Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Elsa verloor haar selfoon vir ’n dag.

Deur Taai
Datum gepubliseer: 19 Desember 2019 Aantal woorde: 354 78 Kere gelees 2

“O, blikkies!” In afgryse staar Elsa na die kattebak van haar voertuig, bewend van haar reëndeurdrenkte klere. “Deksels, Elsa! Wat het jy nou aangevang? Eers verloor jy jou selfoon en nou dit.” Sy loer weer ongelowig binne-in die motor. Haar handsak staan mooi, uittartend op die passasiersitplek toegesluit. Verergd stap sy terug agtertoe en haar hand reik instinktief weer na die slot van die kattebak. Dis nog steeds gesluit.

Paniekerig loer sy om haar rond. Haar kinders se skool kom oor vyftien minute uit en hier staan sy stoksielalleen met net haar kantoorsleutels in haar hand. Nood leer haar klouter-gly oor die elektriese hek. Sy versplinter die plasse water al long-snakkend tot by die skoolhekke. “Charlie!” Vir ’n paar sekondes hyg sy na asem. “Charlie, leen my asseblief jou selfoon, ek moet dringend ’n slotmaker bel. My handsak lê koggelend op die passasiersitplek en my karsleutels wals saam met my inkopiesakkie in my kattebak. Als is bottoe gesluit.”

’n Uur later spoel verligting oor haar toe haar motordeur oopklik. Sy gryp haar karsleutels uit die kattebak en bedank die slotmaker. “Kom, kinders! Die pad lê nog lank plaas toe.”

Skaars uit die dorp uit raak sy bewus van ’n snaakse geluid. Sy verminder spoed en trek van die pad af. Haar kinders kyk haar vraend aan. “Toemaar, dis seker niks nie. Ek wil net kyk wat maak die snaakse geluid.” Sonder ’n verdere woord klim sy uit. Vies gooi sy haar hande in die lug. “Nog ’n pap band! Ons sal moet probeer om self hierdie band met die noodwiel te ruil. Jacobus, kom, kom, kry die spaarwiel solank uit! Ek gaan probeer om die wielboute los te draai.”

Behaaglik leun sy moeg terug in haar bed. “Wat ’n dag.” Kortliks vertel sy Hendrik van die dag se gebeure. ’n Lag breek diep vanuit sy maag los. “Sies vir jou! Mens verlekker jou nie in ander se teëspoed nie.”

“Wag!” keer Hendrik. Hy gaan haal iets uit sy broeksak uit. “Ek het jou selfoon vanoggend in die bakkie gekry. Dit moes seker uitgeval het toe ons gaan beeste tel het…”

© Taai Bonthuys




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 1

Digter, Skrywer en professionele rekenmeester.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 46 gaste aanlyn

Bydrae Totale