Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Gebreide Kombersies

Deur Paula
Datum gepubliseer: 21 November 2017 Aantal woorde: 1170 484 Kere gelees 5

GEBREIDE KOMBERSIES
Rooi wol. Sy gebruik die rooi wol om haar blokkie te brei. Die rooi wol is vir wanneer sy kwaad is. Nie ligtelik geïrriteerd nie maar briesend. Wanneer sy die rooi woede in haar voel opwel gryp haar hande onwillekeurig na die rooi wol en die skerp penne en dan BREI sy. Klik-klak, klik-klak. Sy stuur haar woede deur haar hande tot binne-in die wol wat deur haar vingers gly.
Lien was nog altyd lief vir brei maar na haar man, Gert, se dood vyf jaar gelede brei sy soos ‘n masjien. Baie verskillende kleure, altyd dieselfde patroon. Sy brei blokkies wat sy aanmekaarwerk om kombersies te maak. Die kombersies is orals in haar huis. Tien lê netjies opgevou op die stoel waarop Gert altyd gesit het. Sestig van hulle bedek die eetkamertafel. Alles is bedek met gebreide kombersies. Daar is net nie ‘n enkele rooi kombersie nie. Die woede wat in ‘n rooi kombersie gestort word is pure gif. Daardie intense, blinde woede is gevaarlik vir haar, sy weet dit instinktief. Die rooi kombersies begrawe sy wanneer dit donkermaan is in die stuk veld nie ver van haar huis af nie. Diep, sodat niemand dit per ongeluk opgrawe nie.
Net na Gert se dood was die wanhoop en hartseer so intens dat Lien gedink het haar hart gaan breek. Die enigste ding wat sy aan kon dink om te doen om te verhoed dat sy in ‘n duisend stukkies spat was brei. Sy het wit blokkies begin brei en al haar hartseer in elke steek uitgestort. Die paar honderd wit blokkies wat sy gebrei het was teen die tyd dat hulle klaar was elkeen sopnat van haar trane. Daardie blokkies was genoeg om twintig kombersies van te maak. Daardie twintig kombersies het sy versigtig in bruin papier toegedraai en saam met Gert se ou baadjie heelbo in haar kas gebere.
So stelselmatig het sy met ander kleure begin brei. Pienk blokkies wanneer sy gedink het aan die liefde wat hulle gedeel het. Blou blokkies wanneer sy depressief was en seker was dat sy nie nog een dag sonder Gert sou kon lewe nie. Pers blokkies wanneer sy oortuig was dat hy in die omtrek was, al kon sy hom nie sien nie. Sy kon nooit weer met wit wol brei nie. Die emosie wat in daardie twintig wit kombersies ingebrei is, was die hartseer wat net vir hom bedoel was. Daarna wanneer sy hartseer was, het sy met donkergroen wol gebrei wat haar laat dink het aan ‘n groen woud wanneer dit reën. Wanneer die groen wol dan deur haar vingers vloei het dit gevoel asof koel reëndruppels haar hartseer wegstreel.
Vannag brei sy soos ‘n besetene met die rooi wol.
Haar dogter, Wanda, het vroeër uit die bloute op haar voorstoep verskyn. Wanda het tien jaar tevore toe sy maar net sestien was weggeloop van die huis af. Sy het soos ‘n groot speld verdwyn en nie die polisie of privaatspeurders kon haar opspoor nie. Gert het homself nooit vergewe nie en Lien weet dat Wanda se verdwyning die oorsaak was dat Gert sy eie lewe geneem het. Lien het hom male sonder tal probeer gerusstel dat hy maar net ‘n goeie pa vir Wanda probeer wees het. Dit was gedurende hierdie tyd dat Lien haar eerste rooi kombersie gebrei het uit woede teenoor haar opstandige tienerdogter en die woede wat sy gevoel het as sy gesien het hoe Gert homself blameer.
Lien het gedink hulle was goeie ouers vir Wanda en hulle het altwee ewe hard probeer om te sorg dat Wanda net die beste kry wat hulle kon bekostig. Lien het opgehou werk na Wanda se geboorte want sy en Gert het saamgestem dat hulle nie wou hê hulle dogter moes deur vreemdes grootgemaak word nie. Alhoewel hulle nie ryk was nie, het Gert goed genoeg verdien dat Lien voltyds ‘n ma en huisvrou kon wees. Hulle het ‘n gerieflike huis in Bellville gekoop en Lien het nie geglo dat sy ooit gelukkiger kon wees as gedurende daardie tyd in haar lewe nie.
Wanda was egter van ‘n jonks af opstandig en weerbarstig. Toe sy haar tienderjare bereik het was sy buite beheer. Lien en Gert het soms moedeloos probeer uitpluis waar hulle verkeerd gegaan het maar hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat dit maar net Wanda was en dat hulle net moet uithou totdat sy op agtien die huis kon verlaat. Op sestien was Wanda ‘n volslae alkoholis en verslaaf aan heroiën. Dit was toe Gert haar probeer dwing het om na ‘n rehabilitasiesentrum te gaan dat sy weggeloop het.
Vroeër vanaand was die skok te groot. Sy het die beeldskone jong vrou wat voor haar deur gestaan het skaars herken. Wanda het woordeloos vorentoe getree en vir Lien probeer omhels maar Lien het teruggedeins, omgeswaai en reguit na haar slaapkamer gestap. Sy het die deur dawerend agter haar toegeklap en gesluit. Emosies het soos stormwater deur haar gespoel. Sy het die groot bol rooi wol uit haar kas gehaal, penne uit haar laaikas gegryp en rooi blokkies begin brei. Een na die ander. Klik-klak, klik-klak.
Lien is van tyd tot tyd vaagweg bewus van ‘n gehamer aan haar kamerdeur maar steur haar nie daaraan nie. Die woede moet in die rooi wol. Dit mag nie uit nie, dit moet in die rooi wol.
Teen vyfuur besef sy dat dit nie hierdie keer gaan help om ‘n rooi kombersie te brei nie. Sy staan styf-styf van die bed af op en haal die houtkassie waarin Gert sy rewolwer gebêre het onder uit haar hangkas. Hy het haar vroeg in hulle huwelik geleer om die rewolwer te gebruik. Sy laai die wapen behendig en daarmee in die hand sluit sy die kamerdeur oop en stap sitkamer toe.
Wanda het op die bank tussen ‘n menigte gebreide kombersies van alle kleure aan die slaap geraak. Lien raak liggies aan haar skouer en tree agteruit toe Wanda haar oë oopmaak en regop sit.
“Jy, jy het hom doodgemaak! Dis alles jou skuld!” skreeu Lien die woede wat vir die afgelope vyf jaar in haar kook in haar dogter se gesig uit. “Hy was net altyd goed vir jou en jy loop soos ‘n hond in die nag weg! Na alles wat hy vir jou gedoen het!”
“Ma, ek het weggeloop omdat my pa my van die ouderdom van ses jaar verkrag het! En ma het geweet, ma het geweet”, fluister sy.
“Dis ‘n leuen, hoe durf jy! Hoe durf jy?”
Lien lig die rewolwer, mik reguit tussen Wanda se oë en trek die sneller. Sy staan en kyk hoe meeste van die kombersies op die bank verander in rooi kombersies en snak na haar asem.
Lien gaan sit langs haar dogter se lewelose liggaam. “Ja, ek het geweet! Ek het geweet! Ek het altyd geweet!”
Lien druk die loop van die rewolwer in haar mond en trek die sneller.
Al die kombersies op die bank is nou rooi.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 4
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 49 gaste aanlyn

Bydrae Totale