Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die verlore kuns van aanraking.

Deur Ano
Datum gepubliseer: 20 Februarie 2020 Aantal woorde: 1716 36 Kere gelees 1

Die verlore kuns van aanraking

Ons giggel half benoud, half in skuldige herkenning wanneer ʼn vriendin die opmerking maak dat sy nou en dan die dokter besoek “sodat iemand aan haar kan vat”. Vel-honger – uitgehonger vir aanraking en sy is bereid om die dokter met ʼn halwe verskoning te besoek net om daardie behoefte vir ʼn wyle te stil. Daarby is dit waarskynlik ook een van die weinige plekke waar sy voel haar behoeftes word op ʼn manier ‘gehoor’ en haar besoek word nie bevraagteken nie. Dit is egter heelwat moeiliker om te vra dat ʼn ander persoon asseblief aan jou sal vat. “Hey vriendin, kan ek asseblief vir ʼn halfuur in die holte van jou arm sit?” Nie vir ʼn enkele oomblik kan ek my verbeel dat so ʼn versoek sonder ʼn mate van oordeel aangehoor sal word nie.

Jare gelede het ʼn gemeente aan die Oos-Rand die gebruik gehad om tydens die slotgebed ʼn arm om die persoon naaste aan jou se middellyf te slaan. Vir sommige was dit werklikwaar die enigste menslike aanraking wat hul vir ʼn hele week gekry het. Oor die algemeen was dit ʼn gebruik wat teerheid en liefde uitgebeeld het, maar hier en daar was daar iemand wat ongelukkig die geleentheid vir misbruik raakgesien het en dalk net ietwat té entoesiasties daaraan deelgeneem het. Aanraking hoef dus nie seksueel van aard te wees om ʼn impak te hê nie – inteendeel, aanraking sonder bybedoeling skep vertroue en stel die broodnodige endorfiene vry om goeie gesondheid en lewenskwaliteit aan te moedig.

Depressie word verwys as die siekte van ons tyd, wat heel waarskynlik ʼn element van waarheid bevat. Dit is dalk tyd dat ons onsself moet begin vra of aanraking nie dalk ʼn meer natuurlike manier is om depressie te verlig eerder as om jouself daagliks (en lewenslank) met chemiese middels te verdoof nie. Is die gebrek aan aanraking nie dalk die siekte van ons tyd en depressie net die simptoom daarvan nie? Die oneindige lys beskikbare medikasie net nog ʼn pleister wat nie vir almal ewe effektief werk nie.

Die feit dat ons weet ons raak nie sommer aan mekaar nie maak dit nie makliker om te ignoreer nie en daar kan verskeie redes wees waarom mense sku is om aan mekaar te vat. Die eerste is waarskynlik omdat ons nie die terapeutiese waarde daarvan verstaan nie. Tweedens raak die samelewing gou ongemaklik met openbare vertoon van teerheid. Derdens word wenkbroue taamlik gou gelig wanneer dit twee mense van dieselfde geslag mekaar omhels. Aanraking tussen twee vriendinne word makliker oorgesien as ʼn vriendskaplike groet, maar wanneer twee mans mekaar sou omhels word die etiket van homoseksualiteit hopeloos te maklik daaraan gehang. Ons kyk net ʼn fraksie te lank wanneer twee mans mekaar meer as net ʼn handdruk sou gee of wanneer daardie handdruk straks te lank in die oë van die aanskouer aanhou… Dit hang egter van nasie tot nasie af want die Franse, Spanjaarde en Portugese is baie meer openlik in hul aanraking as bv. die Engelse.

Selfs in ons moderne eeu word jong ma’s steeds voorgesê om die baba tussen streng vier-uurlikse voedings te laat (uit)huil sodat hulle nie ‘bederf’ word met gedurige optel en liefkosings nie. Pa’s raak ongemaklik en hou dikwels op om hul dogters aan te raak sodra die jong dametjie borsies begin ontwikkel. Aanraking tussen platoniese vriende van verskillende geslagte word bevraagteken en ʼn ondertoon van seksualiteit word byna outomaties daarin gelees. Bejaardes sit eensaam weggesteek, dikwels jare reeds sonder dat ʼn enkele ander persoon behalwe die dokter of versorger aan hul sal vat. Om dit nog moeiliker te maak is daar ook die neiging om minder (of glad nie) aan minder-aantreklike persone, gestremdes en bejaardes te raak. Kyk net hoe maklik koer ons oor ʼn baba en kan letterlik nie ons hande van die kleintjies afhou nie, maar ʼn bejaarde met dieselfde behoeftes kry nie ʼn fraksie van daardie aandag nie. Bewustelik of nie, mense is onbewustelik geneig om te gril vir die sagte plooierige vel van ʼn bejaarde.

Gedurende die 13e eeu was ʼn eksperiment gedoen deur babas onmiddellik van hul moeders weg te neem en vir haar te vertel dat die baba by geboorte gesterf het. Die ‘versorgers’ was ook aangesê om nooit met die kind te praat nie en nooit aan hom te raak behalwe vir voeding of ander liggaamlike versorging nie. Hierdie eksperiment was gedoen om te sien of ʼn kind gesproke taal sou aanleer indien daar nooit met hom gepraat word nie. Die resultaat was dat nie ʼn enkele baba verby sy eerste verjaardag oorleef het nie. Aanraking is so belangrik soos kos en water en kinders wat nie aangeraak word nie groei nie en kan selfs verstandelik gestremd raak.

In Duitsland, etlike jare voor die uitbraak van die Eerste Wêreldoorlog, het Fritz Talbot die gedrag van kinders bestudeer en het hy vir Anna in ʼn kinderhuis ontdek. Anna was al taamlik oud, ʼn onaantreklike, oorgewig dame wat kwalik meer kon doen as om rond te skuifel. Maar Anna was selde sonder ʼn baba in haar arms of iewers op haar lyf vasgebind. So het sy deur die gange van die kinderhuis geskuifel, altyd met ʼn baba iewers aan haar moederlike lyf. Hierdie eenvoudige en oeroue instink het letterlik vele kinders se lewens gered en so ook hul kans op oorlewing vergroot. Dus, ʼn baba wat gedurigdeur gekoester en liefdevol aangeraak word se kanse op oorlewing is aansienlik hoër as die een wat slegs gedurende voedingstye opgetel en versorg word. Die kind se immuniteit en algehele lewenskwaliteit is ook beter en kan selfs sy IK verhoog.

Die natuurlike geboorteproses is nie net die natuur se pynlike manier om ʼn baba die lewe in te bring nie, maar vorm ʼn baie belangrike vorm van aanraking tussen moeder en kind. Terwyl die baba baie moeilik deur die oënskynlik ‘te klein’ vaginale opening beur, kry hy egter die eerste broodnodige stimulasie en massering vir verdere ontwikkeling. Babas wat d.m.v. ʼn keisersnee in die lewe gebring word, mis ongelukkig uit op daardie eerste natuurlike vorm van aanraking en oor die algemeen bly daar ʼn onbewustelike leemte in die kind se lewe agter wat soms eers tydens volwassenheid ontdek en aangespreek word. Ongelukkig is dit die moderne mens se neiging om die maklike en vinnige pad te neem, onbewus van die langtermyn implikasies daarvan.

Dr. Benjamin Spock se boek “Baby and Child Care”, gepubliseer in 1946, was werklikwaar ʼn revolusionêre sienswyse wat heelwat ouers tot vandag toe onbewustelik navolg. Daarin het hy gesê, “Hou jou kind vas. Vertel haar sy is spesiaal, geliefd en uniek. Voed hom wanneer hy honger is. Dissiplineer met woorde, nie met lyfstraf nie.” Maar in 1946 was hierdie alles nuwe en uitheemse idees. Ouers was dekades lank ontmoedig om (te veel) liefdevolle aanraking aan hul kinders te gee omdat dit van die kind ʼn ‘swakkeling’ sou maak. Voeding en slaaptye was rigied beheer, ongeag die baba se ooglopende behoeftes. Dr. Spock het hierdie uitgediende idees uitgedaag en die ouers versoek om hul kinders soveel moontlik aan te raak sowel as om hul eie instink te volg, veel eerder as die ou uitgediende sienswyses van die samelewing. Dit neem egter meer as net ʼn paar dekades voordat daar ʼn revolusionêre omwenteling onder die kollektiewe samelewing ontstaan. Maar elke geslag wat leer om hul natuurlike instink te volg, is alreeds besig om die samelewing bietjie-vir-bietjie te laat heel word.

Vir sommige is aanraking byna instinktief, en mense wat daarvan hou dat daar aan hul geraak word, raak ook baie makliker aan ander sonder om eers daaroor na te dink. Hulle is openlik en baie vrygewig met hul vertoon van liefde. Vir ander mag dit egter ʼn baie moeilike proses wees om volkome gemaklik met aanraking te wees. Hul skram weg van fisieke toenadering en gee dit ook nie maklik nie. Maar is alles dan verlore vir ons vel-honger samelewing?

Aanraking (sonder die bedoeling van seksuele toenadering) is ʼn kuns wat elke persoon kan bemeester – eintlik behoort te bemeester, want dit het nie net ʼn helende invloed op beide die persone se liggame nie, maar ook op hul emosionele en geestesgesondheid. Ons leef in ʼn tydperk van “Healing the mind, body and spirit” en die gebruik van medikasie alleen skiet by verre te kort en is eintlik meer ʼn pleister vir ʼn te groot wond as werklike hulp. Aanraking is dus ʼn gebaar wat uit onvoorwaardelike liefde spruit en nie ʼn gepaste geleentheid nodig het nie. Hierdie liefdevolle gebaar kan selfs verder geneem word deur ʼn beroep te volg waar daar doelbewus aan ander geraak word soos fisioterapie, chiropraktisyn, arbeidsterapeut, medici en skoonheidskundige.

Die teenwoordigheid van ʼn troeteldier is ʼn uitstekende voorbeeld hoe aanraking iemand se gesondheid positief beïnvloed en juis die mense wat die grootste voordeel hierin kan trek soos die bejaardes in ouetehuise/aftree oorde of mense wat in komplekse woon, word grootliks verhinder om troeteldiere aan te hou. Troeteldiere help om stres te verminder, help om stywe spiere te ontspan, verlaag hartklop en te hoë bloeddruk, en help ons selfs om te kommunikeer. Ons is baie meer gewillig om ʼn hond of kat te streel as om aan ʼn ander mens te vat, moontlik ook omdat die troeteldier sy porsie aandag sal eis wanneer húlle ʼn behoefte daaraan het. Die spin van ʼn kat terwyl hy met sy kop teen jou druk en vryf is vir beide ʼn genotvolle ervaring (as jy van katte hou natuurlik).

Siek mense herstel vinniger wanneer vriende en familie aan hul raak en kan selfs ʼn terminale siekte in remissie laat gaan. Pyn word drasties en natuurlik deur sagte aanraking verminder. Mense wat in ʼn koma verval het, het selfs meer aandag en aanraking nodig en diegene wat uit hul koma wakker geword het, getuig dikwels dat hulle hiervan bewus was.

Eksperimente met rotte en hase het bewys dat diegene wat deur hul eienaar gekoester en aangeraak word, het beter gegroei, het langer geleef en was selfs meer intelligent. Hoeveel slimmer en gelukkiger sal ons kinders nie wees as ons dikwels in liefde aan hul raak en nie net om straf uit te deel nie! Hou hulle vas terwyl hulle dit nog verdra en voordat die tiener hormone en die uittoets van hul eie onafhanklikheid die oorhand kry. Hou iemand se hand vas, gee ʼn drukkie, vat saggies aan iemand se elmboog om sy aandag te trek of vou selfs tydens ʼn handdruk die ander se hand met jou tweede hand toe.

Wanneer ons iets weggee, word dit tienvoudig terugbesorg. Aanraking is dus nie net vir die ontvanger voordelig nie, maar ook vir die gewer.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 53
Kommentaar telling: 94

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 63 gaste aanlyn

Bydrae Totale