Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: DIE LEWE OP DIE SMAL WEG

Deur johanvdMerwe
Datum gepubliseer: 5 Julie 2020 Aantal woorde: 2412 88 Kere gelees 3

DIE LEWE OP DIE SMAL WEG

Treur oor die onreg van die lewe, wees sagmoedig in al jou dade, streef na die geregtigheid, wees barmhartig teenoor almal, hou jou hart rein van alle kwade gedagtes, wees ‘n vredemaker tussen mense en mense, maar bo alles, kies die geregtigheid en lewe volgens dit en verdra die vervolging want dit is waar jy die koningkryk sal vind.

Verdedig Jesus en sy leer en binne in jou sal ‘n fontein van blydskap opspring wat soeter sal wees as die vervolging van die mens wat nie verstaan waaroor Jesus gaan nie. Hierdie blydskap is dit wat al die profete voor jou wat vervolg was staande gehou en jy sal dit weet. Vermy enige kerk en instansie wat nie Jesus as eerste in hulle geloof en lering stel nie en laat nie eers toe dat hulle dinge wat nie saakmaak vir jou saligheid in jou kop saai nie.

Wees soos sout wat oral waar jy gaan die brak van die lewe wegneem en smaak sal gee aan elke situasie waarin jy jou bevind, want onthou, jy verteenwoordig die Allerhoogste. Wees ‘n lig vir alle mense om jou want dit is voorwaar ‘n donker wêreld waarin ons lewe en laar ander die lig in jou sien.

Die Jesus waarheid is die vervulling van die profesieë, maar dit is net jy wat dit lewe kan gee as jy dit kan uitleef, die waarheid kan nie leef as dit nie in jou en my leef nie, dit kort ‘n menslike liggaam.

Leer en vind uit wat die leer van Christus is en leer die mense wat jou vra en jou loon sal groot wees want soos jy Jesus bely voor die mense so sal Hy jou bely en grootmaak voor God en die engele en die Vader. Jesus het die geregtigheid lewe gegee om daarvoor te sterwe en die Gees van die Waarheid vir ons gegee wat hierdie waarheid en geregtigheid kan ontdek en daarvoor kan lewe.

Ons moor deur net kwaad te wees, deur ons broeders hard aan te spreek en om sonder ‘n rede kwaad te wees is alreeds oortreding van die wet van die liefde. Moenie iets teen mense hou nie, vergewe selfs voordat jy kwaad kan word, daar is ruimte gemaak in die gees vir hierdie kwaadword, wees gehoorsaam aan Hom wat jou voor hierdie kwaadword waarsku. Wees altyd gou goedgesind teen mense wat jou teenstaan, jy kan nie jouself in jou afwesigheid verdedig nie, bly beleefd met opregte liefde wat nie uit jou uit kom nie maar direk uit die Hand van die Vader.

Wees ‘n vredemaker en blus altyd die kwaad uit met ‘n sagte en wyse woord, kwaad is soos vuur wat ‘n grasveld aan die brand steek, keer dat die vlam versprei, bid vir wysheid dat dit in jou hart sal kom. Hang die wysheid aan, vra haar dat sy jou leer en onederig in die weg wat sy gestel het. Lees die woord, dit is hoe God met jou praat, sy woord is waarheid en geregtigheid.

As daar vir jou rede van struikeling in die lewe is, vermy hierdie mense en situasies so ver as wat jy kan, verwyder dit van jou af sodat jy kan leer om die kwaad wat jou weg wil vat kan werstaan, dit is nie die ewigheid werd nie.

Wees versigtig om te sweer teen enige iets, jy verbind jouself aan goed waaroor jy nie krag het nie en jy maak onedele beloftes oor die sogenaamde noodlot en stuur jouself van die pad af as gevolg van hierdie eed wat jy sweer, jy het nie beheer oor môre nie. Moenie wispelturig wees en nou ja en notnou nee sê nie, jy verwar die verwagtinge van ander mense en krap hulle lewens om, laat jou ja, ja wees en jou nee, nee wees.

Moet nooit die slegte weerstaan nie, bly nederig en wees die minste want hulle is van die bose gestuur om jou kwaad te maak, moenie die kwade laat wen nie maar onthou Christus het gesterf vir die waarheid en vir die geregtigheid en om kwaad te word kweek die onreg. Doen daardie iets ekstra vir die wat nie reg is nie want Jesus het ook vir hule gesterf soos vir jou. As iemand iets van jou wil hê, gee dit aan hom as dit in jou mag is om te doen, veral raad en bemoediging, dit is verniet as wysheid vir jou gegee, gee dit weg, dit is nie joune alleen nie.

Jou vyande is daar as ‘n les en toets vir jou, skryf die toets en kom dit deur, hulle moet daar wees want hoe gaan jy anders die dierbare en duursame les van verdraagsaamheid leer, wees goed teenoor hulle. Wees nie eers in jou gedagtes vir hulle kwaad nie, onthou hulle weet nie van beter nie en hulle is jou toets, die toets wat jy moet deurkom om die Koningkryk van God te kan verstaan want dit is waaroor dit gaan. Hierin is die ware toets want dit is so maklik om die wat vir jou lief is lief te hê maar die ware toets is om jou vyande lief te hê. Hierin lê die volmaaktheid van God, Hy het Sy Seun vir ons almal gestuur, ook vir jou sogenaamde vyande, ‘n vyand het vandag die vermoë om môre jou beste vriend te word en dit kan jou lewe red.

Wees versigtig, in die stal van die Reg is ook twee koningkryke, een wat reg en rein is en dit slaag al die toetse van geregtigheid en waarheid en behoort aan die Koningkryk van die lig. Die ander een lyk en klink reg maar slaag nie die toets van die geregtigheid en die waarheid nie en word deur die leun voortgeplant. Die hart van die mens kan nie gesien word deur ‘n ander mens nie en hierin verduister die tweede koningkryk homself, slegs God kan die hart van die mense en hulle bedoeling sien of dit opreg is.

Die een koningkryk leef ter eer van die ander mense en magte wat oor hulle gestel is, dit het ‘n beeld van godsaligheid en lyk reg maar is so ver soos die ooste van die weste af van die werklike waarheid af. Dit soek alewig die eer van die mens op en wil die hele tyd die mense laat dink hulle is wonderlik en heilig, hulle is totaal afhanklik van die eer van mense om te kan voortbestaan, maar hulle het nie die waarheid in hulle harte nie.

Die ander Koningkryk leef vir die eer van die Vader en doen nie goed om deur die mense gesien te word nie, hulle weet hulle Vader wat in die verborge lewe sien in die verborge en het nie nodig om die mense te behaag nie. Hulle is die minste en is die mense wat werklik die Waarheid ontdek en omhels het en het hulle saligheid en tevredenheid in die waarheid en in die geregtighei van God gevind, hulle is die ware bewoners van die Koningkryk van God en het die Christus kleed aangetrek en dit pas hulle.

Laat die Koningryk van God in jou hart leef, heilig die Vader deur die Seun in en deur jou te laat lewe, die seun is die waarheid, lewe in die waarheid en word so deel van God se familie, een van Sy seuns of dogters. Onthou God se vergifnis wet het een voorwaarde en dit is dat Hy jou slegs kan vergewe AS jy kan vergewe, niks anders nie, so maklik en so rein is die hele vergifnis evangelie.

Moenie hier op die aarde staatmaak op skatte en weelde nie, maak eerder hemelse skatte bymekaar. Elke keer as ons iets vir mense uit ‘n opregte oortuiging doen plaas ons iets in ons hemelse skatkis, selfs net ‘n opregte glimlag teenoor ‘n bedrukte en ‘n verdrukte is van die grootste skatte vir jou hemelse skatte. Vriendelikheid, behulpsaamheid, geduld, verdraagsaamheid, vriendelikheid is gereedskap teen die verduktheid van die lewe. Ons hoef nie eers verdruktes en bedruktes te soek nie, hulle is orals, ons moet net leer om te gee. Dit is hemelse skatte wat nie kan roes of deur motte opgevreet kan word nie, saai die regte saad, altyd en julle sal vind, julle eie harte word ook verander, dit is deel van jou groei om die goeie vrugte van die goeie saad te maai, dit is groei.

Maak jou hart reg, kyk dan deur jou hart na die lewe, nie deur jou gevoelens wat bedrieglik kan wees nie, leer die verskil want om bedrieg te word en te wees lê in ons eie harte. As ons dan in selfverontskuldiging lewe en ons lewens daarvolgens lei is ons van daardie koningkryk wat deur die leun voortgedryf word. Hoe groot is ons leun dan net nie as ons dink ons is reg, maar volgens Jesus se gebooie lewe ons in die duisternis, en dan is hierdie duisternis groter as hulle wat in die sonde lewe.

Ons kan ook nie in altwee van hierdie koningkryke lewe nie, jy kwalifiseer jouself net vir die een of vir die ander, so begin om te kies, die onkruid wat deur die vyand gesaai is of die goeie saad wat deur die Meester gesaai is. In die goeie koningkryk sal ons nie deur die kwellinge van die lewe gepla word nie, ons sal glo dat God agter ons sal kyk en Hy sal, Hy kan nie lieg nie. Die kwellinge van die lewe is slegte saad, ons moet die goeie nastreef, liefde, vergifnis en dan sal ons vind, kwellinge oor die lewe sal vanself verdwyn.

Maar soek en vind die Koningkryk van God en dan sal jy self vind dat die Waarheid vir jou sal werk maar onthou altyd, die waarheid lewe is deur mense wat in ons pad is, ons moet daardeur lewe want alle mense is deel van God, al is hulle nie “gered” nie, hierdie verborgenheid is te groot vir ons om daaroor te argumenteer. Aanvaar dit maar net, onthou maar net altyd, as jy met mense te doen het, hulle is God se eiendom dit maak nie saak van hulle geestes toestand nie, want dit is die eerste gebod. Jou naaste is nie noodwendig jou broers en susters in die geloof nie, maar ook jou vyande, jou naaste is soos Jesus dit beskryf het.

Dieselfde wet as vergifnis, moenie oordeel nie, sodat julle nie veroordeel word nie, as jy nie oordeel nie, kan en sal jy nie veroordeel word nie. Jy skep self die maat waarmee jy mee geweeg word deur God en dit beteken niks anders as dat jou lewe in jou eie hande is nie. Die hele balk in die oog sindroom is so maklik en so duidelik soos die vergifnis een, makliker kan die hele ding nie verduidelik word nie. Die probleem is mense wil die hele tyd die moeilike goed probeer uitpluis en verduidelik maar die goed wat so maklik en so eenvoudig gestel word word agter gelos.

Moenie loop en spog met jou geloof en in God nie, veral as jy nie jou geloof kan uitleef nie, as jy nie soos Jesus kan wees nie, bly stil en streef na volmaaktheid, jy maak Jesus ‘n bespotting as jy die hele tyd Here, Here en bybelversies uitsaai, veral as jy nie so kan lewe nie. Jy word verantwoordelik gehou vir baie ander mense se siele en dit sal beslis op jou rekening kom as jy ‘n bespotting van Jesus maak. Mense is honger en hulle wil dit nie hoor nie, maar hulle wil dit sien, as jy nie soos Jesus kan wees nie wees baie versigtig en onthou, dit is baie makliker om dit te praat as om dit te lewe.
God sal altyd jou gebede verhoor en as jy bid moet jy reg bid, vir die regte redes is daar nie ‘n manier dat God jou iets anders sal gee nie, wees net volwasse in wat jy vra, as jy iets vra wat nie in lyn met God se gebooie is om wat jy vra ‘n misbruik te maak nie sal God jou verhoor.

Die goue wet in God se wetboek is iets wat saam en in lyn met vergifnis is, dit is ook ‘n wet met ‘n voorwaarde, maar eerder ‘n gevolg en dit is, moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Dit is presies dieselfde as die meet en die oordeel aspek, as jy wil hê mense moet jou reg behandel, behandel alle mense in jou pad reg, dit is die wet van wat jy saai sal jy maai.

Dit is ‘n baie nougesette pad hierdie nou poort, eerstens is nederigheid, omdat Jesus dit in Sy hele boodskap as voorwaarde gee moet ons soos Hy word, Sy eienskappe aantrek en sonder moeite verrig as totaal deel van ons. Die breë pad wat na die verderf lei is die ander koningkryk wat reg lyk, maar omdat dit so maklik is om ons geloof in God te praat is hierdie die maklike pad waardeur ongelukkig baie sal gaan. Maar die nou poort en die smal weg, dit is vir Jesus mense en ongelukkig is daar glad nie baie wat dit vind nie.

Bome en vrugte, weer die kosbare gelykenis, wat jy saai sal jy maai en as jy agter bome met slegte vrugte aanloop sal dit jou pad wees, sonder Jesus. Ons erken opregte mense deur hulle vrugte, nie deur die mooi woorde en honderde mooi skriffies wat hulle aanhaal om hulle self te pas nie maar deur die vrugte wat hulle dra. Hulle lyk en klink reg soos die wolf in skaaps klere maar binne is hulle roofsugtige wolwe wat wil skinder en jou gevange maak om in hulle dwaasheid te deel.

Die meeste van hulle dink hulle verdien die ewigheid oor dade en hulle skeinheilige optrede, maar dit is juis vir hulle wat Jesus sal sê dat Hy hulle nie ken nie. Hy het nie geskinder en kwaadgepraat en altyd die kwaad in almal raakgesien nie, Hy het die geoordeel nie maar dit aan die Vader oorgelaat.

As ons na Jesus se woorde luister en dit doen sal ons dit maak, maar ons moet dit navolg en nie altyd die verskoning gebruik van ek is maar net ‘n mens nie. As jy Jesus aangeneem het omdat jy Hom liefhet is jy alreeds nie meer mens nie en kan daardie verskoning jou net in die verderf laat beland.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Koos Elsum

    5 Julie 2020

    Ja ou swaar daar is net twee goed wat waar is. Ons gaan verbaas wees oor wie in die hemel IS en veral oor wie nie is nie.

    Ek wil ook net sê vergifnis impliseer nie dat onsself en ander nie verantwoordelik vir ons dade moet hou nie! Dit is die maklike manier om nie moeilike probleme reg te maak nie in my gedagtes lafhartig.

    In een paragraaf skryf jy oor die sout wat brak uit die water of iets haal is brak nie alreeds sout nie? Ek neem aan jy bedoel laf?

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 3
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 47 gaste aanlyn

Bydrae Totale