Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Genesis II (Brons 600 woorde)

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 31 Julie 2019 Aantal woorde: 599 66 Kere gelees 3

“Dagboek inskrywing 20 Maart 2025.

Wie van ons het nie al aan die groot D woord gedink nie? Daardie “Doomsday” profesie wat onder die mat ingevee word. Jy steur jou nie daaraan nie, maar tog krap dit in jou agterkop. Wanneer jy na wêreld statistieke kyk besef jy dat dit dalk nader is as wat ons dink. Ons gaan begin grou aan die bunker.”

Ek laat sak die dagboek stadig. Hemel, wie het kon dink dat dit so skielik sou gebeur. Sonder waarskuwing. Ons kosvoorraad raak min. Die verpligte negentig dae wat ons in die bunker moes skuil is verby. Sorgvuldig het ons die plekkie uitgegrou. Ons het dit met steenblokke ge-isoleer. Die bunker is water en klankdig. Swembadsuur en chloor verdoesel meeste van die onwelriekende reuke vanuit die aangrensende kamer. Seeplappies dien as plaasvervanger vir bad. Ek trek die gasmasker nader. Vandag sal ons sien wat buite op ons wag.

Ek stoot die swaar deur oop. Soos Noag van ouds laat los ek die duifie vinnig. Sy wip uit my hand. My oë moet gewoond raak aan die skerp lig. Ek sien hoe die duifie verder wip en dan vinnig wegfladder. Vir eers sal ek maar die masker aanhou, net ingeval. Die gesig wat my begroet laat my ineenkrimp. Waar ons praghuis gestaan het lê ‘n hoop klip en sand. Klein stukkies groen beur deur die dorre aardkors. Afgebrande bome probeer vergeefs nuwe lote uitstoot. Die aarde lê verwoes.

Trane loop oor my wange terwyl ek vorentoe strompel. Nou is dit veg vir oorlewing. Die bunker was groot genoeg om ons klein familiekring te beskerm. Ons het al die basiese benodighede gestoor. ‘n Kragopwekker; diesel; bottels water en blikkies kos, motorfiets batterye en son panele. Die klein veldradio vir kontak met wie ook al oorleef het. Elkeen moes leer skiet. Die gewere is vir nood. Die kruisboë is vir jag. Ek struikel oor ‘n boomwortel wat deur die aardkors beur. My hart jubel wanneer ‘n veldmuisie in sy gat verdwyn.

Ons is nou twee weke buite die bunker. Water is gelukkig volop en skoon. Die veldradio bly suis. Ons ore gespits vir teken van lewe. Elke dag verken ons ‘n nuwe gedeelte. Die ou bekende landskap is ‘n doolhof van klip en skrootmetaal. Ek skrik toe die radio ewe skielik ophou suis. Ek spits my ore. Die stem kom helder deur. “Hallo, enige iemand, kan iemand my hoor?”

Ek lê plat op my maag agter ‘n motorwrak. Haar naam is Suzie. Die tweeling bespied die murasie vanaf die hoogtetjie agter my. Dit gaan om oorlewing. Vesigtigheid is aan die orde van die dag. Mens kan nie sommer enige iemand vertrou nie. Ek lig my wysvinger; ‘n teken vir die ander om nader te beweeg. Skielik ontplof die sand langs my. ‘n Sarsie skote volg en dan die harde gil van ‘n vrou. Ek is naby genoeg om ‘n skoot met die kruisboog in te kry. Daar is drie van hulle. Ek beduie vir die tweeling om aan te lê. Met ‘n sagte twirrrrr laat gaan ons die pyle. Doodskote. Die vrou begin kermend huil. Ons wip oor die wrak en haas na haar. Sy sit op haar knieë. “Dankie julle, ek is Suzie.”

Ons moes die bunker in ‘n fort omskep. Hier is al ‘n tiental mense wat kom skuiling soek. Ek leer die groepie hoe om vangnette uit tou te vleg. Ons grou gate waaroor ons die nette span om kleiner boksoorte mee te vang. Biltong hang soos wasgoed aan styfgespande drade. Die lappie mielies agter die fort begin kop wys. Stadig begin ons nuwe aarde vorm aanneem.




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    31 Julie 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2019 projek

  2. Riaan Palmer

    31 Julie 2019

    Dit voel asof dit net ‘n voorsmakie van ‘n BAIE langer, en lekker storie is… Hoop jy gaan die storie verder vertel – al is dit nie vir die Julie Projek nie!

  3. Amanda

    12 Augustus 2019

    Dankie Riaan, ek sal bietjie daaroor dink. Dankie vir jou saamlees, ek waardeer dit.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 31
Kommentaar telling: 19

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 101 gaste aanlyn

Bydrae Totale