Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die rooi dag

Deur Lia Kilian
Datum gepubliseer: 27 September 2019 Aantal woorde: 1423 135 Kere gelees Hou van

Die rooi dag

Broer Witboy staan op die boonste trappie en hou die broers en susters met ʼn valk oog dop. Dis nie ʼn gesonde ding wat nou in Pastoor Johan se gemeente aan die gang is nie. Sy een hand in sy netjiese grys pak se broek sak gedruk. Met ongeduld krap hy sy agterkop. Die ontsierlike frons op sy gesig laat dit lyk of hy ʼn baie omgekrapte man is. Hy skud sy kop en met ʼn sug begin hy aanstap na die bus stop toe.Waar gaan al die dinge tog eindig? Broer Elfaans het weer lekker vars gelyk vandag . Die wyn het natuurlik weer gevloei en waar was suster Delvine? Dinge gaan vinnig agteruit hier in die vallei. Hy kyk op na die Outeniqua berge.

“Ai my Vader, wat gaan van ons kinders word?” Sy skouers hang van moedeloosheid.

“Broer Witboy! Broer!” met ʼn asem wat jaag kom jongman Denzel by hom aan. “Broer Pastoor soek tjou dringend, hyt gesê ik moet tjou rhoep.”
Broer Witboy se frons word net dieper en hy draai om en vat die jong man aan sy arm om saam hom te loop. Hy hoor die lawaai oorkant die kerk by die Chinese keffie.

“Tjo ma man! Ik soek die noothjie! Tjy ka nie vi my kom sê tjy mag nie! Watse se stront try tjy my verkoep!” Witboy staan vas genael in sy spore en kyk na die vrou wat tekere gaan. Sy kannie stil staan nie. Hy begin wonder of dit ooit moontlik gaan wees vir haar om te kan stil sit! Haar hare staan wild. Kaalvoet en dit lyk of sy in haar broek gepis het. Daar is bloed op haar stukkende T-hemp.

“Tjy tjy broer Witboy, gee da ‘n enthjie asseblief broer.” Sy kom hang aan Witboy en vat met bewende hande aan sy baadjie se lapel. Witboy vat haar saggies aan haar hand en begin stadig met haar weg stap van die groep wat die hele moleste tussen haar en die Chinese aangekyk het. Met ‘n diep rustig stem begin hy met haar praat.

“Suster Delvine wat vreet vandag so aan jou dat jy soos ‘n duiwel tekere gaan vir ‘n noothjie op onse Here se dag?” Delvine se kop sak of sy skaam kry.

“Ik soek net die noothjie vir die pyn broer Witboy, tjy wiet mos.” Sy slaan met haar klein vuisie teen haar bors terwyl sy met ‘n skewe kop af kyk na hom toe. Hy trek haar af saam hom, dat sy langs hom op die sypaadjie moet sit.

“Maar suster tjy wiet mos ʼn noothjie gaan nie help nie. Ons moet mos onse oë op onse Vader gerig hou.” Delvine sit plat op haar boude met haar bene voor haar uitgestrek. Haar hande hang slap tussen haar bene en haar kop op haar bors.

“Die Vader soek nie vir Delvinetjie nie broer, Hy wil hê sy moet huil.” Witboy kyk na haar. Sy frons nogsteeds op sy voorkop, maar sy gesig lyk glad nie meer kwaai nie. Dit is ʼn gesig met baie pyn en ʼn gesig wat sê hy verstaan. In hierdie Vallei was daar al baie seer en beproewing, maar die van suster Delvine en broer Elfaans … Ag Vader help die vrou asseblief! Hy vat haar bewende hande en vou dit in sy grotes toe.

“Suster Delvine. Delvine kyk vir my.” Sy kyk op na hom. Hy vee saggies die trane af op haar vuil vang. Watse mooi vrou was sy nie. Sy hart trek ʼn kramp en hy trek sy asem diep in. Ag Vader gee my vandag die regte woorde asseblief.

“Delvine Malgas. Onse Vader sal dit nooit aan jou doen nie. Hy is liefde nie pyn nie. Hy is lief vir al sy kinders.” Delvine vee haar trane af met die agterkant van haar hand.

“Ma Hy is nie lief vir my nie Witboy. Kyk wat het my sondes aan die valley gedoen. Die mense hul kry swaar. Dish alles my skuld.” Witboy skud sy kop.

“Nei my suster dit is nie. Tjy kan mos nie verantwoordelik gehou word vir die skollies en gangster wat onse vallei oorvat nie.” Delvine skud haar kop.

”Nei nei Witboy tjy wiet dis my skuld. As ik net by Tielman was die dag van die vullis lorrie.” Delvine hou haar kop vas tussen haar hande.

“Daai dag is die dag wat Drewtjie sy kop verloor het. Dis my skuld, want ik is ‘n slegte ma.” ‘n Groot sug ontsnap uit Witboy se bors en hy skud sy kop terwyl hy met sy hand oor sy gesig vee. Wie van hulle wil nie daai dag uit hul geheeue uitvee nie? Dit was ‘n rooi dag, ‘n bloed rooi dag.

“Delvine jy kan nie verantwoordelik gehou word vir Drew se afdwalinge nie. Hy het besluit hy gaan die gang join, nie tjy nie. Hoe kon die kindt op dertien weet dat dit al die ander slegte gatte oek hierna toe ga bring. Hy was ʼn kindt homself.” Delvine se skouers sak nog meer.

“As ik net my oë oep gehad het kon ik mos sien wanatoe my kindt ga Witboy. Ik sou kon siet dat die tik praat, maar nei ik huil toe net oor Tielman en vergiet van Drew. Ik is ‘n slegte ma, nei eers ʼn tief sal ha kindters so weg gooi nie.” ʼn Snik skeur deur haar bors.

“Suster tjy het swaar gekry dai tyd. Dis nie onse Vader wat dit gedoent het nie. Die kinders hiet gewiet as die bobetjane af kom by die berg, moet hul binne die huis bly.” Witboy maak sy oë toe as die herinneringe van daai dag deur hom vloei of dit gister was.

Klein Drew het sy boetie op sy rug gedra en met hom perdjie gespeel soos baie ander dae. Hoe moes die kind die bobbejaan mannetjie met sy af poot sien agter die as dromme? Hy het geskrik en gehardloop. Die bobbejaan het hom van agter bestorm en klein Tielman van sy rug afgepluk. Drew het die bobbejaan met ʼn klip aangeval en soos die duiwel geskreeu. Dit was net bloed orals. Jy het nie geweet of dit die bobbejaan, Tielman of Drew s’n was nie. Teen die tyd wat Delvine en Elfonso by hul gekom het, het die bobbejaan een kant gelê met sy een oog wat uit hang, tande wat gevlek was met bloed en jy kon net ʼn geroggel hoor. Delvine se geskreeu het weergalm in die berge. Daar was ʼn doodse stille, so of tot die natuur uit skok ook stil geword. Drew het met sy ken op sy bors gesit voor klein Tielman. Bloed was orals oor hom. Daar was nie ʼn traan nie. Hy het opgestaan en na Elfonso gekyk. “Pa…” dis al wat hy gefluister het. Hy het omgedraai en sonder ʼn woord en weg gestap. Twee jaar later was hy terug, maar dit was nie meer die slim voorbeeldige Drew nie. Sy gesig was hard, die tik het sy merk gelos. Merk op sy wenkbrou het vir almal gesê hy was lid van die gang.

Delvine was nooit weer dieselfde nie. Elfonso het probeer, maar hy is sterk besig om die stryd te verloor. Dis nou elke Sondag se ding wat Delvine moleste kom maak by die Chinese keffie oorkant die kerk. Hy het al gewonder hoekom sy nie liewers by Indraf keffie gaan moleste maak nie, maar altyd hier. Hy kyk op na die hemel en dit slaan hom soos ʼn vuis in die maag.

“Delvine, wil jy nie saam my in stap by die kerk nie? Pastoor hy wag vir jou.” Delvine het haar kop opgeruk, daar het iets in haar oë geblink.

“Ik kan nie, nei Witboy ik is vars. Die pastoor…nei die Here Hy sal my straf as ik so by sy huis in gaan.” Witboy help haar op en loop stadig met haar na die kerk se deur toe waar Pastoor Johan vir hulle staan en dop hou. Pastoor Johan glimlag breed en knik sy kop vir Witboy. Witboy staan terug en glimlag. Delvine en die pastoor verdwyn in die kerk in. Broer Witboy glimlag breed en sit sy hande in sy broeksakke toe hy wegloop met ʼn lied in sy hart.
“Dankie onse Vader dat jy so groot is, jou vallei se genesing het begin.” Daar was nog nie weer moleste by die Chinese keffie nie. Skollies en gangsters en tik is nog daar. Die rooi dag sal ook nog altyd bly, maar die genesing vorder stadig maar verseker en dalk eendag, eendag sal alles oorwin word.

Vars – Dronk

Noothjie – Wyn

Enthjie – Sigaret

©Lia Kilian




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 9
Kommentaar telling: 0

Ek skryf sedert skooldae. Niks ernstig nie, tot 9 jaar gelede. Skryf is vir my 'n passie. Paar gedigte is al gepubliseer in verskeie media, ook het ek een digbundel uit gegee. Gedigte is nie vir my ietsie wat jy moet lees of verstaan nie, jy moet hom voel. Ook skryf ek romans en kortverhale. Paar van my kortverhale is in gesamentlike bundels opgeneem en het ek ook my eie kortverhaal bundel uit. My eerste roman is ook al uit, na jare se herskryf en wik en weeg. Ek skilder graag en dis vir my 'n ontvlugting. Na 23 jaar in 'n opgeknopte kantoor en net met syfers het ek besluit om voltyds aandag te gee aan dit wat ek graag in my lewe wil doen. Ongelukkig moet ek lewe en my laatlam nog deur hoërskool sit, dus kan ek dit nog nie voltyds doen soos ek graag wil nie. Maar 'n kantoor sien my nie weer nie, dus saam die skryf skilder en ma wees is ek ook onderwyser vir kinders met leer en emosionele probleme. Dit bring vir groot vervulling om die liefde en trots op hulle gesiggies te sien.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 111 gaste aanlyn

Bydrae Totale