Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Enkelma’s en kinderverhoudings dinamika

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 22 September 2019 Aantal woorde: 1426 52 Kere gelees Hou van

Hoe benader jy hulle as enkelouer? Daar is nie meer ‘n ons in jou woordeskat nie, so jou benadering gaan moet aangepas word. Aksies en optredes wat jy as vanselfsprekend in jou huwelik ervaar het is nou verwarrend en in sommige gevalle amper taboe. Waar jy voorheen sou gesê het “gaan vra jou pa,” is die pa nie daar om jou uit te help nie en moet jy nou die besluite neem. Jy kan ook nie elke keer op die foon klim om hom opdrag te gee om met die kind te praat nie. Dit mag wees dat hy alreeds in ‘n ander verhouding is en die vrou duld nie jou ontydige opdragte aan haar maat nie wat meer spanning kan veroorsaak. Of dat hy net nie beskikbaar is nie en wanneer jy eis om te weet waar hy is veroorsaak dit in ‘n geveg en die eintlike rede is dan verlore. Onthou, hy skuld jou geen verduideliking nie. Dit is in hierdie tye dat jy jou kinders se respek verloor en jy ook beheer verloor in die algemeen.
Die hele kommunikasie dinamieka verander. Waar julle ‘n familie van vier of vyf was is julle nou net drie of vier. Voorheen was dit maklik om verantwoordelikhede rond te skuif soos wat dit die situasie gepas het nou is dit net jy en jy alleen. Dit kan nogal senutergend wees. In ‘n groot mate kan jy verslae en verlore voel, selfs oorweldig. Maar jou wegkruip dae is verby. Jy is nou die een wat die pas moet aangee, die leisels moet opneem en vooruit moet loop. Jy staan alleen, met niemand om jou te rugsteun oor hierdie veranderinge of besluite wat jy moet neem nie.
In baie gevalle sal kinders dan rebelleer bloot net omdat hulle nie verstaan nie en, of die ander ouer mis. Of omdat hulle al die aandag soek om hul eie onsekerhede hok te slaan. Dit veroorsaak sy eie unieke probleme waarop ‘n enkelma moet bedag wees. Indien dit nie reg hanteer word nie kan jou lewe oornag in ‘n nagmerrie verander. Dit is dan wat jy die waarde van ‘n goeie ondersteuningsgroep sal besef en mense sal moet vertrou. In baie gevalle moet die vrou en haar kinders terug trek na die ouers wat ook spanning kan veroorsaak. Jou ouers is nie meer lus vir ‘n geskreeu en gekerm nie, en wil hul eie ding doen of trek finansieël swaar en die feit dat jy intrek veroorsaak nog verdere spanning op alreeds ‘n moeilike situasie.
Dit is dan wat kinders baie oop is vir buite invloede en mense dan van hierdie geleenthede gebruik maak om hulle skade te berokken. Hetsy deur verkeerde invloede soos steel, by bendes aansluit of onbeplande seks wat lei na ongewenste swangerskappe tussen tieners. Om nie eers te praat van dwelm-, rook of drankmisbruik nie by ongure partytjies waarheen hulle uitgenooi word nie. Juis omdat hulle dan voel niemand gee om nie sal die tipe van uitlaatkleppe skielik ‘n kruk word sonder jou medewete. Deur om dan onnatuurlik streng te wees of hulle in ‘n koutjie toe te sluit sal dit nie stop nie maar juis die teendeel veroorsaak. Dit is in hierdie tyd wat jy moet uitreik na mense en instansies wat jou kan help om hulle deur hierdie fase te kry. Dit sal nie net jy wees wat hulp gaan nodig hê nie maar jou kinders ook. Indien die ander ouer nog in die prentjie is, is dit noodsaaklik dat julle moet saamwerk rakende die welstand van julle kinders en julself en jul probleme op die agtersitplek moet skuif om hulle by te staan. Onthou, jou kinders is jou grootste bate, en geen geld kan hulle vervang nie. Hulle verdien meer as net die geld waaroor jy en die eks baklei. Jy mag dalk seergemaak voel omdat hy jou verneuk het byvoorbeeld maar die kinders kom in baie gevalle eerste en jy sal verby dit moet kyk om hulle te bereik.
Hierdie onderwerp is so wyd dat een program nie genoeg gaan wees nie maar ek gaan probeer om aan elke fasset aandag te gee. Jou verhouding met jou kinders is van kardinale belang om anderkant uit te stap met min skrape. Elke persoon, ongeag die ouderdom, moet die nuwe lewe aanvaar en aan beweeg. Elkeen gaan dit anders bereik en dit gaan van jou as ma afhang hoe elkeen dit gaan hanteer.
Die stastistieke lyk baie sleg en word net slegter by die dag. Soos wat die egskeidingsyfer styg sal die probleem van enkelouerskap ook styg. Dit is harde feite waarvan ons moet bewus wees juis omdat dit ons direk raak. Ons kinders ook. Skielik word dinge by die skool moeiliker. Bullies kan te voorskyn kom en die situasie uitbuit en dit is dan noodsaaklik dat jy ‘n goeie verhouding met die onderwysers sal hê om goeie kommunikasie te kan verseker. Of hulle moet van skool verander omdat jy nie meer die skoolfonds kan bekostig nie.
Armoede staar ook baie enkelma’s in die oë. Haar salaris is minder, of in baie gevalle het sy nie eers ‘n werk nie en moet jy met die bietjie wat jy het hongermagies voed.
Armoede is ‘n groot werklikheid in enkelvroue se lewens. Dit is ‘n stryd wat die meeste verloor. Hierdie onvermoë om vir haar kinders te sorg maak dan ‘n vrou depressief en sy verloor gehalte tyd met haar kinders. Sy kan eintlik glad nie met hulle kommunikeer nie en hulle volg dan hul eie pad. Dit is ‘n vieslike siklus waarin hulle hul bevind en verkeerde keuses word geneem bloot net om die liggaam te voed. Die absolute verlorenheid van ‘n enkelma en haar kinders is dan groter. Wanneer jy nie meer die sorg van kinders het nie is die spanning weer op ander vlakke. Geen situasie is die selfde nie.
Na ‘n lang huwelik het Isak homself buite die gesinsverband bevind en is die verhouding met sy kinders ‘n baie teer punt in sy lewe. Weg is die kameradie en gemaklike verhouding met hulle en word hy meestal weggestoot deur die kinders. Hy weet maar min van hulle af en enige uitreiking word koud ontvang wat hom by tye hartseer laat, selfs bitter. Elke ouer offer op vir hul kinders, spandeer tyd en energie tydens die grootword jare. Om nie eers te praat van die finansiële implikasies daaraan verbonde nie; om dan net eenkant toe geskuif te word is onverstaanbaar en laat die ouer hartseer.
Wanneer ‘n man en vrou skei kan ‘n paar dinge gebeur; en dit hang meerendeels van die ouers af hoe dit gaan afspeel. Volwasse kinders sal die skeiding aanvaar en albei ouers nog steeds ondersteun. Of kinders sal die kant van een ouer kies en die ander een ignoreer. In baie gevalle is dit omdat die een ouer die ander een afkraak bloot net vir selfsugtige redes of omdat hulle dink dat hulle reg daartoe het. Die ander rede is omdat kinders nie die opbreek verstaan nie of die aanleiding daartoe ken nie dan neem hulle die kant van die ouer wat agterbly, sonder om uit te reik of die weggestote ouer ‘n kans te gee om te verduidelik.
Albei partye het foute gemaak. Albei partye staan nie onskuldig nie en ouers moet dan volwasse optree tydens hierdie sensitiewe tye. Deur die man die heeltyd af te kraak is onregverdig teenoor die vader van die kinders. Die ander kant is ook net so waar. ‘n Pa moet waaksaam wees oor wat hy se van die ma voor die kinders. Sy is en bly die ma, die vrou wat hulle voed en grootmaak. Die een wat hul trane afvee en sorg vir die mooi dinge kenmerkend van moederskap. Ek dink dit is baie onrealisties en kan net verdere probleme vorentoe veroorsaak.
Kinders, op die ou einde is nie die rede vir die egskeiding nie. Kinders het nogsteeds nodig om te weet dat albei ouers hulle lief het en dat, alhoewel die huislike situasie verander het, hulle nog steeds ‘n ma en pa het. Dit is die plig van albei ouers om aan hierdie verhouding te werk. Dit is logies dat kinders kwaad sal wees, selfs bitter sal word omdat hulle nie verstaan nie maar jy as ouer moet juis uitreik en verduidelik – elkeen op sy eie ouderdomsvlak om sodoende die verhouding weer te herstel. In baie gevalle sal dit nie weer dieselfde wees nie maar unieke verhoudings kan tog weer geskep word deur mekaar weer van voor af te leer ken.
Diamant Divas program van Augustus 2018
Kopiereg voorbehou




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 65
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 124 gaste aanlyn

Bydrae Totale