Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Mars- en Venus-ding 1

Deur Lorraine
Datum gepubliseer: 2 September 2020 Aantal woorde: 1309 52 Kere gelees 1

Ek het nou sommer van meet af besluit dat daar meer as een van hierdie storie gaan wees, díé dat ek nommer een bo-aan skrywe, want oor die man en vrou verskille sal daar so nimmer as te nooit genoeg gepraat kan raak nie!

Kom ons begin by directions!

Ons ry Johannesburg of Pretoria toe om die een of ander ding te gaan doen. Ek is nie bekommerd nie, want Frans ken Johannesburg en Pretoria baie goed. Hy was nog nie in daardie spesifieke straat nie, maar hy sal dit kry, sê hy. Dit gaan goed. Ons het sonder slag of stoot of sukkel in die stad aangekom. Frans het met groot oortuiging na die adres toe gery, maar op ‘n stadium begin hy vir my half onseker lyk.

“Dit moet nou een van hierdie dwars strate wees.” sê hy. “Ek kan nie rondkyk en bestuur nie. Kyk of jy Fontein Straat sien.” Ek kyk, maar ek sien nie. Ons ry twee keer op en af in die pad waaruit ons moet draai.
“Stop by ‘n winkel of ‘n garage dan vra jy of hulle nie kan help nie.” stel ek voor. Ek kry die kyk. Dit is dieselfde kyk wat ek kry as ek hom herinner aan ‘n joppie wat ek in die huis gedoen wil hê terwyl hy besig is om die grassnyer te service. Dis nou weer ‘n ander storie daai. Terug by die straat soekery.
“Die aanwysings sê tog uitdruklik dat Fontein Straat uit Derde Straat uit draai!” raak hy nou ongeduldig. Met die instruksies, nie met homself nie.

Dit raak nou laat, Frans is bekonkeld. Sy doek sit nou al lelik skeef. Nou begin ekself ook geirriteerd raak. Ek kan myself nie help nie. “Dis g’n blerrie wonder die Israeliete het veertig jaar in die woestyn rondgeswerf nie!” sê ek. “Moses was seker ook te trots om directions te vra!”
Ek kry weer die kyk, maar ek wyfel nie, want ek het self ook ‘n kyk wat ek sulke tye kyk. Ek sê in my nou-wil-ek-geen-stront-van-jou-hê-nie-stem: “Stóp nou by ‘n garage en vrá iemand!” Die toon in my stem maak op vir die gebrek aan desibels. Hy stop. Hy vra.
“Ja, Meneer,” sê die petroljoggie hulpvaardig. “Fontein Straat is maklik. Meneer hou aan met Derde Straat tot waar hy Gordon Road word. Dan draai Meneer links by die robot in Fontein Straat in.”
Ek wil iets sê,maar ek byt my tong vas. Ons ry met Derde Straat tot waar hy Gordon Road word en draai links in Fontein Straat in. Voor ek nog kan sê; “Sien jy hoe maklik is die lewe as jy net die mond gebruik wat die Liewenheer vir jou gegee het?” sê Frans: “Dis nou wat gebeur as ‘n vroumens vir ‘n man probeer beduie hoe om te ry! Kon die blerrie vrou nie vir my gesê het dat Derde Straat Gordon Road word nie?”

Het jy al geluister hoe beduie ‘n mán?
Jy vat die sement highway. Omtrent 40 kilometer anderkant die tolhek draai jy links op die R258. Dan ry jy so vyf kilo’s aan en draai links op die R553. Drie kilo’s verder is daar ‘n bord wat sê Pottersdam. Dis ‘n grondpad. So 15 kilo’s aan op regs is ‘n plaashek. Dit is Kromdraai.

Party van hulle beduie nog van Oos en Wes en wat nog! Ek het al vier keer verdwaal voor die ou klaar beduie het!

Ek ry met bakens en goete. Ek teken ‘n map en ek maak aantekeninge en teken pyle van waar ek moet links en waar ek moet regs gaan. Terwyl ek ry, draai ek die map in die rondte sodat die pyltjie altyd in die rigting wys waarin ek ry sodat ek kan weet waar ek is en waarheen ek moet gaan. Ek het nog nooit één keer met my eie map wat ek van ‘n pel se verduideliking af geteken het, verdwaal nie. Maar Frans verstaan dit nie.

Ons ry een Saterdag na Anette Brink-hulle toe. Dis haar dogter se een-en-twintigste verjaardag. Hulle het getrek en dis die eerste keer dat ons by hulle nuwe huis gaan kuier.
Anette het mooi beduie en ek het my map met sy notas en pyltjies geteken.
“Luister nou mooi,” beduie sy. Julle ry by Meyerton verby tot julle verby daai plek is waar die trekker op die paal is. Jy weet mos van die trekker?”
“Ja, ek weet van die trekker.” sê ek.
“Op die brug net daarna moet julle regs draai. Dan hou julle aan met daai pad. Dis nogal ‘n hele ent voor julle by die eerste fourway stop kom. Ry oor daai stop tot by die volgende een. Daar sit so ‘n verwaarloosde winkeltjie op die regterkant. Ek was nog nooit daarbinne nie, mag die gode my behoede! Ek gril my dood! By daai stop moet julle links draai. Dan hou julle weer ‘n hele ent aan tot julle ‘n bloekombos op die linkerkant sien. Dan moet julle begin uitkyk vir ‘n grondpad wat links uitdraai. Daar is ‘n gelerige bordjie wat sê UITSPAN PALE EN VOER. Dis net ‘n klein entjie en mens moet versigtig wees om nie verby te ry nie, want die bord is nie meer duidelik nie. Die grondpad is nie te sleg nie. Dan hou mens weer ‘n hele entjie aan. Op die linkerkant sal jy perdekampe sien. Net daarna is daar ‘n dam met ‘n windpomp. Draai op die grondpaadjie in wat net na die dam uitdraai. Daai stukkie pad is bietjie sinkplaat, maar dis darem nie so ver nie. Ek het dit al gemeet. Dit is so 1.2 kilometer. Op jou regterkant sal jy ‘n dubbelverdieping huis teen die pad sien sit. Dis ons bure. Weirderige mense. Die vrou is baie ouer as haar man. Sy doen pottery. Hy het vir haar ‘n groot woodburn kiln gebou. Sy maak reusegroot goed, maar weirderige potte en fairies en goed. Sy dra sulke bohemian klere en haar man het ‘n lang bokbaard. Hy lyk soos ‘n wizard homself! Anyway, ons hek is so tweehonderd tree van hulle huis af. So ‘n groot, wit skuifhek. Ek gee sommer vir jou die kode dat julle kan inkom.”

So is ek dus gewapen met my map en al die aantekeninge van die kleurvolle aanwysings.
“Is jy seker jy weet waarheen ons ry?” vra Frans.
“Ja, ry jy net. Ek sal beduie.’
Ek kan sien hy het geen geloof in my navigation skills of in my volgeskryfde map nie, maar synde dat ek die een met die aanwysings is, ry hy maar soos ek sê.
Tussen die brug en die eerste fourwaystop kry hy bedenkinge. “Is jy seker ons is nog op die regte pad?” vra hy.
“Anette het gesê dis ‘n hele ent van die brug af tot by die eerste fourway stop.” verseker ek hom.
“Hoe ver is ‘n hele ent? Tien kilometer? Twintig?” vra hy half ongeduldig.
“Ek weet nie.” sê ek. “Ek het nie gevra nie. As jy die fourway stop sien dan weet jy ‘n hele ent is verby.”
So ry ons met my map wat ek al in die rondte draai en, sonder om een keer te verdwaal, kom ons heeltemaal betyds by Anette-hulle aan.

‘Het julle ons darem maklik gekry?” vra Anette met die groetery.
“Ja,” lag ek. “Jy het mooi beduie.”

Later die aand op pad huis toe, sê Frans vir my: “Anton sê dit is baie makliker om met die R…”
Ek val hom sommer in die rede: “Ek het ons daar uit gekry, nie waar nie? Jy kan maar volgende keer met die R-watsenaam om ry, maar jy lag nooit weer vir my map nie!”

Nee wat, laat die mans maar vir die mans beduie, dan verduidelik ons vrouens maar vir mekaar! Mars-verduidelikings gaan nooit by Venus-bestemmings uitkom nie!

Lorraine Smit ©
Augustus 2020




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 17
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 114 gaste aanlyn

Bydrae Totale