Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Goeie maniere (en die vroulike geslag)

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 17 April 2019 Aantal woorde: 1096 179 Kere gelees 1

Ek is alweer in die moeilikheid. Of is dit nog steeds, net dieper? En dis nie eers asof ek probeer het om in die moeilikheid te kom nie.

Sien ek loop by die gang af by die kantoor en ek loop verby een van die girls – sy huil histeries. Ek vra haar wat’s fout.
“Hoehoehoesniksnik…my kar…hoehoehoesnik…proes…my man gaan my…snikproessnikhoe…”
Ek sê vir haar sy moet kalmeer. Eerste fout. Blykbaar sê jy nie vir ‘n histeriese dame sy moet kalmeer nie. Dit werk nie.
Soos ‘n ware heer haal ek my sakdoek uit my sak en vee haar trane af. ‘n Ware hero en gentleman. Met die geveëry vee ek haar wenkbroue ook af. Ek kyk verbaas na die 2 swart strepe op my sakdoek wat al is wat oor is van haar wenkbrou. Sy sien ook wat gebeur het. Toe het ek eers kak. Ek is seker as sy nog wenkbroue gehad het, was hulle op daai stadium gelig. As verontwaardigde “looks could kill”… (Ek dink sy’t het ook daai oomblik agtergekom dit was nie ‘n skoon sakdoek wat ek oor haar gesig gevee het nie?)

Sien. Ek het nie eers probeer nie. Moeilikheid kry my net. Ek het dit mos goed bedoel.

My Ma het van kleins af maniere by my ingemoer, so ek weet nie van beter nie. Ek onthou goed hoe ek as klein seuntjie saam my Ma straat af gestap het, toe sy vir my sê ek moet aan haar ‘buitekant’ loop.
Verward vra ek wat bedoel sy. Sy sê ek moet regs van haar stap sodat my swaard arm ‘los’ kan wees. “Wat praat Ma!?”
Sy verduidelik dat in die Middeleeue mans regs van vroue gestap het, sodat wanneer hulle die vroue moes beskerm, hulle hulle swaarde makliker kon uitruk en gebruik.
“Maar ek het nie ‘n swaard nie.”
*Klap*.
“Hou op teë praat en stap regs van my!”
En hoe meer ek probeer verduidelik ek het nie ‘n swaard nie, hoe meer reën dit *klappe* (in lettergrepe natuurlik) omdat ek teë praat want “vroue is sag en moet verdedig word”.
“Jy…*…is..*..die..*..man..*..en..*..jy..*..moet..*..jou..*..Ma..*..beskerm..*..want..*..sy..*..is..*..swak.”
Tot vandag toe nog koes ek onbewustelik as ek per ongeluk links van iemand beland.

Die grootste moeilikheid wat ek egter gehad het met ‘n dame, was toe ek vir ‘n paar maande in Engeland was. Soos soveel ander jong Suid-Afrikaners, het ek vars uit die Universiteit my rykdom en geluk in Engeland gaan soek. Eerste keer dat ek ooit gevlieg het. Stoksielalleen in ‘n wildvreemde land. So gebeur dit toe nou dat ek laat in die aand, seker so 11 uur die aand, die “Underground” – oftewel die ondergrondse treine – moet gebruik om by my bestemming uit te kom.

Nou as jy lank genoeg in Londen was, dan kom jy agter dat die ergste bedreiging of moontlikheid van misdaad is ‘n ou in ‘n hoodie wat met ‘n stomp naelvyltjie jou gaan probeer beroof – aangesien vuurwapens en selfs messe onwettig is in Engeland. Natuurlik as iemand ‘n Suid-Afrikaner probeer beroof met ‘n geroeste naelvyl gaan hy hom dood lag, want ons Suid-Afrikaners is meer gewoond daaraan om met AK47s en pangas gekonfronteer te word… “You call that a knife? Get that shit away from me Soutie!”
Nietemin, op daai stadium het ek nie van beter geweet nie, en beland na donker alleen op ‘n trein stasie. As Suid-Afrikaner is dit tweede natuur om donker, afgesonderde plekke te vermy, so my onderbroekie bewe toe ek die situasie besef waarin ek my vind. Alleen. In ‘n donker, onheilige, onbekende plek. Ek was vas oortuig dat dit die aand was wat ek vermoor sou word – op onskuldige ouderdom van 22…

Soos ek deur die donker gange stap gewaar ek ‘n dame wat so ‘n hele ent voor my stap. Groot was my verligting om nie meer alleen te wees nie! Ons kon mos nou saam alle moordenaars en verkragters beveg! Ek begin toe vinniger stap om haar in te haal of ten minste net nader te stap dat wanneer die kak spat die moordenaar nie tussen ons kan kom nie… Sy loer oor haar linkerskouer en begin vinniger stap. Ek dag sy het die trein hoor aankom of iets, en ek begin ook nog vinniger stap. Sy kyk weer oor haar skouer en begin daai “draf maar ek wil nie lyk of ek draf nie ek loop net vinnig”-draffie te draf. Ek begin draf. Sy kyk weer om. En begin voluit hardloop. En sy begin skree! “Help! Someone help me!” Ek aanvaar sy het ‘n reeksmoordenaar of aanvaller agter my gewaar en besef nou is hier kak. Ek begin ook voluit hardloop. Al gillende (ek gil mos ook al teen die tyd “help help”) haal ek haar uiteindelik in.

Soos wat ek haar toe inhaal besef ek wat aangaan: Sy hardloop vir my weg! Sy dink – onskuldige – ek is die aanvaller!
“No no! I’m not the rapist!” Skree ek agter haar aan in beroerde Engels (maar vir een of ander rede hou ek nie op om te hardloop nie!?).
“I’m just following you!” En om haar verder te paai voeg ek by. “I’m not a man that’s going to rape you, I’m just a boy!” (Ek weet – dit maak vir my ook geen sin nie.)

Ek slet neer.

In die horror movies as die mense weghardloop vir die serial killer val hulle mos altyd. En dan spring hulle dadelik op en hardloop verder. Ek sal nooit ‘n horror movie oorleef nie, want as ek neerslet dan bly ek eers so bietjie lê en myself jammer kry en voel wat is alles nou weer gebreek… Soos ek toe nou daar in die donker gang lê en myself jammer kry kom staan die vrou hier bo my, en druk so ‘n botteltjie hier reg voor my gesig. En sy pepperspray vir my.
Ek het eenkeer chillies gesny en toe my oog gevryf. Daai’s niks teenoor pepperspray. Ek het geweet vanaand is die aand wat ek doodgaan. Is jy al ooit gepepperspray? Jy wens jy was dood. Die snot en trane loop orals uit – my oë, my neus, my ore – daar is dele van my lyf wat ek daai aand uitgevind het kan vloeistof afskei wat ek nie voorheen geweet het nie. Trek die vrou los en gee my ‘n skop in die ribbes met ‘n “scumbag!” en verdwyn om die hoek.

Ek het my trein gemis. Ek het my Ma ook gemis.

Riaan Palmer




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    20 April 2019

    Hahaha. Ai goeiste, dat vroumense toe boonop moes leer hoe om hul man te staan!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 62 gaste aanlyn

Bydrae Totale