Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die storm aan die einde (Brons)

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 13 November 2019 Aantal woorde: 1039 73 Kere gelees 3

(1032 woorde)

Die stilte in die motor is tasbaar. ‘n Ongemak wat almal ken, maar waarvoor daar nie ‘n woord bestaan nie. Buite word die nag soos dag toe nog ‘n weerligstraal die wêreld vir ‘n oomblik verlig. Sascha staar die donkerte in. Die broeiende storm buite weerspieël haar gemoed en emosies. ‘n Cliché, ja, maar dit is wat dit is. Dit het gevoel of die emosies in die kamers van haar hart rondhardloop en teen die kante stamp. Onstuimig. Soos ‘n vasgekeerde dier wat wou uitkom.
Sy loer vlugtig na Joshua. Sy oë was star vorentoe gerig terwyl hy hard konsentreer om die motor van kronkel na kronkel te stuur in die nagdonkerte. Sascha sug geluidloos. Joshua het die mooiste oë gehad wat sy nog ooit gesien het. Sy onthou die tyd wat hy vir haar gekyk het met daai oë en woordeloos kon maak dat haar hart vinniger klop. Cliché. Nou… Nou? Dis nie dat hy iets verkeerd gedoen het nie. Dis net… Sy weet nie. Sy het net nie meer dieselfde gevoel oor hom nie. Dit was tyd om aan te beweeg. Maar hoe kon sy dit aan hom verduidelik? Hoe sê jy vir ‘n dierbare, onskuldige mens dat jy klaar is met hom na 3 jaar se saamwees? Dat jy nie meer lief is vir hom nie?

Die eerste reëndruppels val lomp op die voorruit.

**

Jak sit die ruitveërs aan toe die eerste groot druppels op die stowwerige voorruit val. Hy beur vorentoe om verby die vuil veemerke te probeer sien waar die donker pad hom lei. Die vuilbruin trok was eens op ‘n tyd wit, maar met waterbeperkings saam het die trok maande laas seep en water gesien. Jak glimlag tevrede. Die eerste reën van die seisoen! Die lente is so te sê iets van die verlede, en daar was nog nie ‘n dooie druppel op die dors aarde nie. Geen groen lote, helder veldblomme of bome wat bloei nie. Die dorheid gaan hierdie water in oorgawe waardeer!

Buite het die hemele oopgegaan. Jak sit die ruitveërs op die hoogste spoed en sit die misligte aan met die hoop dat dit die sigbaarheid bietjie gaan verbeter.

**

Joshua vee die wasem met sy mou af, maar dit maak geen verskil aan die sigbaarheid nie. Hy kan net enkele meters voor hom sien, soos die motor se ligte hopeloos probeer om deur die gordyn reën te breek. Hy haal sy voet van die versneller af en draai die motor van die pad af toe hy ‘n groot genoeg spasie sien. Hy sit die noodligte aan en skakel die enjin af. Die gedruis van die reën is al wat die ongemaklike stilte verjaag.
Hy kyk na Sacha wat ongeïnteresseerd by haar venster uitkyk. Wat was fout met haar? Was sy kwaad vir hom? Het hy iets verkeerd gedoen? Hy kon dit voel in die lug. ‘n Koudheid. ‘n Ongemak. Asof hulle ewe skielik twee vreemdelinge in ‘n hysbak was. Hy wou dit egter regmaak. Hy wou dit red voor dit te laat was. Sascha was die liefde van sy lewe. Sy was baie mooier as wat iemand wat soos hy gelyk het, moontlik verdien het. Voor hulle gery het, het hy sy siel neergeskryf op ‘n stuk papier om vir haar te gee. Hy was nog nooit goed met woorde nie. Hoe kon hy ooit met woorde vir haar sê hoe lief hy vir haar is? Dit was ‘n kort brief, want daar is nie genoeg woorde – die regte woorde – om liefde te kan verduidelik nie!
Sascha het weer gesug, na Joshua toe gedraai en in die donker sy oë gesoek, sonder sukses.
“Joshua…”
Hy’t woordeloos in die donker rondgetas tot hy haar hand gekry het.
“Ek gaan uittrek.” Sascha het versigtig woorde gesoek wat nie gaan seer maak nie. “Ek kan nie… Ons is… Dis nie jy nie, dis ek.” Cliché.
Joshua het altyd gedink as iemand sê hulle ‘hart is gebreek’, dat dit spreekwoordelik was. Maar hy het nou besef dit is nie. Hy kon die krake in sy hart voel. Hy kon voel hoe die krake soos elektrisiteit deur sy hart hardloop. Hy kon voel hoe die splinters vorm en uiteindelik sy hart in ‘n miljoen pynlike skerwe los.
Hy het sy hand in sy sak gedruk en die gevoude stukkie papier waarop hy sy siel vroeër neergeskryf het, in haar hand gedruk. Sy’t die nota egter verwerp en teruggedruk in sy hand.
“Ek is jammer. Ek kan nie. Ek wil nie. Niks gaan my besluit verander nie. Dis verby.” Sascha het gevoel of nou die tyd was om te huil, maar daar was geen trane nie.
Joshua het wrang geglimlag en die gekreukelde papier in haar baadjie se sak gedruk. “Lees dit net. Later.”

**

Jak het nóg vorentoe gebeur om beter te probeer sien, maar dit was nutteloos. Hy het die trok se stuurwiel styf vasgehou met kneukels wat wit was van die inspanning.
Die pad het soos ‘n slang oor die berg gekronkel. Links. Regs. Links. Links. Maande en maande se vuil, stof en besoedeling op die pad het gemeng met die strome water, en die oppervlakte verander in ‘n seepgladde lokval vir ‘n onverskillige bestuurder.
Links. Regs. Regs.
Skielik weer regs. Maar Jak het dit nét te laat gesien. Hy het aan die trok se stuurwiel na regs geruk, maar die swaar trok se bande kon geen traksie kry op die glibberige oppervlakte nie, en die trok het reguit aangehou.
Skielik was daar ‘n luikrug motortjie met noodligte aan voor die trok wat bly voortploeg het. Onafwendbaar.

**

Sascha staar voor haar na die lelike linoleum teëls van die hospitaal se wagkamer. Sy het emosie gesoek. Hartseer. Trane. Enige iets. Maar daar was net…niks.
Die dokter se woorde het bly ego in haar kop en het plek gesoek om vas te steek: “Ek is jammer. Joshua… Hy is oorlede.”
Sascha druk haar hande in haar baadjie se sakke, opsoek na bietjie hitte, en voel ‘n bondeltjie papier. Sy haal die papier uit haar sak uit met ‘n frons en vou dit oop.
“Liewe Sas. Jy is my alles. Sonder jou liefde sal ek sterf. Lief vir jou! Josh.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    14 November 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2019 projek – Laat-lente

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 28
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 111 gaste aanlyn

Bydrae Totale