Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Glen se Landie

Deur Boetiegoed
Datum gepubliseer: 21 Oktober 2020 Aantal woorde: 925 43 Kere gelees 1

Glen is die tipe ou wat die meeste vrouens as ‘n groot “teddiebeer” sal beskryf. Hy was ‘n blok van ‘n man wat nie baie gepraat het nie, maar wanneer hy praat luister almal. Hy het destyds saam met my by Waterwese en Bosbou gewerk. Glen het saam met sy vriend Andre in ‘n woonstel gebly en natuurlik ook Andre se meisie. Glen het haar beskryf as: “ ‘n piece of work” dit het haar goed beskryf, want sy was nogal – intens.

Wanneer Glen sleepvoet die oggend die kantoor inkom, in sy stoel val en bevestig dat “sy hele dag nou in sy moer is” dan weet ons Glen het in Susan vasgeloop by die ingang. Susan was beeldskoon en het by die Bosbou afdeling gewerk en Glen het in die geheim “ ‘n ding gehad” vir Susan.

Toe gaan koop Glen die Landie en alles verander. Die Landie was ‘n Landrover Series II kortasafstand 4×4 wat iewers in 1964 vervaardig is. Daar was absoluut niks wat nie aandag nodig gehad het aan die Landie nie. Glen se nuwe missie was om die Landie reg te maak, want ons moet gaan visvang. Visvang was benewens Susan Glen se ander passie, maar hy het meer oor visvang gepraat as se geheime passie vir Susan.

Ons, dit is nou ekself my eksvrou en my eerste aangenome dogtertjie van twee jaar het in ‘n kleinerige huis gebly in Shirleypark met ‘n enkel motorhuis. Ek het gereken die aanvaarde plek om die Landie reg te maak was in daardie motorhuis, tot my vrou se erge frustrasie. Ons het ooreengekom dat ek (wat in daardie stadium) die meeste geweet het van motors regmaak. Die ander twee, Glen en Andre was heeltemal “meganiese leke” gewees.

Die ooreenkoms was dat hulle sal oorkom die aande wanneer ek nie aandklasse loop nie en dat hulle die bier sal “verskaf”. Die Landie is “by hook en by crook” in die motorhuis getrek en ons het van ‘n kant af begin. Dit het basies so gewerk: Glen en Andre het saans daar met ses of twaalf biere aangekom. Daar is een bier vir my oopgemaak en die res het hulle gedrink so tussen die propshafts se losmaak en uithaal en die olie drein van die ratkaste en oordrag ratkaste.

Al die lee bier blikke is agter in die “kattebak” van die Landie gegooi. So is daar elke aand wanneer ek kon aan die Landie gewerk. Menigte aande het Andre, maar net kom help om van die “intense meisie” te vlug. Daar was ook meer as een aand wat sy daar aangekom het en ‘n “scene gegooi” het soos Glen dit genoem het. Dan is die motorhuisdeur toegemaak en sy en Andre het argumente gehad waarna ons natuurlik moes luister. Dan het Glen net daar onder die Landie uit laat hoor: F*#, dit is hoekom ek nie ‘n vroumens in my lewe het nie, sien nie kans vir die ewige drama nie.

Die aand toe ons die engine uittrek met die “block en takle” kraak die balk in die garage dak. Toe ek my vrou daarvan se is die spreekwoordelike hel los, want hoe lank gaan dit nog neem en hoe lank moet haar motor nog in die straat staan? My bakkie staan natuurlik altyd im die straat, maar dit tel nie enige punte nie.

Ek deel Glen en Andre mee dat ons die herstelwerk van die Landie bietjie moet bespoedig, want my ou vroutjie gooi haar speelgoed uit die kot uit. Ons begin koop onderdele by Peddie, want Peddie is ons kontak en ons is studente. Ons lyk nog soos studente so ons kry darem goeie afslag en Andre se meisie kom kuier meer gereeld, want ons is meer onder en oor die Landie.

Die dag kom uiteindelik dat alles wat ons meganies kon regmaak aan die Landie reggemaak is. Daar is BAIE lee bierblikke agter in die Landie se “kattebak”. Glen is BAIE trots op sy Landie toe ons hom uiteindelik start en kon ry. Ons ry Shirleypark plat, natuurlik sonder ‘n lisensie en nog met sy Paarl nommerplate.

My vrou koel bietjie af, want sy kry haar motorhuis terug na seker ses maande en die groot visvang word beplan. Net ek, Glen en Andre. Daar moet vir Andre se meisie verduidelik word dat dit net “vir die manne” is. Ek word by die huis opgetel die oggend van die “visvangtoer”. Al wat Glen gese het toe hy al my bagasie sien is: Ons is nie oppad na ‘n “fancy dress party” toe nie, los al daardie klere!

Daar trek ons teen 80 kilometer per uur Saldanha toe, nie sonder drama nie, want daar voor ‘n lang bult net voor Yzerfontein se afdraai jaag ‘n ou met ‘n BMW, soos Glen sou se teen ‘n moerse spoed by ons verby, verloor beheer en rol die BMW. Jy sien net ‘n stofwolk en toe ons daar stop le die BMW op die sy en die man klouter deur die venster na bo.

Al wat Glen se is: Die poepol is OK, kom ons gaan vang vis en daar trek ons. Ons vang deur die nag vis. Daar word nie geslaap nie, ek vang niks, maar hulle vang darem elkeen ‘n paar wit steenbrasse.

Dit was alles die moeite werd, want dit was episode in my lewe wat ek nooit sal vergeet nie.

Glen het later ‘n oorplasing Umata toe gekry en die Landie het gaan staan daar in ‘n riviermonding aan die Noordkus van die Oos-Kaap. Of die Glen se Landie ooit weer geloop het weet ek nie.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    21 Oktober 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 9
Kommentaar telling: 11

Ek skryf net omdat dit lekker is, want dit is soos terapie vir my.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 47 gaste aanlyn

Bydrae Totale