Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Hier

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 2 Augustus 2019 Aantal woorde: 539 143 Kere gelees 1

Dit is laatmiddag toe my bande hand skud met die grondpad. Soos ou vriende in omhelsing kleef die stof aan die rubber terwyl dit kort-kort in omwenteling terugkeer en elke maal weer van vooraf met die sand kennis maak.
Ek was nog nooit hier nie maar my siel onthou iets. Ek vermoed dit is my liefde vir paaie sonder teer wat altyd lei na ’n êrens van gemoedsrus. Vandag is geen uitsondering nie. Hoe verder ons van die teer wegdwaal, hoe ligter raak ek.
Die pad kronkel deur lemoenboorde en veld tot dit uiteindelik sy end bereik voor ’n eenkanthuis, diep versteek tussen rye bome wat groen op die land ingeryg staan.
Ek het vergeet hoe dit voel om in die veld te wees. Ek het vergeet wat dit is wanneer die stad deur ‘n ongelyke stof-sinkplaat van jou afgeskud word en jy skoon lug kan inasem —hoe dit jou van binne af reining … genees.
Tussen ’n rooiwarm vuur en die groen-geel takkies van ’n advokadopeerboom wat sy bloeisels met huiwer laat bot, versigtig vir die laaste koue wat dit dalk nog kan kom haal, raak ek verdiep in die wêreld rondom my. Ek drink dit in: elke grassie, elke stoffie, elke boom en elke blaar. Die weerkaatsing van die lig in al die aardse kleure; ’n uitnodiging om af te dwaal tussen goue polle ver verby dit wat die oog kan sien.
Met elke asemteug raak dit wat ek voel woorde in my diepste wese. Frases dans op uit die vonkelende vuur en gaan hang ryp-oranje aan die takke van die naaste bome wat die horison vlak voor my versper.
Hier kan ek skryf. Hier kan ek wegraak tussen die rye bome wat seisoen in en seisoen uit swaar hang van die vrug wat dit aan die samelewing moet lewer. Hier … onder die sinkdak en op die groot stoep. Hier … waar woorde en metafoor met my loop neem, waar ek paaie kan stap en wêrelde en karakters vanuit die griffel van ’n stukkie grys grafiet kan leer ken. Hier …
… kan ek peins … en wonder oor die lewe —kan ek treur … kan ek my uitwoed in die enigste vorm wat maal en kolk in sin kan verweef. Hier hoef ek geen woord of frase te gaan soek nie, hoef ek dit nie te gaan haal met dink en wonder nie. Nee, hier ontdek elke woord homself. Tussen lemoene hang dit ryp vir die pluk, dit bot aan ’n advokadopeerboom sonder enige vrees vir die koue. Dit dans op die maat van ’n knetterende vuur, dit wieg in die stilte en roep jou wanneer die jakkals tjank. Dit kom haal jou, nooi jou uit.
Geen woord kan hier in rypheid verrot of saam met stuifmeel wegwaai op die eindelose strome van die wind nie; die goue halms van die gras staan reg om dit op te raap en êrens aan ’n doringtak sal dit verstrengel raak, nooit buite bereik nie.
Wanneer ek my oë toemaak kan sien, beelde in my verbeelding, gestaltes wat vorm en uit die nuut hul eie storie skryf. Vergete kom lê by my aan, moontlikhede wat wakker raak en die toekoms nader wink.
Ek hou van hier. Ek hou van skoon, eenvoudig, vars. Hier.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Kiekies

    2 Augustus 2019

    Hmmm daar wil ek ook graag gaan draai, daar in Hier. Ek het heerlik saam gery.

  2. Johnell

    4 Augustus 2019

    Baie dankie 🙂

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 22
Kommentaar telling: 7

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 92 gaste aanlyn

Bydrae Totale