Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Junie 2020 Vryheids projek uitslae en kommentaar

Deur Anze
Datum gepubliseer: 3 Augustus 2020 Aantal woorde: 5491 178 Kere gelees 4

INK – VRYHEID PROJEK

Baie geluk aan die 9 lede

GEDIGTE
GOUD
WENNER: NO 5 Carma Shaw met Om vry te wees – soos berge
2 DE PLEK: NO 4 Carma Shaw met Ligteling
3 DE PLEK: NO 9 Caren Kearley met Ontsnapping

SILWER
WENNER: NO 7 Andries Fourie met Anderkant die spoorlyn
2 DE PLEK: NO 6 Andries Fourie met Vryval
3 DE PLEK: NO 2 Morne du Preez met Ongetiteld

BRONS
WENNER: NO 16 Tania Pascheka met Vryheid gekoop deur U
2 DE PLEK: NO 13 Droster (Marius van Tonder) met Soeke
3 DE PLEK: NO 14 Tania Pascheka met Skrywersvryheid

GORREL GEEN INSKRYWINGS

RUBRIEKE WENNER: GEEN

ARTIKELS
WENNER: NO 1 Ano met Die prys van vryheid
2 DE PLEK: —————-
3 DE PLEK: —————-

VERHALE
WENNER: NO 5 Riaan Palmer met Die ou man se winter
2 DE PLEK: NO 2 Riaan Palmer met Liesbet ontsnap
3 DE PLEK: NO 4 Ronel Janse van Vuuren met Kruip na Vryheid

KOMMENTAAR:

GEDIGTE
BRONS

11. .inhou
inhou en aanhou inhou
dit is die mode van vandag
om my val daar dosyne makkers
vasgevang in ‘n wapenrusting
van inhiberende vals vrede
staan ek moedeloos eng
inhou en aanhou inhou
golwe dreig om tsunami te word
soos sooibrand dreig dit om te borrel
uit te bars in uitkringende geweld
alles te oorvloei en oorweldig
makkers se val te wreek

Die opdrag was “Vryheid”.
Ek kou moeilik aan die gedig om die tema daarin raak te lees. Dit is ‘n innerlike worsteling oor die toestand waarin die skrywer self en die “makkers” verkeer. Sou jy “wraak” as vryheid bestempel? Ek het hard probeer om ‘n skakel te vind maar kan nie. Ek kan jou gedig sodoende nié evalueer binne die spektrum van die opdrag nie.

12. Vryheid (Akrostigon)
Vrede en vreugde in hier en nou
rykdom verhewe bo aardse besittings
ywer om voluit te lewe
hegte familie-en vriendskapbande
eerlik en opregte lewenswandel
innige en vaste geloofsoortuiging
dit alles spel ware vryheid van God!

Die opdrag is duidelik dat “Vryheid” nié losstaande as titel gebruik mag word nie. Die feit dat jy die styl benoem het in die titellyn verander ook nie dié feit nie.
Ek moet dus streng wees ten spyte daarvan dat jy ‘n baie suksesvolle Akrostigon gepen het. In die lig van die spektrum kan ek jou vers nié evalueer nie.

13. Soeke
Oor vastelande heen gereis, oseane en seë deurkruis
die lugruim ingeklief en tussen die hoogste wolke gesweef
selfs oorloë en opstande beleef
nêrens daar vryheid gevind – is dit slegs ‘n woord
‘n waanbeeld, dalk net misplaasde hoop?
Gaan eerder en vind grafte waaroor jy nog rou
grawe dit oop om jou siel te verlos
van dit wat jy daarbinne hou
Breek af die mure van die kerkers deur jou gebou
om die donker muwwe klewende koue daarin vasgevang
vir ewig met helder warm lig te verdryf
Ontsluit die boeie en kettings waarmee jy bind
wat klemmend swaar verdrukkend hang
om die wat jy gevange hou
Laat val die ondeurdringbare hekke en tralies
waarmee jy oog en hart
so ontoeganklik maak
Trap dan nuwe spore hier
ongebonde en sonder vrees
op kranse waar niemand nog ooit was
dalk sal vryheid joú nou kan vind.

Jou vers het ‘n opdraggewende toon; instruktiewe refleksie op wat nodig sal wees om vryheid te smaak. Soos met enige ander skrywe, bevat jou vers ‘n spesifieke realiteit waarin nie elke leser kan vereenselwig nie. Dit is die wonder daarvan – die wat pitkos daaruit kan put, sal, en die wat nie, sal jou werk beoordeel vir die skoonheid daarvan.
Ek wil jou aanmoedig om so woordekonomies as moontlik te wees. Ek gaan 2 van jou sinne aanhaal en demonstreer hoe dit gedoen kan word:
a. “breek af die mure van die kerkers deur jou gebou…”
Hier kon jy “deur jou gebou” baie maklik weglaat sonder om die inhoud van jou idee te bederf.
b. “Ontsluit die boeie en kettings waarmee jy bind…”
Dieselfde geld vir “waarmee jy bind” in dié sin.
Verder wil ek jou aanspoor om punktuasie te oorweeg. Jou vers ondersoek omvattende begrippe en die leser kan oorlading ervaar as daar nie dan en wan gerus word nie.
Jy het die opdrag mooi ondersoek en daar is plekke in die vers waar die endrym treffend is.
Goeie werk.

14. Skrywersvryheid
Van die dag wat my ink kon gly oor blad, my vingers kon dans oor letters
Rakend aan woorde wat liedere speel op my hart se snaar
Ydele gedagtes speel uit soos feë wat baljaar in die maanlig saans, sprokiesagtig
Hemel op aarde moet voel soos diè
Etlike oomblikke waar ek voel nie meer eensaam en alleen
In papier het ek my vriend gevind, in jou oor weergalm dit treffend
Dit is werklike vryheid

Jy het die tema nagekom en dit van ‘n interessante hoek benader. Daar is ongelooflike potensiaal hierin opgesluit. Jy kan gerus met my gesels by inkmoderator@gmail.com oor jou vers.
Ek wil hier twee idees aanvoor net om die gesprek te begin.
In jou eerste sin:
“Van die dag wat my ink kon gly oor blad, my vingers kon dans oor letters…”
Hier pas blad nie, en sou ‘n verwysing na papier soveel beter wees. Dit is mos hoe ons praat. Die herhaling van “oor” kan maklik vervang word met iets soos: “my vingers kon vleg deur letters…”
Dan sluit jou vers effe stomp. Jy kon ‘n groter impak maak deur byvoorbeeld te sê:
“Ek skryf, daarom is ek vry.” of natuurlik iets soortgelyks.
Dankie vir jou deelname en ek kyk uit vir jou epos.

15. Naamgedig
Vryheid is aan ons almal beloof
Rakende keuses wat ons kan uitoefen
Ysingwekkend die gedagte dat ons
Heeltemal ons eie oordeel moet gebruik
Eiewys die besluite wat ons soms neem
Insiggewend die skokgedagte
Dat vryheid jou ontneem kan word

Let asseblief daarop dat jy nie ‘n hoofletter in elke sin behoort te gebruik nie. Hoofletters volg altyd punktuasie. Die reël hieroor is baie duidelik.
Jy het die tema behandel tog sukkel ek om ‘n verband te bring tussen die titel van jou vers en die inhoud daarvan.
“Ysingwekkend” (horrifying) is vir my so ‘n mooi beskrywende woord. Ons sien die gebruik daarvan té min.
Jou vers is geslaagd en eindig vir my baie sterk.

16.Vryheid gekoop deur U
in die wind wat ritsel deur die bome
en die duifie wat koer koer oor die horison
met die son wat glinsterend loer oor die gesigseinder
daar vind ek my vrede
in die branders wat breek
en die geluid van die see se gesuis in my ore
met die mis wat my saggies soengroet op my gesig
daar vind ek my rus
in die Woord wat ooplê op my tafeltjie
en die vroeë oggendgesprekke met die Here
met kersies wat flikkerend heerlike geure afgee
daar vind ek my stiltetyd
in die moontlikheid deur Sy genade
en Sy liefde wat ons omhels in seën
met duur dieprooi bloed ons gekoop
daar – en net daar – vind ek my vryheid

Gedigte met ‘n geestelike ondertoon is altyd ‘n moeilike genre vir my om te beoordeel. Deels omdat dit so geredelik as ondertoon ingespan word en deels omdat die skrywer akademiese kritiek as ‘n aanval op hul oortuigings ervaar. Ek wil dit dus duidelik noem: kritiek (indien enige) op jou vers moet nié as ‘n aanval op jou godsdiens oortuigings gesien word nie. Met dit uit die weggeruim, kom ons keer terug na die vers.
Die onomatopee in die eerste stansa, kan suksesvol (en vir beter ritme) geskryf word as: “k-o-e-r k-o-e-r”. Dit verleng die klanknabootsing en versterk die ritme in daardie sin.
Ek gaan die eerste strofe herskryf om te probeer demonstreer wat ‘n ongelooflike instrument punktuasie kan wees. ‘n Enjambiese aanbieding, soos jy dit gedoen het waar een sin in ‘n ander vloei sonder leestekens versnel die tempo van die vers. Jy lê klem op vrede, rus en vryheid, en juis daarom kan jou vers doen met ‘n stadiger pas. Jy wil hê die leser moet jou eie ervaring van rus en vrede deel, en daarom stel ek soos volg voor:
“in die wind wat ritsel deur die bome, [rus]
die duifie wat k-o-e-r k-o-e-r op die horison, [rus]
die son wat glinster en loer oor die gesigseinder –
dáár vind ek my vrede”
Met die gebruik van spesifieke punktuasie skep jy dus vrede. Soos jy kan sien, met die weglaat van sommige koppel woorde en die gebruik van ‘n komma is dit moontlik.
Jou vers ontwikkel mooi en voldoen aan die opdrag. Die inhoud is mooi omdat die leser die skrywer leer ken. Suksesvolle poësie vir my berus altyd op eerlikheid, en as ‘n skrywer hom/haarself ontbloot dan werk dit.
Oorweeg die voorstelle en werk deur die ander strofes. Pas die voorstelle daarin toe en oorweeg of dit jou geval.
Kontak my gerus by inkmoderator@gmail.com indien jy hieroor wil gesels.
Dankie vir jou deelname.

17.Helder duisternis
uit diep donker duisternis is daar gevorm
die aarde die hemel die lig en die donker
afgekyk glimlaggend gesien “goed” die norm
met beloftes van hoop wat in skemer flonker
maal mense met menigte eie-ek taktiek
oorgehaal om te eet van die boom van intellek
verval verlore in die oormaat van kennis – siek
is dit nou nie te wonderlik: die slim eie-ek
hoe anders was die plan vir ons gegewe
leef in liefde en harmonie versorg die aarde
nou verswelg in die fonteine van die lewe
mens en dier afgetakel gereduseer geen waarde
met vryheid van keuses nou in kettings geboei
paradys vir ons gegee nou ʼn wanhoop myn
eet die brood van die lewe daar is vir ons gebloei
in helder lig van die donkerte sal die lig weer skyn …

Jou gedig lees kripties, bot en gejaagd. Die vloei daarin word erg versteur. Ek ervaar die toon onstuimig en guur.
Ek dink beslis dat die gedig nié werk as ‘n enjambiese aanbieding nie en sou baat kon vind by genuanseerde punktuasie.
Die sinne is lank en woordoorbodig maar ontbreek terselfde tyd aan funksionele koppel- en lidwoorde.
Kontak my gerus via inkmoderator@gmail.com dan gesels ons verder oor die meriete van redigering hiervan.

SILWER:

2.Ongetiteld
Ons kniel met gewapende tonge
ons klavier-emosies snaar
met ‘n chromatiese ritme
soek ons weer soos fobdossers die verlore jakkie:
wat is vryheid nou weer
hoeveel kos dit meneer?

Ek wonder of jy weet hoeveel ek my verlustig in ‘n knap kragtoer waarin ‘n digter ‘n feuilleton deel in die kort spasie van ‘n vonkvers. Verdra my mondvol want ek wil eintlik net sê dat jy ‘n evangelie vertolk het in ses sinne; in een kragtige stansa wat die leser nie nét uitdaag nie maar wat ook ‘n lewenswaarheid (en verál in hierdie post-moderne sosiale bestel) beklemtoon.
Ek het een klein voorstel:
“wat is vryheid nou weer en…
wat kos dit meneer?”
Ek dink die klimaks kan baat by ‘n ruspose wat die uitklophou vooraf kan gaan.
Verder het ek nie ‘n jota by te voeg nie.
Jou vers het beïndruk.

3. Intermezzo in die huis van donkerte III
Die Kraaibek man was sy vryheid kwyt
die buidel het hom uitgesmyt
sonder spys of drank
ruik hy nou na sy eie stank
Die kraaibek koor moes agter maskers mor
daar is skorriemorries in hul koor
en voor Ditt weer kon toor
was daar reeds ‘n nuwe koor!
Gedories sou oral gons
hul trekgoed is gepand
by die werk het hul geen pons;
die konsternasiestasie is al wat blêr
Kaskenades was nie méé
waarmee moes almal hul bas afvee
kokkedories wou sê nee
toe drink almal ingeperkte tee!

Na aanleiding van jou titel, verstaan ek reg dat hierdie vers deel uit maak van ‘n versameling in geheel?
Ek vind dit baie moeilik om die titel en die inhoud hiervan met mekaar in verband te bring.
Dit is ‘n interessante gedig.
TO Honiball se van word só gespel.
Dankie vir jou deelname.

6.Vryval
hoe vry is vertes in die niet
en al die sterre wat verskiet,
in hierdie huisgebonde
ankertog van tyd?
hoe vry is wolke wat kan sweef
tussen winde wat herleef,
wie vir wagtings
by ‘n bliksemstraal moet pleit?
hoe vry dan is ‘n vloeivallei
langs die hange van ‘n berg,
teen die onmeetbare kontoere
van die son?
hoe vry is varsgeplukte vrugte
uit ‘n bronbegiete boord,
in ‘n afgeleefde pakhuis
van beton?
hoe vry die toekoms van ‘n kind
in ‘n blikkombuis se winter,
kort van water
met ‘n kors gemufde brood…
wie nog hunker na vars liefde
en ‘n hongerhoop bly koester,
in sy vasklou
aan die vryvaltrein van dood?

Dit is voorwaar ‘n besonderse gedig waarin jy telke male eksperimenteer met nuwe maniere om interessante woorde te skep. Ek hou hiervan.
Dit is deurdag en treffend.
Wie kan in hul wildste drome die frustrasie en apraksie beter beskryf as:
“hoe vry is vertes in die niet
en al die sterre wat verskiet,
in hierdie huisgebonde
ankertog van tyd?”
Jou vers is kensketsend en weergaloos.
Ek het slegs een klein grondreël waarop ek moet wys; indien ‘n vers met punktuasie sluit MOET die gedig met ‘n hoofletter begin.
Jou vers beïndruk.

7.Anderkant die spoorlyn
Anderkant die spoorlyn
lê ‘n blootsiel in die as,
kognitief verslete in ‘n
vaalbruin tonteljas.
As ‘n roeper vir die vryman
(uit dié se eie regterstoel,
sê maar, sy selfbenoemde amp)
is sy doel gedien ter aarde,
in die flikkerende ligsein,
van die kondukteur se lamp.

Ek hou baie van hierdie gedig.
Ek wil gou die nuutskeppings behandel voor ek oor die inhoud van die vers gesels.
Blootsiel: lieflik!
Tonteljas: Tontel = vuurmaker (soos in tonteldoos) en jas = kledingstuk. Jy definieër dit as ‘n “laaste kledingstuk”. Dit sou dus beteken dat die karakter of gekrimeer word of iets meer sinister soos ‘n hellevuur?
Roeper: dit is nié ‘n nuutskeppings nie want beide die Fisika- en kuberwoordeboek bevat reeds die woord. Jy het egter ‘n geheel ander definisie daaraan gekoppel.
Vryman: dit kan nie as ‘n nuutskepping erken word nie aangesien dit reeds (los en as koppel woord) in Afrikaans erken word. Jou definisie mag anders wees.
In die tweede strofe is daar ‘n paar klein voorstelle.
1. Die parentese is lomp en swaar. Ek sou voorstel dat “uit dié se eie regterstoel” of totaal uitgelaat of selfs dan buite die hakie geskryf word. Naamlik:
“uit dié se eie regterstoel
(sy selfbenoemde amp)”
“sê maar” kan geheel weggelaat word.
2. In die 4de sin gebruik jy “ter” in plek van “op”.
Hoekom? Teraardebestelling is korrek indien daar van ‘n begrafnis gepraat word. In die geval van jou gebruik sal “op” die korrekte keuse wees.
Die komma ná sin 4 in strofe 2 kan weggelaat word sodat die rusklem leun op sin 5 s’n om die klimaks van sin 6 te maksimaliseer.
Jou vers is waarlik besonders en eindig in ‘n crescendo. Baie geluk met hierdie uithaler vers.

10.Trane vir my Troebadoer
Die strate is stil sonder jou
êrens
op ‘n bankie in ‘n park
sit ‘n klein tortelduif alleen
sy jammerkoer eggo teen beton
eensame kantoormure
waarvan glasdeure
geslot en geketting is
spookpersoneel spartel
om kop bo water te hou
vasgevang
in ‘n ekonomiese virusvuis
wat alles wil versmoor
ook vir jou
jou stem is stil my troebadoer
jou plek op die bankie nou leeg
êrens
sak ‘n kis in ‘n nuwe graf
terwyl die tortelduifie
saggies huil

Alhoewel dit vir my ‘n aangrypende gedig is kan ek nie die tema van die opdrag hierin raaklees nie. Streng gesproke skep jou vers ‘n antitese met die opdrag. Die graftoneel teen die einde kan geïnterpreteer word as wegkom van/uit geslot en geketting, maar vir dit om waar te wees sou jy as skrywer dit vir die leser duideliker moes demonstreer.
Ek kan dus nie jou vers evalueer volgens die parameters wat in die opdrag daar gestel is nie.

GOUD:

1. Hillbrow-oë

in Hilbrow se
dwelmgevlekte strate
rol vuurkole rigtingloos
met oë so hol
onder sterwende
kwaitoklanke
wat uhuru skree
skuil ‘n melkboks-
kindervrou
in ‘n donker steeg
met gebalde vuiste;
arms potblou gevlek
terwyl sy droogoog huil
want iewers skuil
onheil onverskans
in hierdie stom-vuil
spasies wat geluidloos
met blinde oë vlerk

Alhoewel dit ‘n aangrypende gedig is, sit ek met vrae aangaande die nakoming van die opdrag:
1. Lees ek eerder gebondenheid hierin raak as vryheid?
2. Is daar ‘n onderliggende, skaars herkenbare hunkering na vryheid?
3. Is die gebruik van “vlerk” in die laaste sin ‘n metafoor vir vryheid en “wegkom”?
As ek my eie vrae evalueer en steeds die vers oor en oor lees kom ek tot die slotsom dat die skrywer nié die parameters van die opdrag nagekom het nie. Dit is hartseer aangesien dit ‘n besonderse vers is. Ek kan hierdie vers dus nie evalueer nie.

4.Ligteling

Sal daar ooit weer só ’n tyd wees
soos toe ek kind was –
vry van klae en kommer,
geen kennis van die wee;
al wat ek onthou
is die pad na sonnestrande
en die duisende dae by die see.
Hoe warm was die strale teen my lyf,
hoe gewigloos kon fotone
hul heelalslig in my binnewêreld skryf.
Ek verbeel my soms die meeue bo die water,
blinknat sterre naas ’n rots
en hoe ongebonde branders breek
as dit skroomloos teen die swart klip bots.
Vroegaande was oranje,
elke oggend blou saffier;
my aarde was ’n paradys
en ék, ’n ligteling
krakensvol van lewensvuur.

Jou vers kry die leser betrokke deur sintuiglike herinneringe te kweek. Ek wil dink dat die meeste lesers hiervan ‘n korreltjie nostalgie ervaar, en vir hul wat nié kan vereenselwig nie, skep jy duidelike beelde wat lewend in die geestesoog gestalte kry. Jou vers is lieflik en so getrou aan die tema dat dit moeilik is om kritiek daarop te lewer. Jou tipografie is interessant met die gebruik van afwisselende strooflengtes wat my in besonder herinner aan die onvoorspelbaarheid van die see self. Die beelde is ryk en die atmosfeer van ‘n verlange na vryheid bestuur jy goed.
Sluit asseblief jou vers met ‘n punt.

5.Om vry te wees – soos berge
Die bolande se berge
lê uitgestrek voor my;
die kranse en die klowe paradeer
millennia se verhale
by my hunkeroë verby.
Hoe vry moet dit nie wees nie
om vir ewig so te lê nie
(terwyl fynbos teen jou hange groei,
wingerd aan jou voete bloei)
en die hele wye hemel
as jou ope dak te hê nie.
Hoe salig moet dit wees
om die son op jou te voel
en sawens, as die skemer kom
stadig af te koel
tot jy middernag
(kaalontbloot)
kan aanskou hoedat die heelal
haar sterstreep oor jou skroot.
En selfs al reën jy winternat
en al word jy woes verwind
wis jy –
vryheid is die één ding
wat jy binne jou moet vind.
As ek as taalliefhebber eendag ‘n lesing moet gee oor die rendabiliteit van die regte en voortreflikste gebruik van “nie” (naas Totius natuurlik) sal ek sielsgraag hierdie vers wil gebruik. Ek is beïndruk dat jy gebruik maak van die ontkenningspartikel waarvoor ander skrywers só skugter is; en boonop doen jy dit met grasie.
Die vers is ryk aan sinnelikheid en bied ‘n besonderse ritmiese lees ervaring. Jy het sonder twyfel die kuns van metrum bemeester.
Ek wil een voorstel maak (hoe voorbarig van my) dat jy oorweeg om “jou” in die laaste sin met “jouself” te vervang.
Verder het ek net dít te sê: ongelooflik!

8.God se stem
Ek is nie die applikant in die skrywe nie
ook nie die regter nie
maar as ek so om my kyk
sien ek ‘n toekomslose môre
een vol dongas en dae sonder name
een soos vandag
wanneer ek sielstil wens dat ek God se stem
net vir ‘n uur kon leen
om alles om ons reg te maak
miskien sou ek eers die wyses meer wysheid gee
die leiers weer voor in die koor sit
ek sou verseker al die winkels weer oopmaak
die woestyne vol oases plant
en dier en mens van mekaar beskerm
maar vir nou dink ek dis beter om ‘n ark te bou
of eerder ‘n spaceship
dit vol te pak met twee van alles wat vreedsaam kan wees
en wag vir die oog van hierdie plaag
want sonder ontsnapping
sal ons anyway nooit vry kan wees nie

Die inglip van Engelse woorde in Afrikaanse digkuns was nog altyd vir my persoonlik ‘n teken van luie rebellie. Dit gesê, dit is soms funksioneel en in die gedrukte media sal dit kursief wees. Hierdie platform leun hom ongelukkig nie tot sulke akademiese uitspattighede nie, en verlang van my ‘n lankmoedigheid wat ek soms moeilik uitgrawe ter wille van redelikheid. Ek persoonlik sou “spaceship” met ruimtetuig of ruimtevaartuig vervang het, en dan “anyways” met in ieder geval. Dit is egter nié my vers nie en gee ek jou die voordeel van die twyfel oorjou motiewe.
Dan nog een knelpunt: wanneer ons in Afrikaans iemand gerusstel, is die gebruik “vir seker” waar “verseker” slegs gebruik word nl.
a. Ek het hom verseker dat dinge korrek is;
b. Ek het vir seker niks met die onderhandelinge te doen nie;
c. Hy is verseker teen haelskade;
waar in jou geval
“ek sou vir seker al die winkels weer oopmaak”
Kom ons gesels ook oor woordorde. In prosa is die reëls strenger aangesien daarin nie digterlike vryheid bestaan nie, maar die basiese is tóg van toepassing in poësie. Die korrekte neiging is altyd om die werkwoord (oopmaak) so na as moontlik aan die einde van die sin te skryf. ‘n Maklike toets is: wanneer (tyd), hoe (wyse) en dan waar (plek). In hierdie geval sal die bywoord (weer) vóór die “plek” en “wyse” geskryf word nl.
“ek sou vir seker weer al die winkels oopmaak”

Ek hou van jou vers wat afskop met ‘n interessante inleidingsin. Die inhoud beskik oor ‘n sagte pleit en maak my bewus van ons menslikheid. Die mens het ‘n drang om alles te bestuur maar moet gelief neem dat dit nie altyd moontlik is nie.
Dit is ‘n eerlike gesprek met die leser en in hierdie tyd vind dit veral byklank.

9.Ontsnapping

Ek lê in my armbuurt
saam met ryk mense
en ek hoor hoe baldadig
hulle in oorvloed lag en rondval
dronk gesuip aan hul eie ego’s
al wat ek wil doen is op die rug
van ‘n wilde perd spring
‒ verkieslik ‘n bloue met reënboog vlerke
en hierdie plek van lyding
agter my los sonder om my lyf te hou
hoe kan ek dit verduidelik
sonder om sekeres aanstoot te gee
dat vrywees ‘n binneding is wat swygend goël
godweet dis nie maklik om hierdie demone
met vreemde name in die gesig te staar nie
as hul maar my eie was sou dit seker
meer verklanklik wees om te verwerk
ek kla nie, nooit nie
dis nie my manier van leef nie
want ek wil dankbaar wees soos die heiliges
ek wil ook rustig op ‘n oorgroen grasperk sit
en kyk hoe kwikkies hul gatvere rondswaai
hoe die wind slapende bome wakker skud
ek probeer maar net aan ‘n plan dink
om te ontsnap van die klipgooiers
en sekslose verkragters
wat alles wat ek met soveel moeite
trane en liefde opgebou het
verplunder en afbrand
Maar hoe ontsnap ek dit
want alles is reeds in sy moer.

“dat vrywees ‘n binnedring is wat swygend goël”
Nou wat sê mens by die aanhoor en raaklees van so ‘n uithaler sin? Hierdie sin omskryf vir my jou hele gedig. Nie nét is treffend nie, maar dit ontlok genoegsame nuuskierigheid vir selfondersoek.
In dieselfde strofe gebruik jy die woord “verklanklik”. Is dit met opset, ‘n neologisme of doodeenvoudig ‘n tikfout? Moet dit nie “verganklik” wees nie?
Die gedig is ‘n versugting om verandering en die waarheid van binne-vrede ten spyt is die skrywer radeloos in die sluitingskoeplet. Poësie is die korste pad tot eerlikheid en die vers verwoord die deursnit leser se frustrasie.
Ek hou van die vers. Daar is gedeeltes wat uitstaan.
Baie dankie vir jou deelname.

18.Ingekerkte hart

Ingeperk skuil ek agter maskers,
terwyl my ingehokte hart
in bloeddruppels huil –
soekend na die vyeblaar
om hierdie swakheid te verberg,
want moedeloos en donker
soos met Jona en die vis,
het die swarthond
met sy stinkasem
my heel ingesluk –
versteen in beeld
soos Lot se vrou in sout
staan die kluisenaarskap
van hierdie grendelstaat,
teen rotsberge vasgekap:
eggo my stem
hulpeloos na Bo.

Word die besembos
vir my ‘n genadebos;
kan my voete weer
staan op Heiligegrond,
met Sy genade onbeperk
word my spore weer
nuut in die vryheid
van H O O P gedoop.

Kom ons skop af met jou titel. Ek het gewonder of jou bedoeling nie eintlik “ingekerkerde hart” was nie aangesien jy in jou vers verwys na “ingehok”? Ek het nageslaan in al my bronne en vind nie die gebruik van “ingekerkte” nie. Met verdere ondersoek sien ek die gebruik daarvan 2 keer op die internet op ‘n blog plasing van ‘n bekende webwerf en dan ook in ‘n vers genaamd “Soene van kaneel” sover terug as 2009 en 2014. Die Nederlandse taal blyk so ‘n woord te gebruik maar die definisie verskil van jou interpretasie. In Afrikaans bestaan die woord “gekerk” maar vir seker geen verwysing na “ingekerk” en by uitbreiding “ingekerkte” nie. “Gekerk” verwys na “getroud”, “gehuud”, “gewettig” ens.
Die gedig dra vir my swaar aan vergelykings. Dit maak verál die 1ste strofe log en massaal. Ek besef die skrywer het ‘n plig om die ontsteltenis en wanhoop te belig en te verklaar, maar ek voel tog dit kon verwesenlik word met woordkonjunktuur.
Die oktaaf ontsluit ‘n ommeswaai in die gemoed wat sy ontstaan verkry in die laaste twee sinne van die eerste strofe. Ek dink persoonlik dat ‘n voegwoord soos “dan” aangewend moet word om die strofes te koppel. Die tipografie hoef nie te verander nie.

Die vers is nietemin leesbaar, tema-getrou, beeldryk en aangenaam.
Ek sal regtig saam jou hieraan wil werk. Kontak my by inkmoderator@gmail.com

GORRELS:
GEEN

RUBRIEKE:

1. Vryheid en pixie sprinkels
‘n Rubriek is by verre die beste voertuig (instrument) om ‘n persoonlike ondervinding of oortuiging met ‘n leesgehoor te deel. Dié wat dan nie met jou saamstem nie, kan die inhoud bloot ignoreer of repliek daarop lewer. Ek op die ander hand moet jou werk akademies beoordeel en my kritiek is vir seker nie geskoei op die meriete van die inhoud nie.
Ek dink jou leser sou baat vind by die gebruik van korter sinne. Daar is wel plekke in jou rubriek waar jy dit beter aanpak.
Let op spelling: byvoorbeeld, (a) clichés word sonder die apostroof geskryf. Indien jy egter van die term “cliché-agtig” praat sal ‘n koppelteken nodig wees vir die voorhandliggende rede van die twee vokale (klinkers).
(b) Die gebruik van [‘n] sonder die hakie.
(c) Die gebruik van die woord “verseker” in plaas van “vir seker”. Verseker word slegs gebruik in 2 gevalle: (i) waar daar oor versekering as ‘n finansiële dekking gepraat word, of
(ii) As die spreker die leser wil oortuig nl. “Ek kan jou verseker die werk sal gedoen word.”
(d) Jy maak gebruik van die sin “in/deur/ter wille daarvan” met die woord konstruksie soos hierbo genoem. Waar elke woord ‘n opsie moet wees saam die woord wat volg. Jy kan dus sien dat dit nie geoorloof is nie want slegs een van jou keuses pas.
Ek het nietemin heerlik gelees aan jou kwinkslae. Gebruik die raad om toekomstige inskrywings meer treffend en vaartbelyn te maak.

2. Uhuru
Feitelike stawing van inligting waar navorsing eerder as persoonlike opinie oorweeg word sou liewer ‘n artikel eerder as ‘n rubriek wees. Ek het jou egter nie daarvoor gepenaliseer nie maar sou wou sien dat jy dit in aanmerking neem in die toekoms.
Jou skryfsel lees nie vloeiend nie as gevolg van ‘n diagrammatiese teksstruktuur.
Die inhoud beskik egter oor potensiaal en kan werklik tot ‘n goeie rubriek ontwikkel word.

3. Vryheid in vrouwees
Let op die gebruik van die dubbel-ontkenning waar ‘n “nie” altyd die eerste “nie” moet volg soos in jou sin: “…soveel so dat daar by tye selfs nie eers vrye wil was in groot lewenskeuses nie.”
Sinkonstruksie, stylstruktuur, woorde-ordes en woordkeuse speel ‘n ongelooflike rol in die skepping van boeiende en sinlike prosa. Daar is een goue reël wat vir my persoonlik ononderhandelbaar is: ‘n skrywer vermaak die leser en skryf vir ‘n spesifieke gehoor. Geen skrywer het die luukse van geen verantwoordelikheid teenoor sy/haar gehoor nie. Ek wil dit beter omskryf, en daarom vra ek dié vergunning. ‘n Skrywer is ‘n geroepe gesant wat gehoor móét gee aan ‘n innerlike “force majeur” (oormag) van onweerstaanbare dwang om die stories en gedagtes op papier te verewig. Die skrywer het nié ‘n verantwoordelikheid om die gehoor te paai deur afstand te doen van eie opinie nie maar het wel ‘n rekenpligtigheid om die gehoor te bederf en te boei met ‘n behoorlik geredigeerde en oorweegde skryfsel. Dit is ‘n groot mondvol maar so belangrik. As skrywer moet ons die leser meer krediet gee en nie alles met ‘n lepel voer nie. Hier word woordekonomie belangrik wat lei tot ‘n meer kompakte aanbieding wat die aandag van die leser behou.
Jy het ‘n moeilike onderwerp aangepak maar nie sonder meriete nie. My kritiek is nie geskoei op die inhoud nie maar op die styl van die aanbieding.
Die rubriek sal ‘n groter impak maak as jy die baie vleis wegsny en nou en dan nader aan die been argumenteer. Ek hoop dat ek nie té wydlopig was met die kommentaar nie en dat dit darem verstaanbaar is.

ARTIKELS
1. Die prys van vryheid
Dit is ‘n baie insiggewende artikel met goed nagevorsde inligting. Die persoonlike invalshoek maak dit lieflik om te lees. Ek sou graag wou sien dat jy as skrywer ‘n samevatting skryf teen die einde om jou titel te ondersteun.
Die essay is goed en maak vir heerlike leesstof.

VERHALE
1. Die arme gedoente
a. “Norries” – moet dit nie noppies lees nie?
b. Spek geskiet nié “gespekskiet” nié.
c. Die herhaling van gedoente, gedoentes, gedoentery, gedoentetjie ens. lees ongelooflik steurend. Ek besef jy wil daarmee die humor belig maar dit het by my die teenoorgestelde uitwerking gehad.
d. Sinskonstruksie moet aandag kry.
e. Punktuasie ontbreek.
Dit kon ‘n humoristiese, selfs suksesvolle storie gewees het indien jy dalk op die bogenoemde kon let.

2. Liesbet ontsnap
Dit is ‘n goeie storie met ‘n vreesaanjaende slot. Die leser (en miskien is dit nét ek) word met meer vrae as antwoorde gelaat, en daarom is dit in myns insiens ‘n slim ontwikkelde storie. Die einde laat ook die moontlikheid oop vir ‘n opvolg. Ek weet steeds nie of dit ‘n spookstorie is of iemand wat per abuis lewend begrawe is nie; dan is daar ook die moontlikheid dat dit ‘n metafoor kan wees vir geestelike en/of sielkundige gevangeniskap. Ek hou hiervan want dit is meesleurend. Mooi gedoen.

3. Zizzie hou partytjie
Aangesien dit ‘n kinderverhaal is wil ek graag ‘n paar dinge belig. Konsepte (woordkeuses) en sinskonstruksie soos: “giggelgeel”, “op maat van herfskleure” ens. vermoed ek mag dalk bo die vuurmaakplek van kleingoed wees. Ook sou “aangekondig” ‘n goeie keuse bo “gesê” wees?
Woordekonomie is veral belangrik as ons vir kleingoed skryf. Neem die sin: “My eerste gedagte is hoe ek partytjie gaan hou vir al my feëtjie-maatjies van feëtjieland”. “van feëtjieland” is bloot onnodig in daardie sin. Dan ook moet die deelteken op feëtjie nie vergeet word nie.
Dit is ‘n oulike kinderverhaal maar daar is niks vars daaraan nie. Dit is werklik ‘n storie wat al male sonder tal vertel is.
Ek dink kinders is slimmer as waarvoor ek hul krediet gee, maar ek dink tog dat konsepte so eenvoudig as moontlik gedeel moet word.
Praat gerus met my by inkmoderator@gmail.com indien jy van my verskil.

4. Kruip na vryheid
Ek vind jou verhale altyd aangenaam. Ek wonder net of ‘n nuwe leser sal kan assosieer met die inhoud omdat die karakters en die omgewing nie voorgestel is nie. Wat bedoel ek hiermee? Ek persoonlik ervaar die verhaal as ‘n uittreksels uit ‘n groter geheel. Die karakters verskyn, die omgewing ontvou en die bekendheid tussen karakters bestaan reeds terwyl die agtergrond (karakter– en agtergrondontwikkeling) ontbreek. Vir iemand wat reeds jou werk gelees het mag dit veel makliker sin maak as vir ‘n nuwe leser. Ek hoop jy verstaan my in die verband en nie dat jy dink ek is net baldadig dwarstrekkerig nie.
Daar is ook idees (woordkonsepte) soos byvoorbeeld “groene-feë” wat regtig moeilik lees en wat nie duidelik genoeg ‘n sekere groep identifiseer nie.
Jy het ‘n ongelooflike talent van verbeelding en met die regte leiding (selfontwikkeling) kan jy maklik die Afrikaanse JK Rowling word.

5. Die ou man se winter
Dit is ‘n besonderse mooi verhaal wat die nodige belig. Ek dink Dimensie (in al sy vorme) moet meer belig en beskryf word. Ek hou van die aanslag dat die “sieke” die verhaal vertel en so die leser lei deur die pynlike ervaring van Alzheimer se siekte. Jy het jouself besonder goed gekwyt in hierdie verband.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 259
Kommentaar telling: 2915

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 26 gaste aanlyn

Bydrae Totale