Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Dink Aan My

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 31 Maart 2020 Aantal woorde: 1105 173 Kere gelees 7

Bosse vorm ‘n ‘n kasteel binne ‘n kring menhirs. Die gekunstelde natuurskoon lok feë van alle klasse en nasies. Cian kan hoor hoe hulle giggel en speel in die gedenkteken vir die tandefeë en wonder of hulle nog onthou wat ‘n eeu tevore gebeur het. Hy maak sy oë toe en laat herhinneringe oor hom spoel.
#
#
Zee is nie gek oor haar uitrusting nie. Die lawwe donserigheid waarin alle tandefeë hul vlerke moet styl griewel haar grensloos. Maar geen fee kan kies wat hulle as gebore word nie. En tandefeë kan nie hul uitrustings kies nie: die tandefeëprinses hou van pastel en chiffon, so dit is wat hulle dra. Gmf! Zee trek haar romp reg.
Sy vlieg deur dimensies en eindig op hoog bo Londen. Dis jare sedert sy in ‘n stad gewerk het. Maar dis nou haar beurt om tussen die masse mense te beweeg. Sy mis klaar die platteland. Sy kyk af na al die flikkerende straatlampe wat aangesteek word, die rook wat uit skoorstene borrel – swart teen die pienk en pers skemer lug – en al die mense wat huis toe skarrel. Sy hou van hierdie tussen-in tyd van die dag. Dis ook die beste tyd om tussen dimensies te beweeg: tussen-in tye maak die mure tussen Ryke dun.
Zee fladder af na ‘n blok huise waar kindertjies hul tandjies onder hul kussings wegsteek. Sy hap na asem en val amper uit die lug uit. Haar longe brand. Haar keel voel of sy vlamme ingeasem het.
Yster!
Zee kyk verwoed rond. Yster rame om bome op die sypaadjies. Yster pale wat die straatlampe op hou. Yster bankies in die parke en op party sypaadjies. Yster rame vir vensters en deure. Yster… yster in die speelgoed.
Sy sak al hoe laer soos die yster haar toorkrag uitput en haar wese aanval. Sy reik uit en pluk aan ‘n onsigbare draad wat haar dadelik terug na Feërie vat.
Sy sak neer op haar kniëe.
“Wat bedoel jy hiermee, Zee?”
Sy lig haar kop op en sien dat sy haarself in die tandefeëprinses se raadsaal bevind.
“Mensewêreld. Yster. Gif.” Is al wat sy uitkry voordat sy haar bewussyn verloor.
#
“Ek is bly jy is nie dood nie.”
Zee knipper haar ooglede en fokus op die fee wat langs haar sit en haar hand vasklem in hare.
“Cee, jy gaan my hand dooddruk.”
Die tandefeëprinses laat dadelik haar hand gaan.
“Dood? Was dit só erg?”
Cee knik net. Zee sluk en druk haar suster se hand.
“Ander het gesneuwel. As jy nie die noodlyn gebruik het nie…”
Zee weet wat haar suster nie sê nie. “Hoeveel?”
“Té veel.” Cee sug. “’n Kwart van die wat gisteraand uitgegaan het, het nie terug gekom nie. die helfte van my onderdane is in intensiewe sorg. Ankou het laat weet dat hy nie kan wag om te sien hoe ek sy Ryk verder gaan uitbrei nie.”
Zee se kop ruk op. “Het hy self…?”
“Nee. Die Koning van die Dode het ‘n Banshee gestuur.”
“Wat nou?”
“Ons gaan voort soos altyd. Die tandmuise is immuun teen yster, so hulle gaan die stede behartig.”
“Daar is nie genoeg van hulle nie.”
“Nee.”
“Wat…? O.”
“Ek los jou in bevel. Ek en my elite sal gaan doen wat ons kan.”
“Die ander feë, kan hulle nie help nie?”
“Ek wag nog om terug te hoor van die Feetjie Honde, maar al die ander sê dis ‘n saak vir die tandefeë – en dalk die Feëkoningin.”
“En sy weier steeds om in te meng?”
Cee rol haar oë en Zee snork. Die twee susters lag oor die belaglikheid van Feë-politiek.
“Die boomnimfe het ekstra betowering opgestoor vir hul susters in die stede en het aangebied om ons te help beskerm teen die yster.”
“Wat wil hulle in ruil hê?”
“Net ons ondersteuning in hul petisie om boomnimfe uit die mensewêreld te red.”
Zee knik. Sy weet hoeveel boomnimfe al gesneuwel het aan die hand van gierige mense wat hul bome afgekap het.
“Wees versigtig.”
“Jy ook.”
Zee kyk haar suster agterna met ‘n hol gevoel op haar maag.
#
Zee bewe. Selfs haar vlerke vibreer. Woede. Hartseer.
“My suster is dood. Die tandefeëprinses is dood! Die helfte van die tandefeë is dood. ‘n Kwart van die tandmuise is dood. En al wat jy kan sê is ‘jammer vir jou verlies’?!”
Sy haal hortend asem. Die koue gesig van die Feëkoningin verander glad nie. Verskeie feë teenwoordig lyk ongeërg en ander vererg – oor haar uitbarsting, nie oor die dood van so baie feë nie.
“Dis tyd vir jou om te gaan. As die nuwe tandefeëprinses het jy beter dinge om te doen as om vir die koningin van álle feë te gil.”
Die Assassyn tree uit die skadu’s en loop op haar af. Sy kil blik skok haar. Sy maak ‘n vinnige kniebuiging vir die Feëkoningin en fladder weg.
Buite in die opelug, laat sy toe dat snikke deur haar skeur. Al die tandefeë en tandmuise gaan sneuwel en niemand gee om nie.
“Genoeg, prinses. Jou feë het jou nodig.”
Zee draai om. Die Assassyn staan onder die wilgerboom wat oor meeste bome in die omgewing toring.
“Wat wil jy hê?”
“Ek wil jou help.”
Zee kyk hom wantrouig aan. Sy weet dis onregverdig, maar ná alles wat gebeur het…
“Ek was in die mensewêreld. Ek weet wat die probleem is. En die oplossing.”
“Wil ek weet?”
“Hou jou feë uit die mensewêreld uit totdat dit veilig is – ek sal intussen die tande verwyder.”
“En die toorkrag om tande te laat groei?”
“Net ‘n tandefeë kan dit gebruik.”
“Dan moet ek saam met jou gaan.”
Die Assassyn knik.
Saam pop hulle van plek-na-plek en verwyder tande. Tyd beteken niks. Rondom hulle skuil die mensdom soos oorlog heers. Alle yster word nou net vir militêre doeleindes gebruik – vêr van kinders en waar Zee en haar tandefeë moet werk. Mettertyd gaan die Assassyn terug na sy koningin en ‘n verandering in feë-politiek bring met dit die gedenkteken wat feë herhinner dat as een swaarkry, almal swaarkry.
#
#
“Jy lyk so ernstig, Cian.”
Hy maak sy oë oop. Voor hom, geklee in ‘n swart lyfpak met verskeie sakkies en gereedskap aan haar vas, fladder ‘n tandefee.
“Is daar nie ‘n kind êrens wat ‘n tand gewissel het nie, Zee?”
“Natuurlik is daar!” Sy steek vir hom tong uit. “Die lewe gaan aan: al vat dit tyd.”
Hulle albei kyk na die gedenkteken wat alle feë – en mense wat weet – herinner dat daar altyd ‘n oplossing is solank daar hoop is.
##
1091 woorde




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    1 April 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2020 – Triomfboog projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 100
Kommentaar telling: 265

Bekroonde Donker Fantasie skrywer Ronel Janse van Vuuren skryf oor gatskop heldinne, die dualiteit van menswees en is mal daaroor om volkskunde te gebruik om haar punt oor te dra. Sy is ‘n Rottweiler tropleier, hoender wrangler en perdekneg. Al haar boeke is te koop van meeste aanlyn winkels. In 2016 EN 2018 was sy Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Sy kan gevolg word op Twitter @miladyronel en op haar webtuiste https://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 105 gaste aanlyn

Bydrae Totale