Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die ou man se winter

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 30 Junie 2020 Aantal woorde: 1272 163 Kere gelees 6

Ek het gevoel soos ‘n haas in ‘n aankomende stel kopligte. Verlammende skok. Jeanie was weg. Ek het uit die ou leunstoel gebeur; geswets omdat my ou beendere so gesukkel het om saam te werk. Toe ek orent is, kies ek dadelik koers kombuis toe. Jeanie se plek. Daar waar sy haar dae vertoef het om die heerlikste gebak op te toor uit net droë meel, botter en eiers. Ek het weer geswets. In my kop het ek voluit gehardloop. Maar my ou lyf het my getreiter met klein rukkerige bewegings. Soos die van ‘n ou man. Wanneer het ek ‘n ou man geword? Wanneer het my spiere wat soos ‘n span osse gespan het verdwyn? Wanneer het my ratse voete begin skuifel oor die vloer?
Ek het ‘n ewigheid en ‘n dag later uiteindelik die kombuis ingekom. Die oond was af. Jeanie se stoel voor die es was leeg. Die es was koud, nie eers ‘n kooltjie wat wag vir ‘n stomp nie. Geen reuk van kaneel en anys wat jou kon herinner dat jy ook maar net mens is nie.

“Jeanie!?”
My stem het my ook herinner dat ek oud is. Krakerig. Vol spinnerakke en stof soos enige iets wat vir lank nie gebruik is nie.
Net stilte het geëggo. Ek het benoud omgedraai om Jeanie in ons slaapkamer te gaan soek. Ek het afgekyk na die twee ou oom voetjies wat skuifel-skuifel geweier het om spoed op te tel en die woede het begin opbou. ‘n Lelike woord. Ou oom. Ek dink terug aan die dae wat ek as tiener ou mense gespot het. Neergekyk het op hulle. Ek was selfs so verwaand om hulle suurstofdiewe te noem. En nou? Wat ‘n grap. Karma. Die vloek van tyd.
Jy spandeer die eerste deel van jou lewe om te leer, jy word sterker en ervare. En dan, met geen fout van jou eie, begin jou liggaam ingee. Alles begin agteruitgaan. Sterk ledemate word swak, skerp sintuie vervaag, jou eens geharde gesondheid versleg. Jou skoonheid verlep. Jou organe dink nuwe kwale uit… Ek onthou myself aan die begin en wonder waarheen daardie mens is. Eers is jou liggaam jou trots, ‘n tempel. Maar voor jy nog besef wat aangaan is jou verraderlike liggaam ‘n gevangenis. ‘n Kokon waaruit jy nie kan ontsnap nie.

Na nog ‘n ewigheid en ‘n dag kom ek in die kamer aan.
“Jeanie!?”
‘n Onheilspellende leweloosheid hang oor die kamer. Ek gaan sit op die bed. Aan Jeanie se kant. Daar waar sy in goeie en in slegte tye aan my sy geslaap het. Ek voel hoe die hartseer oor my spoel? Weer en weer hoor ek my stem uitroep, met riviere van warm sout oor my wange. Net om met stilte beantwoord te word.
Ek word bewus van ‘n vrou wat in die deur staan en vir my kyk. Die hartseer maak plek vir vrees.
“Wat het jy met my vrou gemaak?!” Ek probeer braaf klink, maar die ou oom stem verraai my.
“Buks…”
Die vrou stap nader. Ek probeer besluit of sy aggressief voorkom, maar sy is by my voordat ek ‘n besluit kan maak. Ek beur orent en stamp die vrou weg. Of dit was die plan. Sy bly staan soos ‘n rots en ek kry dit net reg om myself van balans af te stoot en die grond kom nader voordat enige boodskappe om te keer, by my ledemate kan uitkom.

***

Ek tuur oor die park maar sukkel om op die mense se gesigte te fokus. Waar kan sy wees? ‘n Vrou met ‘n hond stap verby en glimlag daardie onsekere glimlag wat jy vir vreemdelinge aanbied.
“Verskoon my dame…”
Sy stop en die hond begin opgewonde aan my broekspype snuffel.
“Ek is opsoek na my vrou. Jeanie. Kan jy my dalk help soek? My oë en bene is nie meer wat dit was nie.”
“Sorry Oom. Ek het ‘n afspraak ek kan ongelukkig nie.” Sy draai om en die hond gee haar ‘n hartseer kyk want hy het nog nie alles geruik wat hy wou ruik nie.
Ek skud my kop. Ja toe. Gaan na jou afspraak. As jy maar net geweet het… As jy jonk is, voel jy altyd asof die lewe nog nie begin het nie – dat die “lewe” altyd na verwagting volgende week, volgende maand, volgende jaar, na die vakansie, sal begin. Maar dan is jy skielik oud en die geskeduleerde lewe het nie aangebreek nie. En jy vra jouself… Nee, ek vra myself: “Presies wat het ek gehad – die tussentyd – die gejaagde waansin – al die tyd wat ek gehad het om te leef?”

My gedagtes word onderbreek deur ‘n iemand wat aan my arm vat. Dis ‘n polisieman.
“Buks? Buks Nienaber?” Vra hy.
“Ja… Het jy Jeanie gekry?” Hoop vlam op in my bors.
“Kom sit hier, Oom.” Die polisieman lei my aan die arm na een van die bankies toe en wag dat ek gaan sit.
Hoekom wil hy hê ek moet gaan sit? Het hy slegte nuus. Die hoop gaan dood.
Ek wag met inspanning dat hy nuus met my deel, maar hy is besig om met iemand op sy radio te praat.
Toe hy klaar is kom sit hy langs my en begin praat oor die land se ekonomie en die weer, maar ek stel nie belang nie. Ek beantwoord net sy vrae deur te vra waar Jeanie is. Telkens wil ek opstaan om haar te gaan soek, maar die man dring daarop aan dat ek bly sit. Ek weet my krag is te min om enigsins weerstand te bied.
Uiteindelik kom ‘n vrou aangestap. Dit lyk of sy baie gehuil het. Dalk is haar man weg?
Sy bedank die polisieman en hy verdwyn haastig met die voetpad langs.
Intussen kom sit die vrou langs my. Sy is nogal mooi. Oud. Maar mooi.
“Weet jý waar Jeanie is?” Vra ek haar.
Sy glimlag maar die glimlag steek nie die hartseer in haar oë weg nie.
“Jy hoef nie sleg te voel omdat jy my vergeet nie.” sê sy uiteindelik.
“Wat bedoel jy?”
“Elke keer as jy my vergeet, kry jy net die kans om my weer te leer ken. En jy hou daarvan, want ek is eintlik ‘n baie aangename persoon om te leer ken.” En sy soen my op my voorkop.

***

Ek probeer fokus. Ek kan voel dat my liggaam nou genoeg gehad het. Uiteindelik kom genoeg van my sintuie bymekaar dat ek kan verstaan wat om my aangaan. My hart maak ‘n bolmakiesie en ek glimlag so breed as wat my mondhoeke my toelaat. Jeanie sit langs my op die bed.
“Jeanie…” My stem is ‘n vae sug.
“Ek’s hier Buksie.” Sy soen my saggies op my voorkop. Langs die bed staan Elmarie. Ons pragtige dogter. In haar arms hou sy Chantel, my kleinkind, styf vas.
“Dankie.” Ek weet net een woord is nodig. Ek onthou. Ek onthou dat ek geleef het. Ek onthou dat elke dag saam met die vrou ‘n seëning was. Ek onthou… die Alzheimer’s. En ek onthou Jeanie se belofte.
“As die dag ooit kom dat jy langs my wakker word en my naam nie op jou lippe kom nie, wanneer daardie verbaasde blik in jou oë nie verdwyn nie, sal ek vir ons altwee onthou. Ek sal nie toelaat dat jy die lewe wat ons saam gebou het, vergeet nie. Ek sal jou nie laat gaan nie.”

“Dis ‘n plesier my man. Elke oomblik was net ‘n plesier.”
“Ek is lief vir jou.” Ek dink dit is goeie laaste woorde.
“Wees vry my man. Ontsnap uit jou gevangenis en wees vry.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    1 Julie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2020 – Vryheid projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 27

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 27 gaste aanlyn

Bydrae Totale