Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Junie 2019 projek uitslae en besprekings

Deur Anze
Datum gepubliseer: 17 September 2019 Aantal woorde: 5015 114 Kere gelees 5

GEDIGTE:

BRONS:
1 ste plek: Evanthe Schurinck met Hernuwing
2 de plek: Jessica Visser met Yspêrels
3 de plek: Toom  met Winter-haikoe

SILWER:
1 ste plek: Estelle Rubow met Winter aan die weskus
Marieta McGraff met  ‘n Winter in herinnering
Marieta McGraff met Haikoe
2 de plek: Estelle Rubow  met Winter in Stellenbosch
Charleine  Collins met Ek is winter
Charleine  Collins met Net ‘n Wintersprokie
3 de plek: Barbara Smit  met Die oubaas
Charleine Olivier met Seisoenaal

GOUD:
1ste plek: Wintersgenade deur Carma Shaw
2de plek: Winterkaros deur Anzé Bezuidenhout
3de plek: En op die neënde dag het dit gereën deur Carma Shaw

Artikels:
1ste plek. Ano met “Verstote en verkluim”

Rubrieke:
1 ste plek. Kiekies met “Winter is nie Wankelmoedig se maat nie!”
2 de plek. Toom met sy hele reeks rubrieke – “Die winter is ‘n regte man”

Verhale (Brons):
1 ste plek. Martha Poller met “Vaarwel, my geliefde” /
2 de plek. Riaan Palmer met “Heengaan van ‘n roos” ASOOK Amanda Meyer De Mellion met “Winter in my tuin” /
3de plek. Palet met “’n Koue wintersaand”

Verhale (Silwer):

1. Oyuki – Ronel Janse van Vuuren

Gorrel:
1 ste plek: Palet met Winterbeursie

Baie geluk aan hierdie 15 lede

BESPREKINGS:

Gedigte Brons: 

AMANDA MEYER DE MEILLON

Ou man winter

Die ou man se koue asem blaas wit wasem teen my ruit.
(“blaas” is ‘n beter werkwoordkeuse as “maak”)
Sy kromhoutvingers is koud en klam
(kromhout + vingers = samestelling)
wanneer dit om my hart kom sluit.

Sy jas se punt sleep saggies oor die boompies in my tuin,
(voorsetsel: “oor” sal meer korrek as “deur” wees;
verwyder die komma om jou enjambement te versterk)
en laat dan tuimelend in kleure wonder
totdat ‘n helder blaremat verskyn.
(voeg “totdat” in om jou enjambement uit te brei;
blare + mat = samestelling)

Sy trane drup kristalwit op die bleekgroen van die gras;
(verwyder die kommapunt en voeg eerder “en” in jou volgende versreël)
en los ‘n spierwit traanspoor sleepsel
(gebruik eerder ‘n aandagstreep om die leser se aandag op die uitbreiding van jou stelling te vestig i.p.v. die kommapunt)
sy koue klou aan alles vas.
(sluit jou strofe af met ‘n punt, aangesien jy deurlopend van punktuasie in jou gedig gebruik maak)

Winter is ‘n stokou man wat sleepvoet stadig stap;
(stok + ou = samestelling. Intensiewe vorme is gewoonlik een woord.)
met sy koue wintervoete
(winter + voete = samestelling. Ek sou wegdoen met “winter” en net eerder “koue voete” gebruik het. Wees versigtig vir oorbeklemtoning van ‘n beeld.)
silwer spore in my tuintjie trap.

Baie goeie beeldspraak aangewend! Die titel speel netjies af in die inhoud.

AMANDA MEYER DE MEILLON
 
Wintergriep

Winter se ysige vingers sluit
om die warmte van my asem;
(gebruik die kommapunt as weglatingsteken vir “en”, sodat die volgende twee versreëls inskakel by die vorige twee. Die volgende versreël sal dan met ‘n kleinletter “s-” begin)
skeur die voltros lewegewers
uit die holte van my bors.
My liggaam bol in embriobeskerming
(embrio + beskerming = samestelling. Ek sou dit selfs met ‘n koppelteken verbind, sodat dit die lees bietjie vergemaklik, alhoewel dit nie eintlik nodig is nie.)
teen die spasma van my lyf;
(spasma? Die “-a” het ontbreek. Oorweeg weereens die kommapunt. My voorstel hierbo het dieselfde betrekking.)
stadig verloor ek die stryd
teen die winter se wreedheid.

Ek kan vereenselwig met die hiperbool in die gedig. Goeie inskrywing!

AMANDA MEYER DE MEILLON

Wanneer winter sterf

Ek sien die spookasemgeur van perskepuntjies
(samestellings: spookasem + geur ; perske + puntjies)
hulle koppies opdraai in volle blom.
Voel die warm sang van nuwe vrug
wat die somerson verwelkom.

Fynvlerk bloeiknop ballerinas baljaar in die wind.
(spelling: ballerinas)
Ek hoor die witvlek vlerkies van ‘n blommekind.
(witvlek? Ek sal verduideliking oor hierdie woordkeuse waardeer.)
Ek ruik die roesbruin kleur van die ou kromhout;
proe die heuning in kleure van geel en goud.
‘n Nuwe seisoen wat stilweg ontvou
(aandagstreep dien ‘n beter funksie as die komma)
in kleurontploffing verdwyn wintergrou.
(kleinletter “i”, want die vorige versreël is nie deur ‘n punt voorafgegaan nie)

Winter se afsterwe en lente se geboorte is puik gepersonifieer. Ek hou veral van die sinestesie wat deurlopend aangewend is. Dit gee lewe aan die gedig.

MORNÉ DU PREEZ
 
Hy het om die draai
kom loer;
(voeg ‘n kommapunt in om te dien as weglatingsteken in die plek van “en” OF gebruik “en” om jou enjambement te versterk)
met sy wit kombers
(“wit” dien hier as ‘n byvoeglike naamwoord. Skryf “wit kombers” dan eerder as twee woorde.)
op die vloer kom lê.
(jou gedig begin met ‘n hoofletter en eindig met ‘n punt. Gebruik punktuasie dan deurlopend.)

Sy koue vingers
het als omhels
soos ‘n pels.
(dieselfde kommentaar t.o.v. punktuasie en hoofletters het hier betrekking.
Jou gedig begin in die verlede tyd. Moenie rondspring tussen tydvorme nie. Ek lig my voorstel in dié strofe vir jou uit …
Die taalreël i.v.m. woordorde sal dan ook bepaal dat dit eerder as volg sou lees, maar inversie is ‘n stylfiguur, en dis immers digkuns:
Sy koue vingers
het als soos ‘n pels
omhels.”)

Hy ­– die winterbroer
(Weereens hoofletter en deurlopende punktuasie.
Die parentese sal hier goed vanpas wees.)
het my wêreld
(hou by dieselfde tydvorm)
kom benat
(“benat” lees beter as werkwoord en dit dra ook by tot die ritme.)
in kleur
met sy
waterkwas.

Jy weet hoe om met woordekonomie om te gaan. Ek sien uit daarna om meer van jou gedigte te lees en jou as digter te sien groei.

MORNÉ DU PREEZ
 
Kamino Geronimo

Die beer met sy
groot lyf het
gaan slaap,
(Jy maak van punktuasie en leestekens gebruik in dié gedig, so wend dit deurlopend aan.)
maar Kamino Geronimo
huil steeds by die maan.
(Ek stel voor dat jy hierdie versreël met ‘n punt afsluit en die volgende een met ‘n hoofletter begin, sodat die gedig nie uitgerek en lomp begin lees nie. Dis nie nodig vir ‘n nuwe strofeverdeling nie, want alles hou steeds verband met mekaar.)
Hy huil by die henne,
(“by” – voorsetsel ontbreek.)
die wildsbokke
het almal koers-gekoets
na waar die son die suide soen
en die koue verloën,
(onthou die deelteken op die “-e-“. Komma vir deurlopendheid.)
maar Kamino Geronimo
kry net ‘n koue
soen.

Ek hou van die speelse effek in die gedig!
 
MORNÉ DU PREEZ
 
Seisoentoeris (die titel neig na ‘n samestelling)

Ek bibber en rol myself in ‘n bondeltjie gevou (die versreël lees beter met die voorsetsel en onbepaalde lidwoord bygevoeg. Plaas ‘n aandagstreep aan die einde van die versreël, omrede verdere uitbreiding volg en jy die leser se aandag op die vraag in die volgende versreël wil vestig)
sal Morpheus my slaapstories onthou; (slaapstories is ‘n samestelling. Brei jou vraag uit met die kommapunt, sodat die vrae meer vloeiend op mekaar volg)
die winterkombuis? (verwyder vraagteken en kombineer die vraag verder deur jou volgende versreël met “en” te begin)
en die winterlaken wat vou? (winterlaken is ‘n samestelling)
bibber-grys-kou (Laat hierdie versreël eerder die eerste versreël van jou volgende strofe wees, want dit pas beter in by daardie inhoud)

Bibber-grys-kou
reis ek uit, gekrimp en verklein
soos ‘n pruimpie ryp gesmeer (sterk enjambement en ritme!)
te vertrek … (wend eerder die ellips hier aan en nie in die volgende versreël nie. Let ook daarop dat daar ‘n spasie tussen die woord en die ellips moet wees.)
Sal ek maar… (begin hierdie versreël dan met ‘n hoofletter aangesien jy van deurlopende punktuasie gebruik wil maak. Verwyder die ellips – bogenoemde kommentaar het betrekking)
Morpheus se stories onthou?

En as dagbreek kom (Weereens ‘n hoofletter. Indien jy die woordjie “as” gebruik, moet die woord “dan” iewers volg waar jy by die rede uitkom.)
en die tyd omdop (omdop is een woord)
tot skemer en kelk
en dolosse agtermekaar span
doublom vir somer sang. (jou rede – met verwysing na my kommentaar oor “as” kom nie bymekaar nie. Dié versreël lees glad nie sinvol nie. “somersang” is ‘n samestelling)

Ek kan nie hierdie gedig met die vorige twee vergelyk nie. Jou ander twee inskrywings is beslis die bestes.
 
 
 
JESSICA VISSER
 
Yspêrels

as winter op die naat van haar rug
haarself kom uitstrek
dan glimlag die son flou (omrede jy die woordjie “as” gebruik, volg die rede gewoonlik ná “dan”; daarom moet dié woord gebruik word)
oor die doutrane
wat blink op haar wang
haar koue asem
drapeer ‘n sneeujas
oor haar skouers

wanneer sy haarself kom tuismaak
onder ‘n miskombers
vang sy yspêrels
om haar naakte skoonheid
mee te versier
val haar sneeuvlokkielag saggies
en trippel spierwit spore
deur die winterwasem

UITSTEKEND!!!

CHARLES SKEEN
 
Winter

hy is ‘n skobbejak
gooi spierwit kombers
dit hang en breek ‘n tak

hy is ‘n lae lak
hang sy woljas om jou (versterk jou personifikasie verder)
gryp ‘n trui uit die rak

hy maak jou swak
skuifelstap in sy spoor
baie soek hitte by die kwak

ná ‘n maand is ek ‘n wrak (aksentteken)
moeg gedra aan ekstra klere
verlang na somer winter is twak (oorweeg eerder ‘n aandagstreep i.p.v. ‘n komma, omrede punktuasie nie deurlopend aangewend word nie)
Oorweeg om meer lidwoorde, voegwoorde en besitlike voornaamwoorde te gebruik om jou gedig se vloei te versterk.

Goeie inskrywing vir die tema met ‘n slot wat die inhoud sommer ougat saamvat.

PALET

Room en geurige kos

Dis vriesend koud
langs my is ‘n bak popcorn, en bubblegum milkshake (verwyder die “en” omrede jy van ‘n asindeton gebruik maak)
en dinge wat pla soos liefde, vrese en verlange
maak skielik nie meer saak nie (In Afrikaans is die dubbele ontkenning ‘n taalreël)

Die toneel in die dokumentêre film ‘Frozen Time’
die wil en uithouvermoë om te volhard
voel ek weer vol vuur en vlam om vas te byt, en deur te druk (verwyder hierdie komma, omrede jou versreël neig na ‘n polisindeton)
in hierdie winter se koue ruk en geniepsige pluk

Op die stoof kook ‘n pot met knoffel,
room en geurige vleis
en op die tafel staan
‘n bottel Franse droë rooiwyn

Die resep is die winter op my emmerlys
dis ‘n seisoen van vervulling, van baie lag en kuier
en om met dankbaarheid te wys
dat mens se lewenspad word nie nouer maar wyer (inversie lees steurend; wees versigtig om van inversie gebruik te maak net ter wille van rym)
 

Maak deurlopend van punktuasie gebruik of laat dit heeltemal weg. Sou jy ‘n nuwe strofe met ‘n hoofletter begin, maak seker dat die vorige strofe met ‘n punt eindig. Ek sien nie dat winter hier as ‘n persoon gepersonifieer word soos die projek vereis het nie.
 
 
Voetpaadjies van verlange
 
Ek dink aan my kinderdae
se wintertyd, en dit bring
soet herinneringe terug
dit was ‘n lekker tyd van saamwees

Dit was tydloos die kleure van liefde
familietyd, koestertyd en kuiertyd
smaaklike toebroodjies, heerlike sop
skottels koekies en warm sjokelade drankies (sjokolade + drankies = sjokoladedrankies – samestelling en spelling)

‘n Tyd van onskatbare waarde
dit sal altyd sand wees in my lewe
wat my sal dra deur die jare
deur winters sal loop met sandvoete (wees versigtig vir die oorbeklemtoning van ‘n beeld)

Dit sal my beskut hou deur die koue winter
‘n warm mos’kombersie om my hart vou  (die apostroof dien geen doel hier nie)
sodat ek met saligheid en tevredenheid
aan hierdie verlange kan vashou

Maak deurlopend van punktuasie gebruik of laat dit heeltemal weg. Sou jy ‘n nuwe strofe met ‘n hoofletter begin, maak seker dat die vorige strofe met ‘n punt eindig. Ek sien nie dat winter hier as ‘n persoon gepersonifieer word soos die projek vereis het nie.

EVANTHE SCHURINCK

Hernuwing

my winterskelet wat alleen teen ‘n vaal hemel staan
voel die sap van lewe deur harde knoetse gaan
in die skadu van God se kruis
word klipsteen klip van eeue — gruis
bevry my verskrompelde wortels om uit te spruit
verby die aardse te groei tot in ewigheid
verby die verlede se doodsvallei en vrees
bot nuwe bloeisels tot ‘n kleure fees (kleure + fees = samestelling)
wat jubelend teen ‘n blou hemel uittroon (oorweeg die gebruik van die onbepaalde lidwoord)
gister se grys raamwerk met groen gekroon
omarm die mossies wat in my takke woon
my blarekombers van koel lafenis
sprei ek wyd oor swerwers
wat soek na rus

Meng die personifikasie saam met ‘n geestelike metafoor en dan word hierdie meesterstuk gebore! Puik!
 
 
TOOM
 
Winter-haikoe

oral langs die pad
duisend sjinese bruide
veryste berke

Perfekte haikoe. Personifikasie kon sterker aangewend word. Ek het die lees hiervan baie geniet.

ZEBULON KOCHK
 
Winterplaag

Die hemel se gesig dof,
die uitvonkige son verby:
lyfnaekende seun soek vir nog (lyfnakende)
sonder ‘n warme trui, (“warm” sal meer korrek wees. Sluit jou strofe af met ‘n punt i.p.v. ‘n komma)

Kaalvoet, deur witmistige weer,
soek hy skuiling by ‘n koue kol. (oorweeg om die besitlike voornaamwoord hier in te voeg sodat die vloei van jou versreël verbeter)
Bekbewerig, met liggaam op teer,
byt tande terwyl trane rol.

Winter pla’ reëndruppels uit die lig, (lug)
soen slaapkooie natbek
teken rivierpoele onder die brug,
kinderhart nou met koue bevlek. (Hierdie strofe lees vir my soos klomp gedagtes wat ná mekaar opgenoem word sonder enige vloei. Oorweeg om bietjie te skaaf.)

So wag die kinders in die strate (bepaalde lidwoord ontbreek)
vir winter se slenterslag,
toonkrullend en verlate
met hartjies wat nie lag nie. (Ek gaan nou jou rym opneuk, maar ongelukkig is die dubbele ontkenning ‘n taalreël. ‘n Taalreël moet in alle kreatiewe skryfstukke gevolg word.)

Hierdie gedig het baie potensiaal. Ek hou van jou kreatiewe samestellings en woordkeuses.

ZEBULON KOCHK

Hemeltrane

Die hemelkrane is oopgedraai, (verwyder komma ter wille van jou enjambement)
en op silwerplaatjies speel
reëndruppels klavier (sluit af met ‘n punt, omrede jou volgende strofe die begin van ‘n nuwe gedagte is. Jou volgende strofe sal dan met ‘n hoofletter begin.)

vanaf blou na swart het die lig verkleur,
met winters se sneeuende smeer (Gebruik “winter” as enkelvoud. Sluit af met ‘n punt, sodat jou punktuasie deurlopend in die gedig voorkom.)

Jy laat winter soos ‘n kunstenaar in hierdie gedig lyk – indrukwekkend!

SILWER

ESTELLE RUBOW

Kwatryne in die kou’

Die lug was soos jou oë, blou
maar die son se strale was al flou
swaels het op die draad vergaar,
toe’t ek besef hoe mis ek jou.

Die dae het koel geword en kort
terwyl die bome al hoe kaler word
die wintersreën het sag geval (verbindingsklank is nie hier van toepassing nie -s-)
terwyl ek ongesiens my trane stort.

In hierdie skemer, stil seisoen
waar bome rus, soos bome doen
wyl vrug in stil geheim’nis groei
het ek my met my leed versoen.

Tot een more vroeg, die hemel blou
wyl ek die sonsopkoms aanskou,
het ek twee swaeltjies op die draad gewaar
en met blydskap gewag op jou.

Argaïese gebruik van “wyl” is buite konteks in die gedig. Goeie inversie, ritme en rympatroon in die gedig. Die gedig se inhoud bly getrou aan die titel.

 
ESTELLE RUBOW
 
Winter aan die weskus

Die son het ongesiens verbygegaan
versluier en verberg
die mis het soos ‘n grys gordyn (gaande oor die alliterasie van “grys gordyn”!)
als onderlangs verdwerg.

So het die dag verbygesleep
grou en grinterig
die see gedemp, ‘n meeu
geruisloos in die somber lug. (uitstaande enjambement!)

Die middag laat het opeens die mis
soos ‘n oester oopgebreek
en die golwe, woes en blou soos ink,
het met die son gespeel.

Want ek wil sê hierdie gedig is BRILJANT.

ESTELLE RUBOW
 
Die reen sif nou al dae en nagte lank (ek wil nie soos ‘n pyn in die gat klink nie, maar onthou tog die deelteken – hier word na alle aspekte in die projekte gekyk, omrede projekinskrywings ‘n groot rol in vanjaar se groot wenners by die gala-aand speel)
in winterskemering oor
naakte boom en wingerdstok,
en oor my dak se reeds deurweekte nok.

Die wind sug stil, eentonig
– asem sonder drif –
wyl lewe langsaam pols (ek kan “wyl” in dié gedig verskoon, want hier is baie nostalgie ter sprake)
in ‘n staat van diepe slaap en rus
die eike woord’loos skeletaal
half versluierd in die mis.

In Dorpstraat staan bankies
– reëndeurdrenk, verlate –
Die Braak lê soos van wans af braak (indrukwekkende diafora!)
en die bome drup-drup in oordenking
hul eie reëntjie oor die deurnat gras.

 
Estelle mag maar skryf!

 
Paula Paxton

Winternag

Sneeuvleis bedek dor vertrekte takke
met vertroosting op n weder lewe,
terwyl vlokke n reinwit mat strooi
waar grond na dors gesmag het.

Grou hang die lug om die houtgemaakte huis
waar die helder lig wink om hitte te vind.
Welkomend aan ieder
wat sy snoesig wil deel.

Volg die gallop van perd in n spoor, (spelling: “galop”)
vasgetrap op ‘n padjie gevorm tussen walle van sneeu (spelling: “paadjie”; gebruik die onbepaalde lidwoord)
met verkluimde siel toegewikkel in n jas.
Terwyl wasem asem sy bestaan bevestig.

 
Goeie beelde gebruik. Die gedig smag wel na ‘n sterker slotreël. Onthou om altyd selfs die kleinste leestekentjie (in die geval, die apostroof) te gebruik, omrede projekinskrywings ‘n groot rol in vanjaar se wenners speel.
 
Paula Paxton
 
Winter nostalgie (titel neig na ‘n samestelling – Winternostalgie)

Snerpend, die wind oor die wesrand vlaktes, (“Wesrand” – hoofletter; Samestelling: Wesrand-vlaktes)
bring terug in my verlede se gedagtes.
Kameel kleur grasse ruk dawerend rond, (Samestelling: kameelkleur)
klou vas aan droe aarde grond.

Leeggestroopde takke, dor en alleen, (Spelling: leeggestroopte)
Staan in die koue kromgetrek en kreun.
Snoesig in my pandokkie, toegevou in kombers (Spelling: pondokkie)
verlig met n fladderende selfgemaakte kers.

Hoor ek die wind, spookagtig deur die spasies huil,
wil ek roerloos in my hoekie skuil.
Die kontras so uniek – die winter wat kom stroop,
los altyd in my hart weer n nuwe hoop.

Veilig en geborge, in my skuiling versteek
terwyl die koue elke gatjie stuk-stuk deurbreek. (Spelling: gaatjie – “gatjie” dui op agterstewe)
Winter los n warmte, in tevredenheid gevou, (Taal: oorweeg eerder “laat” i.p.v. “los”)
dat ek deur seisoene aan n toekoms kan bou.

Onthou om altyd selfs die kleinste leestekentjie te gebruik, omrede projekinskrywings ‘n groot rol in vanjaar se wenners speel. Wees versigtig vir inversie net sodat reëls moet rym; dit kan in gedwonge rym ontaard.

 

Marieta< McGraff/strong>
 
’n Winter in herinnering

haar middae mompel loom
lou ivoor deur vensters
‘n boek lê op my skoot
buite (sterk uitheffing!)
swiep sy stilweg skadusterte deur die geel
haar werkers kerf ‘n landskapreliëf uit gras
sy is die hooimakerseisoen
sy voed ons skure
vanmiddag staan haar hemel stil
helder en asuur
maar later sal haar hemel grys word
haar werkers sal huiswaarts keer
agter toe deure sal ek sop kook van haar oorskot
om haar warm te onthou

 
Woordkuns op sy beste. Ritme is besonders!

 

Paula Paxton
 
Winterkloue

Winterwind klou met impak vas teen lyf
vou homself verleidelik teen my vasgevryf.
Dryf met dwange fors sy koue tot op been (woordkeuse: “dwang” of selfs “drange” sal hier werk)
waar hy my warm vel in ys laat versteen.
Met elke asemteug verbrand my long van koud (woordkeuse: “koue”)
verdamp my suurstof uitblaas in stoomformaat behoud.
Vretend verskroei die koue alle hitte uit my siel,
neem met oormag oor, los my verkluim, verniel. (woordkeuse: “laat” i.p.v. “los” en wend ‘n kommapunt aan om as weglatingsteken vir “en” te dien tussen verkluim en verniel)
Geheimsinnig bedek mis alle uitsig om my heen
voel eens bekende plekke onheilspellend en alleen.
Vorm leeggestroopde takke geraamte silhouette (spelling: “leeggestroopte” en “silhoeët”)
en sit in my voet se stap ‘n effe tree verset. (kyk na jou woordorde in hierdie versreël)
Verlate vertoon die winter, alle bestaan weggestroop.
Verdrink hy die vooruitsig van enige lewenshoop.
Terwyl wind sy lied ween tussen gleufies en vlaktes
vul winter in menswees, duistere gedagtes.

 

Wees versigtig vir inversie net sodat reëls moet rym; dit kan in gedwonge rym ontaard. Die slotreëls se rym, ritme en beelde is treffend!

 

Barbara Smit

Winter 2019

dié jaar voel sy tande stomp
sy weste wind se asem sonder sny (samestelling: westewind)
sy handevryf se wikkeldansies lomp
sy frons so nors oor ons nog kaalvoet bly

die swaels vergaar maar kry nie koers (dubbele ontkenning is ‘n verpligte taalreël in Afrikaans)
die son is lui maar doen sy werk
steeds keer sy skyn die somber floers
word mis en koue weggevlerk (kyk hoe beter lees dié versreël wanneer mens natuurlike woordorde gebruik: “mis en koue word weggevlerk”)

die warmgoed vergete weggebêre
hier waar ons handjies vashou op die stoep
knipoog-groet die maan en sterre
net ek en jy in liefde toegesnoep

 
Die tema is met ‘n unieke invalshoek aangebied in die gedig. Goeie werk!

 
Marieta McGraff
 
Haikoe

winter stroop plataan
tot knokkerig verwese
oumensborselkop

Met sewe woorde sê dié gedig ALLES. Uitmuntende haikoe! 

 

Loretta
 
Skadi van die winterwind

Netsoos die lewe is jy koud soos staal (woordkeuse: oorweeg om “nes” te gebruik; dit bevorder die ritme van jou versreël)
maar teen jou skoonheid staar ek my blind
Jy is die stormgod se Skadi (die aandagstreep se funksie sal hier heel toepaslik wees)
klaaglied van die noordewind. (jou volgende strofe begin met ‘n hoofletter, sluit dus hierdie strofe af met ‘n punt)

As die hemel haar laaste traan gestort het
dan laat jy die somer in kilheid versink (taal: “as” en “dan” loop altyd hand aan hand. “dan” dui die rede aan van dit wat gebeur indien die “as” plaasvind)
waar jy die lewe stadig maar seker
ongeërg uit die velde opdrink. (weereens die punt – punktuasie en hoofletters is beste maats)

Jy trek jou sluier oor die berge
wyl jy my met ysblou oë betrag. (“wyl” is ‘n argaïese woordkeuse, maar omrede mitologie na die geskiedenis verwys, is dit heel gepas in jou gedig. Sluit hierdie versreël af met ‘n punt, want jy begin met ‘n nuwe gedagte in jou volgende versreël wat reeds met ‘n hoofletter geskryf is.)
In jou een hand sluimer die dood; (kommapunt om te dien in die plek van “en”; daar volg ook ‘n verdere uitbreiding in die volgende reël)
in die ander die langste nag. (punktuasie)

Dan dwing jy my terug na binne
na waar die storms in my kan ontbind
as ek vrymaak wat oorbodig is
en myself weer in stilte kan vind. (punktuasie)

Kreatiewe invalshoek. Ek het die mitologiese benadering geniet. Goeie werk!

Barbara Smit
 
Die oubaas

as die Oubaas
kromrug nader skuifel
die son net so effens
so deur die ylgrys hare
so op sy bleskop blink
hoor ek hom grom en kreun
sien hom norsig op sy kierie leun
my asem is die koue wasem (oorweeg om “is” hier in te voeg en sodoende die metafoor versterk)
wat deur sy neusvleuels wolk
dis soos ‘n somber misfloers om my (spelling: “misvloers”)
en ek voel
sy kille oë my siel in priem

die Oubaas is moedswillig
ja, hy mors met my gemoed

© Barbara Smit 

Sterk deurlopende personifikasie!

Charleine Collins
 
Ek is winter

‘n weerkaatsing in kristal
teen die swart spieëlkaswand
sien my plooie in slierte
soos ek strak sit – staar
bo ‘n wit Dolly Varden-val
flits my oë leefloos ysblou –
die mooiste in die land

wyl my hart vriespunt sneeu
in diepnag se snerpende grou,
haat ek die lente –
warm weergeboorte,
vrees die somersmelt en dou,
want ek is beeldskoon dood,
koningin van nou 

Jy toor hier met woorde. Die verdieping in jou personifikasie is merkwaardig. Ek ervaar ‘n eerlike emosie en ek salueer jou daarvoor. Jy maak van kommas gebruik, oorweeg dan om deurlopend van punktuasie gebruik te maak – volledige effek.

Charleine Collins
 
Seisoenaal

Die wind gryp jou lag
wat dwarrel om ‘n boom
en sy drag oor ons strooi –
dis ‘n kwiltland
met blaar en bloeisels
getooi!

Jou lag wapper aan
met die punt van jou serp –
blinkoog,
kersieneus
en skielik somermooi!

Jy lag deur my gees
en besweer
soos menig ander keer (taal: gebruik die apostroof as weglatingsteken)
‘n herfshart se waan
en kille wintervrees(daar is altyd ‘n spasie tussen ‘n woord en die ellips)

Ek is gaande oor die manier waarop jy emosies opdis in jou gedigte. Meer “seisoenaal” kan hierdie nie wees nie!

Charleine Collins
 
Net ‘n Wintersprokie

Die Sneeukoningin is vlok bevlok –
hul sê dit val soos bye uit ‘n hok.
Sy vries die warm hart van Kai,
want sy is ysig kwaai.

So vang sy ook vir Racheltjie
en Klara Majola in die veld.
Die volk se trane bevrore
oor elke klein held.

Ons kinders kyk nog Heidi,
Dawie die Kabouter, trolle.
Moemin en Sneeuwitjie
ski en speel sneeubolle.

Maar als is net storietyd
en wie gee nog om.
Op ‘n groot skaal wêreldwyd
is dit net ysfronte wat kom. (spelling: “ys fronte”, nes “koue fronte”, is altyd twee woorde.)

Lief dit. Sterk sosiale kommentaar en heimwee!

GOUD

ANZE BEZUIDENHOUT

Winterlittekens (Goud)

as engele die oranje blare skommel
staan die littekens bar en leeg
sonder lewe – sonder vrees
in die winter se oggendlied
wat kraak in gelid
die droefheid van wraak
wat nes onder die kou’

wintergesange falsetto
deur die ysige lug
wat kristalspore laat
onder kleurvolle einders
wat dans in die lig
op woorde wat die wind vertel
oor jeugjare en oudword se hel

so loop die spoor na wie weet waar
verkluim deur die winterson

© Anzé Bezuidenhout

Skitterend!  

CARMA SHAW

Winter in haar wese (Goud)

Buite knoop die winter
haar purpergroue kamerjas
aan die uitgebreide blouheid
van die Bolandhemel vas;
sy strek dit wyd en syd, van hoek tot kant
sy stort water oor die land
wat eens so bitter dors was.

Sy trek die berge toe vir dae lank
as belofte dat die wingerde
altyd weer sal rank.

Maar soms loop sy poedelkaal
(sy maak of dit nie koud is nie).
En haar son en maan en sterre
ken die taal
om stories oor oneindigheid en lig
uit die dieper donker te verhaal.

© Carma Shaw

Puik! Netjiese rym toegepas om die personifikasie te verbind.

Winterkaros (Goud)
 
deur ‘n ysige wintersvlug
kristal haar asem
tiekiedraai en swaai haar yskaros
dansend om die knersarms
van gestroopte boom en plant
wat swart na binne blom (uitstaande beeldspraak!)

dwalend in verwondering
deur verstrengelde stoppelgras
wat flenter-vlerk knak en buig (samestelling vereis nie hier ‘n koppelteken nie)
verkrummeld op die aarde neersyg
terwyl stingels smagtend
op ‘n nuwe lente wag

soos ‘n vergeelde foto hang nou die dag (treffende inversie)
in die winterasem se dwarrels geraam
vergete grepe van ‘n eens baldadige lewe
waar sonneblomme nog kon lag

© Anzé Bezuidenhout

Lieflike gedig wat vir ‘n sterker “punch line”-slot vra.

CARMA SHAW

Wintersgenade (Goud)

Op die sestiende dag
het ek my son heeldag lank vir jou laat skyn,
sodat jy weer onder bome kon sit
in jou klein paradys.
Jy kon na my hemel staar en jou aan blomme verkyk.
(My Bougainvilleas het nog nooit só pers gebloei nie.) (WOW vir jou personifikasie!)
Ek het die voëls sonder ophou laat sing
en duiwe deur my bloutes gevleg.
Die noordweswind het ek in toom gehou
en ‘n wolkkasteel bo Simonsberg se krans gebou.

Want ek ken jou bakens,
ek weet waarheen jou oë altyd vlug.
Ek weet jy vrees die donker.
En heel jou menswees smag
na ’n ewigheid vol lig.

© Carma Shaw

Amper net so goed soos “Winter in haar wese” … Speel dalk bietjie met die inversie in jou slotstrofe?

En op die neënde dag het dit gereën (Goud)
 
Sewe dae lank
het winter haar asem opgehou
maar op die agste dag
(toe winde teen haar borswand beur)
hou sy haar lippe in ’n tuit
en blaas vir ure lank
in rukke en in stote
die laaste bries en lug daaruit.

Grou wolke het sy uit die see gaan haal
en hul soos wilde perde
(sonder ruiter, sonder saal)
oor heel die Boland laat galop;
tóé eers was haar asem op.

En oplaas
in die stilte van my nanagdroom
lewend’ waters uit haar lyf laat stroom.

© Carma Shaw 

Ek juig oor hierdie gedig soos die Kaap oor die lewende waters juig!

 

ARTIKELS:

PALET  SONDER WINTER

Moenie “kontras” by die naam noem nie, maar beeld dit eerder uit in jou skryfwerk. Teken ‘n prentjie vir die leser met jou woorde. Jou gedagtes het my sommer ook aan die dink – sê nou net winter het nie bestaan nie …? Vir die artikels-afdeling het ons gevra dat die inskrywings aan ‘n onlangse nuusgebeurtenis gekoppel moet wees. Ek sien dit wel nie in jou skrywe nie.

ANO  VERSTOTE EN VERKLUIM

Briljant! Die projekvereistes is baie kreatief nagekom!

 

RUBRIEKE:

TOOM  MY LEKKERSTE EUROPESE WINTER

Jou rubriek neem my op ‘n toer deur ‘n Europese winter! Atemberaubende rubrik!

TOOM  OP DIE YSBAAN

Ek het soveel waardering vir jou staaltjies uit Europa!

KIEKIES  Winter is nie Wankelmoedig se maat nie!

Jy het my nou lekker laat giggel ­– veral oor gehekelde sitplekkappies. Ek sê altyd: “In die winter sit ‘n man en pie-pie, want die koue hande sal alles laat wegkrimp.”

PALET – n Stukkie mooi

Pragtig en propvol inspirasie. Die vereistes vir die rubriek was humor en daar was ‘n woordbeperking van 250 woorde.

TOOM  MET, OF HEUNINGWYN

Ek sal graag van daardie heuningwyn wil proe … Ek mag dalk in dwarsstrepe loop tot ná nuwejaar!

PALET  SNEEUMAN

Met so bietjie skaaf hier en daar, kan hierdie ‘n treffende rubriek word!

 

VERHALE:

RIAAN PALMER  Sê niks, dan is daar niks

Ek leef myself in jou verhaal in. Van die begin tot by die treffende slot voel dit of ek saam met Cornelia en Braam trek. Goeie werk!

MARTHA POLLER – Vaarwel, my geliefde

Ek is sprakeloos! Die personifikasie en unieke invalshoek het my heeltemal onkant betrap!

PALET – n Koue wintersaand

Hier sien ek jou ware talent! Uitstekend!

RIAAN PALMER ­ Heengaan van n roos

Baie hoë gehalte verhaal, Riaan!

Amanda Meyer De Mellion – Winter in my tuin

Die deurlopende personifikasie skilder die perfekte wintertuin in jou verhaal!

PALET  Winter in die paradys

Die liefde wat as somer uitgebeeld word en die winter oorwin … Die paradys het weer gejuig! Mooi!

Oyuki  Ronel Janse van Vuuren

Ek is gaande oor die mistieke aanslag in jou werk! Ek sien uit daarna om meer verhale uit jou pen te lees.

 




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Amanda

    16 September 2019

    Baie dankie vir die terugvoering.

    Net ‘n verduideliking. Die witvlek vlerkies in my gedig “Wanneer Winter sterf” dui op vernuwing of die begin van ‘n skoon nuwe lewe. Soos wanneer ‘n slang vervel en daar partykeer klein vlekkies oorbly. Dit kan dui op die feetjies wat hulle wintervlerke afskud vir nuwe lente vlerkies. Dit kan ook dui op die klein gips blommetjies wat die tuin wit vlek wanneer jy daaraan raak en dit met ‘n warrel afdaal aarde toe.

  2. Estelle

    18 September 2019

    Dankie Inkmoderator vir jou harde werk om aan ekeen van ons sulke waardevolle terugvoer te gee – geen maklike taak nie!

  3. Loretta Szikra

    19 September 2019

    Baie baie dankie Inkmoderator – jou harde werk en leersame terugvoer word hoog op prys gestel. Ons waardeer dit dit opreg.

  4. morne du preez

    19 September 2019

    Dankie vir die wonderlike terugvoer,ek gaan my gedigte aanpas en aandag gee waar nodig ek hou van leer sedert ek net onlangs diep begin dwelg het in hierdie lieflike taal van ons en meer begin “raak” het aan my digwerk,en skryf.
    Ek hoop om slypskool verder te benader vir verdere insettinge.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 239
Kommentaar telling: 2623

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 95 gaste aanlyn

Bydrae Totale