Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Disa blom

Deur Palet
Datum gepubliseer: 27 Oktober 2020 Aantal woorde: 1718 56 Kere gelees 2

Dit is ‘n bedrywige dag op oom Sampie se plaas, vandag is die groot dag waaroor hy al soveel jare droom. Hy trou vandag met tannie Cotie van Hexsrivier vallei se kontrei. Vandat hy ‘n seun was het hy al probeer om haar sy meisie te maak, maar tannie Cotie was altyd baie onvriendelik teenoor hom. Hy was ma ‘n lelike seun, baie sproete met rooi hare gehad. Almal het hom altyd gespot daaroor, hom ‘Wortel’ genoem. Een ding Wortel het hom nie laat onderkry deur al die boelies nie, hy het uitgeblink in akedemie en sport.

Hy het dan ook na skool gaan verder leer, maar na sy graad het hy besluit hy gaan boer op sy oupa Stefaans se plaas. Sy oupa kon nie meer boer nie hy was te oud, Sampie het na sy oupa se dood die plaas ‘Bergsig’ geërf. Dit het ‘n beeldskone uitsig oor die Hexrivier en berge. Nog net die donkie inspan voor die karretjie, maar hy sukkel om vir Wouter die donkie te vang, hy is weer steeks vandag. Na ‘n groot gesukkel het hy hom voor die wa ingespan. Hy het alles blink gepoets, selfs Sampie het ‘n yslike bloedrooi strik om sy nek gekry, en ‘n strooihoed op sy kop.

Ongeveer agt uur vertrek hy na die onthaal, dit is ‘n wolklose dag en baie warm. Halfpad rus hy onder ‘n groot boom, vat ‘n groot sluk van sy wyn en geniet een van die vetkoeke wat sy buurvrou vir hom gegee het vir padkos, dit is ‘n vêr pad en sy ken Sampie hy hou van eet. Wouter gevaar ‘n wyfie donkie so paar meter van hulle af, hy gee so skop en hardloop na haar toe. Hy sleep die wa wat omgeslaan het agterna, en jy sien net stofwolke.

“Hokaai! jou verdomde donkie.” Skree Sampie, sy stem raak skoon hees van die stof en spoeg.
Die donkiekar rol al in die rondte, en jy sien net bier bottels trek deur die lug.

“Nee! Wat ‘n gemors, dit is ‘n ramp hierdie. Wat gaan ek nou doen?” skree hy baie benoud.

Die troue is oor drie ure, daar gaan nie tyd wees om weer bier te gaan koop nie, wat nog van sy vuil klere omruil vir skones. Hy gryp sy kop vas tussen sy hande, begin hardop te huil sonder trane. Intussen hardloop Wouter nog steeds agter die wyfie aan, mens sal sweer hy’t nog nooit ‘n wyfie donkie gesien nie, sover soos wat hy hardloop balk hy kliphard.

“Gee my krag Heretjie, dit moet ‘n nagmerrie wees dit wat ek nou sien gebeur is nie waar nie.”

Hy vee sy oë ‘n paar keer uit, maar sy sig bly dieselfde, en so ook die skokkende prentjie voor hom. Na ‘n uur kom Wouter tot stilstand, sy tong hang behoorlik op die grond so moeg is hy, Sampie, probeer die waentjie se wiel aansit, dit het losgegaan toe hy omgeslaan het. Wouter stink op ‘n afstand hy is sopnat van die salpeter, hy lyk skoon bekaf oor sy verlies, die wyfie het hom ‘n behoorlike gatskop gegee. Sampie se klere is vol stof, hy probeer dit afskud maar maak net ‘n groter gemors. Sy hare is deurmekaar, en het ‘n vuilkol oor sy wang. Hy besluit om maar te red wat daar te redde is, en hervat sy reis. Hy daag laat by die kerk op, Tant Cotie is ‘n stresbal, sy het al gedink hy het koue voete gekry.

“My genade Sampie. Was jy in ‘n oorlog? My liewe aardetjie tog, kyk hoe lyk jy en Wouter.”

“Dit is ‘n konsternasie op ‘n ander stasie gewees Cotie, die meneer het mos besluit om agter ‘n wyfie aan te hardloop, Die waentjie het omgeslaan, na ‘n gespook en spartel kon ek die wiel weer vassit.”

Die troue het egter voortgegaan, met tye het die gaste uitgebars van die lag want oom Sampie het vreeslik gelyk. Dominee het egter sy pous gehou om nie te lag nie. Ten minste weet Tant Cotie dat haar man een is wat sy woord hou, ten spyte van wat gebeur het, het hy nog steeds gekom. Oom Sampie is altyd ‘n bok vir sports, hy het homself behoorlik geniet met al die aandag, en sy vrou was nog altyd beeldskoon vir hom gewees. Na die inthaal het hulle gaan oorslaap by ‘n vriendin se gastehuis, dit is hulle trougeskenk van haar. Na ‘n lekker bad en skoon klere voel hy weer perdfris, en kan vir die eerste keer saamlag vir die donkie mannewales. Na ontbyt vertrek hulle terug plaas toe, hulle ry ‘n ander pad want Sampie is bang dat Wouter weer daai wyfie gaan gewaar. Het hulle maar geweet wat wag vir hulle…

Later die middag begin dit te reën, in die Quado-bergreeks, naby De Doorns. Die roete is naby oom Sampie se plaas, so paar kilometer verder met ‘n kronkelpad is ‘n afdraai na Hexrivier. Deur renosterveld en karoobossies, is dit ‘n baie moeilike pad om met ‘n donkiekar te ry. Die wind het erg gewaai, dit is ‘n rotsagtige, klipperige bergreeks. Oom Sampie se keel trek sommer toe want hy besef dat hulle skuiling sal moet soek, hy weet ook dat die aande baie koud word, en dat hulle kan verkluim. Hy probeer kalm bly en nie vir tannie Cotie opwerk nie, sy is ook reeds baie gespanne oor die sitausie.

“Sampie, jy moet versigtig wees die pad is glad, netnou tuimel ons hier in die afgrond af.”

Dit is erg onweer en die blitse weergalm deur die klowe, die volgende oomblik skrik Tant Cotie so groot sy skree kliphard. Langs die pad staan ‘n vrou met ‘n spierwit trourok aan, sy het lang blonde hare wat wild deur die wind verwaai is. Sy is sopnat gereën, en staan stoksiel alleen. Sy waai vir hulle en wys om te stop. Sampie stop langs haar, en kry ‘n yskoue rillings teen sy ruggraat af. Wouter begin onrustig rond te trap, en sy oë is so groot soos twee pierings. Sampie kan nie mooi hoor wat die vrou sê nie, sy mompel iets en dit klink baie onduidelik.

“Goeie dag dame, wat is fout kan ons help?”

“Ek, soek na ‘n motor waarin ek gery het, my man was ook daarin. Ons het hier om die draai gekom, toe verloor hy beheer oor die kar, en stort hier in die afgrond af. Dit is ons troudag vandag, en ons was oppad na sy huis toe.”

“Hartjie, kom klim in die wa jy gaan dodelik siek word om so in die reën te staan, kom ek gee vir jou ‘n kombers dan hang jy dit om jou.” praat tant Cotie met ‘n huiwerige stem.

Die onbekende vrou klim in die waentjie, en gaan sit lang tannie Cotie. Sy is baie mooi, maar spierwit en bleek soos ‘n spook. Na ‘n hele rukkie stop oom Sampie, hy klim uit die wa, die dame het gesê sy wil afklim sy hoor iemand roep na haar. Dit is egter nie moontlik om iemand te hoor in die swaar weer nie, die jong vrou loop ‘n ent op in die pad, en verdwyn soos mis voor die son. Oom Sampie skrik hom boeglam, hoe is dit moontlik sy het nou net daar geloop nou is sy net weg.

“Hallo, hallo!” roep hy onseker na haar.

Hy hardloop tot waar sy gestaan het. Daar is geen teken van die bruid nie, die volgende oomblik hoor hulle net ‘n geskree van ‘n vrou wat klink of sy vêr val. Hy besluit om terug te ry tot waar hulle haar gekry het, en sowaar daar staan die vrou weer. Weer help hulle haar tot in die wa, en ry dan verder. Alles gebeur weer soos tevore, sy klim af om die draai, en verdwyn toe sy wegstap. Tannie Cotie is eintlik met die helm gebôre, sy het vermoed dit is ‘n spook maar het stil gebly. Sy weet oom Sampie is erg bang vir spoke wat dwaal, die vrou het op haar troudag hier saam haar man verongeluk hulle is albei oorlede.

Oom Sampie het nie veel gepraat die res van die pad nie, hy was stom geslaan deur die gebeure. Hy kan nog steeds nie glo hy het ‘n spook gesien nie, sy was so duidelik, en spoke sweef mos gewoonlik in die lug, en het nie voete nie. Hy kyk kort- kort of dit tannie Cotie is wat langs hom sit, nou vertrou hy glad nie meer die vrede nie. Die arme vrou, dit moet seker hel wees om so rond te dwaal, en te bly soek na haar man. Dit is die eerste keer in sy lewe wat hy so iets gesien het, en hy hoop ook dit is die laaste keer sy hart sal dit nie hou nie. Toe hulle op die plaas aankom laat daardie middag, was hy en tant Cotie uitgeput, dit was ‘n onvergeetlike dag. Wouter, was baie onrustig, hy het geweier om in die stal in te gaan slaap oom Sampie moes hom op die stoep van hulle huis laat slaap. Later deur die middernagure staan Sampie op en gaan sit op die stoep om sy pyp te rook, hy kan nie slaap nie die spoke jaag hom rond. Hy is so ingedagte dat hy nie tant Cotie hoor praat langs hom nie. Sy sit haar hand om sy lyf, hy skrik so groot gooi sy pyp dat hy doer trek.

“Grote griet my vrou! Amper dog ek dis daai spookvrou wat haar arm om my sit.”

Hulle lag so lekker die trane loop, later voel albei sommer baie beter. Daai spook was ‘n groot ontnugtering vir hulle gewees, hy het al gehoor die mense praat van haar maar het niemand geglo nie. Wel sien is glo, het hy altyd gesê nooit geweet sy woorde gaan waar word nie.

“Kom my man, kom ons gaan slaap hierdie was nou genoeg aksie vir ‘n hele leeftyd se onthou.”

Nou is oom Sampie baie verlig hy wou ‘n disa-blom vir tant Cotie daar in die kloof by Matroosberg gaan pluk het, sênou net hy het daar afgeval. Om saam met daai spookbruid rond te dwaal laat hom sommer van vooraf koue rillings kry.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    27 Oktober 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 397
Kommentaar telling: 354

Waar die see en die horison ontmoet, sal die gedruis van die oseaan in die suis van die wind stil raak.. Dis hier waar my drome my woorde in die binnekant van my siel kom lӗ  

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 53 gaste aanlyn

Bydrae Totale