Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Geskeurde boeke deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 17 Augustus 2019 Aantal woorde: 596 127 Kere gelees 1

Geskeurde boeke
Wanneer jy my omgekrap wil hê, gee vir my ‘n geskeurde boek. Of dit nou ‘n tydskrif is, inkleurboek of leesboek, ek heg waarde aan elke soort boek denkbaar. Nou nog te meer omdat ek die proses van boeke beter verstaan.
Die anderdag gesels ek en ‘n mede skrywer daaroor en die swak werk van ‘n drukker. Die drukker se houding is eenvoudig ‘n optrek van die skouers en verder geen aanbieding om dit reg te maak op haar onkostes nie. Die boodskap wat ek kry daardeur is eenvoudig: sy heg nie veel waarde aan ‘n boek nie.
Op die plek word ek sommer rooi. Soos in tot my haarwortels raak warm rooi.
As kind was ek geleer om ‘n boek altyd reg te hanteer, vernaam op skool het ‘n mens ‘n knyp gekry wanneer jou werksboek haasore het of vuil was. Ons was geleer om gebruik te maak van boekmerke maar geen ombuig van hoekies nie, en ons hande moes eers gewas gewees het voor ons kon waag om daaraan te raak. Indien nie was jy in die moeilikheid. Later, as biblioteekprefek op hoërskool moes ek seker maak dat alle boeke netjies in die rakke staan. Elke boek presies reg met geen ingevoude blaaie nie. Wanneer boeke ingedien is moes dit eers geinspekteer word vir enige onvanpaste vuil merke of voue.
So is die fondasie vir my gelê.
As ma het ek my kinders geleer om elke boek met respek te hanteer en was hulle nie toegelaat om prentjies uit te sny uit ‘n tydskrif nie. Hulle moes ‘n baie goeie rede gehad het daarvoor en dan moes dit netjies gedoen word. Nie uitgepluk word of geskeur word nie, nee netjies, op die lyn uit gesny tot groot ergenis van my kinders. Nodeloos om te sê my kinders kon mooi uitsny behalwe my seun, ai tog. So ma het maar ingegryp en dit namens hom gedoen.
Wanneer ek by my dogter kuier sien ek sy pas die selfde reël toe, vernaam wanneer ouma in die omtrek is. Kinders moet van kleins af geleer word om boeke te respekteer. Dit is nie debateerbaar nie. Geen gekouery aan die hoeke of wild blaai dat blaaie spat of skeur nie.
Die liefde vir ‘n boek kweek kennis, dit verbreed jou algemene kennis en vat jou op wêreld reise. Dit sonder om die huis te verlaat of duur skoolgelde te betaal.
Die effek van ‘n geskeurde boek is eintlik baie openbarend van ‘n persoon. Hoe jy ‘n boek hanteer vertel waar jy staan in die groter prentjie. Is jy op datum met die nuutste gebeure, weet jy wat aangaan en kan jy redeneer. Dit maak van jou ‘n persoon wat ‘n gebalanseerde uitkyk het.
‘n Boek is ‘n persoon se siening vasgelê tussen bladsye wat die skrywer met die mense deel. Jou hantering daarvan wys jy het respek vir die skrywer en sy opinie, of nie. Ons hoef nie altyd saam te stem met iemand se mening nie maar ons kan dit op ‘n ordentelik manier weergee sonder om skade te bring aan die persoon se werk.
‘n Geskeurde boek wys ‘n geskeurde mens duidelik uit en ek is werklik jammer vir so ‘n persoon. As mens mis jy so baie uit op die wêreld om jou. Jy verarm in elke area en is later eintlik net ‘n leë dop met geen gedagte van jou eie nie.
So, ek vra eintlik mooi, moenie boeke skeur nie. Het respek vir dit en jy sal sien hoe jou lewe verryk sal word.
Kopiereg voor behou.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 64
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 136 gaste aanlyn

Bydrae Totale