Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: FILMS UIT SUID-AFRIKA

Deur Toom
Datum gepubliseer: 27 Desember 2018 Aantal woorde: 1044 456 Kere gelees 7

FILMS UIT SUID-AFRIKA

Dekadeslang is Suid-Afrika en alles wat suid-afrukaans is in alle europese medien met ‘n mening boikotteer: Polities ja. Maar ook op sosiale gebied, of daarstellende, letterkundige kuns, of op ‘n ander kulturele, of sportterrein. Net doodgeswyg. Asof die gebied en die mense nie bestaan het nie. Buiten daar was iets om oor die bose blankes te sê, of hoe die arme „swartes” onder genoemde bose blankes te ly het. Dan is met alle truuks en wendings van die kuns losgetrek.

Klein verbeterinkie: Geleentlik was daar ‘n natuurfoto van ‘n trots leeu wat gaap, ‘n kameelperd met sy kop in ‘n doringboom of bloeisel van ‘n Kalahari-Weihnachtsbaum (besembos) of soiets. Maar dan was die oorsprong meestens so in kodes versluier dat mens kon raai dat dit „van ons” moet wees. Andersins was die naam en land van die fotograaf duidelik te lees. Slegs een positiewe artikel op die „Reis- en Wegbreek”-bladsy het ek gelees: Oor ‘n joernalstin wat nog in die sewentigs uit eerste hand wou gaan kyk hoe dit daar lyk. Sy sê, sy het met ‘n tasvol vooroordele losgevlieg; en toe sy terugkom het sy geen vooroordele nie maar haar tas was propvol vrae. Sy het vertel hoe sy in hoogsommer die langpad ingeslaan het en volkome deurgesweet wou afdraai om onder die bome aan die padrand af te koel. Toe draai ‘n reusevragmotor voor haar in en neem die plek in waar sy wou parkeer. Sy parkeer daarnaby onder ‘n kleiner boompie en maak alle deure oop. Wat sien sy as sy opkyk?

Om die eenkant van die lorrie kom ‘n swart man met ‘n groot ronde bom in sy arm, en om die anderkant kom ‘n wit man met ‘n slagmes in sy hand wat in die sonlig blink en skitter! Wa-at! Gaan hulle nou ‘n rasseoorlog hier voor haar uitdra? Maar nee, as sy net wil wegry kom die swart man met witstralende glimlag op haar af en sê, „By hierdie warmte kan jy nie ry nie, Missie. Kom sit by ons in die skaduwee,” en bied haar ‘n yslike skyf waatlemoen aan.

Wat die films betref, het ons natuurlik Free Mandela! op die beeldskerm gehad. ‘n Buurman het geweet dat ons nie teleevisie gehad het nie en het ons trots uitgenooi om sy nuwe kleur-tiewie aan te kyk. „Dit moet jy mos sien, man! Volkleur! Hier’s ‘n program wat jy behoort te kyk. As Suid-Afrikaner sal jy dit interessant vind.” Toe Mandela president geword het, het dit nie lang geduur voor sy „biografiese” film, Invictus gedraai word nie. Met Morton Freeman.

Daarna het verskillende Duitse speelfilms gekom waarin die verhaal gedeeltelik op een of ander fotogene plek afgespeel het – en met bekende toneelspelers in die hoofrolle.

° Daar was díé met ‘n voormalige duitse langloopkampioen wat in sy jeug by die Comrades’ Marathon die paal nie gehaal het nie. Hy word roe breier van ‘n span swartes en die ster onder die klompie word toe die eerste swart vrou wat die Comrades wen, in rekordtyd, daar ver vorentoe by die eerste groepie mans.

En dan die egpaar wat alewig met mekaar stry en wil wegbreek om weer mekaar te vind en hul huwelik te red. Op Oudtshoorn (“Aaut-sjôôn” het hul Engelse gasgewers hulle bygebring.) ontmoet hulle ‘n Duitser wat jare gelede daar opgedaag en nie weer weggekom het nie Gaan sy hier bly en sy vat-en-sit-vrou word? En nog ‘n paar in hierdie trant. Daar is baie versigtig met die rassevraag omgegaan: Een of ander neef of skoolkameraad of iemand het jare gelede in die wilde Suide gestrand en word gesoek of toevallig ontdek en daar ontwikkel ‘n liefdesverhaal wat net so goed in die Switserse alpe of aan die Ryn of Donou kon afgespeel het. Ook „Blood Diamond”, wat vir ‘n politiese boodskap okal dit kon gehad het, het hom streng aan die Hollywood- ras-reëls gehou.

° ‘n Bietjie gewaagder was Die Spesenritter waarin ’n groepie amptenare in die nuwe hoofstad Berlyn gebruik maak van die algemene deurmekaar wat volg op die uittrek uit Bonn en alles wat daartoe kom. Hulle skaf ‘n nuwe (ridder-)orde en sorg ondermekaar dat iemand onbegrensde Spesen (onkosten of uitgawes) toekom wanneer hy in die buiteland ‘n „diensreis” onderneem. Skreeusnaaks. En een van hulle land in Kaapstad. Daar ontdek hy die vrou wat hy wil trou. En sy vir hom. Toe hulle in die duine gaan stap, sak hulle weg agter die langgras; na ‘n tydjie kom hulle skielik op, gooi hulle arms in die lug dan om mekaar se lyf en sak weer met vreugdegille weg. Ook hy het voor om te bly. Net dat sy veel donkerder vel het as hy, so ‘n blondekop. Rasseonderskeid ja, maar voor die kamera geen „onvatsoenlikheid” hoegenaamd nie. (Hy was een van Duitsland se top-komediante en niemand het iets van hom ernsgeneem nie.)

° Suid-Afrikaanse films as sulks? Ek ken net twee: District 9 en Tsotsi wat altwee slegs ‘n paar weke geloop het en nie veel opsien gemaak het nie, geen blockbuster ofskoon die held die wêreld gered het . . . Of net Johannesburg? Makiesakie: Geen Brad Pitt of Julia Roberts nie beteken geen groot gewin nie. Of Shame uit die pen van J. M. Coetzee as Suid-Afrikaans aangesien kan word, weet ek nie. Dis mos in Australië gedraai met Australiese regisseur en Australiese daarstellers? Ek kan werklik nie sê hoe dit aangekom het nie.

° Nouliks was daar ‘n televisiefilm (Herzkino) oor liefde aan die oewer van die Okavango, en dis hoekom ek op hierdie tema gekom het. In europese films is daar dikwels ‘n figuur wat terugkeer na jare in die buiteland. Andersins, soos hier, gaan iemand in die buiteland om iemand te soek. In engelse films, bv. Rosamunde Pilcher s’n, bly die terugkerer meestens daar, lei die familie se erfbedryf voortaan in die toekoms en keer nie terug na die „Kolonie” nie. Meestens. In films uit ander europese lande trek die huwelikspaar dikwels terug „in die vreemde” waar hulle vermoedelik nog meer awonture gaan beleef. In hierdie film wil al die Eropeërs hier bly in die wilde, woeste, onhigiëniese wildnis, die kinders inkluis wat vieers glad nie eers hiernatoe wou kom nie.

So verskil die mense mos. Vreemde lande, vreemde sedes.

©.27e.Desember2018◄]:o(…||…(o;Þ.——————————-tje




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Toom

    8 Januarie 2020

    Ag, die vergeterige ou Tioom!

    Hoe kan ek vergeet van die tweedelige „Die Götter müssen verrückt sein”, „Die gode moet mal wees” met die San-mannetjie en sy kinders in die Namib êrens. Met die cola-bottel wat hom op die kop val, met die „Antichrist” wat in die boom hang. Met die eensame woestynbewoner wat in die tronk sit en stukkie-vir-stukkie sterf, afsterf.
    Daar het die toeskouers uit volle bors gelag – én getreur.
    Dit was waarlik die treffers van die jaar! En dan nog die derde film wat op Hongkong afspeel, waar ons boesmannetjie per abuis in ‘n verpakkingsmandjie beland en dwars oor die wêreld vervoer word, om in ‘n „ander dimensie” afgelewer te word.
    Ja, dit was waarskynlik die „vertoonstukke” van die (Suid-)Afrikaanse filmkuns gedurende die „verbodtyd”, die boikottyd gewees.
    GvT

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 207
Kommentaar telling: 209

Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 72 gaste aanlyn

Bydrae Totale