Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: GEESTESVERSTEURING EN ONREGVERDIGHEID GEDURENDE INPERKING

Deur TaniaPascheka
Datum gepubliseer: 29 Augustus 2020 Aantal woorde: 1420 130 Kere gelees 2

GEESTESVERSTEURING EN ONREGVERDIGHEID GEDURENDE INPERKING
Gebeurtenisse wat lei tot nuutskeppings
(Brons)

Met die grendelstaat wat plaasvind en werkloosheid vir baie word daar orals dieper gedelwe in die menswees en psige na ‘n nuwe normaal.

Hanlie Wessels, 54 jaar oud, beleef eerstehands die druk en impak – van onregverdigheid in die werksplek, van die inperking, van dit alles boonop Post Traumatiese Stres Versteuring. Wat jare van tevore gebeur het is steeds soos die hondjie wat haar aanhoudend bly byt aan haar enkels. Haar stap vorentoe – kop om hoog – dus baie meer gekompliseerd.

Sy het die eerste keer van aangesig-tot-aangesig gekom met depressie nadat sy haar tweeling verloor het agv. ‘n miskraam in 1997. Alhoewel iets daarna beslis verkeerd was, het sy nie terapie of medikasie daarvoor ontvang nie . In die hospitaal wou sy selfs nie mense sien nie en het vir ure lank net voor haar uitgestaar. Haar familie, en veral haar ma, kon nie verstaan dat sy nie eers ‘n woord kon uitkry nie. Dit veral na die miskraam. Jare later volg daar toe ook haar egskeiding, haar ma se afsterwe na 12 jaar se geveg met kanker (beide in 2012) asook die hartaanval en uit eindelik selfdood van haar pa (Junie 2013). Die emosionele trauma was te veel. ‘n Diagnose van Post Traumatiese Stres Versteuring het gevolg waarop sy toe mediese hulp ontvang.

Hanlie het na haar pa omgesien na sy hartaanval. Sy moes dus gedurig verlof neem om hom te help. Dit sluit in toe hy in die hospitaal was, waar soms erge nalatigheid plaasgevind het en hy op kere 3 ure in badkamer “vergeet” was. Hy was nie mobiel nie en kon nie self opstaan vanaf die toilet nie. Na hy ontslaan was het hy tuis ook geval en het vir ure lank lêend gebly voor sy hom kon help.

Elke keer moes sy op kort kennisgewing dringend af vra by die werk. Daar was gereeld een of ander krisis en daar was dus nie altyd tyd vir die nodige skriftelike verlofvorms indien nie. Haar toesighouer (15 jaar haar junior) het die lewe vir haar soms onmoontlik gemaak. Hy het gereeld valse beskuldigings gemaak of elke moontlikheid gebruik om dit teen haar te draai. Dit het daartoe gelei dat sy eerder bedank het.

Met Hanlie se pa se selfdood het dinge vererger. Op aansoek om verlof vir sy begrafnis asook vir haar menslikheidsverlof, gee haar vorige baas haar toestemming. Met invul daarna van verlof vorms, keur hul dit wel af en ‘n dispuut ontstaan. Sy word toe dissiplinêr verhoor en drie maande geskors (sonder voordele, sonder haar medikasie).

Dinge tuimel skielik in mekaar. Toe sy wakker word in haar kantoor van die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery is sy vasgebind. Terwyl sy in die hospitaal herstel volg die beslissing van haar skorsing. ‘n Artikel verskyn en ‘n swaar klad hang van daar oor haar kop, greep ferm om haar nek.

Met aanpassing van haar medikasie (anti-depressante asook bui stabiliseerders) leef Hanlie ‘n normale lewe. Sy blink uit in haar werksomgewings as Senior Gehalte Ouditeur. Sy behaal 87% met haar voor-laaste oudit, asook 98% met haar laaste oudit. Toe sy opbring dat daar aandag gegee moet word aan voedselveiligheid en beroepsgesondheid risiko versuur die werksverhouding wel vinnig. Kort daarna kom haar voormalige werkgewer op die artikels af van die aanval in haar kantoor. Haar geestestoestand kom ook ter sprake en dit kompliseer dinge geweldig.

Op die eerste dag van die grendelstaat op 27ste Maart 2020 stap twee mans persone in bestuursposisies in haar kantoor in. Dit word baie duidelik gemaak aan haar dat hulle geen toekoms sien vir haar, en dat hul verwag dat sy dan en daar haar bedanking sal teken. Onder druk en ‘n gevoel van verpligting, teken sy haar bedanking en so kom haar tydperk by hul tot ‘n brutale einde. Hanlie veg wel steeds voort vir dit wat reg is, asook die veranderinge wat aangebring moet word. ‘n Indringende ondersoek word ingestel, en alles is ook gerapporteer aan die nodige Regerings owerhede.

Hanlie was weereens in ‘n diep donker gat in getuimel. Ongevraagd en onverdiend. Asof die voortbeur deur die wandel met depressie alleenlik nie moeilik genoeg was nie, het die swaar swaard wat oor haar kop hang sy greep om haar nek verstewig. Vir 34 dae woon sy toe nog saam twee plaaseienaars. Vir daardie tydperk sien sy net daardie twee persone.

Sy leer egter hoe om feta kaas te maak en ‘n gesellige, hartlike vriendskap ontstaan tussen haar en die boer en sy vrou waar sy reeds vir ses maande ‘n kothuis gehuur het. Sy probeer resepte uit waarvoor sy nog nooit tyd gehad het nie en ruil selfs een van haar pizza deeg resepte uit. Daarna besef sy, sy kan dit nie verder bekostig nie , en vriende bied vir haar blyplek in Kuilsrivier vir ongeveer twee maande aan, verniet. Sonder inkomste, en sonder maatskappyvoertuig, stap sy ongeveer 4 kilometer per dag – net om mense te sien maar veral om mens te voel. Voor sy kon terugkeer na Gauteng waar sy nou woonagtig is by haar dogter, moet sy dokumente laat teken by die Polisie Stasie. Sy verdwaal en loop daardie dag self 13 kilometers voor sy weer tuis is, heelwat daarvan in die donker. Haar geloof het haar gedra deur die onveiligheid, asook die vriendelike drawwers van Kuilsrivier wat haar verduidelik waar sy verkeerd geloop het.

Hanlie het ten einde meer as 100 dae stoksiel alleen gewoon, ingehok en ingekamp tussen vier mure. Dit het ‘n massiewe impak gehad op haar geestestoestand, veral in samewerking met die moeilikheid by haar werksomgewing.

Met die aankoms terug in Gauteng voel dit kompleet vir haar of sy uit ‘n tronk vry gebreek het. Sy sê sy moet haarself gereeld knyp om te besef dit is realiteit. Sy het haar stryd teen depressie oorwin.

Sy wil graag deel dat sy meegevoel het met mense wat in hierdie tyd afgedank was, sonder ‘n inkomste sit, wat in een of ander werksdispuut betrokke is en boonop dit alles in afsondering sukkel met depressie. Sy worstel met die vraag oor hoekom depressie nie soos ander siektes hanteer kan word, en is van mening dat dit onregverdig is dat werkgewers depressie leiers wil ontneem van hulle sukses in grade, kwalifikasies, ondervinding en onderskeidings vermoëns tussen reg en verkeerd. Sy vra selfs – hoekom kleef daar so ‘n stigma aan mense met geestestoestande. Hoekom word ander mense met siektes soos diabete of ander genetiese siektes nie ook betwyfel en vuilgesmeer met wanindrukke van hulle vermoëns? Hoekom die stigma wat kleef?

Om aan depressie te lei is ‘n sukkel-sukkel pad op sy eie. Om onregverdig tot bedanking gedwing te word in hierdie tyd van afsondering, plaas groter struikelblokke in daai wandel pad, maar Hanlie getuig vandag van hoop.

Sy voel soos ‘n nuwe mens, met ‘n nuwe lus vir die lewe. Haar metodes vir oorwinning sluit in oefening, gesonde dieet, fokus op positiwiteit en tyd maak vir dinge wat sy geniet. Sy het tyd gemaak vir boeke lees en foto neem en sê selfs dat dit, sosiale media en haar ondersteunings sisteem haar deur die tydperk gedra het. As sy haar kinders sou vra om te bel, het hul dadelik. Haar maters uit skooldae van 1984 op ‘n Whatsapp het gereël vir ‘n heerlike kospakkie toe sy net meel en lensies oorgehad het. Sy het selfs ingeskryf by die Zoom skryfskool wat die bekende en bekroonde skrywer Carla van der Spuy en die ewe talentvolle skrywer en joernalis Yolanda Barnard-Lemmer op Zoom aanbied. Ou-bekendes van haar Laerskool, bekende skrywers asook mede kunstenaars in die skryfkuns word haar weeklikse terapie vir eensaamheid. Sy klou ook vas aan haar geloof, en is dankbaar dat een van haar kinders ‘n “U group” leier is by Unite 180 en binnekort ook verder teologie gaan swot by Pukke.

Hanlie straal. Sy straal uit hoop, ten spyte van die donker tye. Sy straal uit liefde vir haar mense, ten spyte van afsondering gedurende die inperking. Sy straal uit meegevoel, ten spyte van die feit dat haar medemens dit nie met haar gehad het nie.

Binnekort gaan sy met ‘n projek begin om selfgemaakte swart katte te bemark, wat uit swart sokkies gemaak word. Dit verteenwoordig die swaar stigma van depressie wat konstant oor mens se kop hang, soortgelyk aan die bygelowige stigma van liewe swart katte. Sy doen dit ter wille van bewusmaking, asook om die stigma wat kleef aan mense met ‘n geskiedenis van geestesversteuring toestande te beveg.

Hanlie kan gekontak word by Agrihand13@gmail.com.

SADAG (South African Depression and Anxiety Group) se 24-uur helplyn: 0800 456 789




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    29 Augustus 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2020 – OOP projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 15
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 79 gaste aanlyn

Bydrae Totale