Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Het drome ‘n vervaldatum? Deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 1 Oktober 2019 Aantal woorde: 1524 118 Kere gelees Hou van

“Ma, Pa… ek het fantastiese nuus!” Nellie het deur die tuin gehardloop tot waar haar ouers onder die koelte boom gesit het.
“Waaroor is die bohaai?”
“Pappa, ek is in!” het sy gegil van vreugde.
“In by wat?” Haar pa se kenmerkende frons afgeëts tussen donker groen oë. Oë sprekend van haar eie groen poele.
“Die onderhoud. Ek moet môreoggend elfuur daar wees.”
“Ek dink dit is sommer lawwigheid. Jy sal in elk geval nie die geleentheid kry nie.”
“Hi Frans, hoe kan jy so sê? Nellie is goed en verdien ‘n kans.”
“In watter land bly jy Mattie?” met rollende oë draai haar ma na haar toe, “Bevestig my kind, mamma sal jou vat.”
“Dankie, Mamma.” Sy kon altyd reken op haar ma se ondersteuning, iets waaroor sy baie dankbaar was.
“Dit is simpel om eers te wil probeer. Sy is te wit in die eerste plek.” Snou hy toe maar dit klink meer soos ‘n grom. Hoekom geld uitgee op ‘n meisiekind se geleerdheid, sy gaan in elk geval trou en dan was dit geld mors; is sy gedagtegang. Hy het dit menigmaal al voorheen gesê. Die politieke toestand het hom ook bitter gelaat. Hy wou nie meer die goed raak sien nie.
“Gaan maak eerder tee pop.” Het hy haar verjaag en weer sy aandag op die oopgevoude koerant op sy skoot gespits. Doeltreffend het hy hulle uitgesluit. Nellie onthou die absolute radeloosheid wat sy ervaar het. Stilweg het sy omgedraai, mamma se bemoedigende glimlag het maar min gehelp.
“Ek wens jy wil net eenmaal belangstelling in Nellie toon, Frans.” Nellie kon nog die woorde onthou. Die papiergordyn die enigste antwoord oor haar toekoms.
“Sy het hard gewerk. Haar punte lyk goed. Sy sal ‘n uitstekende joernalis wees.”
“Stop met die argumente vrou.” Weer het sy die koerantpapier hoor skud voor sy verdwyn het in die kombuis in.
Vir lank het sy net daar gestaan en uitstaar. Haar ma in diep gesprek met die koerant. ‘n Gefrustreerde traan het teen Nellie se wang af gerol en sy het dit verergd af gevee. By haar studeertafel het sy ‘n pen en eksamenblad uit gehaal en begin skryf. Haar duidelike skrif was ‘n teenstelling met haar gemoed maar sy het als neergeskryf wat in haar hart op gekom het. Opgehoopte emosies van jare se verwerping het net gevloei daardie dag.
Nellie was besig om kaste reg te pak toe sy weer op die oorgetrekte boks afkom met haar kinder drome daarin. Die deksel se blink papier nou dof van ouderdom. Daardie selfde gevoelens woed weer in haar. Die hele gesprek en daaropvolgende afspraak was net ‘n droom wat ook weggepak was. Die universiteitbrief netjies toegevou saam met die brief. Haar pa het sy sin gekry en sy het nooit gegaan nie.
Haar ouers is albei oorlede, kort na mekaar. Die lewe het aanbeweeg en die leemtes het verskuil gebly. Die jong Nellie se drome en ideale het saam met die boks verdof. Hier sit sy nou. Haar lewe opgeoffer vir haar man, kinders en huis. Die laaste dertig jaar was vervuld op sy eie manier. Nou is die laaste kind ook uit die huis uit. Wat nou? Waar laat dit haar?
“Nellie, waar is jy?” swaar voetstappe kom die gang af en sy vee haastig die lastige trane af en plaas dan met bewende vingers die brief weer terug.
“Hier is ek Walter.” En haar man van die laaste vyf en twintig jaar stap hul kamer binne. Hulle het ontmoet in die jaar wat sy negentien geword het. Toe sy swanger raak met hul oudste seun het sy haar drome weggepak sodat sy die regte ding kon doen. Sy het hom drie seuns gegee. Sy drome het hy uitgeleef deur hulle groei en sy loopbaan as boekhouer en sy het stilweg toegesien dat alles glad verloop by die huis. Die verlange na ‘n beroep weggebêre soos so baie ander dinge in haar lewe.
“Wat maak jy?”
“Pak sommer die kaste reg,” en sy sit die boks ongeërg terug op sy plek; op die heel boonste rak, in die verste hoek.
“Ek ken nie daardie boks nie, waar kom dit vandaan?” en hy gaan sit op die hoek van die bed, vraende oë opgehef na haar.
“Sommer niks, ek moet dit eintlik weggooi.” En sy maak die deur beslis toe.
“Wys my toe.”
“Kom ons gaan kombuis toe, ek het sommer snack witches gemaak vir middagete.”
“Nellie, stop. Wat gaan aan?”
“Niks nie Walter, kom nou, die broodjies gaan pap word.”
“Ons kan dit weer warm maak. Wat se boks is dit en wat is daar in?” sy stem baie beslis. ‘n Stem wat hy gewoonlik vir die seuns gebruik. Stry gaan nie help nie.
Met ‘n sug maak sy weer die kas oop en trek die boks nader wat sy dan afhaal en vir hom gee. “Dit is sommer net kindergoed van my jonger dae,” probeer sy dit afmaak.
“Ek wil sien. Jy het dit nog nooit vir my gewys nie,” en hy neem die boks by haar.
“Daar is niks interessant in nie. Boring eintlik,” skerm sy.
Stil haal hy al die kaartjies en briewe uit en vou dan die brief oop wat sy geskryf het. Met ingehoude asem hou sy hom dop. Die universiteitsbrief lees hy eerste en kyk dan na haar voor hy weer na die eksamenblaaie kyk. Toe sy hande eintlik op sy knieë sak kyk hy direk na haar. Sy oë gevul met ‘n onbekende lig wat sy nog nie voorheen gesien het nie. Nellie kon sweer daar is vogtigheid in maar sy moet haar verbeel want Walter is die sterk soort. Trane word net nooit gesien in die dieptes nie.
“Nou maak baie dinge sin,” en vryf hy sy oë maar voor Nellie kan vra watse dinge kom die volgende vraag. “Hoekom het jy nooit gepraat nie? Voel jy nogsteeds so?”
“Dit is lank terug. Jy weet hoe dit gaan. Die lewe gaan aan.” Wat meer kan sy sê om dit te verduidelik? As sy eerlik moet wees dan voel sy nog netso. Onvervuld, nou meer as ooit is sy nuuskierig oor haar lewe en wat sou gebeur het as sy deurgedruk het. Maar tyd het nou uitgehardloop. As, verbrande hout wat nie meer kan brand nie.
“Nel… daar is nog tyd. Jy kan weer probeer.” Sy gee ‘n sieniese laggie. “Nee my man, ek is te oud. Niemand sal my meer ‘n kans gee nie,” sy vat die boks by hom en plaas die verlede weer terug agter die vier mure van die kas. Vir ‘n lang oomblik is daar doodse stilte in die kamer. Sy kan Walter se priemende oë op haar voel terwyl sy die boks weer terugsit en die kasdeur toemaak. Dan verlaat sy die kamer om sodoende sy oë te vermy. Haar huis is nou haar lewe. Haar drome verweef by haar seuns sin.
“Nellie, vrou…”en voor hy die sin voltooi gee sy vir hom die halfklaar tamatiesousbottel aan. In stilte eet hulle verder. Toe Walter opstaan steun hy effens. ‘n Steun wat meer geklink het soos ‘n sug maar sy los dit daar. Toe hy deur die agterdeur verdwyn met die karsleutels in die hand weet sy hy gaan ry. Dit was nog altyd so. Sy kom en gaan het sy lank gelede aanvaar so sonder verduideliking. Veel later stap hy in en soengroet haar waar sy sit en TV kyk. Die bekende sepie se laaste deuntjie sypel deur die vertrek.
“Môreoggend moet ons kollege toe gaan en gaan uitvind van joernalistieke klasse wat jy kan loop.”
“Ek sien nie meer kans nie. Wie sal dan ‘n ouvrou ‘n kans gee om te werk?” haar oë stip op die TV terwyl haar hart bons.
“Ek ken die redakteur van die plaaslike koerant, Tinus Beeckman. Ek het met hom gaan gesels vanmiddag. Hy wil jou ‘n kans gee Nellie.” Hy kom sit reg voor haar sommer op die koffietafel. Iets wat sy verpes maar op daardie oomblik staar sy hom aan. Haar ore moet stukkend wees, daarvan is sy seker.
“Hy wil van jou werk sien. Hier is sy e-pos adres, jy kan dit direk aan hom stuur.”
“Hmmm…”en Nellie sluk, haar woorde opgedroog.
“Ek het lanklaas geskryf,” kry sy dit eintlik uit, haar hals aan die brand.
“Dan sal ek aanbeveel dat jy die TV afsit en begin skryf.” En met dit kom ‘n reghoekige boks te voorskyn, een wat sy nie vroeër gesien het nie. Sy weet genoeg om te weet wat dit is maar het nog nooit een van haar eie gehad nie.
“Op jou nuwe loopbaan.” Kom die verleë woorde en Walter plaas die skootrekenaar op haar skoot. Die skerm flikker aan; sy blinkoog ‘n uitnodiging wat haar vorentoe laat stu en aan die muis raak. Vlugtig speel sy oor die sleutelbord en gaan dan reguit na die dokument.
Haar siel op daardie oomblik vry en lig en sy glimlag breed.
“Daar is my vrou.” Glimlag haar man en gee haar ‘n klapsoen. Sy oë gevul met beloftes van genietinge en gee haar ‘n raps op die boud.
Kopiereg voorbehou




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 65
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 123 gaste aanlyn

Bydrae Totale