Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die prys van Vryheid

Deur Ano
Datum gepubliseer: 30 Junie 2020 Aantal woorde: 1179 79 Kere gelees 4

Stergradering : Silwer
Woordtal : 1217

Vryheid – die distrik waar my pa byna 93 jaar gelede op hul familieplaas gebore is. Saam met my daaglikse porsie mieliepap-en-melk het ek dikwels ook ʼn goeie les in geskiedenis gekry en die herinneringe aan sy passievolle vertellinge kan my tot vandag tot op die rand van trane bring. Die feit dat ek as baba aan Bloedrivier se wit riviersand gesmul het, laat my nou effe gril. Onbewustelik het ek dus geskiedenis op vele maniere ingekry!

Menige dae het my pa vertel hoe hy saam met die jong Afrikane opgegroei het en hoe hulle in Bloedrivier se droë rivierloop kleilat gespeel het. Miskien was dit nog onskuldige dae, voor ʼn kind leer dat vandag se speelmaats dalk more se vyand mag wees. Dit was egter interessant dat my pa se eerste taal toe nie Afrikaans was nie maar wel Zoeloe, wat hy tot vandag steeds vlot praat. En dit is interessant dat my pa aansienlik minder ooghare vir die gewraakte Ingelse het, as vir die Zoeloes.

So tussen sy vertellinge deur het ek geleer van die intense en grusame slagvelde tussen die Voortrekkers en Zoeloes, toe die Britte en die Zoeloes en laastens tussen die Boere en die Britte.

Eers was dit die Voortrekkers wat met 467 Boere, 3 Engelse, ʼn onbekende hoeveelheid swart- en kleurlingbediendes en 57 waens optrek teen die Zoeloes om die dood van die Piet Retief geselskap te wreek. Toe hulle besef dat hul geensins opgewasse sou wees teen die vyand nie, lê hulle ʼn gelofte op 9 Desember 1838 af wat elke aand tot die 15e Desember tydens aandgodsdiens, herhaal sou word.

“Mijne broeders en medelandgenoten, hier staan wij tans op een ogenblik voor een Heilige God van hemel en aarde om een Belofte aan Hem te beloven, als Hij met Zijn bescherming met ons sal wezen, en onze vijand in onze handen zal geven dat wij hem overwinnen, dat wij die dag en datum elke jaar zoals een Sabbat in Zijn eer zullen doorbrengen, en dat wij een tempel tot Zijn eer stichten zullen waar het Hem zou behagen, en dat wij het ook aan onzen kinderen zullen zeggen dat zij met ons erin moeten delen tot gedachtenis ook voor onze opkomende geslachten. Want de ere van Zijn Naam daardoor zal verheerlikt worden, dat de roem en eer van overwinning aan Hem sal worden gegeven.”

Op Sondag 16 Desember kom hierdie handjievol mense teen ongeveer 10,000 Zoeloes te staan. Die Voortrekkers word deur Andries Pretorius gelei en die Zoeloes deur Ndlela kaSompisi, ʼn bevelvoerder in die krygsmag van koning Dingane. Meer as 3,000 Zoeloes sneuwel terwyl slegs 3 boere minder ernstige wonde opdoen. Die Ncomerivier se naam word hierna verander na Bloedrivier en mens kan nie anders as om die beskermende hand van God raak te sien nie. Die Gelofte word daardie aand vir oulaas afgelê.

Die Slag van Isandlwana (die Anglo-Zoeloeoorlog) was ʼn militêre geveg wat gelei het tot die uitwissing van die Britse mag op 22 Januarie 1879. Na die Britte ʼn ultimatum aan Zoeloe Koning Cetshwayo gerig het, het hul met sowat 8,000 man teen 20,000 Zoeloes te staan gekom. Daar word verskeie redes gegee waarom die Britte so ʼn yslike nederlaag gelei het, maar persoonlik dink ek mens dra nie ʼn rooi baadjie wanneer nie gesien wil wees nie! Die tradisionele interpretasie is egter dat die Britte gesukkel het om hul verdedigingsvuur vol te hou en dus oorval is. Dit het ook nie gehelp dat hulle nie van skuilings of loopgrawe gebruik gemaak het nie. Ander bronne beweer dat die Britte se gevegslinie lank en uitgerek was, i.p.v. om skouer-aan-skouer te veg. Die daaropvolgende paar veldslae en nadraai van hierdie oorwinning was egter nie in die guns van die Zoeloes nie. Die Britte wou nie kwesbaar voorkom nie en het hul leër versterk, Zoeloeland weer ingeval en verskeie gevegte gewen. Met die Slag van Ulundi is Koning Cetshwayo gevange geneem.

Om die Anglo-Boereoorlog se storie in ʼn paar sinne op te som, was dat die Britse sekretaris van Binnelandse Sake, Lord Carnavon ʼn plan gehad het om met ʼn wit minderheidsregering oor die swart meerderheid te heers. Dit sou ʼn bron van goedkoop arbeid verseker maar die Boere was nie juis opgetoë dat hul grondgebied deur die Britte oorgeneem sou word nie. Vir Henry Bartle Frere se loopbaan as goewerneur in Suid-Afrika was die twee Boererepublieke en Zoeloekoningkryk egter groot struikelblokke. Sy slinkse planne was die beginpunt van die Eerste Vryheidsoorlog wat drie maande sou duur (20 Desember 1880 – 23 Maart 1881), en die Tweede Vryheidsoorlog wat net meer as 2 1/2jaar sou duur (11 Oktober 1899 – 31 Mei 1902). Tydens hierdie laaste oorlog het die Britte egter die Boere se plase afgebrand en die vrouens en kinders in konsentrasiekampe gestop waar duisende aan siektes en ondervoeding sou sterf.

Die Tweede Vryheidsoorlog was dus die beginpunt van my pa se haat teenoor enigeen wat van Engelse oorsprong is. Om sake te vererger moes hy tussen die destydse Standard 8 tot matriek ʼn Engelse Hoërskool bywoon en die inwoning in ʼn koshuis vol vyand’s kinders het sake geensins vergemaklik nie. Wat in hierdie paar jaar gebeur het, is steeds ʼn misterie – iets waaroor hy nog nooit wou praat nie. Dan het my ma se oudste suster na die Tweede Wêreldoorlog met ʼn Britse vlieënier getrou, en dit was natuurlik verdere bitter olie op die reeds verbitterde vuur.

Vryheid is egter lank nie meer die klein dorpie wat op 5 Augustus 1884 (tussen die twee Vryheidsoorloë) deur twee boere gestig is nie. Dit het tot stand gekom nadat Lucas Meijer aan die Zoeloe Koning Dinizulu militêre beskerming teen die Britse owerheid belowe het, en in ruil daarvoor het die twee boere ʼn aansienlike porsie land bekom. Aanvanklik was dit deur Duitsland en Portugal erken as ʼn onafhanklike Nieuwe Republiek maar is teen die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (1888) in die Republiek van Suid-Afrika opgeneem.

Die dorp wat tans meer as 230,000 inwoners het, is ʼn lieflike plattelandse dorp met vele geskiedkundige geboue wat die Lucas Meijer Huis, die Ou Raadsaal, die Ou Fort en die Landdroskantoor insluit. Meeste van hierdie geboue staan in Landdrost Straat waar die historiese museum, Nieuwe Republiek Museum geleë is. Dit is die grootste dorp in Noord Natal en die hartklop van die gebied. Met ʼn vermenging van Zulu, Afrikaans, Engels en Duitse kulture is dit ʼn diverse, maar interessante groep inwoners bymekaar en die gebied is ryk aan geskiedenis.

Die pragtige landskap word versier deur hout plantasies, mielies en veeboerdery, al is die steenkoolmyne ʼn seer in die oog. Vier riviere naamlik, die Wit- en Swart Umfolozi, Mkhuze en Pongola riviere verseker ʼn goeie bron van plesier vir visvangers en ander watersportliefhebbers. Die natuurlike warmwaterbronne is natuurlik ook ʼn groot trekpleister en vir voëlkykers is daar 370 spesies om deur hul verkykers te bekyk.

Dit is ook die geboortedorp van n hele aantal bekende persone :
• Colleen De Reuck, Suid-Afrikaanse langafstandatleet.
• Cindy Elizabeth Eksteen, Suid-Afrikaanse krieketspeler.
• Joe Pietersen, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Mouritz Botha, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Thys Lourens, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Ruan Combrinck, Suid-Afrikaanse rugbyspeler.
• Keegan Longueira, Suid-Afrikaanse fietsryer.
• Danny Myburgh, ʼn Springbok amateur bokskampioen.
• Christian du Plessis, bekende operasanger.
• Bob Holness, ʼn Britse radio- en televisie persoonlikheid was ook hier gebore.

Vryheid, die geskiedenis-juweel van Kwa-Zulu Natal.

http://www.boereafrikana.com/Gelofte.htm
https://af.wikipedia.org/wiki/Slag_van_Isandlwana




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    30 Junie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2020 – Vryheid projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 58
Kommentaar telling: 96

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 38 gaste aanlyn

Bydrae Totale