Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die tekkies draf in

Deur Christa du Plessis
Datum gepubliseer: 25 September 2019 Aantal woorde: 407 69 Kere gelees 1

Die tekkies draf in

Goeiedag van die “new kid on the blog”! Ek beplan om so af en toe hier in te hardloop en gedagtes oor die wedloop van die lewe met jou te deel. Skryf is mos terapie vir die siel, ‘n manier om aan gedagtes te herkou en met mense in aanraking te kom.
Jy kon seker al raai: ek is ‘n drawwer. En ek dink nie daar is gemakliker skoene as tekkies nie. Boonop kry ‘n mens tekkies vir elke sportsoort en geleentheid. Daar is selfs dié met “bling” op wat ‘n mens kan gebruik om ‘n netjiese denim of langbroek van gewoon tot sprankelend mee op te kikker.
Dit maak nie saak op watter lewenspad jy jou bevind nie, daar sal altyd ‘n paar tekkies wees wat jy kan aantrek om daardie pad te stap, te draf, te huppel of te hardloop. Dis wat ek graag hier wil doen: om tekkies vir elke geleentheid op die lewenspad aan te trek en met jou as mede-atleet op die lewensreis oor alles-en-nog-wat te gesels. Gedeelde vreugde is immers dubbel die vreugde en gedeelde leed is halwe leed. En die insette van vele vriende en vreemdelinge bied interessante sienswyses.
Tussen die beginstreep en die eindstreep is daar ‘n felle wedloop. Hoe ons dit benader en die taktiek wat ons gebruik, bepaal hoe suksesvol ons dit gaan voltooi. Op die ouderdom waar ek nou is, is ek seker al by die halfpadmerk. Daar is heelwat om na terug te kyk, om oor te lag en oor te huil. Daar is ook ‘n toekoms om oor te wonder en te spekuleer.
Elke tree reeds afgelê, is verby. Soms het ek die stryd gewen en soms het ek dit verloor. Ek streef egter daarna om te doen wat Paulus oor homself gesê het: “Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe god my geroep het in Christus Jesus.” (Filippense 3:13 – 14)
Hierdie gesindheid, sê Paulus, moet by alle geestelik-volwasse Christene teenwoordig wees. Voordat ek en jy vandag ‘n tree gee, moet ons eers vir God vra of dit die regte pad is wat ons betree. Sy woord moet ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet wees – sodoende sal ons die onverganklike kroon ontvang.

Groete
Die drawwer




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 12
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 123 gaste aanlyn

Bydrae Totale