Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Epos : natuurvertelling

Deur Tia
Datum gepubliseer: 18 April 2019 Aantal woorde: 505 72 Kere gelees 1

*geskryf een-jaar-gelede*

EPOS

eDiä!kwain vertel van die natuur

!Gâi! klonkie kinners hier by die vuur wat hooglek na die sterre, die sterre sê “tsau tsau”
vir die warm tonge van die vuur
Kabbo speel die goura en kom ook luister
ek is !Diä !kwain, seun van Xa: a-tin,
die xoma aob
ek kom van die groot Gariep waar die water raas en rol en val oor die hoogste rots tot dit in mis en rook verdwyn

die maan het pyn as sy donker gesig wegdraai
dan gaan hy weg en word ñ ander maan
wat sy gesig wys groot vol van water en van lig
daar bo in die lug

As jy na die maan kyk terwyl jy die bok wil skiet
gaan die gifpyl swak raak, die maan se water gaan die bok lewendig maak
die maan se water lê soos heuning in swart poele onder die bome
bly sâsa vir die maan se lig

Voor jy mik en skiet na die bok laat sak jou kop
praat met die bok se hart jou hart sal blink in die bok se oog
bly sâsa voor jy skiet
die jagter wat die pyl goed gif gee en mik om raak te skiet sal goed leef en nooit honger he nie

Die wit springbok mag jy nooit nie skiet, jy mag hom net kyk tot hy weer verdwyn, want waar hy val sal nooit weer ñ bok loop nie
die krag van die olifant en die eland wat val maak die wolke oop tussen die hemel en die aarde
die xoma-aob moet dan dans om die mense gesond te maak en ook dans vir die reën om te kom

Waneer ñ mens doodgaan waai die wind, die mens se eie wind dit maak stof en waai sy voetspore saam weg
waneer jy ñ ster sien val, dan is dit ñ geliefde se hart wat val
die hammerkop sal die ster sien val en oor jou kop kom vlieg om te kom sê een van jou mense is dood
die sterre val in die Gariep en dit blink in die water, die hammerkop bly daar en hy sien als

Vuurtonge raak nou kort ek praat my laaste praat nou met my hart, ek gaan sit op my hurke
want die water van my hart loop nou oor my oë en val in die sand
dit jaag die lig weg uit die kinners se oë

Die grond hier voel nie meer soos ons, die Xan se grond, die grond lê nou oop
die naelstring tussen ons, die mense en die natuur is geknip
die lang mense met die lange hare het gekom met die raas van die donderweer en sand kom opwaai soos die wind
Die grond voel nou vreemd oor hulle gekom het
die Kambro en die Buchu is vertrap, die bokke raak verskrik

Die vuur raak nou koud
ek vat my eland karos en gooi my toe, ek het julle nou klaar vertel
die sterre raak stil
die sterre sê nie meer “tsau tsau” nie.

Tia©
8/4/18




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 19
    Kommentaar telling: 3

    Ek doen verpleging in psigiatrie as werk en is ‘n dromer wat graag dig en skryf.. maar nooit gedink enige iemand sal dit ooit raaklees... nou gryp elk elke geleentheid aan.. en geniet dit om met woorde te speel 

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 2,861 gaste aanlyn

    Bydrae Totale