Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Skotse kilt

Deur Lila Bloeisels
Datum gepubliseer: 9 April 2019 Aantal woorde: 2788 77 Kere gelees 2

“Aitsa!” roep die groep vrouens buitekant die koffiekroeg, hardop uit. Al die koffiekroegkliënte hardloop na buite om na die opwinding te gaan kyk. Isabella en Christa kyk glimlaggend na mekaar van waar hulle sit by die toonbank.
“Sal ons gaan kyk wat almal so op hol jaag?” vra Christa.
“Nee, ek dink eerder ek en jy moet by die agterdeur uitglip want ons moet terugkom by die werk,” sê Isabella.
“Ag nee, Isabella, jy bederf nou die pret,” sê Christa teleurgesteld. Christa smeek Isabella en trek haar aan die arm. Ewe skielik gil die groep vrouens weer. Hulle is duidelik uitlanders.
Soos ‘n mes sny Isabella en Christa deur al die starende mense. Hulle jasse en handsakke is oor hul skouers en hul beur hulself vorentoe. Isabella is lank, donker van gelaat en trek baie stylvol aan. Christa is kort en het blonde hare. Sy dra vrolike rokke met helder kleure. Goeie vriendinne wat die lewe amper te ernstig opneem, maar kan ook baie nuuskierig wees.
Toe die twee weer sien, is hul heel voor. Isabella gryp haar mond vas en verander in die rooiste tamatie wat jy op ‘n Saterdagoggend basaar kry. Christa giggel. Net so stop hul in hul spore.
Die Skotse orkes wat nog heeloggend buitekant die koffiekroeg speel, het ‘n snaakse ding oorgekom. Hul doedelsakspeler se skotse rok, die kilt, het nou net opgewaai. Dis net toe Isabella en Christa heel voor gaan staan, dat die rok weer opwaai. Almal lag hard, maar Isabella is vreeslik skaam.
“Christa, kom ons loop, ek kan dit nie aanskou nie!” sê Isabella vinnig en nog rooier as ooit in haar gesig van skaamte.
Maar net toe sy Christa aan die arm wil wegtrek, gewaar die Skotse man haar en stap na haar kant toe. Hoe sy ook al probeer om hom te vermy, glimlag hy breed met sy baard wat rooi in die son glinster en begin vir haar sing. Hy wuif met sy hand dat sy groep musikante weer moet begin speel. Die skare lag nog steeds maar die Skotse man gee duidelik nie om dat sy kilt in die lug in opwaai nie. Hy is aantreklik, lank met netjiese kort, rooi hare en hy ruik asof hy nou net uit die stort geklim het.
Hy sing ‘n ou Skotse liefdeslied van “The Corries se love song”, met die woorde van ‘n geliefde wat saam met hom moet gaan. Die skare buite die koffiekroeg is meteens baie stil, want hulle luister na die soet liefdesnote van die doedelsak. Die orkes speel agter hom aan. Hy kyk na Isabella as hy sing en neem haar hand in syne. Skotse rok en al draai hy haar in die rondte en dans sommer so in die straat met haar. Isabella is so meegevoer dat sy net saam dans soos ‘n marionet. Sy doen nie sommer so iets nie, maar dit is vir haar ‘n onvergeetlike oomblik. Die skare is verstom.
Hy laat los haar hand, maar neem dit vinnig weer vas en hou sy oë op hare. Die Skotse man lyk verlief. Twee dae gelede, het hy vir sy pa gesê dat hy sy vrou in Suid-Afrika gaan ontmoet. En hier dans hy met haar. Duncan kan nie glo dat die vrou van sy drome net op die regte oomblik hier opgedaag het nie. Sy voete is onder hom uitgeslaan. Sy is beeldskoon. Hy dink dat hy graag haar ouers wil ontmoet.
Isabella is ook in ekstase oor die Skotse man wat haar so betower het. Sy het nog nooit so oor ‘n man gevoel nie, maar dis asof die oomblik van die dans met die Skotse man, met haar praat. En hy ruik so lekker! Hy is langer as sy en sy hou daarvan. Sy kan hom nie weerstaan nie.
Duncan ruik die vanilla bloeisel reuk in haar hare en toe druk hy haar styf teen hom vas. Die musiek word stadiger en dis nou sy kans om te voel of sy hom ook wil hê. En tot sy verbasing stoot sy hom nie weg nie. Duncan geniet die oomblik. Sy pa sê altyd vir hom dat ‘n man wat ‘n kilt dra nie bang mag wees nie.
Die twee van hulle dans stadig en kyk nog in mekaar se oë, toe stop die musiek. Die skare klap hande en stap weg. Net Christa bly agter wat met ‘n oop mond hul staan en aangaap. Sy is so verstom, maar weet dat haar vriendin Isabella so ‘n ernstige meisie is dat geen man haar ooit sal kan vang nie, maar vandag lyk dit vir Christa, dat dit ‘n goeie dag vir verandering is.
“Mooi so Isabella! Kry sy selfoonnommer. Dalk het hy ‘n broer!” roep Christa uit en begin ook hande klap terwyl sy breed glimlag. Christa droom ook oor die dag wanneer ‘n jong man haar voete onder haar sal uitslaan.
“Isabella! Ek gaan solank, sien jou terug op kantoor, moenie te lank neem nie!” roep Christa weer uit. Isabella knik net vir Christa en sê niks en draai weer haar oë na Duncan.
“Isabella! Is dit jou naam?” vra Duncan in sy Skotse aksent terwyl hy nog steeds haar hand vashou en breed glimlag. Hy praat goed Afrikaans want sy ma is ‘n Suid-Afrikaner.
Isabella los ewe skielik sy hand en knik weer, maar kan geen woorde uit haar mond laat ontsnap nie. Sy is mal oor hierdie man met sy donkergroen kilt.
“Jy het haar gehoor, kry sommer sy selfoonnommer,” sê Duncan.
Isabella gaan staan stil, knip haar handsak oop en haal haar pen uit. Sy neem sy linkerhand en draai sy groot handpalm oop. Sy skryf haar selfoonnommer neer op sy handpalm met ‘n glimlaggende gesig. Sy maak sy hand toe.
“’n Meisie vra nie selfoonnommers nie, maar sy gee haar nommer net as die outjie homself mooi gedra!” sê sy saggies met ‘n knipoog.
Sy gee sy kilt so ligte pluk en glimlag. Sy kyk hom diep in sy blou oë en knip haar handsak toe.
“Baie dankie vir die dans, dit was baie lekker. Ek het dit baie geniet!”
Voor sy omdraai, tik sy hom liggies op die neus, draai op haar een hak om en stap terug kantoor toe. Duncan staan verbaas, nog steeds met sy hand toe en staar haar agterna. Hy is nou meer verlief op die mooi meisie wat nou net haar nommer op sy hand geskryf het. En toe tik die kitaarspeler hom op die skouer dat hy skrik.
Twee dae gaan verby en Duncan maak nie kontak nie. Ware liefde was nog nooit vir Duncan nie en hy het hierdie bal nou in sy hande. Hy het Isabella se nommer maar sy het nie syne nie. As hy haar nie kontak nie, sal sy dink hy het die hasepad gekies en as hy haar kontak dan is dit vir ewig. Duncan het ewe skielik koue voete. Dit is ‘n ander saak as jy net ‘n jong dame vermaak met jou musiek en weet dat daar niks van sal kom nie, maar hierdie keer is dit anders vir Duncan. Hy is bang en voel na twee dae om nie die kans te waag nie. Hy was nog altyd ‘n loskop en het nog nooit ‘n vaste meisie gehad nie. Sy godin het uit die bloute opgedaag en nou begewe sy moed hom. Haar mooi gesig, hare en lyf maak hom mal en dit is al waaraan hy dink. Isabella die mooi vrou by die koffiekroeg.
Isabella staan langs haar lessenaar in haar kantoor en staar by die venster uit. Haar kantoor is op die tiende verdieping en die hele dorpie lê voor haar uitgestrek. Sy dink aan daardie lawwe Skotse man wat sy nie eens ken nie, en ook nie eens sy naam weet nie. Sy kilt wat opgewaai het en sy het hom so aantreklik gevind dat sy haarself nie kon help om mal verlief op hom te raak nie. Dit was daardie eerste kyk in sy mooi blou oë. Sy het altyd gedink dat sy ‘n kantoor man met sagte hande sal ontmoet. Hy sal styf gestrykte broekspype hê en sal dasse dra elke dag, maar sy hou van hierdie Skotse man. Hy is anders, dink sy.
Dit kwel haar, want hy het nog nie eens kontak met haar gemaak nie. Dit is asof hy maar net die “vonk” wat tussen hul was twee dae tevore met die liefdesdans, net so weggegooi het. Dalk het hy sy hand gewas met haar selfoon nommer op en nou kan hy haar nie kontak nie. Dalk is hy maar net ‘n gewone ou wat net met meisies se gevoelens speel vir sy eie genot. Maar nog steeds kan sy net nie van hom vergeet nie, die Skotse man met die kilt is al waaraan sy dink.
Met middagete gaan sit Isabella by Christa in haar kantoor en eet haar slaai. Christa sien dat iets haar kwel.
“Wat pla my mooi vriendin vandag?” vra Christa.
Isabella krap net in haar slaai rond en toe sit sy die kosblikkie eenkant neer. Sy sug lank.
“Die Skotse kilt pla my!”
“O, gedorie waar Isabella, moenie vir my sê jy het die skoot hoog deur nie?”
“Ag, Christa, wat is dit met my. Ek kan hom net nie uit my gedagtes kry nie, hy het nog nie eens kontak gemaak met my nie.”
Christa kyk lank na haar en tik met haar vinger op die lessenaar.
“Het jy sy nommer toe gevra?” vra Christa.
“Nee, ek was toe mos weer slim en gee die koue skouer want meisies vra mos nie nommers nie. En nou kan ek myself skop daaroor!”
“Isabella, ek het ‘n goeie plan,” sê Christa met ‘n opgewonde stem. Isabella skuif toe nader.
“Isabella, jy speel mos klarinet né?”
“Ja, ek doen en…”
“Nee, gee my kans om te praat,” sê Christa en sit haar vinger op Isabella se lippe sodat sy nie verder kan praat nie. Christa verduidelik vir haar wat sy moet doen en toe sit sy terug met haar hande gevou en wag vir Isabella se antwoord.
Isabella begin glimlag, toe word die glimlag breër en breër soos ‘n kind wat nou net sjokolade geëet het op die kerkbasaar. Sy gooi haar hande in die lug en begin giggel oor die wonderlike idee. Isabella staan op, stap om die tafel en soen Christa op haar wang.
“Christa, dit is die beste idee wat jy nog in vyf jaar gehad het!” roep sy uit. Isabella loop uit na haar kantoor toe.
Christa dink by haarself, hoekom vyf jaar?, maar sy sal maar nie Isabella se wonderlike oomblik bederf nie. Sy sal wel haar uitvra daaroor. Nou voel sy baie in haar skik dat Isabella, die vriendin wat nooit na haar luister nie, en ook nie haar idees gebruik nie, in die wolke is oor die goeie plan. ‘n Plan om haar Skotse man te gaan vang voordat hy terugkeer Skotland toe.
Isabella gryp haar handsak enlaat weet haar sekretaresse sy gaan gou uit. Isabella was nie lank weg nie en haar asem jaar toe sy by Christa se kantoor instap. In haar hand is ‘n vierkantige swart tassie. Sy haal haar klarinet uit die swart langwerpige tassie uit, hy is so vol stof soos haar Ouma en Oupa se solderkamer op die plaas. Sy sit hom aanmekaar en probeer ‘n paar note blaas.
Christa se mond hang oop. Sy haal nie eers asem nie. Dit is die mooiste klank. Isabella lyk soos ‘n godin in die aandlig met ‘n towerstaf in haar hand. Sy beny haar, want dit is so mooi en Christa weet dat geen man vir Isabella so sal kan weerstaan nie.
Toe Isabella klaar is met die paar note, kyk sy na Christa en glimlag. Sy trek haar baadjie uit en staan in haar afwit somersrok. Dit lyk kompleet of feetjies om haar dans en alles blink. Sy het haar hare los gemaak en dit hang langs haar regter skouer af.
“Toe, kom jy, vandag vang ek daai Skotse man en maak hom myne,” sê Isabella met ‘n glimlag.
“Gaan dit nie mis nie my vriendin, jy lyk wonderlik!”
Hulle stap na die hysbak toe en Isabella vra of sy nog mooi lyk. Christa glimlag, want mejuffrou Perfek lyk op asemrowend.
“Ek hoop jy gaan vandag sy hart wen!” sê Christa, en tik Isabella op haar neus.
Hulle loop uit die gebou uit en af in die lang kronkelende straat tot by die koffiekroeg onder die bome. Oppad vra hulle ‘n jong man met ‘n lang, donker baard of hy nie dalk die Skotse orkes vandag gesien het nie? Die geluk is aan hul kant, want hy kom nou net van die koffiekroeg af en hulle is almal daar. Isabella se hart begin sjokolade klop. By die koffiekroeg gaan staan hulle stil en wonder waar Isabella sal staan om op haar klarinet te speel. Wat sal die beste posisie wees. Christa sê haar presies waar sy moet staan, dit is tog haar idee. Sy gaan loer by die koffiekroeg se deur in en gewaar die Skotse man en glimlag. Sy gee Isabella die teken.
Daar is stilte in die park oorkant die straat, geen motors wat verby jaag nie. Sy haal diep asem en alles om haar raak stil. Sy vee haar hare uit haar gesig en gee haarself ‘n oomblik. Sy kyk af en posisioneer haar sagte pienk lippe op haar klarinet se mondstuk. Christa het haarself skaars gemaak en onder die boom by ‘n tafel gaan sit om hierdie wonderlike idee van haar te aanskou. Haar vriendin lyk soos ‘n prinses.
Die wind waai saggies en die son skyn helder. Isabella se rok skyn soos goud en dit is asof vlinders om haar dans. Sy lyk beeldskoon met haar lae-rug rok, en sy hoop in haar binneste dat sy hierdie Skotse man vandag gaan betower. “Dankie Christa, vir jou wonderlike idee!” sê sy saggies en knipoog vir Christa.
Isabella maak haar oë toe en begin op haar klarinet te blaas. Die soet klank wat die klarinet maak val soos note op wolke. Dit styg op en vul die hele area rondom Isabella en die koffiekroeg. Oral kom staan mense om haar en luister hoe sy speel. Sy speel Kenny G – sy tema lied van “Dying Young”, en almal se monde hang oop. Dit is so mooi! Haar hele liggaam speel die rol van ‘n ballerina wat nou net ontwaak het na ‘n lang diep slaap.
En so gaan ‘n paar minute verby van asemrowende liefdevolle klarinetklanke. Isabella stop en kyk na die deur van die koffiekroeg maar sy sien hom nie. Sy wou sy aandag trek, maar niks gebeur nie.
“Waar kan hy wees?” vra sy by haarself en loer na Christa.
Christa trek haar skouers op en beduie vir Isabella om weer te speel. En so speel Isabella weer dieselfde lied. Kort-kort lug sy haar kop op om te kyk of die Skotse man by die deur kom staan, maar niks, en toe blaas sy harder en harder.
Binne-in die koffiekroeg staan ‘n jong man met rooi hare en ‘n baard. Hy drink sy koffie en beplan sy volgende optrede saam met sy orkes. Net toe hy sy laaste sluk koffie wil drink, hoor hy en sy mede musikante die heuningsoet klanke van buite. Sy asem is weggeslaan. Hy staan net so stil en luister. Dis mooi! Hy draai sy kop om om te sien wie speel hierdie wonderlike musiek, maar kan niks sien nie, daar is net te veel mense. Hy luister en luister en raak verlief op dit wat hy hoor.
“Duncan, kom kyk, dit is sy, jou prinses!” roep die kitaarspeler.
Duncan draai om, kyk na die kitaarspeler en kan dit nie glo nie, wat hoor hy? Hy draai om en toe maak almal ‘n pad vir hom oop. Dit is sy, die mooi meisie van twee dae gelede en sy speel klarinet.
Hy stap by die deur uit en gaan staan stil. Isabella hou op om haar klarinet te blaas. Die skare is doodstil. Isabella kyk lank vir hom, sit haar klarinet neer en stap na hom toe. Duncan kan sy oë nie van haar afhou nie. Sy is die mooiste vrou wat hy nog gesien het en sy blaas haar klarinet net vir hom sodat hy moet weet dat sy van hom hou. Dit is die wonderlikste gevoel. Isabella is syne.
Isabella neem sy twee hande in hare, hulle oë ontmoet. Duncan kyk na haar mooi rok en skouers. Haar mooi lang hare met lippe wat nog nooit deur hom gesoen was nie. En net voordat hy haar kan soen, waai die wind weer sy kilt hoog in die lug in op.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 5
    Kommentaar telling: 0

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 2,351 gaste aanlyn

    Bydrae Totale