Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: In die middel van my tuin staan daar vir altyd ’n ryding. Episode twee.

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 18 April 2016 Aantal woorde: 1192 931 Kere gelees 8

Dit was nie die eerste of enigste keer wat ek ’n Tienrand boete gekry het nie. ’n Jaar of twee vantevore het ek op twee geleenthede die wet oortree en met ’n stywe tien rand daarvan afgekom. Die eerste was musiek se skuld.
Die Walkman het pas op die rakke verskyn en ek het ‘n geele vir my verjaarsdag gekry. Met die Walkman veilig aan my sy en die oorfone op die kop, het ek rustig met die fiets skool toe getrap. Af teen Bellville se bult en links in by die boonste lane van Boston. Daar sou ek sommer regop sit en trap, my arms gevou en die Walkman wat Pop Shop se soveelste treffer deur my skedel stuur en juis daar sou ek my ook nie veel aan die stopstrate steur nie; ek het sommer loshand deur die lyne geswiep.
Tot die een oggend, wat die boetebees om ’n draai uitspring en van die skrik ek amper my Walkman, fiets en blaas laat val het!
Hy het nie veel gepraat nie, net geskryf.

Die tweede tienrand was heel moontlik die enigste een van die boetes wat ek werklik verdien het. Mens kan amper sê dat die spietkop wat daai middag die boete geskryf het, op die regte tyd op my verkeerde plek was; asof die dienaar van die padgereg van nêrens af daar geplaas was om geregtigheid te laat geskied; soos karma.

In standerd nege het die meeste van ons al vergeet dat ons ‘n motorfiets gekry het (my poegie was tussentyds vervang met ’n “propperse fifty”). ’n Ander klasmaat het toe uiteindelik ook ’n motorfiets gekry. Die ding was nie blink nie, was nie die “regte” fabrikaat nie en was bitter oud.
’n Kawasaki 50cc.
Foeitog, die fiets het sleg by die res van die motorfietsparkeerplek se inwoners afgesteek en die mater, kom ons noem hom net Goosen, was gedurig wreed gespot oor die “bike” wat hy met bloudraad aanmekaar gehou het!
Om die spotsout behoorlik in die wonde te vryf, kry ek toe die taak om vir Goosen ‘n poets te bak, iets wat tot op hierdie dag my beide skaam en histeries laat…
Na skool vat ek die pad na Die Burger se kantoor toe. Ons het die woorde vooraf laat tik en ek moes net die advertensie gaan plaas; daai dae was advertensies vir goeters wat mense vir minder as R50 wou verkoop, gratis.
“Kawasaki AE50. Vir onderdele te koop. R49. Skakel…”

Nodeloos om te sê, toe Die Burger se straatverkopers en huisafleweringsdiens die sypaadjies tref, toe begin die Goosens se telefoon tuis lui!
Elke agterplaas fiets opbouer wat onderdele gesoek het van Bellville tot Worcester, Milnerton tot Vishoek, het daai oggend die arme verstomde swetsende Goosen-gesin geskakel met die hoop om eerste daai Kawasaki se “piston” of sitplek of handvatsels in die hande te kry. Soveelso, dat toe hulle die aand bed toe gaan, die telefoon steeds van die mikkie afgehaal was!

Die arme ou was briesend toe hy by die skool kom en die vark begin soek wat sy “bike” in die koerant gesit het!

Die skuldige skurminkel het hom egter bleek geskrik toe hy sien hoe bemoerd die Goosen was. Hy het stil-stil die Tienrand boete wat hy vroeër die week gekry het, omdat hy met sy fiets op die sypaadjie voor Die Burger se kantoor gery het, gaan betaal en geen woord verder gerep nie!
Jammer, ou maat.

Met die verloop van tyd het ’n Mazda 323 by my motorfiets aangesluit en teen die einde van my Matriekjaar was ek veeldoelig met voertuie toegerus. Die wereld was my woning en van rondrits was ek die koning.

Weens Pappie se sake en doene en late, het hy by geleentheid ’n ryding of twee gesmous. Soms bietjie reggemaak en opgedollie, of soms net gewas en verkoop. Die mooiste glinsterende goue duinebesie met ’n afslaankappie en “bucket seats”, 15-duim bande voor en 22-duim tekkies agter, ’n 1600-Lux Bug volksie enjin en ’n brul wat die dorp kan stuit, het juis daardie Desember vakansie op sy stoep kom staan.
My begeerte om hierdie pragstuk meisiemonster net vir rukkie te bestuur, het gestoom soos ‘n 3de rugby span se voorry op ’n wintersaand.
Weereens was daar ’n gesmeek en gesanik, met beloftes van voorwaardes en goeie gedrag en na ’n bietjie meer gesukkel…het die knie gebuig.
“Jy kan met die beachbuggy ry, maar die ding is nie op my naam nie – jy mag NET by die huis rondry – nerens anders nie anders is daar moeilikheid!”…
Pa se woorde was nog skaars koud toe die foon lui.
Vriend Ivan se niggie en dié se aanhangsel is in die dorp doer uit die verre Bloemfontein en hy wil hulle die Kaap gaan wys. Het ek lus om saam te gaan?
“Wat praat jy my ou, ek het net die regte voertuig vir die trip ook!”

In daardie doodsnikke van die Desember vakansie, het ek so pas die vlerke by ’n aster aan die agterkant van die berg begin sleep; Kampsbaai.
Eenkeer in ’n naweek mag ek en my groen Mazda die 37,5 kilometer rit van my ouers se huis in Bellville na die ander kant van die wereld geneem het; andersins was dit ‘n briefie of kaartjie deur die pos wat, indien ek dit voor 13:00 in die Posbus gegooi het, ’n dag later by haar afgelewer word of die uitmergelende gewag vir ’n 15minute oproep na 20:00 elke tweede aand.
Maar nou dit!
Seil daar hierdie wonderlike geleentheid in die middel van die week, met ’n stuitige super buggy in die oprit en sakgeld om te geniet, in my hawe in!
Ek was vinniger uit en aangetrek as wat jy “hier-kom-groot-moeilikheid” kan sê en met ’n gebrul en skuiwe van tekkies oor die vroegoggend teer vat ek die pad na Ivan se huis toe.

Die dag was een van daai dae wat jy nie kan bedroom nie; jy kan dit net beleef.
Met die wind in ons hare het ons die pad Kampsbaai toe gevat. ( Ja, ek besef dat dit werklik ’n oorbodige cliché is, maar aangesien ek nie meer hare het om in die wind rond te gooi nie, is dit belangrik dat iemand erens daar buite tog daarop sal ag slaan dat ek wel tot wappering in staat was!)
Om die berg, Llandudno strand toe, oor die knop Houtbaai toe. Son, see, die 1600 se brul en die liefde wat blom. Ons sluit die dag amper teen sonsondergang in Kampsbaai af en met die goue gaan slaap van die son op ons linkerwang, glip ons vir oulaas Seepunt deur terug Bellville toe.
Met ’n woelige dag agter die rug en omtrent 260km later, het ek die gaste afgelaai en teen die bult afgeskied huis toe. Die indraai regs na ons huis was vlak voor my en op ’n afstand kon ek Oupa in die voortuin sien staan en natspuit. Net om weer snaaks te wees, gee ek die “buggy” vir oulaas ’n bietjie vet en…..toe breek die petrol kabel! Mors, Mors af!

In my lewe was ek nog nooit só dankbaar vir ’n kar wat op die regte plek gaan breek het nie!

Einde van episode twee.




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Anze

    18 April 2016

    Heerlik gelees aan al jou kattekwaad!

  2. neels

    18 April 2016

    Ook maar n moeilike mannetjie gewees lyk dit vir my

  3. Viooltjie

    19 April 2016

    Jy skryf darem maar op so ‘n lekkerlees styl. Ek het hierdie vertelling terdeë geniet. Baie goeie werk.

  4. Kiekies

    20 April 2016

    Flippettttt, dit kon ‘n morsige bloederige en dalk mors dooierige storie afgegee het!!!

    Eintlik, na regte, moes daai kabel eers 3 trips later gebreek het.

    Jisso ek lees heeeeerlik.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 64 gaste aanlyn

Bydrae Totale