Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die wedloop van die lewe

Deur Christa du Plessis
Datum gepubliseer: 6 Oktober 2019 Aantal woorde: 893 65 Kere gelees 1

So tussen al die sokker- , krieket- tennis- en rugby wêreldbyeenkomste deur, vind daar toe darem ook die Diamantliga-Atletiekbyeenkoms in plaas. Wat ‘n fees! Atletiek bly maar een van my gunstelingsportsoorte om te kyk. Die veld-atlete se konsentrasie, die manier waarop hulle hulself en sommer ook die toeskouers emosioneel voorberei en opsweep vir deelname, asook hul foutlose tegniek is iets besonders om te sien. Dis net lenige lywe wat oor latte seil, veerkragtige, afgemete treë tot in die put, spiere wat bult, draaie, swaaie, stote en gooie. Op die baan is daar net so ‘n atletiekfees vir die oog. Gespierde naellopers sak afgemete, doelgerig, met gespanne spiere af in die blokke. Die skare word stil en ‘n opwindende gevoel van afwaging hang in die lug. Waar ek in die sitkamer na die TV-skerm sit en kyk, hou ek ook my asem in: Wie gaan die wenner wees? Wanneer die pistool klap, spring hulle soos pyle uit ‘n boog weg. Die berekende wegspring, met kop en skouers eers omlaag, dan hoër op, arms wat dryf, snelle voetval wat die aarde skeur, en die laaste vooroor knikker oor die wenstreep is ‘n kortstondige vertoon van krag wat nog bewondering afdwing lank nadat die wedloop al verby is. Die middel- en langafstandwedlope hou vir my ‘n besonderse bekoring in. Die atlete ken hulself, hul eie vermoëns en dié van hul teenstanders. Die wedloop word takties gehardloop. Hulle hardloop teen ‘n stywe pas, hou mekaar dop, bly naby aan mekaar en … wag. In die laaste rondte raak die die pas al hoe vinniger en die skare is op hulle voete. Wanneer ‘n mens begin dink dat dit nie meer vir hulle moontlik is om nog vinniger te hardloop nie, begin elkeen met sy eindpoging. Op al die atlete wat deelneem se gesigte is die vasberadenheid en doelgerigtheid sigbaar: Hulle kompeteer om die goue medalje te ontvang. Soms kom van die atlete wat verder agtertoe in die bondel gebly het, met ‘n vaart verby die teenstanders. Groot is die vreugde wanneer ‘n atleet se harde werk vrugte afwerp en hy of sy ‘n eerste plek inpalm.

Ek staan elke keer verwonderd oor die krag en die spoed van die atlete. Die styl en grasie waarmee die menslike liggaam kan beweeg, is vir my asemrowend mooi. En omdat ek self al Comrades gehardloop het en tans so af en aan ‘n wedloop deelneem, het ek ‘n effense idee van die ure en ure se voorbereiding wat hierdie atlete se wêreldklasvertonings voorafgaan. Ek, as leek, besef dat hierdie atlete hulself baie dinge ontsê en uiterste selfdissipline aan die dag moet lê om te kan gaan kompeteer vir die goud-, silwer- of bronsmedalje. Die ontvang van die medalje is die beloning vir ure, soms jare, se toegewyde, harde oefening, goeie eetgewoontes en ‘n gesonde leefstyl.

Dit herinner my aan wat Paulus in 1 Korintiërs 9:24 – 27 oor die onverganklike oorwinnaarskroon en doelgerigte lewe skryf.
As ‘n Christen moet ek myself net soos ‘n Olimpiese atleet inspan om die Ewige Lewe te behaal. Hoewel ek die saligheid op grond van my geloof deur die genade van God verkry het, moet ek moeite doen om in Sy voetspore te loop en om Sy wil te doen. Dit begin by daaglikse Bybelstudie en gebed. Voeg daarby inoefening van die vrug van die Gees, byvoorbeeld selfbeheersing wanneer ‘n persoon die padreëls verontagsaam, ondagsaam bestuur, in die baan stop om passassiers op of af te laai, dan begin die inspanning ‘n realiteit raak! Elke keer wanneer ons ‘n klein oorwinninkie oor ‘n moeilike situasie behaal, is ons geestelik fikser en word ons meer gelyk aan Sy beeld. Pualus sê immers ook vir Timoteus (in 2 Tim. 2:5): “’n Atleet wat aan ‘n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding.” Wat ‘n wonderlike, praktiese beeld! Dit herinner ‘n mens om elke dag te oefen, sodat jy gereed kan wees vir die stryd.

Boonop laat ‘n gedig soos Ernst van Heerden se Die hardloper ‘n mens weer besef dat jy elke dag gereed moet wees vir die Ewigheid. Daar is immers ‘n “vreemde spanmaat” wat eendag gaan wen. Gelukkig is daardie dag ook nie net die einde van die aardse wedloop nie, maar die begin van ‘n hemelse reis.

Die Hardloper

Met wilde maar met suiwer hart
het hy die woeste wedren fel begin,
en elke myl met rappe voet getart,
hy sou die vlugste lopers nog oorwin.

Sy hart het hoog geklop, sy bloed was heet,
die winde het sy haregolf gelig;
met snelle draf het hy die baan gemeet,
die vreug van spierkrag was op sy gesig.

Hy het geloop met stormdrang in sy bloed,
sy ademstoot ‘n hete windgejaag,
die see se branding in sy strenge moed,
toe hoor hy reeds die donker, bitter vraag:

Wie is die ongesiene maker in die loop,
van wie die voet langs syne en die wind
van asem agter hom, van wie die hoop
dat nog ‘n bors die dun wit lint mag vind?

Dié vreemde spanmaat het hy nie geken,
nooit hardloop hy weer sonder pyn of vrees;
hy weet al het hy nou die loop gewen,
die ander man sal eendag eerste wees.

Ernst van Heerden

En hoe lekker om te weet: daar’s ‘n skaar verlostes wat wag om die baan dat ons almal die wenstreep sal haal!




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 12
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 104 gaste aanlyn

Bydrae Totale