Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Ek is ‘n rassis!

Deur Johnell
Datum gepubliseer: 13 Junie 2019 Aantal woorde: 1041 128 Kere gelees 3

Ek is ’n rassis.

Ek het nie self so besluit nie, inteendeel, dit is nie eers iets wat ek myself sou noem nie. Ek vereenselwig nie met hierdie term nie. Dit is aan my gegee en ek is daarmee gedoop en daarvan beskuldig. En nou word ek daarvoor gehaat.
Wat ek wel is, is ’n Suid-Afrikaner en daarom behoort Suid-Afrika aan my.

Deur dit te sê het ek jou nie van jou reg om ’n Suid-Afrikaner te wees ontneem nie. Ek het ook nie daardeur gesê dat Suid-Afrika nie aan jou behoort nie.

Ek praat Afrikaans. Dit is een van Suid-Afrika se elf amptelike tale. Dit is my reg om dit te praat. Dit is ook my reg om aan te dring daarop dat my kind ’n opvoeding in hierdie taal ontvang.

Deur dit te sê maak ek nie jou taal af of ag dit gering nie. Ek het nie aangevoer dat die tien ander amptelike tale nie gepraat mag word of dat onderrig nie daarin mag geskied nie. Ek het ook nie geïnsinueer dat Afrikaans slegs beperk is tot wit mense nie. Ek het nie een keer gesê dat ’n bruin of swart kind nie in Afrikaans onderrig mag word of in ’n Afrikaanse skool aanvaar mag word nie.

Demografies word Afrikaans deur meer bruin mense as wit mense gepraat. Ek het nie een keer beswaar daarteen aangeteken of bepleit dat ek ’n wit Afrikaanse skool wil hê of dat dit slegs ’n taal vir wit mense is nie.

So waarom dan die agressie?

“Daar word van swart kinders verwag om hul matriekeksamens in Engels te skryf tenspyte daarvan dat dit hulle 3e of 4de taal is, Afrikaanse leerders skryf hulle vraestelle in hul moedertaal, waar is die gelykheid daarin?” -Twittergebruiker.

Daar is geen gelykheid daarin nie. Daar kan nie wees nie. Maar die oplossing is nie om almal te forseer om in Engels te leer nie. Dit is nie my taal nie en ek wil nie.

Hieroor is ek “bevoorreg” (privileged) en “geregtig” (entitled) genoem. Nee. Wanneer ek aandring op iets wat my toekom oefen ek my reg uit. Dit is nie ’n voorreg nie. Ek mag. En jy mag ook.

Volgens onderwyswetgewing (en ondersteun deur Die Konstitusie) mag ’n leerder onderrig ontvang en leer in die taal van sy/haar keuse. Meeste Afrikaanse ouers verkies hul moedertaal as taal van onderrig. Die regering moet dus in hierdie behoefte van my voorsien.

Deur dit te sê ontneem ek nie die Zulu-, Xhosa-, Sepedi-, Setswana-, Sesotho-, Tsonga-, Swati-, Venda- of Ndebele-kind van sy behoefte om in sy moedertaal onderrig te word nie. Inteendeel, dit is met die grootste oortuiging en entoesiasme waarmee ek hierdie tale wil aanmoedig om op akademiese vlak uit te brei en te ontwikkel. As hierdie ouers egter kies om hul kinders in Engels te laat onderrig, staan dit hulle vry. Dit word so vervat in Die Grondwet. Maar in hulle vryheid moet hulle dan van Engelse skole voorsien word sonder dat dit skole wat in ander moedertale onderrig, sal inperk.

Deur dit te sê volg ek nie noodwendig ’n ideologie van segregasie nie. Ek het reeds vroeër gemeen dat taal nie noodwendig aan ras gekoppel is nie en dat veral Afrikaans nie aan hierdie stigma onderhewig is nie.

Ek glo wel dat in hierdie diverse land, kultuur nouliks verbind kan word met verskillende tale en dat kultuur in baie gevalle geïntegreer is binne ’n bepaalde ras en taal. Dink maar aan die Ndebele. Dit is die naam van die ras, taal en ook hul kleurvolle kultuur. Dit is eie aan hulle.

In sekere Afrikaanse skole volg ons sekere kulture. Wanneer jy, uit jou vrye keuse, besluit om jou onderrig in hierdie taal te ontvang, kies jy ook om jouself tot ’n mate by hierdie kultuur te skaar.

Kulture self is divers en bestaan gewoonlik uit ’n paar “maniere van doen” en ’n aantal tradisies wat deur die jare opgebou is, om nie eers van die musiek en literatuur te praat nie. Ek mag kies om my kind in ’n kultuur eie aan homself te skool. Ek mag selfs kies om in my doen en late net te assosieer met mense van my kultuur. Ek mag my kultuur uitleef. Die enigste voorwaarde hieraan is dat ek dit nie ten koste van ander kulture moet doen nie en dat ek ander kulture en die bestaansreg daarvan moet respekteer.

Hoekom kan enkelmedium skole nie ook die behoud van verskeie kulture raak nie? Dit kan ’n beskermde omgewing wees waar ou en nuwe tradisies beoefen kan word en waar identiteit behoue kan bly. Dit is ook die plek waar aanvaarding vir ander tradisies en kulture die beste aangeleer kan word.

Dít is hoe jy ’n reënboognasie suksesvol laat funksioneer.

Tog kan ek skaars so ‘n voorstel ter tafel stel of dit word met ’n groet van haat bejeen. Die onvermoë om mekaar onvoorwaardelik te aanvaar is dalk eerder die ondergang van alle betrokke partye as wat die onvermoë om op ’n beskaafde manier rede te kan voer, is. Ja, dit is die onvermoë om te besef dat ek anders mag dink en voel en doen; daardie inherente strewe na eendersheid en die onderdrukking van enige iets wat uniek of vreemd is, wat afbreek en in puin agterlaat eerder as om te bou. Dit is daardie geloof dat verskille verkeerd is. Dit is wat enige moontlike vrede vedryf.

Ek is nie ’n rassis nie. Hierdie term is eerder ’n refleksie van die een wat aan my hierdie titel gegee het. Dit plaas klem op sy eie onvermoë om te kan debateer en te kan argumenteer op ’n waardige wyse. In sy beperkte vermoë skryf hy alles wat vreemd is af as bedreiging en klassifiseer hy dit onder hierdie dekmantel. Hy is so gefokus op wat ek in my taal en kultuur vermag dat hy sy eie vergeet en afskeep.

Dit is hartseer … dat mense in hierdie land nie kan saamwerk en aanvaar nie. Dat mense nie kan besef dat groei afsonderlik en gesamentlik tot almal se voordeel kan (en moet) plaasvind nie; dat elkeen ’n plek het en dat jy eerder moet veg vir jou regte as wat jy moet veg teen die regte van ander.




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Toom

    20 Junie 2019

    FOUT!!!: argumenteer nie agrumenteer nie.*

    Andersins puik, prima! Dankie vir die klare, duidelike uiteensetting.
    My eie persoonlike strewe gaan in dieselfde rigting, en ek wens jou baie (verstandnisvolle) lesers wat jou boodskap gaan verbrei.
    GvT
    * Ons kan almal enige tyd iemand anders se fout bemerk om ons verwyt te sterk, nè? Of ons kan tot die einde deurlees en daarvan profiteer. Nogeens, dankie.

  2. Johnell

    20 Junie 2019

    Dankie! Ek waardeer.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 17
Kommentaar telling: 6

Onderwyseres in Afrikaans

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 53 gaste aanlyn

Bydrae Totale