Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Drank en liefde

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 7 Mei 2019 Aantal woorde: 1361 326 Kere gelees 2

Einde van hierdie maand vier ek en Die Ander Een ons 15de anniversary… 15 laaaang jare. Hoe oorleef jy 15 jaar saam ‘n persoon? Goeie vraag! Baie versigtig…
Soos met alle verhoudings was daar maar baie ups and downs. ‘n Gelag. ‘n Gehuil. Uiteindelik bereik jy ‘n ewewig punt waar die redes om lief te wees vir die ander persoon presies gelyk is aan die redes wat jy dieselfde persoon wil vermoor. (Jy kyk mos CSI en daai ander police investigation dokumentêre om “tips” te kry, soos hoe om ontslae te raak van ‘n lyk of om dit soos ‘n ongeluk te laat lyk – nie omdat ‘n goeie storie is nie.)

Met die tyd saam leer jy wat werk en wat werk nie.
Soos as die Ander Een jou vra “Is dit wat jy na die funksie toe gaan dra?”
Dan is die antwoord “Blykbaar nie.”
Jy kom agter dat die Ander Een vir ‘n week onder dieselfde dak as jy leef sonder om agter te kom jy’t jou hare gekleur, maar sal onmiddellik agterkom as jy die laaste Sally Williams Nougat skelm geëet het.
Dis een ding om in ‘n verhouding te wees “vir liefde” – maar kom ons wees nou maar eerlik met mekaar, dis ook nogal handig om iemand anders in die huis te hê om jou te help soek vir jou gunsteling jersey wat weg is. (Net om die kas waarin jy nou-net gekyk het oop te maak en sonder om eers te soek te voorskyn bring.)
Jy leer geduld. Baie, BAIE geduld. En compromise. Hoeveel compromise? 5 Twilight movies se compromose. 5. Baie. Lang. Twilight. Movies.

En met “baie geduld” bedoel ek baie geduld om met my saam te leef, want ek kan obviously nie maklik wees om mee saam te leef nie. Ek het sterk opinies oor alles, ek is vreesloos (wat nie altyd ‘n goeie ding is nie) en ek is weird. Die Ander Een moet gedurig net kop skud as ek met gedagtes opkom soos “Vandag gaan ek probeer links wees” of “Ek gaan van nou af met orgideë boer”.
Dan is ek boonop lomp ook, wat ‘n groot verleentheid is vir enige iemand wat saam my gesien word; ek kan enige oomblik neerslet, iets omstamp of iets per ongeluk breek. As jy saam met my gesien wil word gaan jy jou trots en ego in jou sak moet steek. Sorry daaroor. As jy saam met my ry en ons musiek luister is die opsies: óf ek luister net na die eerste 15 sekondes van elke liedjie en skip na die volgende een toe, óf ek sing uit volle bors vyf oktawe te hoog saam. Dit vat ‘n spesiale persoon om met daai soort uitdagings kalm te bly. Dankie hoor.

Dit het van my kant af ook baie geduld gekos om Die Ander Een te leer dat daar nie toilet feetjies is wat ‘n leë toilet rol gaan omruil nie… En iets se plek is “waar jy hom gekry het”, nie “waar jy hom laas gebruik het” nie. Julle leer mekaar ook dat die klein issues nie saak maak nie. Dit maak nie saak dat al die hangers dieselfde kleur is nie, en dit maak ook nie saak of almal dieselfde rigting kyk nie…

Ter verdediging van myself dink ek het ek die hoeveelheid geduld benodig om met my oor die weg te kom, heelwat verlaag. In my jonger dae – toe ons net begin uitgaan het – was ek heelwat maintenance. Die grootste probleem was my liefde vir partytjies. As iemand jou vra “Wil jy iets gaan drink na werk?” is daar net een moontlik antwoord en dit is “Ja”.

So beland ek een aand weer in een of ander onheilige drinkgat na werk saam met kollegas. En die drank vloei. Ek gaan deur my stadiums van nugter na minder nugter wat insluit my skoene wat eerste is om te waai , gevolg deur my wat leopard crawl deur die plek (want ek dink mos ek’s ‘n ninja of iets drie drankies diep?). Dié aand eindig ek eventually kaalvoet op die tafel en ek karaoke verwoed uit volle bors, vals en met geen ritme. (Net vir duidelikheid: Dit was nie ‘n actual karaoke bar nie – hulle het sommer net MTV op die TV’s gewys. Ek het dis misgis vir karaoke.) Fronse is gefrons. Woorde is gewissel, en die eienaar het gevra dat ons maar liefs moet vertrek. Wat seker ook maar ‘n goeie ding was, want ek het nie die tyd dopgehou nie, en besef toe teen dié tyd gaan Die Ander Een weer vir ‘n week nie met my praat nie.

Daai jare het ek nog motorfiets gery… I know, right. Domonnosel wat ek was, besluit ek om in dié toestand huis toe te ry. Die een kollega sê hy sal agter my aanry om seker te maak ek kom veilig by die huis aan. (Wat ook nie sin maak nie want wat de donder gaan hy doen om te keer dat ek verongeluk? Al waarde wat hy het is om vir die spietkop na die tyd te vertel hoe hy gesien het ek verongeluk. “Ja Meneer. Daar waar die pad so draai maak moes hy ook ‘n draai maak, maar hy hettie.”) Ek verduidelik vir die kollega dat as ek iets oorkom hy asseblief ‘n taxi moet bel, en nie ‘n ambulans nie. ‘n Taxi is baie goedkoper. Ek het nie geld om die Bie-Pô Wa se rekening te betaal nie.

Gelukkig kom ek veilig by die woonstel aan. (Siestog, my arme beskermengel het sy hande vol gehad. Seker ‘n paar senuwee-ineenstortings gehad oor die jare. Seker hoekom hy deesdae so ‘n lakse houding het?) Ek sien die woonstel se ligte is af wat beteken Die Ander Een slaap al. Daar is darem ‘n kans dat ek die moeilikheid kan vermy – of ten minste uitstel. Maar die Tequila het teen daai tyd sy rekening kom eis. Tequila is niemand se maatjie nie – moenie na jou “vriende” se slim stories luister nie! Die hele aardbol draai verwoed, en ek moet aan al wat ‘n muur en ‘n reling is vasklou om nie van die aarde af te val soos hy draai nie. Na ‘n ewigheid kry ek uiteindelik die woonstel oopgesluit (as jy nie nugter is nie, is dit mos onmoontlik om die regte sleutel te kry, selfs al is daar net 3 sleutels aan die bos. Jy is uiters versigtig dat jy net nie die woonstel start nie.) Om en om draai die hele woonstel. My kop is swaar en dik. Ek besluit dat dit ‘n baie gevaarlike pad is om te navigeer in die donker na die slaapkamer toe en dat leopard crawl die beste opsie gaan wees. So seil ek op my maag deur die woonstel tot by die bed – maar nie sonder om die koffietafel eers so in die donker te kry nie. (Want ‘n donnerse koffietafel loop mos rond as dit donker is. Vra jou maermerrie, hy weet.) Ek besef ek het die voordeur oopgelos, en seil weer al die pad terug. Met die slag terug ontdek ek weer die koffietafel. Uiteindelik by die bed probeer ek my lê kry, maar iewers is iets groot fout. Iets voel verkeerd… Skielik gaan die bedliggie aan.
Die Ander Een kyk my vierkantig in die oë. My oë wil nie fokus nie – alles lyk dof.
“Het jy weer ge-party?” Vra die Ander Een uiteindelik.
“Nee. Ek het gewerk.” Antwoord ek, maar my stem klink gedemp en ver weg. “Wat laat jou so dink?”
“Jy’t nog jou helmet op.”

— — —
Gelukkig kom daar ‘n tyd, na genoeg stilstuipe, gesmeek en dreigemente, wat jy besef dat jy jou olifante in ‘n ry moet kry of jy gaan jou geluk verloor. Jy besef dat daar niemand anders op die planeet aarde is wat jou kak gaan opeet nie, so jy maak dit werk.

Moet nooit iets in ‘n oomblik van woede sê nie.

Die klein foutjies en probleempies maak nie saak nie. Die groot probleme en foute praat jy uit, vergewe jy en beweeg aan want die lewe is te kort en mense wat regtig saak maak is te min om hang-ups te hê…




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Ano

    11 Mei 2019

    Giggels <3

  2. Kiekies

    3 Julie 2019

    Ai oeee ek het weer so lekker gelees en snot-en-trane gelag. (Wens hier was ‘n mannetjie wat handjies klap om in te tik.) En ek’t sommer ‘n paar goeie lesse geleer.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 23
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 93 gaste aanlyn

Bydrae Totale