Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Hande in die lug!

Deur Ano
Datum gepubliseer: 2 April 2020 Aantal woorde: 615 33 Kere gelees Hou van

So in die diepe stilte van die omgewing gebeur dit dat buurvrou bel om te hoor hoe dit gaan. Oorleef ons darem nog in hierdie tyd van afsondering? Die dae rek darem nou vreeslik lank, of hoe? Na vyf sekondes se mooi praatjies kom die regte waarheid uit. Sy is besig om te bak en toe ontdek sy haar suiker is op. Het ek dalk ʼn pak suiker om vir haar te “leen”? Kan ek dalkies en groot asseblief tog net, help. Ja pft, leen, ons ken daai een al!

Ons spreek af om oor vyf minute in die straat te ontmoet. Net vinnig. Voor die polisie sien dat iemand dit buite sy huis gewaag het. As wetsgehoorsame burger voel dit asof ek elke wet in die boek gaan oortree. Ek slaan gou die tien gebooie na net om heeltemal seker te maak. Maar as oom Cyril praat, dan luister ons partymaal net ʼn bietjie beter as ander kere.

Nou kyk, ek is gʼn lus vir ʼn onnodige opgedolliede voorgee-wat-ek-nie-is-nie. Ek lyk dus maar soos ek lyk. Dit is egter duidelik dat buurvrou heeltemal ander idees gehad het! Buiten vir die gebrek aan ʼn suurstof tenk op haar rug, verskyn sy in een of ander blouerige spacesuit. Dit maak so ʼn snaakse swiesh-swiesh geluid wanneer sy loop. Haar hare is bedek, dra ʼn masker wat net haar oë oop laat, handskoene, die hele toetie. Wat my egter die grootste laat skrik is die spuitbottel met giftige vloeistof wat sy gretig in my rigting mik. Gaan sy my rêrig hier in die middel van die straat steriliseer of ontsmet of iets? Vir ʼn oomblik gaan my hartklop woes aan die spring. Dit is darem maar simpel om vir ʼn spuitbottel bang te wees, maar tog! Wie weet watse giftige gemors dalk daarin is?

Vieserig en met net twee vingertjies vat sy die plastieksak aan die handvatsels, die verseëlde sak suiker hang nou nog swaarder daarin. Haar vingers lyk maar bewerig soos sy probeer om die ekstra kilogramme in die lug te hou, maar sy is gedetermineerd om dit ʼn volle armlengte van haar lyf af weg te hou. Sy gee die sak ʼn paar vinnige spuite om elke sentimeter daarvan te deurdrenk en die vloeistof tap tesame met al die stekelrige, skreeuende en half dood ongediertetjies op die koel teer neer.

My kieme (waarvan ek tot dusver nog onbewus is) moet sekerlik iets allemintig groot en magtig wees. Haar openlike afkeer weens die gebrek aan beskermende kleredrag en hedendaagse bykomstighede is duidelik op haar gesig te sien. Dit laat my voel asof ek Ebola of Corona kieme wild en wakker oor die sak suiker gebraak het en asof ek so pas die grootste sonde in die land gepleeg het. Ek sweer sy gaan more uit pure angs ʼn kuggie ontwikkel. Bang mense word maklik siek…

Haar vreemde gedrag laat my egter ʼn bietjie nadink. Hulle tweetjies het drie woelige laerskool kinders in die huis en tot vandag was ek vas oortuig dat hulle een of ander tyd landuit gevlug het want gʼn mens hoor ʼn enkele piep van daardie kant van die heining nie. Miskien is almal ingehok tussen daardie vier mure want die kinders speel nie soos normaalweg buite op die grasperk nie. Tot dusver was ek baie jammer vir myself en ou Guppy wat nie soos normaalweg by die water kan gaan speel nie. Nou spoel dit oor na die arme kinders wat oënskynlik nie hul gewone kinder-dinge mag doen nie.

Ek dink hul almal dra seker ook maskers en handskoene in die huis. Maar daar is ook gerugte dat hierdie maskers nie die kieme buite hou nie, en al waarvoor dit skynbaar help is om die eetlus so effens in toom te hou.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 53
Kommentaar telling: 94

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 70 gaste aanlyn

Bydrae Totale