Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die vreemdeling in my bed deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 9 Maart 2020 Aantal woorde: 2495 159 Kere gelees 1

“Jy lyk moeg vandag, Mart.”
“Ek is moeg. Slaap maar min deesdae.”
“Hoe so?” Belinda kyk aandagtig na haar vriendin. Hulle het ’n jaar gelede ontmoet tydens ’n konferensie in Sandton en het goeie vriende geword. Maar iets pla haar.
“Slaaploosheid. Te veel op die gedagtes. Jy weet, die gewone verskonings.” Haar antwoorde kom outomaties en geoefend en Belinda voel nie oortuig nie. Daar is meer tot dié storie.
“Slaaploosheid is nie goed nie. Eet jy darem gesond en kry jy genoeg oefening?”
“Jy weet mos. Ek is fanaties oor oefening, maar ek dink eerder ek het ander oefening nodig.” Mart giggel verleë en kyk dan weg. Die restaurant is besig. Mense skarrel om hul rond en sommige lag kliphard, wat die atmosfeer gesellig maak.
“Ander oefening?” Belinda kyk haar onseker aan. “Wat bedoel jy met ander oefening?” Dan bloos syself wanneer die besef tot haar deurkom. Dit is nou nie ’n onderwerp wat openlik bespreek word nie, maar sy dink tog aan haar eie ‘oefeninge’ … of liewer die te kort daaraan.
Mart giggel ondeund, maar bly op ’n ernstige noot: “Ek kyk deesdae in ’n rug vas en elke aand is dit dieselfde storie. Hy klim in die bed, gee my ’n skuinsweg ‘nag’ en slaap dan asof daar niks tussen ons is nie. Hy voel soos ’n vreemdeling in my bed. Waar is die man met wie ek getroud is?” Mart se stemtoon het ietwat verlaag so asof sy die grootste geheim kwyt raak.
Belinda sug innerlik. Sy vra haarself daardie selfde vraag af. In die begin kon sy en Anton nagte om gesels en agterna passievol in mekaar se arms aan die slaap raak. Nou is dit asof sy nie bestaan nie en hulle is maar net twee jaar getroud. Hoe lank sal sý dit kan hanteer?
“Ek verstaan wat jy bedoel,” antwoord Belinda uiteindelik. “Romanse is lankal uit. Hy is altyd moeg. Soms wonder ek of hy my nog lief het.” Belinda vat ’n hap van die soet tert en sluk dit dan met koffie af.
“Ek en Neels is nou twee jaar saam,” voeg Mart by. “Ek weet ek moenie vergelyk nie, maar in my eerste huwelik was daar ’n openlikheid tussen ons … ons kon gesels. Ek het die meeste van die tyd geweet wat in my oorlede man se kop aangegaan. Daar was ’n wedersydse geluksaligheid wat ek nie met Neels het nie. Soms wonder ek of ek nie ’n fout gemaak het nie.”
“Wat sê jy nou eintlik?” Belinda kyk Mart ondersoekend aan.
“’n Tweede huwelik is nie maklik nie. Te veel ‘baggage’ wat saam kom en Neels is nie van die maklikste mans nie. Van my kant af is daardie konneksie ook afwesig en soek ek geen toenadering by hom nie. Ek voel die meeste van die tyd afgestomp as dit kom by ons verhouding en ek verloor myself in my werk.” Sy bedank die kelner vir haar bestelling en skuif die eetgerei rond voor sy voortgaan. “Ek soek meer. Ek soek daardie verhouding wat twee mense deel. Neels voel werklik soos ’n vreemdeling vir my. Ek weet nie wat in sy kop aangaan nie en indien ek vra, veroorsaak dit ’n onenigheid waar al my foute dan vir my uitgewys word. Die onderwerp ter sprake word dan vermy en hy stap die vertrek uit sonder om my te antwoord. ’n Mens sou dink dat ’n vrou wat twintig jaar se huweliksondervinding het dit sal verstaan, maar ek weet nie. Dit lyk my ek mis iets, wat dink jy doen ek verkeerd?” Mart kyk vraend na Belinda en vat ’n hap van haar Cobb-slaai. Belinda vermy hierdie keer haar vriendin se oë en vat nog ’n happie. Sy weet sommer sy gaan agterna jammer voel oor die soet toegewing, maar sy was lus vir suiker. Die gesprek help ook nie.
“Ek het nie raad nie, Mart. As jy nie weet nie, hoe gaan ek kan help?” Sy grinnik verleë. “Buitendien het ek gehoop om by jou te leer.” Beide vrouens lag saggies en eet in stilte verder.
“Nog koffie vir jou?” vra Belinda vir Mart toe sy haar vurk neersit.
“Hoekom nie, dit sal heerlik wees,” Mart leun tevrede terug teen die bank.
“Ek wens net soms ek kan met hom praat. Jy weet, net praat sonder om myself te verdedig oor die hoekoms, sonder verduidelikings. Ek dink nie ek is so moeilik om te verstaan nie.” Twee koppies koffie verskyn voor hulle en albei bedank die kelner voor hulle voortgaan met die gesprek.
“Ek dink mans is net anders bedraad as ons. Hulle vind uiting op fisiese maniere waar ons op emosionele vlak wil kommunikeer. My man doen dieselfde. Ons praat bitter min. Aan die etenstafel en in die bed het ons geen belang om mekaar te leer ken nie.” Belinda roer die koffie, nie seker of sy suiker ingegooi het nie en reik na die suikerpot.
“Hoe mense dit doen vir dertig- of veertig jaar gaan my verstand te bowe,” voeg Belinda by terwyl sy steeds haar koffie roer en dan ’n behaaglike slukkie vat.
“Daar was gewoonlik baie om oor te gesels,” laat Mart hoor, “kinders, skool aktiwiteite, werk asook die huis. En als wat daarmee gepaard gaan was gewoonlik goeie aanknopingspunte, maar nou is daar nie meer sulke dinge nie. Die huis is klaar betaal, ons kinders het nou hul eie huishoudings en Neels werk nie. Die ouderdomsverskil speel ook ‘n rol. Oefening is uit want hy is altyd moeg. In elk geval is dié oefeninge,” en Mart rol haar oë vermakerig. Belinda kan nie help om skalks te lag nie, “ … maar saai en verbeeldingloos. Wanneer hy bevredig is, dan is dit klaar en ek wonder nou wanneer gaan ek ’n bietjie sweet opbou.” Albei giggel weer.
“Ja nee, dit is ’n probleem. Ek wens net ek kan verby die muur kom wat Anton gebou het. Hy is afsydig en kom altyd later bed toe lank nadat ek al slaap. Ek wonder soms of hy my nog aantreklik vind? Of daar iemand anders is?” uiter Belinda haar vrese hardop en ontmoet haar vriendin se priemende oë voor sy haar wimpers laat sak.
“Jy is ’n mooi vrou, Belinda. Anton is blind as hy dit nie kan raak sien nie.” Mart sit ’n gerustellende hand op haar vriendin s’n en Belinda sluk ’n knop weg. Die laaste ding wat sy nou wil doen is om aan die tjank te gaan in die koffiewinkel.
“Ek dink darem nie Anton verkul jou nie. Wel, ek hoop nie so nie.” Mart raak stil en die twee vroue kyk mekaar deurdringend aan.
“Ek moet gaan, ek sal die rekening sommer op pad uit kry.” Mart staan eerste op, neem haar handsak en swaai dit oor haar skouer. Die twee vriendinne gee mekaar ’n druk, “Dieselfde tyd volgende week?” Mart kyk haar vraend aan en Belinda stem in. “Beslis. Hierdie kuiers doen wondere vir my.”
“Vir my ook. Sien dan weer, totsiens.”
Belinda hou Mart dop terwyl sy by die kassier die rekening vereffen. Wanneer sy uitstap staar Belinda vir lank na haar afgekoelde koffie, nie seker hoekom sy skielik so ongemaklik voel nie.

By die huis gekom stop Anton net agter haar motor en hulle stap saam na die ingang van die huis.
“Hoe was die koffie afspraak?” vra hy terwyl hy die voordeur oopsluit.
“Heel aangenaam.”
“Julle vrouens klets mos vreeslik. Ek wonder soms waaroor praat julle.”
“Oor als,” kom Belinda se antwoord saggies en sit haar handsak op die eetkamer tafel neer.
“Is als reg?” vra hy so terloops by die inloop na die kombuis en sit die ketel aan. Belinda gaan sit op die naaste eetkamerstoel en hou haar man dop terwyl hy besig is om koffie vir hulle te maak. Toe hy by haar aansluit en haar beker voor haar neersit kyk sy hom ernstig aan.
“Hoe gaan dit met ons?”
“Nou watse vraag is dit?” Verergd stoot hy sy stoel eenkant toe en draai skuinsweg na die TV. Onmiddellik vul die nuus se deuntjie die vertrek en Belinda weet dit is die einde van die gesprek.
“Wat wil jy eet?”
“Ek is nie honger nie,” mompel Anton en stap dan na sy gunsteling gemakstoel, sy oë vasgenael op die skerm.
Belinda vat haar beker koffie en stap die gang af, reguit na hul kamer. Sy weet nie hoekom nie, maar hy is meer afgetrokke as gewoonlik, amper stug en vermydend. Ingedagte gaan sy deur die aand se rituele en bevind haar in die bed teen agtuur. Die televisie se klanke golf na haar toe en sy weet dit is net nog ’n aand van ’n leë bed sonder die liggaamshitte van haar man.
Sy moes byna aan die slaap geraak het toe sy bewus word van Anton langs haar. Haar bedliggie word ook aangeskakel en sy intense kykers kyk na haar asof hy haar nog nie vanaand gesien het nie.
“Slaap jy?” Sy warm asem waai oor haar en hul oë ontmoet.
“Ek het al ingesluimer, wat is dit?” Sy probeer regop kom maar hy keer haar.
“Ek wou maar net sê ek is lief vir jou.”
“O, okay, dankie.”
“Jy is die enigste vrou vir my.” Anton leun vorentoe en soen haar saggies. Dit verander in ’n soeke en kort voor lank lê Belinda uitasem in haar slapende man se arms.

“Neels maak my gedaan,” begin Mart met die intrapslag.
“Hoe so?” Belinda plaas haar pakkies onder haar stoel in en soek rond vir die kelner.
“Ons het vanmôre weer ’n woordewisseling gehad. Dit voel soms ek praat met ’n kind van tien. Daar is geld weg uit ons rekening en toe ek daarna vra, word ek beskuldig dat ek hom nie vertrou nie. En, om die kersie op die koek te sit, word ek vertel dat ek hom in ’n hoek vaskeer.” Sy sug en lees die spyskaart, vou dit toe en sit vorentoe en fluister: “Steek hy iets weg?”
Belinda hou haar vriendin aandagtig dop. Die moeë lyne om die mond vertel sy eie storie. Sy skud haar kop en bestel dan haar ete by die kelner wat flink wegstap die oomblik wat hul albei klaar bestel het.
“Ek weet eerlikwaar nie,” antwoord sy oplaas. “Mans is vreemde verskynsels. Die een oomblik word jy vermy, dan word daar passievol liefde gemaak. Soms voel dit of net Anton se lyf betrokke is, ander kere is hy ten volle teenwoordig.”
“Neels is nooit teenwoordig nie. Maar langs die vuur, goed gekletter, is hy vol lof vir sy eie vermoëns. Die ander vrouens dink ek is vreeslik bevoorreg, maar back at the ranch kyk ek weer in die kaal rug vas. Dan is die braai-casanova weg. Ek is moeg, Belinda. Ek weet nie hoe lank ek dit nog kan volhou nie. Ek kan die min seks hanteer, maar dan moet hy ten minste met my praat. Ek verwag eerlikheid. Dit is mos nie te veel gevra nie.” Mart roer haar koffie en kyk oral rond behalwe na Belinda. “Hy is goed vir my kinders en ek waardeer dit, maar is dit al waaroor ’n verhouding gaan?”
Hulle drink hul koffie in stilte en maak dan plek toe hul kos arriveer. Mart se pastagereg lyk hemels. Belinda kyk na haar slaai. In teenstelling lyk dit maar vaal en afgewater. Sy trek die slaaisous nader en gooi dit mildelik daaroor, opgevolg met swart peper.
“Elke verhouding is besonders, ek verstaan dit. Maar die basiese riglyne werk vir ons almal. Wedersydse respek, liefde en gemeensaamheid is die boublokke. Die sement is die tyd wat ons deel. Dié word gemeng met vertroue en sorg. As een van die bestandele nie funksioneer nie, is die verhouding gedoem.” Mart kyk aandagtig na haar. “Dit is wat ek verwag tussen my en Neels, maar ek vertrou hom nie. Ek het eintlik niks in gemeen met hom nie. Ons bly mekaar mis op elke gebied denkbaar.” Sy vat ’n sluk van haar water. Haar slanke vingers omsirkel die glas met wit kneukels.
“Ek hou van jou verduideliking. Ek en Anton het dit, as ek eerlik moet wees. Hoekom ek ontevrede is weet ek nie. Ons het eintlik ’n wonderlike verhouding.” Belinda vat ’n skep van die blaarslaai en eet dit langtand. Spyt oor haar keuse skuif sy die bord halfpad eenkant en roep die kelner.
“Enige verhouding is ingewikkeld,” beaam Mart. “Die enigste manier om dit te oorkom is om te praat, soos wat ek en jy nou doen. Hoekom kan ek nie met Neels op so ’n manier praat nie?”
“My ma het altyd gesê dat ’n verhouding uit twee dele bestaan … gee en neem. Die regte hoeveelheid van elkeen moet teenwoordig wees. Maar mans dink dat as hulle vir jou goed sorg hul werk gedoen is. Het hulle nie ’n behoefte om te gesels nie? Het hulle nie vrae nie?” Belinda se muffin word voor haar neergeplaas en onmiddelik smeer sy dit mildadig met die botter.
“My skoonpa het dit ook genoem toe ek nog sterre in my oë gehad het en gedink het die wêreld bestaan uit marshmallows en konfettie. Nou voel ek anders daaroor. Ek gee en gee en gee.” Verergd druk sy die bord eenkant toe, haar kos net rondgekrap.
Belinda kom maar min by Mart se huis en het Neels net eenmaal ontmoet. Hy is ’n gawe man wat lekker gesels. Is die probleem nie dalk by Mart nie?
Belinda hap van die lekkerny en eet rustig voor sy weer praat. “Hoe voel jy werklik oor jou lewe?”
“Ek …” Mart wink die kelner nader en vra vir die wynlys. Dié word dadelik aan haar gegee. Sy lees die inhoud met ’n kennersoog en bestel ’n glas rooiwyn.
“Ek voel vasgevang,” kom haar antwoord uiteindelik, “en ek het nie meer lus vir die verhouding nie. Ek wil op my eie wees, my eie besluite neem.”
“Hoekom is jy dan met Neels getroud?” Weer vermy sy Belinda se oë: “Ek was eensaam. Ek wou my lewe deel met iemand.”
“Maar nou is dit nie wat jy gedink het dit sou wees nie, né?”
“Nee, dit is nie.” Mart raak stil en glimlag skalks, “Ek klink ondankbaar.” Belinda antwoord nie, maar eet verder. Toe haar bord leeg is vat die kelner dit weg en sy bestel ’n glasie wyn. Rosé is haar gunsteling.
“Ek dink ons vrouens is nie altyd seker wat ons wil hê nie. Ons maak besluite op die ingewing van die oomblik net om dit later te berou. Maar dit is hoe die lewe is. Boublokke wat rond skuif totdat dit veilig in hul semetnessie is. Gee dit kans. Miskien moet jy net rustig raak met jouself.”
“Nou klink jy soos my lewensgids,” lag Mart verleë en Belinda glimlag.
Dit is nie altyd ouderdom wat wysheid bring nie, maar eerder die persoon wat meer in voeling is met haarself wat die insig het, besef Belinda en klink haar glasie teen Mart sin.
©Kopiereg Lynelle Clark 2020
Photo by Min An from Pexels




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 71
Kommentaar telling: 14

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 33 gaste aanlyn

Bydrae Totale