Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Mense van my Hart

Deur Lorraine
Datum gepubliseer: 21 April 2018 Aantal woorde: 1944 419 Kere gelees 3

Ek is gebore in Bloemfontein in die Vrystaat in die goeie ou dae toe hierdie land net vier provinsies gehad het en jou keuse van watter rugbyspan jy voor skree beperk was tot Transvaal, Noord-Transvaal, Vrystaat, Natal en die WP.

My pa was ‘n hoogs bekonkelde jongman! My ma was, so ver ek weet, altyd onderdanig aan my pa, hoewel ek vandag my hoed vir haar afhaal dat sy my pa nooit vermoor of gelos het nie, want ek en hy sou nie ou bene gemaak het nie! My ma het egter vroeg reeds geleer dat dit is soos die wyse Salomo sê: ‘n sagte woord keer die grimmigheid af, maar ‘n windgat, uitdagende antwoord laat die toorn opvlam. As my pa sê ‘n ding is geel en die res van die wêreld sê die ding is rooi, is die res van die wêreld verkeerd! As daar ooit storms was tussen my ma en my pa – en daar moes gewees het – het hulle dit baie goed van ons weg gehou. Toe al ons kinders nog in die huis was het my ma nie uit gewerk nie (nie die uit werk wat beteken dat sy nie ‘n sukses was nie, maar die uit werk wat beteken dat sy nie deel was van die nine-to-five-squad nie). My Ouma Bloemfontein het by ons in die huis gebly tot ek in standerd ses was. As ek en my sussie saans bang geword het, het ons by haar in haar kooi geklim. Ek het Sondae in die kerk haar sagte elmboog velletjies gesit en frommel. (Ek het al baie gewonder of sy nooit een dag die begeerte gehad het om my te klap nie, want noudat ek groot is – in meer as een opsig – is ek seker dat ek nie van so ‘n gevroetel aan my sal hou nie, veral nie as die spesifieke gevroetel my daaraan herinner dat ek elmboogvelletjies het van ouderdom! Seriously NIE!)
As dit saans slaaptyd geword het, het my ouma gesê: “Meisiekinners, sit uit die lig en slaap. Dis more skool (of kerk of jou ma’le wil vroeg dorp toe)”. Ons kinderjare was gelukkige kinderjare. Ons was nie brandarm nie, maar ons was onryk en het baie dae hand-me-downs gedra, maar ons was ryk aan liefde, geborgenheid en sekuriteit. Ons is tot vandag toe ‘n baie hegte gesin. My ouers het streng reëls gehad wat vir ons al vier goeie morele en geestelike waardes geleer het. Hulle was baie kwaai en jy kan maar weet jou sitvlak gaan brand as jy die reëls oortree, maar hulle was ook demonstratief in hulle liefde vir mekaar en vir ons en het altyd tyd gemaak vir ons kinders. Naweke was gesinstyd. In die somer het ons almal swembad toe gegaan (dit was lank voor die jare toe elke Tom, Dick and Harry ‘n pool in die backyard gehad het) en in die winter het ons na ons plaaslike vakansie oord toe gegaan en rounders gaan speel – dan field jy teen jou eie span, want ons is nie genoeg nie, dus was daar dan ook die occasional “misfield” sodat jou span kan score. My pa en ma het albei ‘n lewende verhouding met God gehad en ek het groot geword met die wete dat daar ‘n verskil is tussen relationship met God en blote religion. Hulle het ook seker gemaak dat ons, op die gepaste ouderdom (wat heelwat later was as vandag se drie jaar en ses maande), volledige inligting gehad het oor waar babas vandaan kom en wat die gevare van vrye seks is. Veral dat seks voor die huwelik losbandigheid is en sonde in die oë van die Here. Ek het groot geword in die dae toe reg reg was en verkeerd verkeerd. Kinders is gesien en nie gehoor nie en daar was huisreëls waarby hulle moes hou. Kinders het nie alles gekry wat hulle oë sien omdat hul ouers oor-compensate oor hulle nie tyd het vir die kinders nie – jy weet, vra my enige iets, net nie my tyd nie!! Kinders se agterente was benewens die sekondêre gebruik daarvan om op te sit, veral aangewend vir die primêre gebruik daarvan, naamlik om kinders, van wie die kompasse nie meer mooi op noord is nie, se rigtingwysers weer in te stel. Kinders het nie terug gepraat nie, het nie hulle eie opinies gehad nie, het nie messe en ander wapens skool toe gevat nie, het nie op hul onderwysers geskree nie, het nie allerlei ringe en studs en goed op elke moontlike en onmoontlike plekke op hulle lywe gehad nie, het hulle self nie gesny nie, het nie geweet dat gay iets anders beteken as vrolik op Ingels en dat lesbies ‘n woord is nie, het geen regte gehad, behalwe om hul huiswerk te doen, hande te was voor ete en skottelgoed daarna, te speel en te slaap nie en ons het ‘n chaosvrye samelewing gehad. Niemand het niemand gehijack nie, niemand se kinders is verkrag, vermoor of het vermis geraak nie. Daar was nie HIV Aids nie. Mense wat gesteel het is vir lang tye tronk toe en mense wat gemoor het, is opgehang aan die nek tot hulle dood was. Kinders het in groepe of alleen deur die veld keffie toe geloop, het saans tot laat nog met die buurt se kinders in die straat bok-in-die-hok of toktokkie gespeel en kinders was gesond, gedissiplineerd en ordentlik. Kinders se paens en maens het nie nodig gehad om vir hulle skaam te kry nie en paens en maens het nie geweet wat Rittellin is nie. Party Oupa’s en Ouma’s het, toe hulle die woord die eerste keer hoor, gedink dis een of ander soort onheilige, “volksvreemde” dans wat die jongmense nou doen.
Die eerste twee weke van skool was hel! Vir my, my ma en, ek dink veral vir my Sub A juffrou (ek kan nie onthou of sy getroud was nie, want op my dae was enige vrou wat skool gegee het ‘n juffrou – dit het nie na haar huwelikstaat verwys nie, maar na haar beroep)! Ek het nie erg van skool gehou nie – onthou: kinders het by hul maens gebly tot hulle op ses skool toe is – daar was nie kleuterskool toe gegaan nie en kinders kon nog Sub A doen sonder om eers graad R en graad 0 te doen. Ek het dus die oorgang van by my ma wees na in die klas by my juffrou wees baie swaar gedoen. Ek het meer as een oggend vir haar met haar tiekie hakkies heen en weer oor die klaskamer se vloer agter my aan die hand rondgesleep. Tot een dag toe my sagmoedige moeder besluit het: enough is enough! Sy het my met slae by my pa gedreig en voet by stuk gehou dat ek nie sonder skool kon bly soos ek graag wou nie. Na ‘n paar weke van steeks wees, het dit uiteindelik tot my deur gedring dat skool ‘n fact of life is en het ek daarmee vrede gemaak. Ek het selfs begin presteer! Akademies – nie op die sportveld nie. Ek was nog altyd op my beste op die pawiljoen – die dat ek vandag ‘n gym membership het, maar nooit gaan nie!

Toe ek in Standerd 6 was, trek ons Port Elizabeth toe en my Ouma trek vir die eerste keer uit ons huis uit om op haar eie te gaan bly in haar tuisdorp, Bloemfontein. Dit was vir ons baie swaar sonder haar, want sy was deel van ons gesin vandat ek kon onthou, maar sy het gereeld vir ons met die trein kom kuier. Ek onthou hoe ons stasie toe sou gaan om haar te gaan afhaal. Met groot verwagting en excitement sou ons kinders rond trippel terwyl ons wag vir die trein om in te kom – met my pa en ma wat nervous keer as dit lyk of ons te naby aan die spoorlyn kom. My ma was veral baie nervous oor die vier van ons wat so op die perron rondspeel terwyl ons die groot wag wag. Ek dink sy het allerlei horrible visions gehad van hoe ons afval en onder die treinwiele beland en ek glo sy was baie verlig as my ouma eers van die trein af en ons almal veilig in die kar was. Nie dat sy of my pa vir die eerste drie dae ‘n woord kon inkry nie, want ons kinders het tog so baie te vertel en te vra gehad vir hierdie dierbare ouma van ons wat dan nou so ver van ons af woon. My ouma het skelm gerook en gedink dat niemand van ons weet nie… en ons het haar dit laat glo om haar die embarrassment te spaar, want ons het haar so lief gehad soos die lewe self. Wanneer ons haar na haar kuiertjie gaan aflaai het om weer die trein te vat Bloemfontein toe, was daar geen van excitement van die gaan-haal-slag nie. Almal se hart was beswaar en ons het almal gehuil as die trein wegtrek uit die stasie uit. Ons het eers omgedraai om te loop lank nadat ons nie meer haar wit sakdoekie by die venster uit kon sien waai nie.

Benewens my Ouma Bloemfontein, was daar ook nog my Ouma Lettie en Oupa Niklaas, my pa se ouers. My Ouma was saam met my ma swanger toe sy my verwag het. Omdat ek geweet het dat dit nie die ooievaar was wat babas bring nie, was dit vir my baie weird dat ek en my tannie dieselle jaar se kallers is! Ons twee het saam groot geword en het sommer vroeg al besluit dat, ten einde die embarrassing proses van verduidelik hoe dit is dat sy net so oud soos ek is, EN my tannie, te vermy, ons vir almal gaan sê dat ons niggies is. So is ons dan tot vandag toe niggies en baie na aan mekaar, hoewel ons mekaar bitter selde sien omdat ons ver van mekaar af woon.

Ek was maar skrikkerig vir my Oupa, want hy kon kwaai wees. My Ouma Lettie het roos op haar hande gekry toe sy oud word. Ek het haar altyd gaan help knie en krismis koekies bak, want sy het altyd blikke vol krismis koekies gehad wat altyd uit gehaal was wanneer mense in die feestyd by haar aankom. My Ouma Lettie is voor my Oupa dood. Hy het weer getrou, maar die vrou was ‘n basilisk en so het ek nie meer by my oupa aan huis gekom nie. Hy is twee jaar na my ouma dood. My Ouma Lettie was my oupa se anker en hy het hom dood getreur oor haar. Vandat hy die dag by haar graf omgedraai het, het hy net maerder en swakker geword totdat hy te maer en te swak was om te lewe.

My pa en ma is reeds 74 jaar jonk- ek skryf jonk, want hulle is nog nie gereed om oud te wees nie. Hulle is maller oor mekaar as die dag toe hulle getroud is en hul verhouding is steeds stout en romanties. Wat ‘n rolmodel van hoe ‘n huwelik moet lyk! Hulle bly maar ons vier kinders se ouerhuis waarheen ons hardloop om te huil as die lewe met ons mors.

Die mense van my hart is die wortels van my lewensboom. My man is die hawe waar ek vasgemeer lê. In sy arms skuil ek as die golwe rof raak. My kinders en kleinkinders is die klop van my hart. In die liefde van God kan ek my seile span en oor die lewensoseaan vaar in die wete dat Hy altyd vir my die beste wil hê!

Lorraine Smit
2018




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 13
Kommentaar telling: 5

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 60 gaste aanlyn

Bydrae Totale