Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: JUNIE: Projek uitslae en kommentaar

Deur Inkmoderator
Datum gepubliseer: 10 Julie 2018 Aantal woorde: 1926 296 Kere gelees 4

Junie Projek – INK Kommentaar en uitslae
WENNERS:
GEDIGTE:
Goud:

1 ste (No. 14); Carma Shaw met Delvillebos (op ‘n dag in Julie 1916)

2de (No. 10) Anzé Bezuidenhout met Winterreën

Silwer:

1 ste (No. 6) Estelle Rubouw met Oggendlied

Geen 2de en 3de plekke

Brons:

(No. 7)  Denise van Rensburg met Semelkop

Geen 2de en 3de plekke.

VERHALE:
Geen.

Kommentaar:

GEDIGTE:
Glasblind staar (1):
Ek dink jy het die opdrag baie mooi verstaan, en gebruik op die meeste plekke in jou gedig leestekens korrek. Daar is een of twee klein akademiese dingetjies waarop ek jou aandag wil vestig: (1) Die gebruik van die ellips […] moet met omsigtigheid benader word, buiten dat die reëls streng is hoe dit gebruik word, nl. dat daar geen spasie gelaat behoort te word tussen die ellips self en die woord waarop dit volg nie, moet dit ook funksioneel wees. By funksionaliteit bedoel ek, dit moet ‘n pouse aandui of dit moet die doel hê om die interpretasie (gevolg) oop te laat vir die leser om self die gevolg te bepaal. Jy moet jouself die vraag afvra of jy dit funksioneel aangewend het. (2) Hoofletters moet altyd leestekens soos [?] [!] [.] volg. Die inhoud van jou gedig is interessant en beeldryk, maar ek het effe kleigetrap deur jou titel met die inhoud in verband te bring. Jy kan gerus, as jy ‘n kansie het, vir my ‘n inboks stuur as jy oor my kommentaar wil gesels. Baie dankie vir jou deelname.

Saam met jou (2):
Die beste kommentaar op jou vers sal ‘n ‘geredigeerde’ weergawe wees. Ek het die vers sonder paragrawe aangehaal, slegs om spasie te spaar. Jou strofe aanwending is korrek.

_ en ek staar na die sagte’
purper’pers en bloed’rooi son,
soms.. net soms..
tussen vandag en tussen more
tussen gister …
En tussen nou
sien ek jou.
Verstaan jy die rede
van ‘n woord`lose belofte?
van stukkies vertroue,
wat elke dag verdwyn.
Vir ‘n klein..klein oomblikkie….
hoor ek jou hart`klop …
voor gister se beeld,
weer stadig vervaag,
in vandag se onthou.

Ek staar na die sagte
purperpers en bloedrooi son;
net soms,
tussen vandag, more en gister
en tussen nou
sien ek jou…
verstaan jy die rede
van ‘n woord’lose belofte,
van stukkies vertroue
wat elke dag verdwyn?
Vir ‘n klein oomblik
hoor ek jou hartklop
én gister se beeld
wat stadig vervaag
in vandag se onthou.

Werk (3):
Die kort vers herinner aan limiriek. Die belangrikheid van die gebruik van leestekens is duidelik in hierdie vers. Ek sou sluit met “vra die klerk’ eerder as sê. Kort kragtoertjie. Dankie vir jou deelname.

Fantasie van dans (4)
Die opdrag was om die nodigheid en funksionalitiet van leestekens in digkuns te belig. Jou vers besit genoegsame leestekens, tog is dit belangrik dat dit korrek en funksioneel aangewend word. Die ellips byvoorbeeld in lyn 4 is nie nodig nie. Dit word gebruik indien die skrywer die voorafgaande wil ooplaat vir verdere of individuele interpretasie. Die gebruik van hoofletters in die middle van sinne, tensy dit Eiename is, is taboe. ‘n Vraagteken mag nie ‘n komma volg nie. Hierdie vers het potensiaal om ontwikkel te word maar in die huidige vorm ontbreek aan basiese reels. Jy kan gerus per inboks met my hieroor gesels, indien jy sou wou.

Vir Marike (5)
Ek wil begin by die les hierin: dit is duidelik en moontlik dat mens ten spyte van kan glimlag en steeds die “blomme maai”. Ek hou van die lewensles hierin. Alhoewel daar mooi metafore hierin vervat is, wil dit vir my voel of die drie strofes effe van mekaar verwyderd is, en of die beelde nie ‘n goue draad het wat daardeur loop nie. Die opdrag konsentreer egter meer op die essensie van digkuns hierdie maand, wat leestekens ens. insluit. Jy het die minimalisties aangepak maar myns insiens tóg wel daarin geslaag. Sou addisionele leesteken hulp die vers versterk? Ek voel tog so. Gesels gerus met my per inboks dan kan ek vir jou verduidelik waarom ek so voel.

Oggendlied (6)
Die gedig staan uit. Dit is ritmies, beeldryk en voldoen aan elke voorskrif van goeie versmaak. Baie geluk met hierdie inskrywing. Dankie vir jou deelname.

Semelkop (7)
Die gedig lees soos die tango wat hierin beskryf word; heerlik ritmies. Ek het ‘n paar voorstelle: (1) 1 ste strofe: die punt ná “kantel” sou ek met ‘n [;] vervang (2) “die” vóór “kantel” moet geaksentueer word [dié] (3) Transpondeer en nié “transponeer” nie (4) ek sou die ellips in strofe 3 met ‘n lang aandagstreep [Alt + 0150] vervang. Ek hou baie van jou vers. Welgedaan.

Lagunenberg (8)
Die gebruik van leestekens in hierdie vers is geslaagd. Let op spelling van “majestieus”. Die vloei in die vers verwar my effe, en dit is dalk net omdat ek nie die gebied ken waarvan jy skryf nie, wat met berge en mere begin en dan met ‘n stil woestyn eindig. Ek verstaan wat onderliggend bedoel word maar as leser is ek effe verward.

Mevrou Noag (9)
Dit is ‘n vers wat ombou kan word in ‘n baie suksesvolle filosofiese vraagstuk. Die idees (en effe komiese benadering) is interessant maar die gedagtes is slordig georden. Let op jou spelling.

Winterreën (10)
Pragtige gedig met ‘n mooi en ritmiese aanbieding. Die opdrag is ook getrou nagekom. Werklik waar ‘n heerlike vers om te lees wat deur interessante en mooi metafore verwoord is. Dankie vir jou deelname.

Moeder taal…Afrika taal (11)
Dankie vir jou deelname. Ek wil ‘n paar dinge bespreek: (1) Indien ‘n voorafgaande strofe sonder ‘n punt sluit, behoort die strofe wat volg NIE met ‘n hoofletter te begin nie. (2) Die gravis aksent op [die 2de lyn 2de strofe] is inkorrek. ‘n Akuut behoort daar gebruik te word. Slaan die gebruik van die gravis en akuut na om te sien waarom ek so sê. (3) Al vier sinne in jou laaste strofe bevat hoofletters wat nie funksioneel of korrek is nie. Jou vers kan ontwikkel word in ‘n goeie vers as jy die basiese reëls nakom.

Vlietende verganklikheid (12)
Ek hou van die vers wat pragtig vraend eindig. Die tipografie is mooi op die oog en die inhoud is mooi. Daar is klein goedjies hierin wat my pla. (1) Die eerste 2 sinne in die vers lees moeilik?? (2) Saamleef in die 3de lyn, behoort dit nie een woord te wees nie? (3) Die eerste strofe sou makliker gelees het indien jy van funksionele en nodige leestekens gebruik gemaak het. Ek aanvaar dat jy dit enjambies wou aanbied maar ek dink pouses en breke sou jou vers hier versterk het. Klein redigeringstakies kan hierdie vers versterk.

‘n Herfsmiddag op Stellenbosch (13)
Ek is gaande oor hierdie vers, dit is lieflik. Dankie vir jou deelname

Delvillebos (14)
Die eerste keer wat ek die vers lees, ervaar ek hom so effe onvoltooid, maar toe ek hom weer lees sien ek die volle verhaal, van ‘n heldhaftige soldaat, ‘n hele ‘veldslag’ en die hartseer gevolge van so ‘n mengemaakte onnodigheid. Die sluitingstrofe speel ‘n belangrike rol in die sin dat, selfs na die dood, die lewe onversteurd en instinktief voortgaan. Het jy as skrywer diep besin na watter dier of voël verwys sal word? Ek dink jy het, bewustelik of onbewustelik, want nie alleen is die korhaan minder flambojant as ander voëls nie, maar vlakte bewoners wat hul eiers in die grond uitbroei. Dit is so asof die “stof is ons en tot stof sal ons terugkeer” metafoor sterk deurskemer in die beeld van die dood en die gewoontes vn die korhaan. Miskien interpreter ek té diep, maar dit wil vir my die les hierin word. Die asterisk by die naam van die karakter is nie vir my nodig nie. Dit pla egter nie. Baie goeie vers wat ‘n hele verhaal vertel in ‘n klein poëtiese spasie.

Vir ‘n prinses (15)
Heerlike aardse vers. Ek het twee klein voorstelle: (1) (Str 1 Lyn 2) “kyk hoe lief die winde jou voete, [komma]wat soms kaal is, [komma]” (2) Die vers sal mooi afgerond klink as jy die vers sluit: “wéét – hoe lief die heelal jou het.” Die vers lees heerlik en is pragtig getrou aan die opdrag. Dankie vir jou deelname.

Solo-kaberet (16)
Ek hou van die vers en die enjambiese aanbieding. Ek sou in hierdie vers meer eerder op ekstra pouses konsentreer wat natuurlik deur leestekens gedoen te word. Verder voel ek die sinne is omslagtig en die vers sou baat by beter woord ekonomie. Ek gee ‘n voorbeeld: [Sin 3] “haar sopraanstem dra sy op, net aan hom”. “Solo” is onnodig want die leser verstaan dit reeds, en kyk watter verskil maak die pouse wat deur ‘n komma geskep is. Die vers het die potensiaal om in ‘n werklik kragtige gedig ontwikkel te word.

Kosbaar’ lewenskrag (17)
Ek lees jou gedig so:
Die stroompie kronkel af;
‘n voetpaadjie teen die berg.
Wiegend neurie sonder woorde,
sonder klank, sonder leed.
Waarlangs ‘n ou doringboom
lawe-koelte bied,
op ’n snikheet warm dag
drup sy eie hartseer gom
oor ’n stam lánk reeds krom.

Tinkerbel (18)
Ek hou van die “moederliefde” vers. Ek dink egter jy sal baat deur meer woord ekonomies hiermee om te gaan. Dit is goed om beelde te skep, maar dit is ook nodig om die leser die geleentheid te gee om prentjies te maak sonder té veel inligting. Verstaan jy wat ek bedoel? Gesels gerus per inboks met my indien jy hieroor wil gesels.

Herfsblom (19)
Die haiku is suksesvol. Is dit egter moontlik vir ‘n blom om te skyn? Ek verstaan wat jy bedoel dat die herfs somber is en ‘n blom uitstaan in die seisoen, maar ek weet nie of ek daardie vertoning as “skyn” sal vertolk nie.

Nuwe jy (20)
Ek hou van die idee in hierdie vers; die simpatie daarin is mooi en merkbaar. Ek dink egter dat jou woordorde in sommige sinne beter gekonstrueer kon wees nl. “wyl ek vorm ‘n nuwe kruik” – niemand praat so nie.

Mondhoekkreukel glimlag (21)
‘n Mondvol titel. Sjoe! Ek sou meer ekonomies omgegaan het met al die beskrywende metaforiek. Sin 12 kon geheel weggelaat word byvoorbeeld en ek sou die vers só sluit: “en toe jou glimlag in die mondhoek kreukel//was ek geheel verower.” Ek dink tog jou vers is sensueel en mooi.

In my hande (22)
Probeer herhaling vermy. “Krampagtig en kramp” is onnodig. Soms is minder meer en gee dit die leser ‘n geleentheid om self prentjies te vorm en sodoende dus dieper betrokke te raak by jou vers.

Natuur se aanraking (23)
Let op die korrekte gebruik van die ellips. Dit volg nou en streng direk na die woord wat dit voorafgaan. Sommige sinne voel onafgerond en geforseerd, asof daar net woorde gebruik is om te rym sonder dat dit funksioneel bydrae tot die geheel van die gedig.

VERHALE:
Die ander vrou (1)
Jou verhaal is interessant. Ek wil tog hê jy moet daarop let om nie té veel te sê nie, want soms is minder méér. Neem ‘n voorbeeld: “sê Inge in ‘n tranerige stem vir haar vriendin aan die anderkant van die lyn.” Wat maklik genoegsaam kon lees as: “sê Inge, in ‘n tranerige stem oor die foon.” Dit is seker nie die beste voorbeeld nie, maar ek glo jy verstaan wat ek bedoel.

Die groot misverstand(2)
Dialoog in verhale moet behoorlik aangebied word, met punte, vraagtekens ens. Dit is ‘n oulike storie en ek het lekker daaraan gelees, maar die akademiese is vir my baie belangrik as dit by beoordeling kom.

Afrikaners is plesierig (3)
Spelling is van uiterste belang as jy ‘n skrywer is. Let asseblief daarop.

Moeilike maan (4)
Dit kan ‘n interessante verhaal wees. Ek het egter moeilik daaraan gelees omdat sekere woorde weggelaat is, die konstruksie van sinne herhalend en onsamehangend lank is. Redigeer hieraan en gesels gerus met my per inboks.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. Viooltjie

      Julie 10, 2018

      Baie dankie vir al jou harde werk, IM. Ek waardeer dit baie 😊

    2. Callie Vermeulen

      Julie 10, 2018

      Baie dankie Inkmoderator. Waardeer die terugvoer, en ook jou insette as geheel.

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 27
    Kommentaar telling: 126

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 2,906 gaste aanlyn

    Bydrae Totale