Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Fyngoedjies

Deur Ela
Datum gepubliseer: 12 April 2019 Aantal woorde: 1513 252 Kere gelees 5

Fyngoedjies

Ek gooi verwoed die kasdeur toe. So, dit is wat hier aangaan. Ek is net ’n week weg vir ’n kongres, dan kom kry ek dít in sy hangkas: vroueklere! Nie sommer gewone klere nie, o, nee, fyn goedjies. Lappies met gaatjies en strikkies, heeltemal te min lap om ʼn ordentlike meisie se innerlikes toe te maak. Ga, sies! Ék dra nie eers sulke piepklein, suggestiewe goedjies nie!
My hart slaan sommer ’n slag of wat oor van ontstokenheid. Het my man nou heeltemal die kluts kwytgeraak, of is dít nou wat manlike oorgangsjare genoem word? Of dalk is ek nie meer goed genoeg, mooi genoeg, of maer en sexy genoeg nie? Die gedagte maak my nog meer ontstoke. Ek het my beste jare gegee, saam met hom hard gewerk aan ’n toekoms en dit is my ‘beloning’!
Wag maar, ek sal hom ’n ding of twee wys. Ek mag dalk nie meer die maer, mooi sexy meisie wees met wie hy getrou het en waarna hy skynbaar nou hunker nie, maar ek is ’n slim enetjie. Hy sal spyt wees dat hy my verkul het, baie spyt!
Ek weet nog nie wat om te doen nie, maar tel vies die foon op en bel die gesondheidspa waar ons ons vorige huweliksherdenking gevier het.
“Juffrou, die honeymoon suite, asseblief, vir die komende naweek.”
“Jammer, mevrou, maar die suite is reeds bespreek. Kan ek vir u ’n dubbelkamer be-spreek?” Die meisietjie se stroopstemmetjie irriteer my.
“Nee! Ek wil die honeymoon suite hê!” My bloed is nou behoorlik kookpunt.
“Jammer, mevrou, ek …. ek …” Die arme meisiekind het skoon haar woorde weggeskrik.
“Ag, toemaar, juffrou, los tog maar.”
Ek sit die foon saggies neer, my kwaad nou sommer geblus. In die plek daarvan is ’n fut-loosheid. Wat nou? Ek het gedink as ons teruggaan na waar ons gelukkig was, die spa, die jacuzzi, die vonkelwyn…nee, wag gedagtes, hou julle in toom. Die man het goedjies in sy kas!
Ek mik met my voet na die hangkasdeur, maar bedwing myself betyds. Om die deur af te breek, gaan nie help nie. Maar hoe hanteer ek nou die saak? Voer ek ‘n debat oor die fyn goedjies of vermoor ek hom liewer? Dit is in elk geval hoe ek voel: seergemaak en moordlus-tig!
Ek kan nie die honeymoon suite kry nie, maar toemaar, ek sal nog ‘n plan bedink om hom terug te kry. Die vermetelheid!

Vrydagmiddag vyfuur vang my terwyl ek by die kantoorvenster uitstaar na die lewe bui-te. Gewone mense stap op die sypaadjie, met gewone, vaal werksklere. Maar in my huis, in mý man se kas, is goedjies weggesteek wat sexy soos ʼn skuilnaam laat klink.
Huis toe gaan is die heel laaste op my prioriteitslys. As ek kon, sou ek sommer op kantoor geslaap het, want ek is bang vir my teleurstelling, maar veral my woede. Vir ’n tronksel is ek darem ook nie lus nie.
Die lewe staan ongelukkig nie stil nie en ek kan nie tot Maandag voor my kantoorvenster staan en stoom nie. Traag tel ek die motorsleutels op en begin aanstaltes maak huis toe. Hope-lik kry ek in die motor die nodige insig hoe om die situasie te hanteer. Miskien moet ek die fyn goedjies nog fyner snipper en in sy papbakkie sit. Dalk stik hy daaraan! Ek word sommer weer van voor af kwaad.
My selfoon lui.
“Hallo.” My stem is lusteloos.
“Hallo, my gogga, is jy al op pad huis toe?”
Gmph! Gogga nogal! Gaan kyk liewer na die goggas in jou hangkas, my liewe man! Ho-pelik byt dit jou!
“Ja, ek sal seker binne die volgende tien minute by die huis wees.”
Ek klink nie juis opgewonde nie. Nog minder sien ek uit na die aand wat voorlê. Een of ander tyd sal ek die saak moet aanroer; hoor hoe hy sy lewe verder beplan, saam met die lyfie wat binne-in die kantgoedjies pas.
Ek ry eers ’n paar draaie voordat ek in ons straat afdraai. Alles om moed bymekaar te skraap en terselfdertyd my gemoed te laat afkoel. Ek het al my gevoelens deeglik agter slot en grendel nodig om rustig en kalm die saak te probeer uitpraat.

By die huis stap ek in ’n donker-stil kombuis in. Nou sal ek seker nog moet kos maak ook! Ek wil-wil sommer weer kwaad word. Nee wag, ek moet iets beplan, ek moet hom terugkry. Ek dink ek moet …
“Hallo, Goggatjie! Ek het jou tas gepak, jou swemklere, die lot. Kom, ons moet ry voor-dat dit te donker word. Ons wil nie in die nanag daar aankom nie!”
“Waar aankom? Waarvan praat jy?” Seker besig om my te “soft soap” voordat die bom bars. Ga! Dit gaan nie werk nie, ou pêl.
“Kom jy maar net saam met my.” Hy sleep my behoorlik by die voordeur uit, sluit en ska-kel die alarm aan. Dus gaan dit ’n langerige rit wees. Ek sal maar saamgaan en probeer uitvind wat hy in die mou voer. Dalk kan ek sy plannetjie nog teen hom gebruik en hom so terugkry.
Die motor se wieg maak my lomerig en, tesame met ’n bedrywige week by die werk, voel ek my ooglede lam word.
Toe die motor stilhou, skrik ek vervaard wakker. Waar is ons? Die omgewing wil vir my bekend lyk, maar in die donker is ek gedisoriënteerd.
“Welkom, mevrou Kriek, meneer Kriek! Julle kamer is gereed. James, kom help gou!”
James is reeds oorgretig besig om ons tasse na die hysbak toe te sleep. Stadig raak ek van my omgewing bewus. Dit is dan die spa waar ek wou bespreek! Die hysbak stop en ons stap die “honeymoon suite” in. Nogal nê! Wil hy nou in styl vir my sê dis verby?
Ek stap stywerug die slaapkamer binne. My tas wag reeds op die bankie voor die venster. Ek maak die knippe oop. My klere, oorbekend, staar na my. Ek krap tussen die materiaal rond. Ek moet darem net seker maak ek sal die naweek redelik ordentlik lyk. Dit sal nie deug as ek die fyngoedjie-saak moet aanroer in ’n sweetpakbroek nie. O nee, so ’n saak vra selfver-troue en daarvoor moet ek darem goed geklee wees!
My hand raak aan iets sags, iets fyns. Ek trek dit tussen die ander klere uit. Die fyn, piep-klein goedjies wat ’n paar uur tevore nog in sy kas was, koggel my vanuit die tas.
“Jorrie, wat gaan hier aan?” My stem is omtrent so fyn soos die sexy kleertjies in my tas. Broos, vol trane, loer ek vir hom. Ek was verkeerd! Die klere was vir my bedoel!
“Hoekom dit?” Die vraag kom skamerig oor my lippe.
“Jy is vir my so mooi, ek wil jou graag daarin sien. Dra dit vir my, asseblief?” Met ‘n knipoog loer hy na my toe:
“Dalk kan ons ‘n bietjie…stout wees?” Sy ondeunde glimlag vang my onkant. Ek bloos en begin die stukkies klere een vir een aanpas. Dit pas my nogal, en dit laat my so vroulik voel, so … sexy!

“Gogga! Jy moet nou wakker word! Hier is vir jou koffie. Ek wil gou winkel toe gaan om eiers te kry. Ek gaan vir ons plaatkoekies bak vir ontbyt.”
Huh, my man gaan ontbyt maak? Wat dan van die honeymoon suite? Wat van die …
Ek kyk af na my gemaklike, half vaal nagklere. Na die man voor die bed, ons bed, na mý man. Ek gaan van blydskap en verligting aan die giggel en steek my hande na hom toe uit. Dankie tog, ek hoef nie regtig al die vreemde, glyerige goedjies te dra nie. Dit was toe net ’n droom!
“Môre, my man! Ek trek gou aan, dan sal ek winkel toe gaan om die eiers en nog ’n paar goedjie te kry. Jy kan solank die ander bestanddele bymekaarmaak en tafeldek.”
Verlig en baie vrolik trek ek vinnig aan. Hoe gouer ek ry, hoe gouer is ek terug vir ‘n heer-like, rustige ontbyt saam met my dierbare man. Opgewonde trippel ek die voordeur uit, klim sommer in manlief se Mercedes en ry vinnig by die hek uit. Die lewe lonk en lag!
Op pad terug hardloop ’n swart kat skielik voor my oor die pad. Ek trap rem en die sak met inkopies val van die passasiersitplek af op die vloer. Die kruideniersware rol onder die sitplek in. Dekselse kat! Wat het die oumense altyd gesê van ’n swart kat? Ek skud my kop, giggel vir my gedagtes.
Die eiers! Die laaste ding wat ek nou voor kans sien, is gebreekte eiers in manlief se spogmotor! Ek stop sommer langs die pad. Dekselse kat! Tog maar eers al die goed weer in die sakke kry en die eiers veilig agter in die kattebak sit.
Ek buk onder die passasiersitplek in om alles weer bymekaar te skraap. My hand raak aan iets sags. Ek gril, is dit eierwit? Nee, dit is baie fyn, dit voel soos…materiaal. Ek vat vas en trek my hand uit.
Die fyn, rooi stukkie lap met strikkies en gaatjies koggel my …

©Bets Koen
Maart 2016




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Nico Schamrel

    10 Oktober 2019

    Mooi verhaal, Bets Koen! Ek hou van jou slot.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 9
Kommentaar telling: 2

Drie bundels gepubliseer, verskeie verhale en essays in gesamentlike bundels, verhale gepubliseer in Vrouekeur en Kuier  

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 110 gaste aanlyn

Bydrae Totale