Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die oproep

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 20 Oktober 2020 Aantal woorde: 931 189 Kere gelees 3

(927 Woorde)

Ek skrik van die skielike gelui, dat ek die koppie lou tee omstamp en ‘n klein ramp oor my papierwerk veroorsaak. Dit neem my enkele oomblikke om die klank te identifiseer. Die meganiese gelui van die ou landlyn telefoon. Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek die geluid gehoor het nie. Niemand bel meer op die landlyn nie. Ek dink nie ek weet eers meer wat is die nommer nie. Seker weer ‘n bemarker. Skuim van die aarde wat mens altyd tydig en ontydig terroriseer om nóg geld te spandeer sodat jy kan geld spaar. Vir ‘n oomblik oorweeg ek dit om die gelui te ignoreer, maar onder omstandighede moet ek seker maar alle oproepe antwoord. Vreemd hoe nuus by lang verlore mense uitkom en hulle skielik weer wil praat. Ek vlieg vies op en tel die gehoorstuk op.
“Hallo!” Ek is nie lus vir vriendelikheid óf goeie maniere nie.
Daar is stilte op die lyn. Nie doodse stilte nie. Die gesuis van wit geraas, soos ‘n outydse televisie wat nie ingestel is op ‘n kanaal nie.
“Shhhhhhh.”
“Hallo?!” My geduld is min.
“Ek gaan die kinders kom haal.” Dan is die enigste geluid die biep-biep wat aandui dat die oproep verby is.
Ek voel hoe die bloed uit my gesig vloei. Die wêreld draai om en om en my lyf dreig om my te verraai en inmekaar te stort. Ek gooi die gehoorstuk weer terug op die mikkie. Dit kan nie wees nie. Tog … Die stem is onmiskenbaar. Dis sý stem. Die enigste stem in die wêreld wat die hare in my nek kan laat rys. Jason. My eks. Ek besef ek klou die rak so styf vas dat my hande spierwit is en loop wankelrig na die naaste stoel toe. Ek yl. Dis al. Ek is emosioneel uitgeput. Dis al. Ek is …

Ek gryp die botteltjie kalmeerpille, gooi twee van die geel pille in my hand en sluk dit sommer so droog af. Dankie tog vir moderne medisyne. As dit nie was vir dié hulpmiddel nie, was ek seker al lankal mal soos ‘n haas!

Ek strompel kamer toe, sak op die bed neer en knyp my oë toe. Wanneer gaan die nagmerrie verby wees? Ek probeer dink aan iets wat mooi is; wat my gelukkig maak. Maar soos die slaap nader kruip, hardloop die herinneringe een vir een deur my gedagtes. Die herinneringe van Jason wat my genadeloos slaan. Hy het nie eers soos drank nodig gehad as verskoning om my lyf te kneus nie. Hoe ek telkemale ons twee kinders moes wegsteek en toesluit om hulle te beskerm teen sy genadelose woede. Jason het nooit om verskoning gevra na ‘n uitbarsting nie. Inteendeel het hy net meer en meer verskoning gesoek om my te verniel. Totdat ek besef het hy gaan my nog dood slaan. En as ek dood is, is die kinders sy volgende teiken. Ek het in die donkerste uur met net die klere aan my lyf en ‘n kind in elke arm die donkerte ingevlug. Ek het darem vir hom ‘n nota gelos.
“As jy weer naby ons kom, maak ek jou dood. Vergeet van ons.”

Ek word uit die wêreld tussen slaap en wakker geruk deur die gelui van die ou telefoon. Dit vat my ‘n oomblik om te registreer, maar toe ek eers by my volle bewussyn is, toe is ek wawyd wakker. My hart klop hoorbaar; dringend. Die naar kol van vrees sit in my krop. Ek hardloop na die kombuis toe, aarsel ‘n oomblik en tel die gehoorstuk op. Ek sê niks. Ek luister net. Versigtig asof die telefoon ‘n dodelike slang is.
“Shhhhhhh.”
Die wêreld maak een draai na ‘n ander, en ek moet vasklou aan die rak of ek val om.
“Ek gaan die kinders kom haal.” Daar is net een stem in die wêreld soos dié. Jason se stem is emosieloos. Tog is die venyn tasbaar.
Uiteindelik neem ek weer beheer oor my lyf. Ek het myself belowe ek sal nooit weer ‘n tikkie vrees vir enige iemand – veral nie Jason – wys nie. Ek sál nie vrees nie. Vrees maak die siel dood. Vrees bring totale uitwissing mee. Vrees vat jou mag weg. Ek sal my vrees tegemoet gaan. Ek sal toelaat dat dit oor my en verby my gaan. En as dit verby is, sal ek dapper omdraai en dit agterna kyk. Waar die vrees verdwyn het, sal daar niks wees nie. Net ek sal oorbly.
“Gaan brand in die hel!” My stem is vreesloos; selfversekerd. Ek glimlag en druk die telefoon dood. Dan ruk ek met al my mag die telefoondraad uit die muur en gooi die outydse foon triomfantlik in die asblik.
Ek tel my selfoon op en blaai deur die kontakte tot ek by AVBOB se nommer kom. Ek aarsel ‘n oomblik voor ek die bel knoppie druk.
Twee luie later antwoord ‘n ernstige, tog vriendelike jong man.
“AVBOB. Johnny wat praat. Waarmee kan ek help?”
“Hallo Johnny. Dis Connie. Connie van der Walt. Ek wil net hoor …” Die belaglikheid van die gedagte laat my ‘n oomblik worstel met die vraag. Maar ek het nie ‘n keuse nie. Ek móét weet. “Johnny, is … is Jason van der Walt nog daar? Is hy nog dood”
Die pouse bevestig net dat die vraag vreemd is – om die minste te sê.
“Ja, Mevrou van der Walt.” Die jong man probeer sy bes om professioneel te klink. Onder omstandighede. “Hy is nog steeds … oorlede. Ons is tans besig om sy liggaam voor te bery vir die verassing.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    20 Oktober 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 27

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 94 gaste aanlyn

Bydrae Totale