Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: IS LIEFDE REGTIG BLIND? (SILVER)

Deur Driekie
Datum gepubliseer: 15 Februarie 2021 Aantal woorde: 551 61 Kere gelees 2

Die geykte gesegde ‘die liefde is blind’ het verskillende betekenisse vir verskillende mense.
As ‘n lelike ou met ‘n pragtige meisie aan sy arm pryk, (of andersom) sou die ou tannies agter hulle hande fluister: “Wie sou nou kon dink dat ou Piet kromneus so ‘n mooi blom sou pluk. Die liefde is voorwaar blind.”
As Sus met ‘n skruwe javel by die huis aankom en Pa en Ma se nekhare rys en hulle wenkbroue wip omhoog, renons duidelik op hul gesigte afgeëts, sou hulle later vir mekaar sê: “Waar krap Sus hierdie gomtor uit. Kan sy nie sien wat ons sien nie? Die liefde is voorwaar blind.”
En so kan ons aangaan …
Maar … is liefde werklik blind? Of is dit maar net die manier waarop ons na ander kyk wat die verskil maak?
Ek het hieroor nagedink en besef dat dit nie werklik die liefde is wat blind is nie, maar eerder die kyker, of altans die bril waardeur ons kyk. Hóé ons na mense kyk maak die verskil.
As jy deur ‘n bril van oordeel kyk, gaan jy beslis teen al die persoon se foute vaskyk en foute raaksien, voorwaar. Dalk geraamtes vind wat daar dalk nie eers is nie.
As jy met lense van kritiek kyk, gaan jy beslis iets vind om te kritiseer.
As jy met lense van hoogmoed kyk, gaan jy jou eie gapings van minderwaardigheid raaksien en op daardie persoon projekteer.
MAAR … as jy met jou hart kyk, gaan jy die waarde van liefde ontdek en op verborge skatte afkom wat nie met die blote oog waargeneem kan word nie.
Liefde is dus nie ‘n kyk en oordeel ding nie, maar ‘n gevoelsding.
Mense laat hulle maklik mislei deur die uiterlike voorop ste stel. Die uiterlike van ‘n persoon is vir hulle so belangrik dat hulle die ware skat mis.
Liefde is nie wat jy wys nie, maar wat jy doen en hoe jy optree.
Soms gebeur dit dat ‘n man met ‘n pragtige (uiterlik) meisie trou, iemand met wie hy kan spog, net om later agter te kom hulle het eintlik niks in gemeen nie en begin alles wat sy doen en sê hom irriteer en begin hy foutvind met alles. Dan begin hy eendag gesels met vaal Sannie op kantoor en hulle word sielsgenote. Later sien hy nie meer haar uiterlike raak nie, want hy het haar hart ontdek en aanklank daarby gevind. So land talle huwelikke (wat ingestel was op die uiterlike) in die skeihof.
Ware geluk lê in gemaklikheid, eenders dink en eenders doen. Dit moet natuurlik kom, nie WERK wees om mekaar te skuur en te skaaf totdat julle bymekaar pas nie. Dit is die skuur en skaaf wat vonke veroorsaak en soms groot emosionele skade kan veroorsaak.
Ek glo dus, liefde is nie blind nie, dis ons eie oë wat met die verkeerde ingesteldheid verblind word.
Julle kan dalk van my verskil, maar dis hoe ek dit vir myself uitredeneer het. Sien die hart raak, nie die mens nie.
Die grootste voorbeeld van liefde (ware liefde) wat ons kan kry is God se liefde vir ons.
Waardeer jou maat en kyk ‘n slag dieper, en as jy opsoek is na ‘n maat, bêre al die vooropgestelde idees en luister ‘n slag na jou hart.
Driekie Grobler
(558 woorde)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    16 Februarie 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 74
Kommentaar telling: 127

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 104 gaste aanlyn

Bydraes – Argief