Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: GHA – DIGKOMPETISIE 2020

Deur Anze
Datum gepubliseer: 1 April 2020 Aantal woorde: 492 79 Kere gelees 1

Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans vier vanjaar die Internasionale Moedertaaldag deur sy 16de Digkompetisie bekend te stel.

Taal is gans die volk, en die Genootskap besef dat indien Afrikaans sou ondergaan, die Afrikaner as volk ook sal ophou bestaan. Guido Gezelle het by geleentheid gesê: “Wie geen taal heeft, is geen naam weerd. Waar geen taal leeft, is geen volk.” Langenhoven het op sy beurt gesê Afrikaans is die uitgedrukte siel van ons volk.

Ons besef dat die letterkunde die hart van ons taal is, maar dat digkuns die sentrum van die letterkunde is. Daarom lê die GHA groot klem op die uitbou en ontwikkeling van die digkuns bo en behalwe al sy ander bedrywighede.

Gedigte is stories met min woorde en wat met ritme, rym, beeldspraak en emosie ‘n nuwe bewussyn kan skep wat vir die Afrikaner van groot waarde kan wees.

Sedert 2004 hou die GHA elke jaar ‘n digkompetisie aanvanklik met 6 onderwerpe. Vanjaar is ons sestiende digkompetisie en dit het gegroei tot twaalf afdelings/onderwerpe.

En elke jaar publiseer ons ‘n keur van die ingeskrewe gedigte in Stemme uit die Suiderland en word dit dan bekendgestel by ‘n Glansgeleentheid, waar ons ook die wenners van die kompetisie aankondig. Op 9 November 2019 het die GHA sy 15de bundel bekendgestel in Lynnwood NG Kerksaal, Pretoria. Meer as 260 gaste het dié geleentheid bygewoon, en was toegespreek deur ons beskermheer, dr Dirk Hermann.

Oor die jare het digters en amateurdigters deelgeneem en wonderlike nuwe gedigte in Afrikaans geskryf.

Dié kompetisie skep die geleentheid vir ervare digters om hulle staal te wys en opkomende digters leer in die proses om hulle beiteltjie te slyp soos NP van Wyk Louw skryf in sy gedig Die Beiteltjie:

Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Dit skep ook die geleentheid vir digters om hulle gedigte wat iewers in ‘n laai stof sou vergaar nou gepubliseer kan word en vir almal beskikbaar kan wees om te lees. Uitstaande gedigte van voortreflike digters soos Fred Postma, Frik Steenberg, Hennie Egen, Elizabeth Greef, Marie Senekal, Anita Bester, Evanthé Schurink, Thereza Postma en Francis Grobler om enkeles te noem is opgeneem in Stemme uit die Suiderland-reeks wat uiteindelik ‘n groot kultuurskat is vir ons, en ons nageslag wat kom.

Temas 2020:

Ek, jy en ons.
Plaaslewe
Sport en sportsoorte
Geestelik
Liefde
Natuur
Mymeringe
Terapeuties. Ek sal weer opstaan.
Verset teen onreg!
President Paul Kruger: sy lewe en betekenis
Algemeen
Lirieke: enige tema

Die sluitingsdatum is: 31 Julie 2020.

Prysgeld: Algehele wenner R3000, Naaswenner R2000 en afdelingwenners R1000. Totale prysgeld R17000.

Digters en aspirant digters word uitgenooi om deel te neem. Dis ook ‘n goeie geleentheid om gedigte wat iewers in ‘n laai lê en stof vergaar, in te skryf.

Verdere besonderhede kan gekry word by die GHA-kantoor 0812 50 50 60 of gha@afrikaans.org.za

Laai gerus die inskrywingsvorm af of stuur elektronies aan. http://www.afrikaans.org.za/kompetisie/




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 252
Kommentaar telling: 2790

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 86 gaste aanlyn

Bydrae Totale