Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Grootste man met die kleinste hart……. Grepies uit ons lewe

Deur Annelise Kriek
Datum gepubliseer: 27 Februarie 2020 Aantal woorde: 1528 22 Kere gelees Hou van

Grepies uit ons lewe….

Herman werk laat gisteraand, Lesley, my kwadrupleeg-seun is by my Ma en Pa, ek dwaal deur die groot stil huis – laatmiddag Donderdag, 24 November. Van die yskas na die kamer… doelloos.

Ek wil nie voor my Silhouette Cameo papier snyer gaan sit nie want ek het plegtig vir Herman belowe, om vir die eerste keer in agt dae, nie tyd daar te spandeer nie. Hy het Woensdagaand – met ‘n glimlag in sy stem (maar nie op sy lippe) my ingelig dat ek ten minste een aand `n week, nie ‘n ‘Papiertjie-vroutjie’ mag wees nie.

Ek wil niks anders begin nie want Her sal enige oomblik instap en dan moet ons ry om vir Les te gaan haal…. Van die yskas na die kamer….. Toe ek die trappie afklim in die nuwe vleuel se gang… hoor ek dit: … `n sagte geskuifel van voetjies en naeltjies wat krap op die plafon in die gang. En toe nog `n piep ook van `n honger baba duif. Hoe is dit moontlik? Herman het uitdruklik gesê dat hulle die vorige dag die dak van buite geseël het en dat die duiwe nie meer in die dak op die plafon kan broei nie. (Die duiwe het hoeka vir Tashai en haar vriendin die horries gegee die eerste nag, toe hulle by ons kom kuier het).

Ek hou my asem op – en hoop dat ek my net verbeel het – maar nee – daar is dit weer. Die dringende gepiep van `n duif wat sy mamma soek, in `n pikdonker plafon terwyl die son buite sak. Sy kans op `n eerste happie in dertig ure vining besig om te verdwyn so saam met die laaste strale van die son. Ek is nou baie bekommerd en bel vir Her. Hy is lekker warm aan die ander kant van die lyn, want nou moet hy die ‘strip’ wat hy nou net gegom het los, om sy foon te beantwoord. “Her – ek dink daar is `n baba-duif op die plafon – is dit moontlik?” “Ja Liefie – en nou is alles losgetrek en vol gom en ek moet van voor af begin!!” Oeps jammer – die duif – en my – gewag is so pas met nog `n halfuur verleng. Ek maak die luik oop en sit ligte aan – hopelik weet die duif lig beteken redding – maar helaas…..niks positiefs gebeur nie.

Eers half agt se koers kom die bokwa en die man by die huis aan. Die normale gewerskaf om die bakkie af te laai klink op en … ek wag. Herman was hande en kom groet….”Her – die baba-duif het niks geëet of gedrink die hele dag nie. Dink jy hy sal oorleef? Hoeveel uur is hy nou al sonder sy ma. Moet ons eers ry of sal jy die duif nou uithaal?” Lang stilte…. “Hallo Liefie……. Hoe was jou dag??” O Oeps!

Ons besluit om eers vir Lesley te gaan haal voordat Her begin om `n ellelange vraelys van Niel Malan se Elite Entrepreneurs in te vul wat hom die res van die nag gaan besig hou. My Ma wil nog kuier en nog net hier iets en nog `n vragie vra… ek wil by die huis kom want al waaraan ek kan dink is `n koue honger veer baba wat na sy ma verlang.

By die huis gekom is dit bed toe met Les. Her gaan sit voor die rekenaar om te begin voorberei vir die more se seminaar. Ek gaan maak iets om te eet want ek besluit dit sal beter wees om weer vir Her te pols oor die duif as hy self nie meer so honger is …soos die duif nie. Halfpad deur die pasta waag ek dit! Her gooi die vurk terug in die bord en stoot die stoel agteruit. “Toemaar Liefie, dis alles reg! Eet eers klaar!” Ek weet dat ek nou ernstig besig is om met die leeu se snor speel! Hy maak die bord leeg en kyk vir my. Nou is dit tyd om te flikflooi want hierdie man is nou moeilik! Ek kan nie `n oomblik dink dat Her regtig daardie baba duif sal los om `n wrede hongerdood te sterf nie.

“Liefie, kan ek jou help? Wat kan ek doen?” Herman kyk vir my! Lank en indringend…..Wil weet, of ek weet wat ek van hom vra!! Ek antwoord nie want net-nou is dit die verkeerde antwoord en dan is duif dood. Hy bring die lang leer……. Hy soek batterye vir die LED koplampie…….. Hy vra weer of ek weet wat ek van hom vra…… Hy breek `n stuk van die plafon weg met sy groot lyf terwyl hy in die plafon in skuifel……..Stilte….. Hy verdwyn in die plafon in en al wat ek hoor is steune en kreune. “Liefie, sien jy hom al? Liefie is hy orraaaait?” “O ja….. Liefie is JY orraaaaait?” Stilte. Ek besluit om ook die leer aan te durf …….. met al my dele, wat so sleg deur die aarde se aantrekkingskrag geaffekteer word. Ek bereik die plafon en loer in die donker dieptes in…….. en nou weet ek presies wat ek van Her gevra het!! Die spasie tussen die dak en die plafon is so klein dat hy op sy rug moet seil – eers sy kop skuif en dan sy boude…. terwyl ek eis dat sy kreune die duif gaan verjaag, net so kort voor hy aan hom kan vat! En dan moet hy nog die los plank waarop hy seil ook geskuif kry – onder sy lyf – wat verhoed dat hy tussen die twee balke deurval en in die gang land nie. Ek besluit die enigste redding hier – vir my en die duif – is ernstige gebed….

Die koplig val – Herman uiter iets wat beslis nie soos halleluja klink nie….Her weet nie waar dit is nie – want hy kyk dakwaards en die vriendelike liggie grondwaards. Ek is af teen die leer – gaan soek nog `n flits…. Wat ook nie batterye het nie…. Asseblief Here….. bewaar asseblief my man en die duif vanaand!! Laat hulle al twee heelhuids uit hierdie dak kom! Herman vind die koplig en die operasie gaan voort… “Liefie, sien jy hom al? Is hy orrraaaait?”……….. “Ja!! Daar is tweetjies!!” Ag dankie Vader – nou is hierdie hele reddingspoging darem nie op net een duifie gemors nie.

Her sukkel om hulle by te kom. Hy wurm daardie groot lyf nog `n paar sentimeter nader en vat een van die veer lyfies vas. Wat nou gemaak met die duif? “Moet ek `n sak aangee Liefie?” Herman keer en sit die duif sommer voor by sy hemp in. Nou volg die boetie – met groot moeite!! Die groot man met die kleinste hart van goud is nou effens grooooter met twee stewige opgeskote duiwe binne-in sy hemp, bultend op sy bors… hy kan glad nie op sy rug seil sonder om die duifies te ontveer teen die balke nie. Nou is daardie sak die enigste uitweg. Weer af met die leer! Maak ek `n lekker stewige Wooliessak vas aan die besemstok en toe is dit weer ek en die leer en die swaartekrag………… besemstok en al!
Weer word die duiwe een vir een versigtig uitgehaal terwyl Her hulle saggies paai. (Geweet die groot man se hart is klein)… Ek het ook nie `n ordentlike opening in die sak gelaat, om `n amper-uit-die-nes-duif in te kry nie….. maar in, gaan hulle al twee in!! So vind boetie en sussie toe hulle pad uit die dodelike plafon. Gelukkig was dit `n koel dag, anders was daardie twee alreeds biltong.

Ek is weer by die leer af en gaan dadelik kombuis toe om vir die twee water te kry. Hulle is nie baie geïnteresseerd nie en ek sukkel…. Terwyl Her nog uit die dak sukkel. Nou het ek die twee, wat doen ek nou met hulle? Probeer maar weer, al om die beurt, vir hulle water inkry, maar hulle kyk my net so – met hul blink ogies. So asof reddingspogings en lere maar deel is van hul daaglikse roetine.

Ek soek Herman op – hy het sy stowwerige hemp uit en sit al weer by die rekenaar. Oeps…. “Her… kan ONS maar die duifies by hulle mamma gaan sit?” Herman kyk my aan….. lank en aandagtig….. stoot die stoel bietjies te hard agtertoe….. gaan haal `n lang leer……. Breek `n plant………val amper agteroor, leer en al, toe hy skrik vir die pa-duif wat wegvlieg……… vat weer die duiwe versigtig een vir een en sit hulle veilig onder die oorhangende dak in!!
Dadelik is daar reaksie: piepe en vlerke!!! Die mamma is net so bly oor die babas wat huis toe gekom het!! `n Grootskaalse laatnag eet sessie volg…. Daardie twee gaan orrrraaait wees! I love you Love of my Life!!

Ek draai om en stap terug onder die afdak die huis in….. vervies my gruwelik vir die duiwe gemors op my motor en onder die lapa!! “Her!! ONS moet regtig ‘n plan maak en hierdie duiwelse duiwe verwilder!!!” Ek kan hul morsery nie meer uitstaan nie!!…………. DALK MOET ONS HULLE SOMMER SKIET!!
Die tyd het gekom………. Lank na elf – op ‘n Donderdagaand 24 November 2016…. In die Krieke se huis!!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 1
Kommentaar telling: 0

Annelise (van Niekerk) Kriek was maar van Laerskooldae (Die Ruiter Laerskool in Florida-Meer, Roodepoort, lief vir skryf. Sy was altyd in kompetisie met die ander leerlinge om die beste punte vir opstelle te behaal. In die Hoërskool (Floridase Hoërskool) het ek romantiese droompies gedroom om eendag 'n kunstenaar en befaamde skrywer te wees. Te gou het die jare dekades geword, en amper te laat het ek besef dat te min van my drome bewaarheid is..... dat daar nie baie tyd in die uurglas oor is nie. "2020, Sal diè jaar wees", so.... het ek besluit!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 28 gaste aanlyn

Bydrae Totale