Jongste aktiwiteit:

In die kring van sy arms. (BRONS)

In die kring van sy arms.

Die vuur dans vrolik in die kaggel waar ons aan die ou bekende familietafel sit. Gesellige musiek speel sag in die agtergrond en my hart klop warm as ek na die gesigte van my man en seun kyk. Alles lyk so normaal dat ek vir die oomblik nie wil dink aan Jan se siekte nie. Ek kyk na Deon, ons seun wat oorkant sy pa sit. Hulle trek so baie na mekaar met hulle blou oë.

“Hoe lank is mamma en pappa nou getroud?”

“Jong, hierdie Cassanova het my voete onder my uitgeslaan amper twee-en-vyftig jaar gelede.”

“Hy het beslis nie gras onder sy voete laat groei nie, tien maande later was ons voor die kansel.”

Die atmosfeer aan die groot ou houttafel is sag en gemoedelik. Die vuurtjie knetter in die kaggel en sagte musiek in die agtergrond stem ons almal rustig. Ek dink stil terug aan die afgelope paar weke sedert ons vir Dokter Smit moes gaan sien het na Jan se jaarlikse roetine ondersoek.

“Jammer dit is nie goeie nuus nie. Die kanker is reeds versprei na die pankreas.” So het die groot “K” ook ons veilige klein kring kom binnedring soos ʼn dief in die nag.

Met die tuiskoms het Jan hom dadelik onttrek en hom na sy werkskamer met sy houtwerkgereedskap gewend. Hy het nog altyd veilig gevoel tussen hout met die reuk van vars geskaafde saagsels in die lug. Ek het verslae langs hierdie einste ou tafel neergesak waar trane vrylik oor my wange gestroom het.

“Hoekom Here, hoekom?” Ek het dadelik skaamgekry vir my gedagtes en verskoning gevra, my trane afgevee met die agterkant van my arm.

“Here, gee ons die krag en die wysheid om ook hierdie pad tot eer van U te stap.”

Ek het na die kas gestap om meel en eiers te gaan haal. Sowat ʼn uur later was die hele vertrek gevul met die geur van gemmerkoekies – Jan se heel beste gunsteling. Ek het met die vars gebakte gemmerkoekies en ʼn fles boeretroos na sy werkskamer gestap. In seer stilte het ons die vars koekies geëet en ook stilweg saam gehuil. In verslaentheid kon ons mekaar net vashou en troos.

In die weke wat gevolg het, het ek die huis op sy dak gekeer met skoonmaak en Jan het ure in sy eie veilige werksplek geskuil. Die huis het geskitter en na skoon wasgoed geruik. Jan het darem af en toe ingekom om te kom eet of om te rus. Die moegheid het hom by tye so oorval dat hy eerder net op die stoep se bank kom lê het.

“Ma, hoe lyk dit met daardie heerlik nagereg?” ruk Deon se stem my terug na die hede.

Ek staan op en kyk liefdevol na Deon en sy pa as hulle vrolik lag vir die grappie wat hulle deel. Vir nou is my beker vol, ek dink glad nie aan die chemo sessies wat weer volgende week moet begin nie. Ek bewaar hierdie oomblikke soos goud. Ek koester ons heerlik samesyn vir nou.

So met die opstaan om die nagereg te gaan haal, hoor ek die bekende “Wil jy dans, Karina” saggies oor die radio speel. Ek draai in my spore om, om die radio harder te gaan stel. Ek staan doodstil en die traanspore vind hul weg oor my wange.

“Ag, kan dit nie maar anders wees nie?”

Vir ʼn wyle is ek en Jan weer die jong getroude paartjie wat sweef oor die meelbestrooide vloer in die skuur. Die vrolike gelag en gesels van al ons vriende klink orals vrolik op waar hulle op die hooibale sit.

Ek ruk terug na ons huisie in Keerboslaan as ʼn hand saggies aan my skouer tik. Ek draai om en kyk in Jan se liefdevolle gesig, met liggies in sy fletsblou oë hoor ek sy stem.
“Wil jy dans, Karina?”

Sonder woorde sak my kop op sy skouer as hy my toevou in die veilig kring van sy arms. Skuifel-skuifel dans ons stadig in ʼn amper heilige stilte met die blik van Deon op ons.
Het ek maar besef dit is ons heel laaste dans, het ek langer die veilige warmte van sy lyf teen my gekoester.

©Marlene Erasmus
25/03/2021

(707 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed