Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Stoepsitters

Deur Stephan
Datum gepubliseer: 29 Oktober 2018 Aantal woorde: 1444 95 Kere gelees Hou van

Die stoepsitters, deur Stephan Uys

Oupa en Ouma (van Pa se kant af) het elke dag teen laatmiddag op hulle stoep gaan sit. Dit was dan Oupa se tyd om bietjie stoom af te blaas. As kind het ek altyd gewonder wat was eerste: Oupa se poep, of daardie bekende kinderrympie oor Oupa en Ouma wat sit op die stoep. Ons het gereeld by hulle gekuier, soms ver te gereeld vir Ma se gesondheid. Die middae wat ons daar was, het Oupa dan gebruik om vir ons met klank en aroma die resitasie op te sê. Natuurlik tot Ouma se groot ergernis en ons kinders se plesier.

Oupa was baie ouer as Ouma. Jy sien, Ouma het met haar pa se beste vriend getrou. Dink bietjie daaroor – sy was skaars sestien en Oupa amper veertig toe hulle voor die kansel gaan staan het. Ek kan sommer hoor hoe die skindertonge in die omgewing bespiegel het oor wat so ʼn jong meisie met so ʼn ou man wil doen. Ek kan ook in my gedagtes hoor hoe hulle in afkeuring met die tong klik, want ek reken almal van hulle het darem seker geweet wat so ʼn ou man met so ʼn jong meisie wil doen. Ek is daarvan oortuig dat daar in die daaropvolgende maande heelwat minder gepraat was oor die moontlikheid van reën, en heelwat meer bespiegel was oor ʼn moontlike vroeë swangerskap. Ek skat daar was ook meer oë gerig op Ouma se maag as op die wolkelose hemel. Oupa en Ouma het toe nie gesorg vir ʼn lekker stukkie dorpskande nie, want my tannie is eers vyf jaar later gebore. Miskien het die tantes van die dorp teen daai tyd al begin wonder of die ou oom darem weet wat om met so ʼn jong nooientjie te doen.

Jy sou kon dink die ouderdomsverskil sou beteken dat Oupa dan nou die een man op aarde sou wees wie se vrou haar nie verbeel het haar man is ook haar kind nie. Jy sal verkeerd wees. Ek het my altyd verwonder oor hoe my Ouma namens my Oupa besluite maak. Soos alle goeie vroue skynbaar maar doen, het Ouma vir Oupa besluit wanneer hy koud kry, honger is, dors is, moeg is, en selfs siek is. Daardie tyd het ek gedink dis snaaks, maar nou doen my ma dit met my pa en dit wat eers snaaks was begin my nou bang maak. Sê nou net Liefie begin dieselfde met my doen?

Ipekonders. Dis wat ek die meeste onthou as ek aan my Ouma dink. Gaan Google gou die woord, en ek is seker jy sal sien Ouma se foto verskyn as die aanvaarbare definisie vir ipekonders. Ouma het daagliks so baie olies gedrink, dit sou enige Britse motor se oliebak (‘sump’ vir die oningeligtes) kon opgetop hou, maak nie saak hoeveel olie dit gelek het nie. Daar was visolie, salmolie (glo nie dieselfde ding nie), kasterolie, daggaolie, lewertraanolie… ek kan goed glo sy het so af en toe dalk ook ʼn halwe eetlepel van Oupa se GT20W50 gevat net om al haar bewegende dele goed geolie te hou.
En pille! As daar ʼn siekte ontdek word, dan het Ouma dit al reeds in die vroeë 1950’s gehad. En vir elke mogentlike en onmogentlike siekte, kwaal, of pyn het sy ʼn pil of ses gehad. Sy het ʼn pil gehad om haar hart te laat stadiger klop as hy wil weggalop. Sy het ook ʼn pil gehad as haar hart so stadig klop dat sy dink die ding gaan stop. Of dit nou vir migraine of tandpyn is, of vir hoes, of vir poep – vir elke ding was daar ʼn pilletjie. Ek dink nie die laaste een was effektief nie, of miskien het Oupa dit uitgespoeg as Ouma weggekyk het? Ek weet net Oupa kon sy gediggie opsê en nooit het hy uit stoom gehardloop nie!

Ouma was kort! En dik! Sy het my daardie dikgeid-gene laat erf, tesame met die sitkamerstel wat in 1940 reeds ʼn museumstuk moes gewees het. Pa en Ma het Oupa se name op my geboortesertifikaat gaan skryf. Ma wou eers nie, maar Oupa het donkiejare terug nog ʼn plaas of twee besit, en naamgenote het gewoonlik groter en beter geërf as die kleinkinders met volksvreemde name. Het my ouers toentertyd geweet wat ek sou erf, was ek dalk vandag ʼn Piet of ʼn Gert! In ieder geval, Liefie het van daardie sitkamerstelletjie ontslae geraak nog voor ek vir Ouma behoorlik kon begrawe het. Liefie probeer nou haar bes om ook van Ouma se dikgeid-gene ontslae te raak, maar ek skop vas – ʼn man se erfporsie is darem ʼn man se erfporsie!

Soos ek gesê het, Oupa was baie ouer as Ouma. Volgens my pa was Oupa ʼn vuurvreter op sy tyd, maar ek onthou hom as ʼn sagte gees met ʼn liefde vir diere en plante. Oupa was ʼn boer in murg en been. Selfs op die ouderdom van sewe en tagtig het hy self sy tuin omgespit. Oupa het ʼn paar skape op sy plot aangehou, en het die grootste en mooiste groentetuin op Sundra gehad. Hy was ook ʼn man wat geglo het daarin dat mens moet bome plant. Oupa het duisende bome in sy lewe geplant. Ek het net laas jaar met ons skool se re-unie gaan loer hoe groei die bome wat hy op sy sypaadjie geplant het. Oupa het ook ʼn stuk of veertig vrugtebome op die plot gehad. Sommige van die bome was ietwat boheems, want mense het van heinde en verre vir hom steggies en saadjies van al wat vrugdraende plant was gebring. Met groot liefde en sorg het Oupa die sade en steggies geplant en water gegee. Dit was ʼn vrugtefees as die lente aanbreek, en selfs tot diep in die herfs het ons nog vrugte van sommige bome in die boord afgepluk.

Dit laat my dink aan die twee dinge wat Oupa altyd by hom gehad het – sy hoed en sy mes! Oupa het so ʼn voos-gevatte vaalbruin hoed gedra. Wat die hoed se oorspronklike kleur was sou niemand met sekerheid kon sê nie. Ouma het gereeld nuwe hoede probeer koop, maar hier het Oupa vasgeskop – sy hoed was sy hoed, basta en klaar!
En dan was daar sy mes. Vandag gril ek dat my vel skoon hoendervleis uitslaan as ek dink wat Oupa met sy mes gedoen het, maar daardie jare het ek net gegril vir orige meisiekinders. Oupa het sy mes gebruik vir naels sny en skoonmaak, stokke uit skape se pote krap, skaap slag, en vele ander onnoembare dinge. En dan het hy ook vir ons met daardie selfde mes vrugte geskil en biltong gekerf! Nou verstaan ek hoekom Pa en Ma altyd hul eie messe in Ouma se laai gaan soek het; ek kan net nie glo hulle het toegelaat dat Oupa ons met sy mes voer nie! Dit het seker maar iets met hulle verwagtinge oor erfporsies te doen gehad. In elk geval, ons is toe nie een dood aan voedselvergiftiging nie, al kan ek dit in retrospek self nie glo nie.

Wat ek egter die meeste van hulle onthou, is die tyd toe my ma met ʼn gewas op die brein gediagnoseer is. Hulle sê bloed is dikker as water, maar dit was nie so gewees daardie tyd nie. Ek onthou nog hoe rooigehuil Ouma en Oupa se oë was elke keer as ons hulle gesien het. Ek onthou hoe Ouma my ma se hand gevat het en net die heeltyd bly vryf het terwyl sy God aanroep vir genesing. Ek onthou hoe Oupa in die sitkamer gesit het en Romeine 8: 28 oor en oor gerepeteer het: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”
Ek onthou ook hoe hulle saam in die hospitaal by ons gewag het terwyl die dokters my ma geopereer het. En ek onthou die blydskap op hulle gesigte toe my ma hulle herken na haar operasie – die blydskap van ouers wat ver te naby gekom het om hul dogter aan die dood af te staan. Ek onthou Oupa het daar by Ma se bed gestaan en weer sy teksvers herhaal: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.”

Oupa en Ouma sit al baie jare nie meer laatmiddag op die stoep nie. Hulle stoele is lankal leeg, maar ons harte is steeds so vol mooi herinneringe. Romeine 8: 28 is die teksvers wat ek in die begraafplaas gelees het toe ons vir Ouma begrawe het. Minder as ʼn jaar later het ons vir Oupa by Ouma te ruste gelê, en ek het weer dieselfde teksvers gelees. My en Oupa se vaste geloofsoortuiging is daar op hul grafsteen gegraveer: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet!

©Stephan Uys 2018/09/13




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 81
    Kommentaar telling: 5

    Ek is 'n skrywer, digter, publieke spreker, prediker. Ek is gek oor woorde. Ek is lief vir mense. As ek die twee bymekaar kan bring is ek in die wolke!

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 54 gaste aanlyn

    Bydrae Totale