Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Emosioneel Geslaan, Verneder, Misbruik.

Deur Ano
Datum gepubliseer: 18 Maart 2020 Aantal woorde: 1704 30 Kere gelees 1

Dis mos maklik om ʼn mishandelde vrou uit te ken, nie waar nie? Sy dra ʼn oorgroot sonbril om die blou, groen en geel skakerings op haar oogbank te verdoesel. Haar lip is opgehewe en oopgeskeur en sy gebruik die verskoning, “Ek het in die deur vasgeloop het, hoe lomp van my.” Ja, ons ken waarskynlik elkeen so ʼn persoon, al is mens nie eens altyd daarvan bewus nie.

Alhoewel geweld verskillende vorme aanneem wat wissel tussen fisiese, seksuele, emosionele en finansiële misbruik, fokus ons nou op emosionele of sielkundige mishandeling. Dit sluit in agtervolging, ʼn dreigende houding om die vrou onveilig te laat voel, vernederende gedrag en uitsprake, ʼn gebrek aan respek, ondermyning van haar opinie, om haar in die rede te val of selfs weg te stap uit ʼn gesprek, die ignorering van haar behoeftes en om dit as onbelangrik af te maak. Intimidasie word gebruik om beheer in die verhouding te kry, gevoelens van vrees en skande op te wek en om onderdanigheid af te dwing. Hy speel egter nooit “fair” nie – in elk geval nie wat mens in ʼn gesonde verhouding sou verwag nie. Wanneer emosionele mishandeling baie subtiel plaasvind, word sy soos die spreekwoordelike padda stadig en oor ʼn lang tydperk saam met die water warm gemaak en dit mag jare neem voordat sy self begin raaksien dat sy emosioneel afgeknou word.

Emosionele mishandeling kan ongelukkig nie met die blote oog raakgesien kan word nie en dit word nie tot intieme verhoudings beperk nie. Enige plek waar twee mense saam leef of werk, is ʼn geleentheid vir emosionele misbruik. Dit kom voor waar die een party sy magsposisie misbruik om ten alle koste beheer oor ʼn ander persoon of situasie te kry. Ons vind dit meestal in doodgewone huishoudings, maar dit ook in ʼn vriendskap voorkom, die klaskamer, spreekkamer en selfs op die preekstoel. Oor die algemeen word boelies gemaak en nie gebore nie en is hulle nie noodwendig daarvan bewus dat hul gedrag as emosionele of sielkundige misbruik geklassifiseer kan word nie. Wanneer ʼn persoon sy professie of geleerdheid gebruik om ʼn ander se opinie af te kraak, is dit ʼn vorm van sielkundige misbruik.

Die skuldige maak gebruik van vernedering, vrees, manipulasie, konstante kritiek en skuldgevoelens. Dit is ʼn tipe breinspoeling wat stelselmatig die vertroue en eiewaarde van ʼn ander persoon afbreek. As jy voortdurend hoor hoe sleg jy is, hoe sleg jou familie/werk is (eintlik enigiets wat vir jou belangrik sou wees), sarkastiese opmerkings, beledigings en die afkraak van jou opinie, breek dit die slagoffer stelselmatig af totdat sy dit teen haar eie beterwete begin glo. Dikwels word sy stelselmatig van haar familie en ander ondersteuningsnetwerke vervreem want dit is makliker om onder sulke omstandighede totale beheer te behou. Haar probleme of vrae word as onbelangrik afgemaak. Sy loop op eiers om nie die boelie nie te ontstel nie. So ʼn persoon kan nie insien dat sy houding afbrekend is nie en hy neem selde indien ooit, verantwoordelikheid vir sy swak gedrag. Volgens hom is die slagoffer dom, te eenvoudig, onbelangrik en te onopgevoed vir sy familie of belangrike posisie in die samelewing. Hy is alles, sy is niks. In sy oë is sy te onbelangrik om gerespekteer te word en word basies as ʼn vloerlap gebruik.

Bedekte aggressie is ʼn magtige wapen wat nie altyd deur ander mense in dieselfde geselskap opgetel word nie en kan in ʼn enkele woord of oogkontak oorgedra word. Die mening van die slagoffer word as minderwaardig geag. Emosionele onttrekking en stilstuipe word ook dikwels as vorm van manipulering gebruik. Hierdie gedrag is dikwels so algemeen dat dit nie maklik aan emosionele mishandeling gekoppel word nie en die mishandelaar mag selfs onbewustelik hieraan deelneem. Hy wil elke deel van die slagoffer se lewe beheer, alles wat sy doen, saam met wie sy kuier, ens. Hy gebruik haar vrese om te kry wat hý wil hê. Hy beheer haar deur verwerping toe te pas of haar sienings as onbelangrik af te maak. Sy word geïsoleer sodat sy nie op ander mense kan staatmaak vir emosionele ondersteuning nie.

Die redes waarom iemand in ʼn verhouding van emosionele geweld vasgevang kan word, is onbeperk. Sy mag finansieel van die oortreder afhanklik wees. Sy bly in die verhouding ter wille van die kinders. Sy vrees vir haar eie en/of haar kinders se lewens. Depressie en lae selfbeeld laat die vrou glo dat sy die oorsaak van die mishandeling is en dat sy nie op haar eie sal kan regkom nie. As sy ʼn beter vrou, mooier/slimmer/maerder of meer gehoorsaam was, sou haar man nie nodig gehad het om haar te “tugtig” nie (al is dit “net” verbaal). Sy het dikwels ʼn blinde geloof dat hy ten spyte van die misbruik haar tog wel liefhet en glo sy keer op keer die leë beloftes van gedragsverandering.

“Gaslighting” is ook ʼn term waaroor daar in die laaste paar jare baie oor gepraat word. Die slagoffer sal byvoorbeeld herhaaldelik hoor dat sy iets verkeerd gehoor/verstaan of onthou het, dat iets haar verbeelding is, sy doof of blind is, of dat sy “mal” is. Die geweldenaar manipuleer die situasie en slagoffer tot so ʼn mate dat sy haar geheue wantrou en alles begin bevraagteken. Hy kap stelselmatig gate in haar selfbeeld totdat sy so geïntimideer mag voel dat sy haar eie oordeel vrees. Sy kan dus niks op haar eie besluit nie en het heeltyd die bevestiging van die geweldenaar nodig.

Verkeerdelik sal die vrou dikwels wonder of sý gedrag nie háár skuld is nie. Sy ontwikkel ʼn lae selfbeeld en dikwels ʼn aangeleerde hulpeloosheid waar sy glo dat sy niks reg kan doen nie, of nie sonder die oortreder kan oorleef nie. Sy loop dus gedurig op eiers, is gedurigdeur op haar hoede en probeer haar bes om niks te doen wat ʼn uitbarsting tot gevolg mag hê nie.

Deur iemand gedurig te vertel dat sy waardeloos is, haar opinie nie van belang is nie, dat niemand haar liefhet nie (natuurlik nooit so lief soos hy haar het nie), kan ʼn magdom sielkundige probleme of selfs PTSD tot gevolg hê. Die mishandelaar hou haar “klein” en “stil” en dit pas hom soos ʼn handskoen. Sy eie gebrekkige selfbeeld word blink gepoets deur iemand anders styf onder sy duim te hou. Sy vereensaam stelselmatig en voel skaam omdat sy glo dat sy niks werd is nie of niks reg kan doen nie. Die tragedie is dat sy aan hierdie afskuwelike gedrag gewoond raak.

Die siklus in sulke verhoudings is oor die algemeen baie voorspelbaar. Die oortreder sal die vrou se guns wen deur haar te oorlaai met duur geskenke, romantiese gebare of beloftes van oorvloed (wittebrood tydperk). Gewoonlik begin die mishandeling baie subtiel – ʼn goedige maar dalk oordrewe klap i.p.v. ʼn vuishou, ʼn subtiele vernederende opmerking i.p.v. ʼn reguit gevloek. Die oortreder kom opreg berouvol voor en belowe plegtig dat dit ʼn geïsoleerde geval was en nooit weer sal gebeur nie. Baie trane en berou gevolg deur blomme, geskenke en oordadige romantiese gedrag. Dan eendag, oënskynlik heeltemal uit die bloute, gebeur iets wat die oortreder sy masker laat verloor en die siklus weer van vooraf laat begin.

Wanneer die vrou in so ʼn siklus vasgevang word, ontwikkel sy die valse geloof dat sy nie in beheer oor haar situasie het nie en daarom nie uit die verhouding kan ontsnap nie. Sy kom dikwels geïsoleerd, angstig en hulpeloos voor. Sy mag daarvan bewus wees dat sy mishandel word en steek dit vir vriende en familie weg. Moontlik vrees sy vir haar en haar kinders se veiligheid. Sy is onseker met watter sy van sy persoonlikheid sy daardie dag te doene gaan kry en het die neiging om voortdurend om verskoning te vra, selfs in situasies waar sy niks gedoen het nie of wat geheel en al buite haar beheer was.

Die geweldenaar se gedrag wissel tussen jaloesie, fisieke en emosionele beheer, verbale mishandeling, oorrompeling met romantiese aandag net om haar weer die “koue skouer” te gee, isolasie, blamering vir sy probleme, speelse dwang tydens seks, gaslighting, Dr Jekyll & Mr Hyde-gedrag en die vernietiging van items wat sy as waardevol beskou.

Om dit nog meer ingewikkeld te maak, is sy gewoonlik lief vir die persoon en glo hardnekkig dat hy sal verander. Sy ontken dat daar ʼn probleem is en sal die oortreder dikwels teen haar beterwete beskerm. Sy is soms nie daarvan bewus dat daar hulp of uitkoms is nie en bly in die verhouding weens morele, godsdienstige of finansiële redes. Die tragedie is egter dat indien sy haar eie gedagtes hieromtrent glo, dit bitter moeilik is om ʼn uitweg raak te sien. Die oortreder is ook slim genoeg om haar met hierdie tipe leuens volkome in sy mag te hou.

Indien jou maat die volgende gedrag openbaar is hy ʼn emosionele mishandelaar : hy is Baas en jy is Klaas, hy skree op jou, gebruik verkleinerende byname of ander woorde, kritiseer of val jou in die rede terwyl jy praat, behandel jou sleg voor ander mense, toon neerbuigende gedrag oor jou keuses/vriende/voorkoms, ignoreer jou opinie, minimaliseer jou prestasies, wil die hele tyd weet hoe en waar jy jou tyd spandeer, waarop jy jou geld spandeer, is oordrewe jaloers, blameer jou vir sý gedrag, respekteer nie jou gevoelens/opinie nie of beperk jou toegang tot geld/ʼn foon/kos/medikasie of ander basiese benodighede. Hy mag selfs dreig om jou en jou kinders seer of dood te maak of dreig om sy lewe te beëindig indien jy uit die verhouding wil wegbreek.

Onthou, hierdie behandeling is nie die einde van jou lewe nie, maar dit behoort die einde van jul verhouding te wees. Wanneer jy herken dat jy afgeknou word, onthou dat hierdie gedrag nie toelaatbaar is nie en jy ook nie stoksielalleen hierdeur hoef te gaan nie. Indien jy vir jou onmiddellike veiligheid vrees, kontak sonder versuim die polisie/sekuriteitsmaatskappy vir beskerming. Vra hulp by die dokter, predikant, maatskaplike werker of regsadviseur. Verstaan dat sý onaanvaarbare gedrag nie jou verantwoordelikheid is nie. Hou jou persoonlike ruimte en grense in stand. Verlaat die verhouding so gou moontlik en reël dat iemand jou en jou kinders na ʼn plek van veiligheid kan. Gaan vir terapie of berading en gee jouself genoeg tyd om fisies en emosioneel te herstel, en win regsadvies in sodat jy permanent uit die verhouding kan ontsnap.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 55
Kommentaar telling: 95

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 46 gaste aanlyn

Bydrae Totale