Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Irisse en sjokolade

Deur Carin Marais
Datum gepubliseer: 19 Mei 2016 Aantal woorde: 1459 1119 Kere gelees 6

“Dan moet ek eers my herinneringe gaan haal,” sê Maria toe Lizette oplaas klaar verduidelik het dat sy vir ’n YouTube-projek by die aftree-oord is en dat sy met iemand daar ’n onderhoud wil voer oor hulle herinneringe.
“Wat het jou nou my laat kom kies?” vra Maria.
“Ek wou 3D in die titel gehad het,” sê Lizette en haal haar skouers op. “Toe sê hulle vir my tannie woon in 3D.”
“Ek sien,” knik Maria. Met haar familie oorsee is hierdie die eerste kuiermense wat sy in ’n lang tyd gekry het. Sy wys met een hand vir Lizette sy moet haar na haar kamer volg.
“Die herinneringe is in my kas toegesluit,” verduidelik Maria.
In haar kamer gaan sy na die klerekas en haal tussen haar truie ’n skoenboks, wat met geskenkpapier oorgetrek is, uit.
“Is dit al?” vra Lizette toe Maria met net die een skoenboks onder haar arm na die gemeenskaplike sitkamer begin stap.
“Hierdie is die belangrikste. Ons het nie elke oomblik van die dag foto’s geneem soos julle nou kan maak nie. En ek is bevrees my kosmaakvermoëns het nog nooit iemand laat lus voel om die disse af te neem nie. Nie eens ek nie.”
Ná sy haar sit gekry het en die tiener sover gekry het om vir haar tee te bring, begin Maria die skoenboks se inhoud op die koffietafel uitpak.

’n Rukkie later lê foto’s, ou teaterkaartjies, ’n paar droë rose en ’n poskaart van die Eiffel-toring versprei oor die tafel.
“Tannie kan by enige foto begin,” sê Lizette terwyl sy die kamera op die driepoot staan maak.
Eers sit Maria stokstyf voor die kamera, maar vinnig vergeet sy daarvan soos sy haar verbeel sy praat met haar eie kinders en kleinkinders. ’n Paar van die ander inwoners staan ook nader om die stories te hoor. Vinnig vertel hulle ook sommer hulle eie stories en los Lizette om stil-stil agter die kamera te sit en luister. Mettertyd kom Lizette egter agter dat Maria se oë kort-kort na ’n man, wat in die hoek van die kamer in die son sit en maak asof hy dut, flits. Sodra Maria wegkyk, kyk dié weer vir haar met verliefde oë aan. Mens sou sweer hy is ’n tiener, dink Lizette. Ou mense moet mos nou al klaar wees met die verliefdheid! Stadig begin sy weer fokus op wat Maria vertel.
“My gunsteling blomme was nog altyd irisse,” eindig Maria haar storie terwyl sy die gedroogte rose in die skoenboks terugsit. “Maar mans luister mos nie.” Die ander lag almal saam. Maria se oë flits weer na die man in die hoek wat vinnig weer sy oë toeknyp.

Die volgende keer wat Lizette by die aftree-oord kom, wag die einste man wat so gemaak het asof hy slaap haar in die gang waar Maria se kamer is in met ‘n bos pers en geel irisse.
“Jy is mos daai meisiekind wat met Maria kom praat, nè?” vra hy toe sy probeer verbyglip.
Sy knik haar kop.
“Kan jy asseblief hierdie blomme vir haar gee? Maar moenie sê dit kom van Richard af nie. Sê net dit kom van ’n secret admirer af.”

“En die?” vra Maria toe sy die kamerdeur oopmaak en die bos blomme gewaar.
“Hy sê ek moet sê dit kom van ‘n secret admirer af,” sê Lizette ongeërg, maar Maria se breë glimlag versag haar hart.
“Dan hét hy gesit en luister,” glimlag Maria. “Ek dag die man gaan nooit die skimp vang nie!”
Maria loop breëbors by die gang af met die blomme om vir ‘n vaas en water te gaan vra. Haar glimlag en knipoog vir Richard toe sy verby hom loop laat hom tot by die punte van sy ore bloos.

Dié keer maak Richard nie asof hy slaap nie, maar sit en luister skaam-skaam na al die stories van eerste liefdes wat voor die kamera vertel word. Ná die tyd gaan Lizette na hom.
“Hoekom kom vertel oom nie saam stories nie?”
“Ag nee wat, wie wil nou die karige liefdesverhale hoor van ‘n ou oom wat nog nooit eers hals oor kop verlief was nie?” sê hy nors.
“Could have fooled me,” sê Lizette. “En die tannie weet die blomme kom van oom af. Sy is mal oor hulle.”
Hy vryf ‘n hand deur sy grys hare terwyl hy lag. “Ek is bly om dit te hoor. Meeste van die vroumense is net agter Fanus aan. Blykbaar het hy ryk geërf.”
“Ag nee wat, eerder ‘n romantic as iemand met geld,” sê Lizette voordat sy loop.

Die volgende keer wag Richard haar in met ‘n boks sjokolade – ook dié is die soort waarvoor Maria in haar storie die vorige keer geskimp het.
“Secret admirer?” vra sy en hy knik.
“Oom beter plan maak voor sy ook agter Fanus aanloop,” spot sy en loop na kamer 3D.
Maria is dié dag mooier as gewoonlik aangetrek en haar lippe is pienk geverf.
Lizette lig net haar skouers toe sy Maria die sjokolade gee.
“Richard sê dit kom van ’n secret admirer af,” sê sy om hom bietjie aan te help.
Maria lyk afgehaal toe sy Richard in die gang nie sien nie, maar later sien Lizette hoe hy by die kuierkamer insluip en in sy stoel by die venster gaan sit en aandagtig na al die stories luister.
Skielik draai Lizette na hom en vra: “En oom? Oom is so stil, hoe het oom se grootste liefde gelyk?”
Hy bloos bloedrooi voor hy stamelend antwoord: “Sy is die mooiste vrou wat mens ooit sal teëkom. ‘n Sonstraal vanself. Haar oë is die kleur van irisse en haar glimlag laat mens sommer vergeet hoe oud jy al geword het. Veral as sy die dag pers aanhet en pienk lipstiffie dra.”
Lizette loer onderlangs na Maria wie se wange beslis nou pienker as tevore is.

Richard wag Lizette nog twee keer met geskenke vir Maria in – die eerste keer met ’n digbundel van N.P. van Wyk Louw en die tweede keer met ’n beeldjie van die Eiffel-toring.
Voor Lizette egter ná al die verhale huis toe gaan, gaan soek sy vir Richard. Sy kry hom in die tuin by die rose wat net begin bot.
“Oom, ek wil nou nie snaaks wees nie nè,” sê sy met haar hande op haar heupe. “Maar ek kom net nog een keer kuier vir die projek en daarna kan ek nie meer enigiets van secret admirers vir Maria aandra nie.”
Richard staar vir ‘n oomblik in die verte in.
“Nee, dis reg. Ek sal môre winkel toe gaan.” Dan glimlag hy so breed dat al sy tande wys en sy oë sprankel.

Voor Lizette vir die laaste keer weer aan 3D se deur gaan klop, keer Richard haar voor. “Ek het ’n groot verrassing vir Maria, maar moet niks sê nie. Ek moet gou gaan regmaak.”

“Nee, tannie moet vandag die pers aanhê,” sê Lizette toe sy sien Maria het groen aan. “En lipstiffie. Die pienke.”
“En jy is seker daar was nie iets van my secret admirer af nie?” vra Maria.
“Toe, trek gou aan, ek gaan wag in die sitkamer, sê Lizette voor sy die aap uit die mou laat.

Maria se gesig is alles behalwe sprankelend toe sy by die sitkamer ingestap kom, maar sy het tog pers aan.
“Ek moet seker mooi lyk vir die kamera,” sê sy sag en maak die skoenboks vir die laaste keer oop.
“Hierdie is die laaste foto,” sê sy en begin vertel van haar kinders in Australië. Van die ander beaam hoe hulle families ook nou iewers oorsee woon.
“Nou ja, dit is my storie,” sê Maria ‘n ruk later en plaas die foto terug in die skoenboks.
“Daar is iets wat Richard gou vir tannie wou sê voor ek die kamera afskakel,” sê sy en glimlag breed toe Richard, uitgevat in ‘n aandpak, by die kamer inkom en met moeite op een been voor Maria kniel.
“Maria,” sê Richard, “sal jy met my trou?” Hy hou ‘n ringdosie na haar uit.
‘n Glimlag sprei oor Maria se lippe en sy gee hom ‘n soen voor hy nog die ring aan haar vinger kan steek.
“Ek het al begin dink ek gaan jou moet vra as jy langer wag!” sê sy en vee trane af.

Voordat Lizette gaan, steek Maria die ringdosie in haar hand.
“Ek wil hê jy moet die dosie hou,” sê sy. “Vir jou eie skoenboks. Iets om my aan te onthou,” voeg sy by.
“Ek dink nie ek sal tannie en Richard ooit kan vergeet nie. En julle gaan nie so gou van my ontslae raak nie!” lag sy. “Ek gaan beslis die troue ook kom afneem!”




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Anze

    19 Mei 2016

    ag dis nou mooi en romanties!!!

  2. Carin Marais

    19 Mei 2016

    Dankie! Dis nogal anders as my gewone fantasiestories, haha!

  3. Evelyn van der Merwe

    3 Junie 2016

    Wys jou net mens is nooit te oud om steeds waarlik verlief te wees nie. Pragtig gepen. Lekker gelees.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 26
Kommentaar telling: 42

Carin Marais skryf vonkfiksie, kortverhale en rubrieke en is tans besig met haar eerste roman.  Haar blog kan gelees word by www.maraiscarin,com Volg haar op Twitter by @CarinMarais of Instagram by @CarinMarais1

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 62 gaste aanlyn

Bydrae Totale