Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Ink Gala aand – die groot verdwaal

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 28 Oktober 2019 Aantal woorde: 727 50 Kere gelees 1

26 Oktober 2019. My eerste Gala aand. Die senuwees knaag soos ‘n honger rot aan ‘n sak oorryp mielies. My hare word ‘n dieper skakering silwer.
Klein Mathew word 5. Ouma se huis is die idiale tussenhuis vir almal. Pluspunt… Ouma het ‘n swembad. Oupa kry ‘n springkasteel en mamma, pappa, ooms en tannies spring in om die dag onvergeetlik te maak. Al die kinders en kleinkinders (net minus onse Simone’tjie wat te vêr oor die see bly) onder een dak. Ouma gee oor. Vandag is haar dag en die huis word in die kinders se hande gelos. Hopelik staan hy wanneer ons laatnag terugkom van Pretoria af.

Vroegoggend sluip ek uit die kamer. Die Gala aand en verjaardag partytjie lê voor my. Ek skrik my in ‘n ander bloedgroep toe twee klein ogies vanaf die sitkamer na my loer. ‘n Klein handjie word omhoog gelig. “Ek is vyf Ouma”. Ek wonder hoe vroeg die klein japsnoet al op is. Hy sit in ‘n opkrul bondeltjie onder ‘n kombersie op die bank. Die ogies blink van geluk. Dan giggel Mamma agter my.
“Hy is al van half vyf af wakker. Kom, ek gaan sommer nou ma se naels doen terwyl dit nog stil is.”

Soos dit mos gaan, moet daar mos altyd iets verkeerd loop. Ek belowe Anzè ‘n bakkievrag vol Ivy. Alhoewel die Gala aand eers teen 19:00 begin, belowe ek om voor vyf al daar te wees. Nou is die bakkie sleutels soek. Ek is al amper in trane toe die son se strale skielik ‘n blinkerigheid op die agtersitplek optel. Genade bo genade. Nou moet ons jaag. Skoonsus Deidrè het aangebied om met haar motor deur te ry. Ons parkeer die bakkie by haar. Die Ivy word vinnig oorgelaai en ons drie laat spaander na Pretoria. GPS aan.

Ek haat GPS. Daai tannie kan lelik lieg. Sy het ‘n vorige keer ‘n drie uur lange rit in ‘n nege ure nagmerrie laat ontaard. Charles sit voor by Deidrè. Charles se GPS korrespondeer met Deidrè sin. Ek voel meer op my gemak. Twee mense kan nie dieselfde lieg nie. Iewers gaan een van hulle ‘n fout maak. Gelukkig ken Deidrè die omgewing en ek skuif gemaklik agtertoe. Alles verloop goed. Ons gaan betyds wees. Of so dink ek.

“Turn right.”
GliPSie maak haar stem dik.
“Turn right”.

Soos ‘n koor kom Charles en Deidrè se stemme van voor. WAAR moet ons regs draai, hier is nie eens ‘n pad nie. Ek vlieg orent.

“Het jy Anzè se nommer?”
Ek het my selfoon by die huis gelos. Gelukkig het ek vir haar ‘n boodskap gestuur en Charles se nommer vir haar gelos… net ingeval. Nou bid ek soos nog nooit tevore nie. Ons draai links, regs, om sirkels, reguit aan. GliPSie maak ‘n moerse fout. My trane lê vlak. Dan besluit die tweeling om om te draai. GliPSie maak haar stem dik.
“Turn around”, kyk, Charles snoer die girlie se mond met ‘n “Ag Sjarrap” dat tot ekke maniere kry.

Deidrè gebruik nou haar vroulike instink. Charles se foon lui skril. Dis Anzè. Die arme vrou dink al ek is net so groot liegbek soos GliPSie. Anzè stuur aanwysings net toe ons die park se hekke deurry. Terselfdertyd klap die natuur hard hande. ‘n Bliksemstraal verhelder die pad voor ons en trane van blydskap val hard op die aarde neer.

Ek en weerlig is nie maats nie. Die blitse klap. Deidrè soek skuiling onder die naaste afdak. Ek onthou my belofte aan Anzè. Vandag druk ek my bangatgeit in my agtersak. Anzè wag vir my. Ek ruk die motordeur oop. Nog voor een van die twee iets kan uiter, hol ek met spykerhakke (en spykerhare) deur plasse water en klappende bliksems na die lokaal. Jy kan Anzè nie mis nie. Sy is witgeskrik. Daai parmantige paar oë is groot (om beter te kan sien ouma), soos pierings. Nog nooit was ek so bly om iemand te sien nie.
Willie hardloop saam om die Ivy te gaan haal. Deidrè het intussen reg voor die ingang parkeerplek gekry. Sy is witter geskrik as Anzè. Ons drie deel ‘n helse vrees vir weerlig. Anzè kon darm nog onder ‘n tafel skuil. Vele hande ligter werk. Binne sekondes is die takkies op die tafels en kan ons almal, sjerrie in die hand, ontspan. Dit word ‘n aand wat almal lank sal bybly.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 36
Kommentaar telling: 20

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 107 gaste aanlyn

Bydrae Totale