Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Gebede en wense

Deur Palet
Datum gepubliseer: 23 Oktober 2019 Aantal woorde: 429 139 Kere gelees 1

Ek skryf vandag vir my pa ‘n brief, ‘n brief hemel toe. Hy bly nou op ‘n beter plek ver weg van die woeste aarde, ek skryf met ‘n hartseer hart.

Liewe pa

“Hoop dit gaan goed met jou, voel snaaks om die brief te skryf want dit was altyd so anders toe jy nog gelewe het. Dit gaan goed met ons almal hier, met mammie gaan dit soms minder goed maar daar is tye wat haar glimlag nog net so mooi is soos altyd. Sy vra nog so af en toe waar is jy, maar dit is of die maande jou heengaan met kleure inkleur wat dit vir haar makliker maak om te verstaan. Sy sê baie sy mis jou ook, en dan praat sy oor al die goed wat jy altyd vir haar gedoen het.

“Ek wens jy was nog hier, my woorde voel stil maar die kleure wat uit my pen uitvloei is vol liefde. Dis op so dag dat ek my verbeel ek kan my hand uitsteek en saggies aan jou raak. En dan is daar weer dae wat donker en grou voel, en jy voel hoe gister nog hier by jou been verbyskuur.

Nou sit ek maar weer hier buite op die bankie, die wind waai weer erg vandag. Later sien ek hoe die maan groter en groter word, tot dit lyk of hy soos ‘n groot bal op die grond gaan val. Lank het ek so gesit, half verstar en gewonder oor die skeiding tussen lewe en dood, en al die blomme wat hulle by die graf gee. Die helder kleure by die somber atmosfeer, met skitterwit lelies op die kis.

“Jy het ‘n goeie lewe gehad, altyd positief gewees maak nie saak wat die omstandighede was nie. Jy het die vermoë gehad om altyd die ervarings van die lewe se kleur ten volle te geniet. Ten spyte van die dwarslappe wat in jou rigting gewaai het, het jy nog altyd bly glimlag.”

Stukkies van die lewe sweef in die lug soos balonne, elke ballon vorm deel van ‘n verskillende prentjie. Sommiges is geskeur en effens seer, tussen elkeen is gebede en wense wat ek vandag vir my pa loslaat. Vreugde en vrede is soos ‘n vlinder wat vlieg saam met die wind, vreugde is nie net een kleur nie maar al die mooi wat jy in ‘n reënboog kan vind. Dit kleur ons lewe in, en gee ook sin daaraan. Kleur het ‘n smaak, dit het ‘n reuk en dit is tasbaar.

Ek mis jou Pa

Met baie liefde
Van my




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    23 Oktober 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2019 projek – Kleur

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 378
Kommentaar telling: 354

Waar die see en die horison ontmoet, sal die gedruis van die oseaan in die suis van die wind stil raak.. Dis hier waar my drome my woorde in die binnekant van my siel kom lӗ  

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 27 gaste aanlyn

Bydrae Totale