Jongste aktiwiteit:

Die lewe vir een pond sewe. (brons)

Die lewe vir een pond sewe.

Hoe dikwels hoor mens nie die woorde: “Ek wens dat ek …” As jy op ʼn stadium in jou lewe met ʼn tikkie heimwee terugblik op jou lewenspad, duik daar soms sekere vrae by jou op. Vrae soos: “Het ek regtig voluit gelewe?” “Het ek alles gedoen wat ek kon?” “Het ek genoeg aandag geskenk aan die dinge in die lewe wat regtig saak maak?” “Het ek my mense lief genoeg gehad?”

Ons word dikwels groot met die idee dat alles in die lewe ʼn kompetisie is en dat ons ons versier moet stel op: WEN! Van kindsbeen af, reeds so vroeg soos kleuterskool is dit die norm om te kyk wie is die vinnigste, mooiste, slimste of oulikste kleuter.

Die woorde van Rabbi Harold Kushner som dit vir my so mooi op.
“Die hoogste doel van die lewe is nie om te wen nie, maar om te groei en te dien. As jy eendag terugkyk op alles wat jy in die loop van jou lewe gedoen het, sal jy meer plesier kry uit herinnering aan die vreugde wat jy in ander se lewe gebring het as om te onthou hoeveel mense jy uitoorlê en oortref het.” – Rabbi Harold Kushner.

As jy met mense op hulle sterfbed praat, hoor jy dikwels waaroor hulle spyt is in hulle lewe.
Nommer een hoor jy so dikwels: “Ek wens dat ek my lewe meer getrou aan myself geleef het en nie daarna gestreef het om te wees wat ander van my verwag het nie. Nou sien ek hoeveel van my drome verlore gegaan het in my pogings om ander gelukkig te maak.”
Nommer twee waaroor so baie spyt is: “Ek wens dat ek nie so hard gewerk het nie, daardeur het ek klein vreugdetjies soos my kinders se eerste tree en grootword mylpale gemis.
Nommer drie: “Ek wens dat ek die moed gehad het om my ware gevoelens te wys in sigbare optrede.”
Nommer vier op die lysie is dan: “Ek wens dat ek in verbinding gebly het met my vriende en ons vriendskappe gekoester het.”
Nommer vyf is: “Ek wens dat ek myself toegelaat het om regtig GELUKKIG te wees, dat ek my nie blind gestaar het teen klein dinge soos modderspore op my blink teëls of honde se hare op die tapyt nie.”

In die lewe het mens min om te verloor as jou drome oopmond vir jou lê en lag, ons moet leer om mekaar vas te gryp en nie te laat los.

Al haat ons dalk koue winterlug, moet ons dit inasem en ons longe vul, al verstik ons soms aan die hond se hare op die sofa, moet ons hulle hare deurmekaar vroetel en glimlag vir die lewe.
Ons lewe is kosbaar en ons leef dit in kompartemente – leef daarom voluit en treur nie oor herfsblare wat geluidloos grondwaarts tuimel. Draai jou gesig weg van die ellende en glimlag oopmond vir die son wat dans op jou vel … want: JY LEEF!

©Marlene Erasmus
30/05/2020

(500 woorde)




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed