Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Goeienag generaal.

Deur Marius Britz
Datum gepubliseer: 4 Junie 2019 Aantal woorde: 885 76 Kere gelees 1

Een van my vreugdes as radio-omroeper is my Sondagaandprogram Andantè. Musiek geskryf deur klassieke meesters, wat tydloos is, wat iets verwoord van mense se lewens, van hulle emosies en van die verloop van die geskiedenis. My speellys was Sondagaand vroeg reeds opgestel: Laudate Dominum van Mozart, aangrypend mooi gesing deur Kiri te Kenawa. Die Dodemars van Saul deur Handel, Beethoven se Patetique-sonate. Oor elkeen van die klassieke meesters en hulle musiek sou ek baie kon vertel. Hoe mense se lewens daardeur verryk is, hoe gedagtes oor eeue universeel gegiet is in onsterflike note en woorde.
En skielik het dit op my selfoonskerm opgekom. “Bekende rocksanger sterf.” Ek het lankal reeds geweet dat Piet Botha terminaal siek is, maar die dood kom altyd op die verkeerde tyd. Die teoloog Okke Jager beskryf dood “als een huisgenoot, maar as hij wel kom, dan bleeft hij een inbreker.” En dit tref my meteens: ons het sopas een van ons eietydse meesters verloor. Een wat in musiek en liriek, Afrikaans en Engels, dinge kon giet wat soveel van ons nie kan verwoord nie, maar tog beleef het. Ek het teruggedink aan my eie lewe, hoe hy op een van die moeilikste dae van my eie lewe namens my gepraat het. Ek het onmiddelik Mozart en Verdi en Saint-Saëns van my speellys verwyder, om plek te maak vir nóg ‘n meester, Piet Botha. Sy musiek is ook andantè. Ironies, verhewe en hartseer genoeg vir my Sondagaandprogram oor die musiek van meesters. Op die programinligting op facebook het ek toe geskryf dat ek vir die res van die aand net hierdie maestro se musiek gaan speel. Want dis waar hy hoort, tussen die onsterflikes. Ek wou nog meer oor hom sê, maar verstand, wil en hart het stil gaan staan. Ek kon slegs die volgende huldeblyk uitbewe: “ek het gehoor Piet, / netnou net / en van al my woorde kan ek nie een wakker vind / om iets oor jou te sê nie / (want hartseer is stom, sê Koos Doep / daarom groet ek sonder woorde) / maar my hart is vol / van dink en onthou: / daardie dag toe ek hoor / dat my eie tyd geleen is / op die Delmaspad het ek / oor en oor op my motor se cd geluister / hoe jy alles wat saambondel in my gemoed / namens my verwoord: / dis swaar om ‘n mensekind te wees…/ waarom maak jy my hart so seer.”
Die woorde van die Piet Botha-musiek, van Wildebeest en Jack Hammer wat gevolg het in die gewysigde program, het toe uiteindelik ‘n vertoonkas van die lewe geword, nie net my eie nie, maar ook diè van soveel mense wat ek ken. “Skielik het die son sy rug op jou gedraai / wie sal jou vashou / o my baby hoekom is jy so alleen / o my baby altyd ‘n bietjie reën”. Hoeveel alleenmense ken ek nie, en baie van hulle het reageer met hartseeremoticons, en woorde van verslaentheid. Ook die dinge oor lank terug het jy kom oopvlek. Oor Angola en bangwees en nagmerries. Oor dinge waaroor nie gepraat word nie, en wat baie huwelike en gesinne al laat swaarkry het. Jy het dit namens ons kom vertel. “My naam is Jakob Klipkop / Ek het in die oorlog baklei / Maar dis nou alles in die verlede / So sê hulle vir my / Maar dis nie altyd so maklik nie / Veral hier by Nuwejaar / As die crackers so skiet / Vang ek net spoke.”
Wie sou werklik verstaan as diè wat daar was, daaroor sou praat? Daar word nou ernstig gekap in die bos van mense wat deur daardie turbulente tye gegaan het. Soos genl. Dennis Earp, eertydse hoof van die Lugmag wat verlede week opgeroep is. Op baie reüniefoto’s sien jy hulle; die grys en bles rumatiek-, hartomleiding- en kieriebrigade wat lank terug topfiks-troepies was. Mense soos Piet het hulle koppe kom oopskryf, het die apologeet geword vir stil mans, eggenotes en pa’s wat sukkel om hulle harte en gedagtes in woorde te giet. “Nou Blikkies en ek ons vra nie veel / Maar net dat die mense / Vir ons sal uitlos / Dan sit ons so vir ure / Sonder om iets te sê / Maar ons dink hard en ons dink vêr / Tot daar… / Anderkant die aand se stêr / Ja daar in Owamboland se bos…”
Ons moet weer gaan dink oor die Psalms. Baie van hulle is meer as 2500 jaar oud. Dawid het baie liedere en gedigte geskryf. Waarom raak dit nog elke dag soveel mense se lewens aan? Waarom kan ‘n Psalm soos Psalm 23 nog steeds so geweldige impak hê by ‘n sterfbed, ‘n begrafnis, ‘n huwelik, ‘n feesgeleentheid, ‘n skoolopening? Waarin lê die trefkrag van sy woorde? Ek meen dit is omdat die emosies, ervarings en gedagtes van gewone mense daarin gegiet is, soos ‘n beeldhouwerk wat vanuit verskeie kante bekyk kan word, en elke keer ‘n ander perspektief gee. Musiek het die vermoë om jou segsman te wees, jou woordvoerder. Musiek sê wat jy nie kan nie. En net werklike meesters kan dit neerskryf. Soos Piet. En Coenie. En Koos Doep. Hulle wat namens my sê wat ek graag sou wou, wat baie ander ook voel en ervaar. Nou kan ek net sê met Piet se song: “bye-bye my darling, it’s time to go.” Goeienag, generaal. Ek wens dit was nie waar nie.




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Kiekies

    5 Junie 2019

    Sjoe jy het binne-in my hart geskryf! Ja, totsiens en saluut generaal

  2. Ano

    6 Junie 2019

    Oh wow, ek het net so lekker gelees. En dit is nogal so dat die liedjie skrywers die ding net op die regte manier kan se.
    So jammer dat die soldate moet boskap en ek sou eerder dink dat dit jare gelede reeds moes gebeur het (en deur die regering aangevoer sou word). Dit is egter nodig om die dooie hout uit die weg te ruim sodat die sonlig kan deurskemer en die skrik vir klappers nie meer die mees prominentste reaksie sal wees nie. Dit maak nie saak hoeveel tyd verloop het nie, om daardeur te werk help.

  3. Tearlach

    10 Junie 2019

    Pragtige skrywe Marius

  4. Tearlach

    10 Junie 2019

    Pragtig Marius

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 1
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 102 gaste aanlyn

Bydrae Totale