die sinjaalhefbome trek en die instrumente hanteer om die treine te beheer. Agter in die stasie het die stasiemeester altyd tussen n klomp papiere gesit en swoeg en sweet met sy tandlose mond. Pa het gesê dat oom Japie sulke uithaal tande het wat hy in sy laai bêre. Hy sit hulle net in is daar vroumense in die stasie kom. Hy het glo sy tande verloor toe hy op n hark se tande getrap het. Toe het die steel opgewip en sy tande uitgeslaan. Vandag lag ek daaroor, wie het nou al van n D.I.Y. tandarts gehoor.
Kaalvoet seuntjie se gunsteling plek was onder die waterkolom, hier het hy al die bedrywighede van vuur skoon maak, water vat en nog meer in stille bewondering gade geslaan.
Toe gebeur daar eendag n wonderwerk. Die vriendelike oom wink hom nader en tel hom in die kajuit in. Kaalvoet seuntjie het hom verstom aan al die geraas en gerumoer en hom verkyk aan al die hefbome en glimmende meters. Dit was waar hy koors opgetel het toe hy die reuk van rook en stoom inasem. Dit is ongeneeslik en ly hy tot vandag daaraan want die oom het van hom daardie dag n stoom liefhebber gemaak.
By die skool was daar natuurlik ook buitemuurse aktiwiteite. Hulle was nou wel te min vir rugbyspanne en al sport wat hulle gehad het was atletiek. Dit is sommer daar in die grondpad wat voor die skool verbyloop ge oefen en kon kaalvoet seuntjie hol met sy kaal voete. Hy was darem nie al een wat kaalvoet gehardloop het.
Die lekkerste was as ma hom winkel toe stuur met n briefie en n mandjie. Dan het oom Duimpie, die winkelier, alles in die mandjie gepak en dit in n boek opgeskryf. Daar was altyd n geskenkie van oom Duimpie. Paar Nigger Balls wat jou tande so lekker swart gemaak het of n paar Sunrise toffies. En soms so lank swart drop lekker. Daar was ook sulke ander lekkers wat allerhande goed op geskryf was en die lekkerste suigstokkies
Sjoe daar was darem baie goeters in daardie winkel. Blikkieskos in rye gepak, lampe, kerse, primus stofies, oorpakke, waterskoene, ag te veel om op te noem en moet nie vergeet van die rol pruimtwak nie. Tabak het in n groot blik gestaan en as die volkie twak kom koop is dit in n bruin kardoesie afgeweeg, nes suiker. Onthou daar was nie elektrisiteit nie en was die winkel se handel op n elektrisiteitlose gemeenskap ingestel.
Nog een van Kaalvoet seuntjie se kuierplekke was by die tannie in die poskantoor, net langs die stasie. Hy kon hom verkyk as sy die skakelbord werk en die drade so in hulle gaatjies indruk en uittrek om die oproepe te hanteer en elke slag sê: “Nommer asseblief, number please”.
Die stasie was ook sonder elektrisiteit en onthou hierdie seuntjie tot vandag nog die Tilley en Alladin lampe wat op die stasie en by die huise gebruik is. Parrafien was in n blik gekoop en dan met so n snaakse lang blik pomp uit die blik in die lamp gepomp. Om vlieë te spuit het Kaalvoet seuntjie so snaakse pomp met n tenk aan gehad want sy ma het daardie lang taai goed wat in die plafon met n duimdrukker opgehang is gehaat.
Vir die wat nou dink dat Kaalvoet seunjie n engeltjie was wag daar n wrede ontnugtering. Sy nuuskierigheid en omswerwinge het hom meer as een keer ernstig in die moeilikheid laat beland veral as hy so verdwyn en niemand weet waar hy is nie, dan het sielkunde gepraat! Sy pa het sielkunde gebruik om sy broek vas te hou maar die wonderlikste van alles was dat sy broek nooit afgeval het as hy sielkunde afhaal om seuntjie n sielkundige les te gee nie.
Een middag toe die passasierstrein Bethlehem toe in die stasie staan besluit Kaalvoet seunjie om bietjie te gaan kyk wat binnekant aangaan. Hy raak toe so verdiep in alles wat hy sien dat hy nie agterkom dat die trein begin ry nie. Toe hy dit agterkom was dit te laat vir uitklim. Was die man benoud, wat nou. Gelukkig ontdek oom kaartjies ondersoeker hom en is hy op die volgende stasie vir oom stasievoorman gegee. Oom stasievoorman het dadelik sy pa gebel om hom te vertel waar sy seuntjie hom bevind en is toe aan oom kondukteur van n goederetrein oorhandig vir sy terugrit saam met oom kondukteur in sy kondukteurswa. Dit was n benoude rit en het Kaalvoet seuntjie homself begin staal vir sy sielkundige les en toe kry hy nie eers een nie.
Soos Kaalvoet seuntjie groter geword het het sy verantwoordelikhede ook begin toeneem. Die tyd het aangebreek wat sy pa hom smiddae gestuur het om die beeste vir meltyd in die veld te gaan haal. Sy pa was maar so deeltyds boer. Kaalvoet seuntjie het gou vir hom so opgeskote tollie aangetree om as ryperd te gebruik en as die beeste aangejaag word sit hy soos wafferse cowboy op sy tollie.
Hier het hy en Chips (so baster Fox Terrier) saam die veld leer ken. Chipe het eendag sy lewe gered toe hy ,vooruit soos gewoonlik, op n rinkals afgekom het. In sy hondeverstand het hy dadelik besef dat hy sy baas moet wegkeer van hierdie ding af. Hy het dadelik omgevlieg, Kaalvoet seuntjie gestorm en hom knorrend weggejaag. Toe Kaalvoet seuntjie die rinkals sien en Chips is seker dat hy weet wat aangaan storm hy toe onder die rinkals in. Na n hele halfuur het hy Rinkals moeg gedans en toe gryp hy vir Rinkals-einde van Rinkals.
Hoe Chips by Kaalvoet seuntjie aangesluit het is ook al weer n storie op sy eie.
Sy pa het besluit om n kar te koop want die stasiemeester het n Willys Areo Wing gehad en die ander stasievoorman n dickieseat Chev. Vir die wat nie weet nie, n dickieseat was n kar met twee sitplekke ekstra in die bagasiebak se deksel. Die wat daar gesit het het natuurlik in die wind en weer gesit.
Kaalvoet seuntjie se pa koop toe n Austin A40 en verby was die dae wat daar een maal n maand met die trein dorp toe gegaan is.
Dit is op een van hierdie togte wat ma gou met die uitgaanslag uit die dorp uit gou oor die pad gehardloop het om vis en chips te gaan koop terwyl pa petrol ingegooi het. Toe sy inklim toe klim Chpis saam in en ry toe maar saam.
Vir die wat nog steeds dink dat Kaalvoet seuntjie n engeltjie was-allermins. Dit was darem nie altyd skuld dat hy in die moeilikheid gekom het nie. Daar was die dag wat die baanmeester se dogter, Sonja, hom gruwelik verlei het. Sy was n mooi meisiekind en waar sy die knalpatrone in die hande gekry het weet geen mens nie. In elk geval, Kaalvoet seuntjie word toe omgepraat om saam met haar te kyk wat gebeur as hulle die knalpatrone op die spoor sit en n trein trap hulle af.
Met Murphays law ernstig in werking die aand is dit toe die Oranje Snel, wat nie op Valsrivier stop nie,wat die spul knalpatrone op vol spoed aftrap.
Chaos! Die drywer gooi die remme vol aan en toe die trein uiteindelik tot stilstand kom word daar ernstig ondersoek ingestel na die verskriklike lawaai want dit het amper soos n veldslag in n oorlog geklink. Om die sakie te vererger was die eetsalon vol mense wat aansit vir aand ete en het almal met hulle aand ete op hulle skote gesit.
Dit het hulle nie lank geneem om die knippies van die knalpatrone te ontdek nie en toe die trein weer weg is is daar toe ernstig voorraad opname van knalpatrone deur die stasiemeester en die baanmeester gehou. Die baanmeester het gou ontdek dat van sy knalpatrone weg is en is Kaalvoet en Sonja n ernstige sielkundige les toegedien.
Hoe hulle die lot geantwoord het weet Kaalvoet seuntjie tot vandag toe nie.

Kaalvoet seuntjie het groot geword en het sy Valsrivier dae tot n einde gekom toe hulle Ficksburg toe is maar dis nou weer n ander storie.
Waar Valsrivier was is vandag niks het Kaalvoet seuntjie na sestig jaar ontdek toe hy n slag (hierdie keer met skoene aan) daar gaan kuier het.
Waar die stasie was is niks, net n toegegroeide platform onder die bossies en n skewe geroeste naambord wat jy nie eers die naam kan lees nie. Waar die waterkolomme gestaan het staan die sementblokke onder die gras. Die huise is plat geslaan en oom Duimpie se winkel is net n murasie.
Die ou skooltjie staan ook nog, net n murasie met gate waar die vensters was en sonder dak. Tussen die mure het die bossies ingeneem.
Die ou pomphuis is daar ook nie meer nie, al wat oorgebly het is die staalbrug oor die rivier.
Vandag beweeg daar so af en toe n elektriese trein deur die stasie wat was, die mense op hulle onbewus van die wondelike jare wat was.
Ek groet jou Valsrivier en raai wat-ek is nog net so lief vir kaalvoet loop soos daardie tyd. Ek kan saans nie vinnig genoeg uit my skoene uitkom nie. Ek groet jou plaas skooltjie want daar is die fondament van my lewe gelê maar wees verseker n paar van ons sal jou nooit vergeet nie.




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Ronel Janse van Vuuren

    15 Augustus 2016

    Goed gepen. Het gevoel asof ek saam met daardie kaalvoet seuntjie in Valsrivier was 🙂

  2. neels

    15 Augustus 2016

    Dankie Ronel waardeer

  3. HelenaMellet

    28 Augustus 2016

    Dit is so mooi Neels, Het nou baie lekker gelees.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 214
Kommentaar telling: 1107

Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 66 gaste aanlyn

Bydrae Totale