Jongste aktiwiteit:

Die koue waarheid.

Jôh-jôh-jôh! Wat ’n wrede ontnugtering het ek nou die aand nie gehad nie. Yskoue water het my lyf skoon nugter-hoendervleis-wakker geskok. Ek praat nie van om op ‘n hittige somersdag in ’n heerlike koue swembad in te duik nie. Ek praat van yskoue, blokkies-ys badwater wat jou hart sal laat gaan staan van skok. Verbeel jou die volgende. Jy tap ’n lekker stomende (amper kokende) bad vol strelende warm water. Dis ’n baie koue Oos-Vrystaatse herfs-aand en die vooruitsig aan warmte weet jy gaan hemels wees. Dis ’n fait accompli dat jou lyf daarna lekker warm gaan wees en jou winterslaap is net aangenamer met so ’n lekker snoesige en warm gevoel. Dit maak dat die ondraaglike yskoue winter net draagliker is totdat somer weer kom. Julle weet waarvan ek praat. Nie dat slaap sleg is nie, verstaan my nou baie mooi. Dis net die heilige waarheid dat dit nie so lekker is om met koue voete of ’n koue lyf te moet probeer slaap nie. Daardie koue beroof sommer jou vreugde van jou snoesige warm winterslaap en jy rol heelnag rond soos ’n skaap op die spit.
Maar nou die aand … ai, mensig! Met my eerste intrapslag in ‘n vol bad water wat veronderstel was om lekker warm te wees, word my heerlike vooruitsig vergruis en in alle windrigtings gestrooi. In absolute, algehele ongeloof het ek blitsig ’n gebore olimpiese goue medalje atleet geword, wat hoog- en verspring tot ’n kuns vervolmaak het in ’n breukdeel van ’n sekonde. My brein is vleimskerp geslyp met die kleurvolste woordeskat wat ’n woordeboek skoon skaam sou laat kry het. Om nie eers te praat van my spinnekop-doodtrap-rieël dans wat ek kaalvoet op ’n ysige koue teëlvloer uitgevoer het nie.
Nou moet ek hier ook bieg. Dis nie die eerste keer dat ek so ’n ontnugterende koue ervaring ontvang van my geiser of ander mense se geisers nie. Nannies! Dis nou al die derde keer in die afgelope ses of agt maande se tyd wat ons geiser vir ons die koue skouer gee. Gewis verlekker sy haar daarin om vir ons ’n koue streep te trek. Dan gee ons haar weer so bietjie TLO (Tere Liefdevolle Omgee, beter bekend as TLC) totdat sy tevrede is en ons weer beloon word met heerlike warm water in die huis.
Ek hoef nie eers te wonder of dit daar al by jou gebeur het nie. In my gebeendere kan ek dit aanvoel dat dit ’n normale verskynsel is wat ook in ander huise of blyplekke al gebeur het. Hier praat ek ook nie net van ’n geiser wat ’n skeet opdoen nie, alhoewel dit gewoonlik die oorsaak is. Ek praat van die verskynsel genaamd yskoue, ontnugterende bad- of stortwater.
Nou laat ek vir julle ’n ware stukkie vertel. So paar jaar terug het ons besluit om vir die fandamilie weer te gaan kuier daar doer vêr oor die grens en ook vir manlief Botswana en Namibië (in die hartjie van die winter) te gaan wys. Want sien, hy was nog nooit daar nie. Soos die gesegde lui: Twee vlieë met een klap. Nou bo in die noorde van Botswana het ons gekamp by Senyati Safari kamp (en ek is glad nie ’n kamp mens nie, hoor my lied). Die van julle wat nou wonder waar op die padkaart dit is. Dis naby Kasane en Chobe Natuurreservaat.
By die kampplek het jy ’n klein geboutjie wat bestaan uit jou “kombuis” en ’n badkamer (eintlik net ’n stort met die alle belangrikste wit troon en geen bad is in sig vir myle nie) en dan slaan jy jou tent enige plek langsaan of voor op, nes dit jou behaag. Soos dit moet, het hierdie kampplek ook die nodige groot miere wat aan jou soet vleisies pynlik knibbel vir die genot. Geen heinings is om die kampplek ook nie. So Oom Olifant mag maar kom nag sê vir jou in jou tent. Maar voor jy in koue sweet wil uitslaan en die vlaktes wil inhardloop en nooit soontoe gaan vir vakansie nie. Dis werklik aanbeveelbaar om daar eenkeer in jou lewe ’n draai te gaan maak. Boonop het die olifante nie by die tente kom rondwandel nie, al kan hulle. Die badkamer se deur is gemaak uit riete wat nie alles toemaak nie, so dis ook nie klank dig of koue bestand nie.
Nou … om by my storie uit te kom. Elke oggend moet daar ’n donkie eers bietjie liefde gegee word as jy ’n lekker warm stort wil neem. Ek praat nie van ’n vierbeen ou Langoor wat ’n vryfie agter sy oor moet kry nie. Ek praat van ’n donkie wat elke oggend gestook moet word met ’n vuur onder sy agterstewe.
Ja, ek sien party van julle krap nou lekker kop. Hoe kom die kloutjie nou by daai oor uit. Nee, dié kontrêpsie word net ’n donkie genoem. Dis ’n geiser wat onder die radar van die elektrisiteitsnetwerk vlieg. ’n Donkie of te wel ’n “donkie-drom” is ’n metaal drom wat ’n warm water en ’n koue water pyp aan die agterkant het. Dan kry dit ’n baksteen- of sementjassie. Vuur word onder dit gestook wat die water weer verhit en whala, jy het heerlike warm water.
Die eerste oggend het ek (en glo my ek was nie die enigste een wat in daai strik getrap het nie) te vroeg gaan stort, min wetend dat daai helende “warm”water nog nie eers aangesteek was onder ’n ou vuurtjie nie (dié word eers teen sewe-uur soggens aangesteek en dan vat dit ’n halfuur voor daardie water lekker warm is). So waar as wat padda manel dra. Jy stort teen die lig van spoed en jy weet nie hoe of waar om te staan waar daar dalk iewers ’n straletjie van die water gaan warm wees nie. Jou liggaam kry onwillekeurige rukkings wat lyk of jy by ’n raaswals dans. En die koue vingers van winter is orals, in die water, in die lug en ook in alles wat jy raak. Jou handdoek kan nie vinnig genoeg water se koue trane van jou lyf af kry sodat jy in iets warmers kan kom nie. Vinnig leer jy om liewers ‘n halfuur soggens te wag nadat daardie metaal Langoor aangesteek is, alvorens jy dit durf waag om te gaan stort.
Maar in die Vrystaatse herfs en winter is ek eerder lief vir ’n lekker lang warm bad, wat die koue van die dag uit jou lyf verdryf. Maar om so ’n koue onnugtering te tref in my eie badkamer was ‘n onaangename koue skok. Ek het die planeet Vies sommer beset en soos ’n verwese mens verlangend langs die koue bad gestaan. Uit ondervinding weet ek nou al dat om ’n ketel of pot water te kook regtig tydmors gaan wees. Jy verkwis net die water en krag onnodig en jaag jou kragmeter se syfers bloedrukhoog. Want in die paar sekondes wat dit jou neem om van die ketel tot by die bad te loop, het die water al sy knus liefde verloor.
Daar staan ek toe … en weet nie herwaarts of derwaarts nie. My breinselle het, met die koue ontvangs, op ’n staking gegaan. Gelukkig het ek ’n baie handige nutsman wat op sy witperd my kom red van verstening. ’n Plan word gebore en my tuinslang (wat om die een of ander rede deurskynend en nie groen is nie) word ingespan. My nutsman op sy witperd koppel dit aan die geiser van ons buite waskamer en dit word ’n hele paar meter verder aangelê tot by my badkamer se venster waar dit deur ’n gleuf van die venster gevoer word tot by ons bad. Absolute hemelse warm water het die bodem van ons bad gesoen en koue die skrik op die lyf gejaag. So, onthou in die vervolg. As jy meer as een geiser by jou huis het, dan kan ’n tuinslang net handig te pas kom. Nou vir die volgende probleem. Geiser het nou haar tere liefdevolle aandag gekry, maar om een of ander onverklaarbare rede kan albei geisers nie meer lekker “knyp” nie en het hulle albei groot lekkende “blase”. My nutsman op sy witperd sal maar op albei geisers moet “opereer” tot hul blase nie meer lek nie. Daar is nooit ’n vervelige oomblik in hierdie huishouding nie.

© Taai Bonthuys




Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed